Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Siekte keer nie Sammy Webber
3 Oktober 2018
Sammy en sy vrou, Lesley-Rae.

Hul liefde is gebou om te hou. Daarom kon die musikant Sammy Webber, wat vanjaar ’n ongelooflike 40 jaar as musikant vier, en sy vrou, Lesley-Rae, talle struikelblokke oorkom.

Struikelblokke soos Sammy se siekte, die verlammende veelvuldige sklerose, ’n verlies aan inkomste nadat hy gediagnoseer is, sy hemelhoë mediese onkoste, sy dwalende oog en liefde vir mooi vroue, die ouderdomsverskil van 24 jaar, en haar ouers en familie se teenkanting.

Maar dié klong van Retreat en die meisie van Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte het saam talle sakke sout opgeëet en is ’n voorbeeld daarvan dat die liefde tóg alles kan oorwin.

Sammy is ’n talentvolle en gerekende baskitaarspeler en het nie net in Suid-Afrika nie, maar ook oorsee naam gemaak. Hy sê hy sou dit nooit kon maak sonder sy vrou en ander spesiale mense in sy lewe nie.

MUSIEKREIS 

Sy musiekstorie het in Retreat begin en hy moet – van alle mense – die leier van ’n bende daarvoor bedank.

Sammy het elke dag verby ’n groep ouens gestap wat die jongste treffers gesing het. Hy het die musiek geniet en altyd stilgestaan om te luister.

Die een ou, wat hy later sou uitvind is die bendeleier, het hom toe eendag gevra of hy van ’n ander bende is en of hy op hulle spioeneer. Só het ’n verhouding begin wat daartoe gelei het dat Sammy geleer het kitaar speel en aan bendegevegte deelgeneem het.

Maar ná elf maande het Sammy besef hy is nie ’n skollie nie en het hy uit die bende “bedank”. Dit was 1976 en hy was in matriek.

Daarna het hy sy eerste deurbraak gemaak toe vriende van hom, wie se pa instrumente gehad het, hom eendag gevra het om ritmekitaar te speel toe die gereelde kitaarman nie opdaag vir ’n rehearsal nie. Só het Sammy hom by sy eerste groep, Venom, aangesluit en in klubs en by verskeidenheidskonserte gespeel. Hy het toe daarna draaie gegooi by Funtime, Virtual Jazz Reality, Sparkle, en hy en Tony Paulse, een van die broers wat hom sy eerste kans gegee het, het die gewilde duo U-Turn gevorm.

Hy het in Swaziland gespeel met Sparkle, maar toe teruggekeer en lid geword van die band Inside Out, wat by Club Galaxy in Athlone die resident band was. Die gewilde VJR het uit Inside Out ontstaan.

Sammy bekoor die gehoor.

DIAGNOSE

Sammy was ook ’n fiksheidsfanatikus wat karate en bergfietsry beoefen het en ook ’n persoonlike fiksheidsinstrukteur was. Dit was totdat hy gediagnoseer is met die gevreesde veelvuldige sklerose (VS).

“Dit was vernietigend, dit het my soortvan bekruip. Ek het nie eens geweet nie. Dit was gedurende die laaste drie of vier maande van 2009 wat ek al hierdie weird simptome ervaar het. In Januarie 2010 is ek na my dokter toe. Hy het my ondersoek en gesê daar is niks fout met my liggaam nie en daarom stuur hy my na ’n neuroloog toe.

“Ek het absoluut niks van veelvuldige sklerose geweet nie. Een van die hoofsimptome was dat jou balans heeltemal weg was. Jy kan nie in ’n reguit lyn loop nie. Jy loop soos ’n dronkie.

“Dit het my spraak ook aangetas en ek het begin slur soos iemand wat ’n stroke gehad het. Die derde simptoom was dat my handskrif geaffekteer was – ek kon nie my eie handskrif herken nie. En as ek kar gery het, het ek bestuur soos ’n 16- of 17-jarige wat nog leer ry.

“My kitaarspel het ook agteruitgegaan. Die moeilikste song om te speel was skielik ‘Billie Jean,’ ’n song wat ek vir 20 jaar in my slaap gespeel het. My vrou, wat toe nog my verloofde was, het gedink ek het ’n breingewas.

