Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Saldanha Staal: Werkers bekommerd oor toekoms
22 Januarie 2020


Vir baie gesinne aan die Weskus was Krismis verlede jaar net nie dieselfde nie. Só het die Kerstafels by baie huise nie soos in die verlede onder die kosse gekreun nie. Nie omdat mense nie wou nie, maar omdat die wolk van dreigende werkloosheid oor hul koppe hang. Laat verlede jaar is aangekondig dat Saldanha Staal, oftewel ArcelorMittal, eersdaags sy deure gaan sluit.

Luidens ’n amptelike verklaring gaan 900 werkers deur die sluiting geraak word, maar wat is die werklike impak op die ekonomie; en meer nog, op die mense? Luidens ’n Fin24-artikel het die departement van handel, nywerheid en kompetisie aangekondig twee partye het intussen na vore gekom wat aangedui het hulle stel belang om Saldanha Staal te koop. Teen druktyd kon Kuier egter nie bevestig of hierdie moontlikheid wel gaan realiseer nie, maar die mense van Saldanha bly steeds hoop die myn word inderdaad verkoop.

Mense erg geraak

William Buys* sê al hoe hy sy gesin se Kers-tyd kan beskryf, is donker. “Ek is deel van die groep wat einde Januarie klaarmaak en die hele Desember het dit deur my kop gegaan dat ek oor meer as ’n maand nie meer ’n salaris gaan ontvang nie. Ons moes baie versigtig werk met die geld wetende dat daar binnekort nie meer geld gaan wees nie,” sê William.

Een van die dinge wat die swaarste op hom gerus het, was die wete dat een van sy kinders vanjaar met skool begin. “Wat kan ’n mens doen? Die kind moet skool toe, kom wat wil. Ek is in my middel dertigs, so ek sal dalk weer werk kry, maar daar is ouer ouens wat baie stres,” sê hy.

Warrick Smith*, ’n toesighouer, maak einde Februarie klaar. “Daar was beslis vanjaar ’n ander gevoel oor die groot dae, want elke sentjie wat gespaar kan word, moet gespaar word. Ons moes vreeslik afskaal in vergelyking met vorige jare, want ek is nie in die posisie van werkers wat vir Saldanha Staal self gewerk het nie. Hulle kry skeidingspakkette en ons kontrakteurs nie. Ek moes oor die feestyd begin werk soek, want ek het drie kinders vir wie ek verantwoordelik is,” sê Warrick.

Shaheen Baadjies is een van 600 kontrakteurs wat saam met die permanente werkers moet waai. Vir 21 jaar was Saldanha Staal deel van sy lewe. “Ons het jare gelede hierheen gekom om in vennootskap met iemand anders te gaan, maar dit het nie uitgewerk nie. Saldanha Staal het eintlik ons lewens gered. Ons vervoeronderneming se bestaansreg is weens Saldanha Staal,” sê Shaheen waar hy langs sy vrou, Linda, sit. Hul vervoermaatskappy is so deel van die hele aanleg dat hul kantore en alles op die perseel is.

“Meer as 50% van inkomste kom direk van Saldanha Staal en ons infrastruktuur is so opgestel dat dit vir hulle kan werk. Ons kantore is op die perseel en dus is ons telefoonlyne en e-posse en als met hulle verbind. Ons moes van die subkontrakteurs wat vir ons werk gaan sê daar is nie meer werk nie. Weet jy hoe voel dit om vir mense te sê hierdie is dalk die laaste inkomste wat hulle gaan kry? Daar is kontrakteurs wat 100% afhanklik is vir werk van Saldanha Staal en hulle sal hul deure moet sluit,” sê Shaheen.

Shaheen sê met die nodige lewenstylaanpassings sal hy heel waarskynlik op sy voete land, maar hy is bekommerd oor diegene wat dit nie so maklik het nie. “Ek dink aan die laagsbesoldigdes. Wat gaan hulle doen? Sommige mense het onafbetaalde huise en motors en ander het kinders op die skool. Ander weer het geen vaardighede wat hulle elders kan gaan aanwend nie. Ek ken mense wat kort duskant aftrede is en nou moet hulle skielik hierdie ding in die oë kyk. Ek het groot mense sien huil,” vertel Shaheen.

