SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Saamdrink: Is dit oukei vir jou en jou maat?
27 November 2019

Studies het al oor en oor bewys watter nadelige uitwerking alkoholmisbruik op jou lyf en lewe kan hê, maar in 2016 het ’n Amerikaanse studie bevind paartjies wat saamdrink, is oor die algemeen gelukkiger. Baie van ons lesers sal egter nie met dié bevinding saamstem nie, want in Suid-Afrika is drank dikwels ’n bydraende faktor tot maatskaplike probleme en dan veral tot geweld teen vroue en kinders.

Tog stem Surica Booysen van Eersterivier buite Kaapstad, saam met dié studie. “Ek drink nie baie gereeld saam met my man, Denovan (albei in hul 40’s) nie, want ek is die een wat verantwoordelik moet wees. Ek dink dis soms goed vir ons verhouding, want dan het ons baie fun saam. Jy het gelukkig nie wyn nodig om pret te hê nie.” Surica sê sy gun soms vir Denovan die geleentheid om homself te geniet. Daar is nog ’n rede hoekom sy daarvan hou.

“Hulle sê mos a sober man’s thoughts are a drunker man’s words. Hy kan lekker uitblaker wat hom pla as hy getrek is,” lag sy. Sy glo egter alles hang af van die aard van ’n paartjie se verhouding of hulle saam kan drink en sê daar moet altyd ’n balans wees.

“Party mans slaan hul partners as hulle klaar gedrink is, wat baie verkeerd is. Maar ek dink maybe krop hulle ook maar hul gevoelens op en dan kom dit só uit.”

Nog ’n paartjie wat saam ’n pad met drank geloop het, is Lucinda en Jason Willemse* (in hul 60’s) van Johannesburg. Hulle was al van laerskool af dol oor mekaar en het onlangs hul 40ste huweliksherdenking gevier. Ons gebruik nie hul regte name nie omdat hulle deel is van Alkoholiste Anoniem (AA). “Ons het van standerd drie tot ses by dieselfde tafel gesit,” sê Jason trots.

Hy sê hy het van jongs af by sy familie se tavern gedrink. Ná hul troue het Lucinda, toe 18, saam gedrink en kort voor lank het hul drankgewoontes buite beheer geraak. In daai tyd het hulle hul kind saam tavern toe geneem. “Ek was die laaste een om te besef ek het ’n probleem,” vertel Lucinda. “Ek het in 1984 rock bottom bereik. Ek het my kind afgeskeep en verwaarloos. Sy is nou 40 en ek skaam myself vir die skade wat sy moes ly as gevolg van my drankprobleem. AA het nie net my lewe nie, maar ook my verhouding gered.”

Ek was baie lief vir my vrou en my dogter, maar alkohol was my prioriteit.

Vir Jason het dit ’n bietjie langer geneem om te besef hy is besig om in drank te verdrink. “Ek was baie lief vir my vrou en my dogter, maar alkohol was my prioriteit. Eers toe Lucinda ophou drink, het ek begin besef daar is ’n probleem.” Elke keer as hy dronk was, het hulle oor simpel goed baklei. Toe hy die verskil sien wat AA by Lucinda maak, het hy besef hy sal moet ophou drink as hy haar wil hou.

Charmaine Combrink (47) van Johannesburg was nie so gelukkig nie. Aanvanklik het sy en haar man saamgedrink, maar nadat sy ’n tweeling gekry het, het sy brieke aangedraai. Haar eksman, Matthew, het egter erger begin drink. Sy was nooit seker waar hy was en in watter toestand nie. “Die aand toe hy een van die kinders geskop het nadat ek die helfte van sy bier in die drein afgegooi het, was die einde.”

Matthew drink steeds baie, het sy werk en alle belangstelling in sy gesin verloor. Louis Steenkamp, ’n huweliksterapeut van Pretoria, sê hoewel sommige paartjies inderdaad langer saam bly wanneer hulle saam drink, is daar sommer baie gevalle wat die teenoorgestelde bewys. “Ek werk nou al 10 jaar by ’n dwelm- en alkoholrehabilitasiesentrum en het al male sonder tal gesinne en paartjies gesien waar alkohol absolute verwoesting gesaai het.”

Tog dink Steenkamp ’n paartjie se verhouding kan bevorder word wanneer hulle alkohol matig saam geniet. ’n Glas wyn is amper soos ’n mini-vakansie. “Paartjies wat saam drink, spandeer meer tyd saam. Wat is beter as ’n man en vrou wat ná werk saam sit en kuier? Vir sommige mense beteken ‘kuier’ egter te diep in die bottel kyk, maar dis nie waarvan ons hier praat nie.”

