Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
SA ontwerper se modes haal loopplanke van Londen-modeweek!
2 Mei 2018

Toe winkels nie klere vir haar kurwes het nie, het sy  besluit om iets vir haarself te maak. Nou het sy haar eie besigheid en sy was by die Londen-modeweek!  

Mel Brookes (31) was as kind nie eintlik mal oor mode nie. Sy was nie ’n tomboy nie, maar sy het ook nie soos baie meisies daarvan gehou om met poppe te speel en hulle aan te trek nie.

En hoewel sy altyd haar ma se styl bewonder het, was sy glad nie een vir opdress nie. Maar haar houding teenoor klere het op ’n onverwagse manier ’n heel ander wending geneem.

En vandag spog hierdie ma van twee met ’n suksesvolle klerereeks vir curvy vroue wat onlangs by die modeweek in Londen, Engeland vertoon is. Dis ’n groot eer en geleentheid om uitgenooi te word na ’n internasionale modeweek wat min plaaslike ontwerpers te beurt val. As jy nie genooi word nie, moet jy maar aansoek doen en hoop jy word goedgekeur.

En as laasgenoemde wel gebeur, gaan dit jou duisende rande uit die sak jaag, want modelle, vlugte, verblyf en personeel wat backstage help, is nie goedkoop nie. Juis daarom kan Mel van Dieprivier in die suidelike voorstede van Kaapstad, steeds nie glo dit het met háár gebeur nie.

’n Model wys een van die uitrustings uit Mel Brooks se klerereeks.

Internasionale modeweke soos die een in Londen word deur die room van die modewêreld, trendsetters en celebrities bygewoon. Emma Roberts, Kate Moss, Noami Watts, Chelsea Clinton en selfs koningin Elizabeth II was van die groot name wat vanjaar se Londen-modeweek bygewoon het.

“Daar is baie verskillende venues, dit is baie besig en alles gebeur so vinnig. Ek weet daar is baie bekendes wat hierdie modeweke bywoon, maar dit is onmoontlik om te weet wie almal daar is. Jy sien nie regtig die bekendes nie, maar dit was vir my ’n onvergeetlike en ’n groot voorreg,” sê sy.

Mel op die loopplank by die Londense modeweek.

Die modeweek in Londen het vir Mel gewys ma’s kán hul passie navolg, sukses behaal en steeds teenwoordig wees in hul kinders se lewens. As sy nou terugkyk op haar lewe, lyk dit asof mode háár gevind het, want die modegogga het eers begin byt toe sy amper klaar was met skool. Haar ouers het egter geweier dat sy dit studeer, want dit was nie “’n regte beroep” nie.

Toe besluit sy op sielkunde, maar het dit gelos omdat dit nie haar passie was nie. Op 19 was sy nog onseker oor wat haar volgende studierigting sou wees en het besluit om oorsee te gaan reis om sekerheid te kry.

En dis juis oorkant die water dat haar modedroom begin vorm aanneem het. Mel is Israel toe en sê dit was ’n ongelooflike ervaring, maar op pad terug Suid-Afrika toe het sy ’n vinnige stop in Ierland gemaak. Sy het egter besluit om vir ’n jaar daar te werk en bly, maar toe sy haar oë uitvee, het vyf jaar vinnig verby gevlieg. Terwyl sy daar gewerk het, het sy die vertoonvensters van winkels uitgestal en ontwerp.

Sy het dit verskriklik geniet om elke dag die poppe aan te trek en om met verskillende ontwerpe en idees te speel. Volgens Mel is dit waar sy regtig met mode kon begin eksperimenteer. Dit was soos om met ’n lewensgroot pophuis te kan speel. Sy het ook oor tegniese tekeninge begin leer.

“Toe ek huis (Suid-Afrika) toe kom, het ek besluit dis tyd om uiteindelik weer te begin swot. Ek het toe geweet wat ek wil doen en dat mode my passie is. Ek het steeds nie planne gehad om my eie klerereeks te ontwerp nie. Ek het net geweet ek sal iewers in die modebedryf wil werk,” sê sy.

Sy het op 24 modeontwerp begin studeer en tydens haar studies haar man, Anton, ontmoet. Kort voordat sy haar finale jaar klaar gemaak het, is hulle getroud en kort daarna het sy swanger geword met hul eersteling, Josh (nou 10). Hulle het later nog ’n kind, Connor (nou 7), bygekry.

