Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
SA-koor skitter op America's got Talent
21 Augustus 2019


Hulle kom dalk fyn en skaam voor, maar toe die Ndlovu-jeugkoor van Limpopo onlangs op een van Amerika se grootste talentkompetisies begin sing, het hulle die gehoor op hul voete gehad en daardie verhoog met selfvertroue oorgevat.

Hul energie, klere en glimlagte het die America’s got Talent-verhoog in ’n Afrika-reënboog verander en wanneer jy na hulle kyk en na hulle luister, kan jy nie help as om te bars van trots nie. Vir hul oudisie het die Ndlovu-jeugkoor Vicky Sampson se treffer “My African Dream” gesing wat volgens hul dirigent, Ralf Schmitt, die perfekte liedjie is om hul storie te vertel.

“Elkeen van ons het ’n droom en die hoop vir ’n nuwe môre met ’n nuwe begin en dié geleentheid was vir dié kinders ’n droom wat waar word. Ons wou met ‘My African Dream’ ander kinders in Afrika en die wêreld aanmoedig om aan te hou droom, maar terselfdertyd wou ons ook ons land verteenwoordig,” sê hy.

Met hul oudisie het hulle ’n “ja” van al vier celeb-beoordelaars, Gabrielle Union, Julianne Hough, Simon Cowell en Howie Mandel gekry. Tydens hul tweede vertoning het hulle die 2010 Sokkerwêreldbeker-treffer “Waka Waka” van Shakira en Freshlyground gesing. Selfs Simon wat nie maklik beïndruk word nie, het net goeie goed te sê gehad. “Ek hou altyd daarvan om julle te sien optree. As ek dit (hul talent) kon bottelleer, sou ek dit elke dag drink. Ek dink dit werk, ek dink mense wil hê dat julle goed moet doen, maar hierdie keer sal dit nie maklik wees nie, want ons het net sewe plekke (in die live shows). Maar ek dink nie julle kon meer doen nie.” Hul vertoning was só goed dat hulle een van die sewe plekke vir die kwarteindrondes gekry het.

Hulle het vroeër vandeesmaand teruggevlieg Amerika toe om deel te neem aan die live rondes wat regstreeks in Amerika uitgesaai word. Dis nog nie duidelik of en wanneer dit in Suid-Afrika uitgesaai gaan word nie, maar hul reis kan aanlyn gevolg word. Die koor se ervaring klink na een mooi sprokiesverhaal en vir baie van die kinders in die Ndlovu-jeugkoor ís dit omdat baie van hulle uit hartseer omstandighede kom.

Die koor bied vir hulle ’n alternatief waar daar eenheid en geborgenheid is. Sandile Majola (25), een van die ouer koorlede, sê waar hulle vandaan kom, is daar baie armoede en gebeur daar nie veel nie. Maar toe hy op daardie America’s got Talent-verhoog staan en vir ’n gehoor van duisende mense skree, “Hello, America”, het hy geweet drome kan waar word. “Ons het nie baie nie en dit is so maklik om hoop te verloor en te voel asof jy geen betekenis het nie.

Dié ervaring het my geleer dat jy nooit hoop moet verloor nie en net omdat jy in armoede gebore is, beteken dit nie jy moet vir altyd daarin vasgevang bly nie,” sê hy. “Dit was ongelooflik om voor al daardie mense te kan sing en om soveel liefde en ondersteuning te voel. Om dit saam met my koor te kan doen, was so spesiaal. Ons is soos ’n familie en hulle het my ’n ander kant van die lewe gewys. Hulle het my bly gemaak en laat voel asof alles gaan uitwerk. Ek is so gelukkig wanneer ek saam met hulle is.”

Dit was ongelooflik om voor al daardie mense te kan sing en om soveel liefde en onder-steuning te voel.
Sandile Majola

Eenvoudige begin

Die Ndlovu-jeugkoor, wat bestaan uit 45 lede tussen die ouderdom van 13 en 27, is tien jaar gelede as ’n naskoolse aktiwiteit deur die Ndlovu Care Group, ’n NGO, vir die kinders van die dorpie Moutse in Limpopo begin. Moutse is een van die armste gemeenskappe in Limpopo en die meeste van die huise het geen lopende water of elektrisiteit nie.