Maar, waarsku Louis Venter van Couples Help in Fairland, Gauteng, hoewel alkohol jou kan help ontspan, is dit steeds verslawend en kan dit probleme in ’n verhouding skep. “Ek ontmoet baie paartjies wat saam begin drink het, maar toe die verhouding aanbeweeg vanweë kinders of omstandighede, bly een van die paartjies dikwels agter. Dan eindig jy met een wat drink en een wat tuisbly.”

Volgens hom is baie mense sosiaal verslaaf aan alkohol en spandeer nie net baie geld daarop nie, maar raak betrokke by gevaarlike aktiwiteite wat daarmee gepaard gaan soos dronkbestuur. Dié soort gedrag skep dan baie frustrasie by die een wat by die huis moet bly. “Alkoholmisbruik het ’n definitiewe impak op verhoudings. Partners raak onbereikbaar en spandeer tyd en geld buite die verhouding, tree swak op en begin om hul maat te isoleer of selfs te mishandel.”

Bly binne perke

Volgens Steenkamp kan die land se oormatige alkoholverbruik deels toegeskryf word daaraan dat Suid-Afrikaners oor die algemeen baie meer onderliggende stres hanteer. “Ek praat nie net van finansiële- of verhoudingstres of kommer oor jou kind se toekoms nie, maar ook die vrees om ’n misdaadslagoffer te word. Sommige mense wend hulle dan na alkohol om van die stres te verlig.

“Jy gebruik dit om beter te voel, maar dit kan vinnig in ’n groter probleem ontaard as jy alkohol op ’n gereelde basis, en nie net sosiaal nie, moet gebruik om beter of selfs net normaal te voel.” Steenkamp sê alkohol kan ’n impak hê op ’n paartjie se sekslewe. “Shakespeare het mos in Macbeth gesê: ‘alcohol provokes the desire but takes away the performance’.” Volgens hom is dit veral die geval met mans.

“As jy alkohol matig gebruik, kan dit seks meer genotvol maak, maar te veel gaan beslis jul sekslewe benadeel. “Vir sommige vroue verdoof alkohol dalk trauma van seksuele mishandeling of vrese rondom hul persepsie van hul liggaam, maar as hulle net seks met hul maat kan geniet as hulle ietsie inhet, is dit ook nie gesond nie,” sê hy. Op sy beurt sê Venter lei alkoholmisbruik in ’n verhouding gewoonlik tot bakleiery, mishandeling, emosionele verwaarlosing en onveiligheid. “Niks maak seerder as ’n maat wat dronk by die huis kom en seks verwag nie. Dit skep angs en ’n wrok by die ander maat.”

Wanneer dit kom by kinders, is matigheid voor oë nóg belangriker. “As jy iets vir ’n kind wegsteek of vir hulle sê dis sleg en hulle moet dit nooit gebruik nie, maak jy die kind nuuskierig en jy laat hom wonder wat is dié verbode vrug en jy leer hom ook nie wat matigheid is nie,” sê Steenkamp. Dis beter dat jou kind sien hoe jy alkohol verantwoordelik gebruik sodat hulle van jou goeie gedrag leer en sodoende verantwoordelike keuses oor alkoholgebruik kan uitoefen, al is jy nie daar is nie.

“Deur alkohol verantwoordelik te gebruik, wys jy vir jou kind hy hoef nie skelm te drink om ’n punt te bewys nie,” sê Steenkamp. Venter meen ouers wat binne perke drink, leer hul kinders ’n gebalanseerde manier om lekker dinge te geniet. “Kinders het, nou meer as ooit, voorbeelde soos hierdie nodig. En die teenoorgestelde, waar ouers glad nie drink nie omdat hulle bang is vir misbruik of verslawing, stel ook nie ’n goeie voorbeeld nie.”

Steenkamp sê ook dis eintlik baie min dat hulle gevalle sien waar albei ouers alkoholiste is. Maar dit gebeur wel gereeld dat daar in een familie ’n patroon van alkoholmisbruik is. Só is kinders van alkoholiste meer geneig om ook drank te misbruik. As een ouer ’n probleem het, is die kind se kans 50%.

Maar as albei ouers alkoholiste is, is die kans 80% dat daardie kind ook alkoholprobleme sal ontwikkel. Om te keer dat alkohol jou verhouding vernietig, moet dit nie misbruik nie. As jou maat se alkoholgebruik jou ontstel, praat daaroor.

As jou maat met jou daaroor praat of julle baklei oor alkohol, is dit ’n probleem wat dringend aandag verg.

* Skuilnaam

* Foto: Gallo Images/Getty Images

* Illustrasie: Ryan Carolisen

Meer oor:  Alkoholgebruik  |  Verhoudings  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.