“Ek het die eerste keer in Januarie gegaan, maar die neuroloog het my eers in November 2010 met VS gediagnoseer.”

Lesley-Rae sê die nuus het as ’n groot skok gekom. “Dit was die grootste ding vir my, want Sammy was so onafhanklik. Ek was nie seker hoe hy sou reageer nie. Ek het baie navorsing gedoen, want ek wou voorbereid wees.

“En die dinge wat ek gelees het, was net terrible. Ek kon nie die sterk man picture wat so agteruitgegaan het nie. Ek het baie trane gestort, maar nooit voor hom nie,” vertel sy.

“O, jy sê my nou eers!” spring Sammy in en kyk liefderyk na sy vrou.

“Ja, dit was moeilik, dit was regtig,” gaan Lesley-Rae voort. “Om iemand só te sien verander . . . Dis traumaties. En dit was nie sy skuld nie – dis net ’n siektetoestand. Daar was niks wat ek vir hom kon doen nie. As ek met hom plekke kon ruil, sou ek.

“Ek is in die algemeen iemand wat ander eerste stel, so dit was nie so ’n groot verandering vir my om by ons nuwe realiteit aan te pas nie. Ek moes nou al die rywerk doen en ek haat dit om kar te bestuur! Maar ek gee nie om om dinge vir hom te doen nie.

“Ek weet eerlikwaar nie hoekom mense sê dis ’n labour of love nie, want labour impliseer dis harde werk, maar vir my is dit net ’n natuurlike ding om goed vir Sammy te doen.”

“Ja, ons het mos op ons troudag tydens ons gelofte gesê in sickness and in health,” grap Sammy.

WARE LIEFDE 

Lesley-Rae sê Sammy wou nie vir haar ’n las wees nie. Hy was so ernstig daaroor dat hy hul verlowing verbreek het.

Sammy sê haar ondersteuning was “awesome” tydens die eerste paar donker maande en is steeds vandag. Hy voeg by dit klink dalk snaaks, maar die bedekte seëning van sy siekte is dat hy van sy dwalende oog genees is. “Nou het ek net oë vir my vrou.”

Sammy lyk nog jeugdig vir ’n man wat op 12 Desember 60 raak. Hy sê hy is nie bitter oor sy siekte nie. “Die enigste ding wat ek regtig mis, is om agter die stuurwiel van my kar te klim en iewers heen te ry.”

Lesley-Rae, wat nou 36 is, kom uit ’n baie beskermende ouerhuis. Haar pa is ’n pastoor en haar ma staan ook in die pastorale bediening. Daarom was dit baie rof vir haar om by Sammy betrokke te raak op ’n romantiese vlak.

“Ek het vir tien jaar in HR (menslike hulpbronnebestuur) gewerk. Sammy was baie siek en ek het toe besluit om my werk te los en hom heeltyds te versorg. Nou sing ek vir ’n lewe. Die League of Friends of the Blind het ons ook wonderlik bygestaan en vir Sammy gehelp om aan te pas.”

Die twee het ontmoet toe sy nog ’n student was by ’n musiekskool. Sy sê die girls was eendag omtrent opgewonde omdat Sammy klas sou kom gee.

Ná die klas het sy hom beledig deur te sê sy weet nie waarom die girls so ’n ophef van hom maak nie, maar tóg sy handtekening gevra. Ses jaar later het hulle weer ontmoet, ’n koffie-afspraak het gevolg en die res is geskiedenis.

Om Sammy en Lesley-Rae hul liefde vir mekaar te sien uitleef, moet jy sorg dat jy op Woensdag 21 November by die Baxter-teater in Rondebosch in die Kaap is vir Sammy se show 40 Years and Counting!

Dr Victor van Rasta Rebels-faam en talle ander kunstenaars tree ook op. Die konsert begin 20:15. Alle kaartjies kos R250.

Dis aanlyn beskikbaar by webtickets.co.za, die Baxter se kaartjiekantoor en alle takke van Pick n Pay.

Meer oor:  Sammy Webber  |  Kuier  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.