Hy sê hy is bang om vergelykings te tref, maar die realiteit is dat permanente werkers nog die vooruitsig van ’n skeidingspakket het. “Ouens wat vir kontrakteurs werk, moet verlief neem daarmee dat hulle net hul laaste salaris gaan kry. En daarin lê die hartseer . . . Jy hoor dit is jou laaste salarispakkie vir die afsienbare toekoms.”

Shaun Keyser*, ook ’n kontrakteur wat besig is om op te pak, sê die hele ding kon beter hanteer gewees het. Hy is steeds besig by die aanleg en wil nie sy eie posisie in gedrang bring nie daarom praat hy onder ’n skuilnaam. “Die regering en Saldanha Staal is nou in ’n skaakspel gewikkel met nie een wat wil bes gee nie.

Oor die jare het die regering agteroor gebuig om hulle te akkommodeer, maar hulle wil nie saamspeel nie. Ek dink nie hulle besef watter impak die hele ding op die streek gaan hê nie. Almal praat net van die 900 werkers wat afgelê gaan word, maar niemand praat van die sneeubal-effek nie. Gestel elke werker verteenwoordig ’n huisgesin, hoeveel is daai nie?

En as ’n mens in ag neem dat in die bruin gemeenskappe is ’n gesin gewoonlik nie net twee ouers en twee kinders nie, maar wel uitgebreide families, kan ons net dink watter impak die sluiting van die myn gaan hê. Ek het met skoolhoofde gepraat wat reeds hul somme gemaak het met betrekking tot skoolgelde. As die ouers nie werk nie, gaan die skole ook sukkel,” sê Shaun.

Intussen monitor die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) die situasie. “Ons is bekommerd oor die impak wat hierdie verwikkelinge op ouers het wat skoolfooie betaal en of hulle sal kan betaal. Die impak is nog nie heeltemal duidelik nie, maar ons sal dit aanhou monitor,” sê Bronagh Hammond, woordvoerder vir die WKOD.

Duister toekoms

Iemand met eerstehandse kennis van hoe die toemaak van ’n groot onderneming die mat onder ’n gemeenskap kan uitruk, is eerw. Earl Richards van Okiep in Nama-kwaland. Die Okiep Copper Company, wat die hartklop van die Namakwalandse ekonomie was en aan die meeste mense werk verskaf het, het in 1997 begin toemaak en duisende mense het hul werk verloor. Volgens Earl het die streek ná al die jare steeds nie herstel nie.

“Dit het aanvanklik goed gegaan met die mense, want die pakkette het uitbetaal. Daar is destyds gespot as iemand ’n nuwe bakkie gery het dat dit ’n “pakketbakkie” is. Gou genoeg het die werklikheid ingeskop dat as geld net uitgaan en niks inkom nie, dinge baie vinnig agteruitgaan.

Mans wat nog gesond genoeg was om te werk, het skielik nie meer inkomste gehad nie en ook nie vaardighede wat hulle elders kon aanwend nie,” sê Earl, wat benewens sy kerkwerk hom met welsynwerk besig hou. Earl sê dinge het geleidelik al slegter geword.

“Toe die pakketgeld op is en die ouers besef hulle kan nie ander werk in die onmiddellike omgewing kry nie, het dié wat kon, uitgewyk. Diegene wat nie kon nie, het al hoe meer verarm en sommige het uit moedeloosheid in drank en dwelms verval.

Sosiale verval het gevolg, waar huishoudings opgebreek is en tot vandag toe is dit duidelik sigbaar in hierdie gemeenskappe. Dit is jammer en hartseer en dit blyk nie of daar hoop op die horison is nie. ’n Mens sou hoop dat Saldanha Staal gered kan word, want as die gemeenskappe eers verval het, is dit moeilik om dit om te keer.”

Kuier wou by ArcelorMittal se woordvoerder, Tracey Peterson, weet of daar geen manier is wat die aanleg gered of verkoop kan word nie. Eerder as om te antwoord, het sy die joernalis gewys op ’n antwoord uit ’n vroeëre mediaverklaring: “Die besluit is na uitgebreide en konstruktiewe gesprekke met sleutelbelanghebbendes geneem . . . Dit is onwaarskynlik dat Saldanha Staal se doeltreffendheid in die hande van nuwe eienaars gaan verander. Daar word verwag dat die proses om operasies suksesvol af te skaal teen die einde van die eerste kwartaal afgehandel sal wees.” *Skuilnaam

Meer oor:  Kuier  |  Saldanha Staal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.