Mense moet tot so ver as 3 km stap om hul emmers vol te maak en die naaste universiteit is amper twee ure van hul dorp af. Baie van die huishoudings word deur kinders bestuur omdat een of albei ouers oorlede is en daar geen ander grootmense is wat vir hulle kan sorg nie. Maar ten spyte van hul moeilike omstandighede, laat dié jong mense nie toe dat hul uitdagings hulle onderkry nie.

Volgens Ralf was die koor oorspronklik vir kinders tussen die ouderdom van 13 en 18, maar toe was daar soveel van hulle wat rondgehang het nadat hulle die koor verlaat het, dat hulle die ouderdomsgroep verander het om ouer lede te akkommodeer. Maar hulle het ook toe besluit om te kyk of hulle nie dalk vir die kinders werk kan skep deur die koor nie, terwyl hulle ook steeds vir die jonger koorlede bystaan met hul skoolwerk.

Ralf Schmitt, die koor se dirigent, en lede van die Ndlovu-jeugkoor.

Wêreld gaan oop

Weens ’n gebrek aan geld en vervoer is dit ongelukkig baie moeilik vir baie van die leerders om ná skool te gaan swot, maar deur die Ndlovu Care Group en die koor, probeer hulle om sover moontlik die kinders te ondersteun en vir hulle geleent-hede te skep. Een koorlid is gehelp om sy troklisensie te kry, sodat hy dalk trokke kan gaan bestuur vir ’n inkomste en intussen bestuur hy die koor se bus.

’n Ander koorlid het ook werk deur die organisasie gekry en is tans in beheer van die klere en voorkoms van die koor vir hul vertonings. Dit is juis die Ndlovu Care Group wat die groep aangemoedig en ondersteun het om in Amerika te gaan deelneem. “Ons het nooit daarvan gedroom om aan so ’n groot talentkompetisie deel te neem nie. Een van ons koorlede het tydens die Desember-vakansie vir my gesê daar het ’n boodskap van iemand deurgekom wat ons nooi en aanmoedig om ’n video deur te stuur aan America’s got Talent,” sê Ralf.

“Ons het nie gedink dit kan waar wees nie en het aanvanklik gedink dit is ’n prank, maar toe was dit nie. Ons het ’n video gestuur en hulle moes daarvan gehou het, want ons is toe later uitgenooi om te kom vir die oudisie. Dit was vir my so ’n wonderlike oomblik om die kinders op die verhoog te sien, hulle maak my so trots en leer my soveel meer as wat ek vir hulle kan leer!” voeg Ralf aangedaan by.

Vir die meeste koorlede was dit hul eerste keer oorsee en ’n onvergeetlike ervaring. Thulisile Masanabo (22), een van die koorlede, sê die hele ervaring het haar laat voel asof sy enigiets kan doen. “Ons hoop om deur ons optredes ander kinders aan te moedig dat as hulle net hard werk en aanhou glo, dat hulle ook meer kan bereik as wat hulle dink. Dit is net ek en my vier sibbe en dinge is soms moeilik, maar wanneer ek sing, bring dit vir ons almal soveel vreugde. Die koor het my weer ’n stem en selfvertroue gegee.”

Die Ndlovu-koor is ’n bewys dat drome, ongeag jou huidige omstandige, tog waar kan word en op die mooiste maniere moontlik!

*Volg hul reis op America’s got Talent op hul sosiale media-blaaie en besoek die koor se webtuiste by www.choir.africa of ndlovu-caregroup.co.za om meer oor hulle uit te vind. Vind hulle ook op Facebook: Ndlovu Youth Choir; Instagram en Twitter: @choirafrica.

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  America's Got Talent  |  Ndlovu-Jeugkoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.