Mel is van nature skraal gebou, maar ná die geboorte van haar kinders, het sy kurwes ontwikkel. Toe het sy daai frustrasie begin ervaar wat baie vroue met ’n voller figure voel wanneer hulle klere in winkels gaan soek. Niks het reg gepas nie en sy kon net nie klere kry wat mooi aan haar sit nie.

Maak haar eie klere

Anton het haar gevra hoekom sy nie eerder haar eie klere maak nie. “Ek het gehou van sy idee, maar daar was nie geld om nuwe materiaal te koop nie. Ek het die materiaal gebruik wat ek nog van my studies oorgehad het en daarvan vir my klere begin maak. Vriende en familie wat my klere gesien het, het daarvan gehou en vir my gesê hulle het ook dieselfde probleme,” vertel sy.

Mel het besef as van haar vriende en familie met dieselfde probleem sit, is daar seker baie ander vroue wat ook sukkel om klere te kry wat hulle goed laat voel.

“Ek het niks van besigheid geweet nie en ons het nie geld gehad om regtig ’n besigheid te begin nie. Maar ek het van die huis af begin werk en het met die materiaal wat ek gehad het klein begin.”

Mel sê haar patrone en die snit van haar klere het onmiddellik aanklank gevind by vroue van alle vorms en só het sy haar besigheid begin uitbrei. Haar heel eerste klere het nie eens ’n etiket gehad nie, maar sy was nie haastig nie en wou net haar passie uitleef en vroue help om goed en sexy te voel. Sy sê die digitale era het haar gehelp om haar handelsmerk te bemark en dit is hoe sy by Londen-modeweek uitgekom het. Een van die organiseerders het haar blad op Instagram raakgesien en haar gekontak.

“Ek was nog nooit in Suid-Afrika by enige modeweek betrokke nie en toe ek die e-pos (van Londen-modeweek) ontvang, het ek eers gedink dit is ’n scam,” erken sy terwyl sy lekker lag.

“Ek het nooit verwag dat dit waar sou wees nie, maar my man het my weer ondersteun en gesê ek moet net kontak maak en sien wat gebeur. Dit was toe waar en natuurlik was ek baie geskok. Dit was ’n groot eer en ’n ervaring wat ek nie sommer gou sal vergeet nie. “

Mel sê dit was harde werk om binne ses maande ’n hele reeks te ontwerp en betyds klaar te kry, maar dit het baie gehelp dat die organiseerders die modelle en al die ander reëlings vir haar getref het. Sy moes slegs op 50 uitrustings konsentreer. “Op die dag (toe haar klere vertoon word by Londen-modeweek) het alles so vinnig gebeur, dit is regtig ongelooflik om te dink dat al daardie maande se voorbereiding binne 15 minute verby was.

Maar ek is so dankbaar vir die geleentheid en dit het my sommer meer opgewonde vir die toekoms gemaak,” sê sy. Oor wat agter die skerms gebeur, sê Mel: “’n Mens kon sien daardie mense is op ’n ander vlak. Ek het nooit geweet hoe besig dit agter die skerms by ’n modeweek gaan nie, maar hulle het baie van my stres ligter gemaak. Die energie agter en toe ek moes uitstap (op die loopplank) is iets wat ek nie gou sal vergeet nie. Dit was electric!” voeg sy by.

Planne vorentoe

Mel het pas haar nuutste reeks bekend gestel en sal ook later hierdie jaar haar webtuiste bekendstel sodat mense haar klere aanlyn sal kan koop.

Tans is haar klere slegs by haar ontwerpstudio in Dieprivier beskikbaar. Sy hou daarvan om individuele aandag aan haar kliënte te gee. Sy voeg ook by dat dit belangrik is vir mense om te verstaan dat haar klere nie noodwendig plus size mode is nie, maar klere is wat curve friendly is. Haar klere is gemaak om selfs maer mense met kurwes gemaklik te laat voel.

Mel sê dit is nie altyd maklik om vir haarself te werk nie, maar sy geniet dit veral omdat sy nou ook baie betrokke by haar kinders se lewens kan wees en haar eie werksure kan bepaal. “Ek doen iets waarvoor ek lief is, maar ek kan ook by elke sportwedstryd wees en my kinders self by die skool gaan aflaai en optel. Vir beter as dit, kon ek nie gevra het nie.”

Meer oor:  Kuier  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.