Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Saambly: Geen regte as julle opbreek
6 Februarie 2019


Aangesien amper die helfte van alle huwelike in die skeihof eindig, kies baie paartjies deesdae om net saam te bly, eerder as om die knoop amptelik deur te hak.

Baie mense is egter onder die indruk dat jy ná ’n sekere tyd saam dieselfde finansiële regte het as ’n getroude. Maar wees gewaarsku: daar bestaan nie iets soos ’n “common law-huwelik” in Suid-Afrika nie en saambly skep nie outomaties enige wetlike regte of pligte tussen julle nie, maak nie saak hoe lank julle saam was nie. As jy nie getroud is nie, is daar dus altyd ’n kans dat jy eendag met net die klere aan jou lyf uit jou huis en jou verhouding sal moet stap.

Anders as die huwelik wat deur spesifieke wette gereguleer word, is daar geen waarborge wanneer jy saambly nie. Byvoorbeeld, as jou maat sterf sonder ’n geldige testament, het jy geen reg om te erf nie. Jy kan ook nie maintenance eis as jul verhouding op die rotse loop nie. As sogenaamde “houvrou” het jy geen regte nie. Nie ná ses maande nie, nie ná ses jaar of sestig jaar nie.

Só het Bronwin van Wyk (41), ’n lash extension tegnikus (iemand wat vals wimpers insit) van Table View buite Kaapstad, met ’n skok uitgevind die dag toe sy, ná sewe jaar in ’n abu­sive verhouding, haar sakke gepak het. “Ek is daar weg met ’n gebreekte hart, ’n leë beursie, ’n pine tafel en twee lelike banke waarvan my partner niks gehou het nie,” onthou sy. Gedurende die verhouding het Bronwin haar werk opgegee om na hul dogter en haar stiefdogter om te sien. Sy het ’n maandelikse toelaag van haar boyfriend vir haarself en die huishouding gekry. Dit het egter onmiddellik gestop toe sy die verhouding beëindig. Sy het alles verloor. “Ek wens meer vroue wil besef wat gaan aan. Ek het gedog ek was in ’n common law-huwelik, dat ek oukei sou wees, want hy sou steeds na my moet kyk. Net om te hoor dit bestaan nie in Suid-Afrika nie,” erken sy spyt.

Haar advies aan ander vroue is om altyd jou onafhanklikheid te behou, maak jou eie geld en kry ’n lewe van jou eie. Versorg jouself emosioneel en fisies en bemagtig jouself met kennis – gaan oop oë in die ding in. Hoewel Bronwin steeds die skuld afbetaal wat sy moes maak om te oorleef nadat die verhouding beëindig is, gaan sy deesdae van krag tot krag en het haar eie besigheid begin.

Sy is egter huiwerig om, selfs jare later, weer in ’n verhouding betrokke te raak.

“Ek vertrou mans nie meer nie, maar ek wil gesond word sodat my dogter en stiefdogter (wat steeds by haar bly) eendag ’n kans het op gesonde verhoudings.”

Wat sê die wet?

Aan die einde van 2018 was daar egter ’n baanbreker-beslissing in die Gautengse hooggeregshof vir ongetroude paartjies, waar die regter beslis het die howe moet saam met die tye verander, veral omdat verhoudings en huwelike aan die verander is. Die regter het beslis in die guns van ’n vrou wie se lewensmaat in ’n motorongeluk oorlede is. Die verloofde paartjie het saamgebly en hoewel hy steeds met iemand anders getroud was, was hy besig om te skei toe die ongeluk gebeur. Sy lewensmaat het maintenance van die Padongelukkefonds geëis omdat hy haar finansieel onderhou het. Sy het gewen, al was hulle nie getroud nie. Of dit enigsins die situasie vir saambly-paartjies gaan verander, is egter ’n ope vraag.

Tans is die wet steeds ’n bietjie konserwatief – as jy nie trou nie en dus nie die wetlike verantwoordelikhede wat daarmee gepaard gaan, wil aanvaar nie, kan jy nie kla as jy nie die voordele en beskerming van die huwelik kan geniet nie.

In Riaan Scheepers, ’n egskeiding- en familiereg-prokureur van Cawood Attorneys in Pretoria, se ervaring voel mense deesdae gemaklik en veilig in saamblyverhoudings, terwyl baie bang is om te “overcommit”. “Mense besef egter nie jy het geen regte om te erf as jou maat sterf nie. Selfs al het hy geen kinders of familie nie, sal alles na die staat gaan en jy sal met leë hande agterbly.”

Jou partner hoef jou glad nie te onderhou nie en skuld jou niks nie – nie tydens die verhouding nie en ook nie as jul paadjies skei nie. Jy het geen regte nie.

“Baie mense glo as jy saambly, het jy dieselfde regte as getroudes. Dis glad nie waar nie,” sê hy.

Daar is egter iets wat jy kan doen om jouself en jou sak te beskerm. Lewensmaats wat verkies om nie te trou nie, kan ’n kontrak soortgelyk aan ’n “voorhuwelikse kontrak” met mekaar sluit wat hulle onderskeidelike verpligtinge, veral finansieel, gedurende die verhouding, maar ook indien dit beëindig word, uiteensit. Dit is afdwingbaar mits dit niks onwettig of immoreel bevat nie.

Baie mense glo as jy saambly, het jy dieselfde regte as getroudes. Dis glad nie waar nie.
Riaan Scheepers

Daarsonder sal elke party dit wat in sy naam geregistreer is (byvoorbeeld huis of kar) behou, ongeag enige bydrae wat die ander party gemaak het om die item te verkry of te verbeter. Daardie mooi gordyne en handdoeke wat jy met jou hardverdiende geldjies gekoop het, of die mooi muurpapier wat jy Saterdag ná Saterdag sit en opplak het, is jy nou kwyt.

Dieselfde geld wanneer jou geliefde sterf sonder ’n cohabitation agreement of saamblykontrak. As jy nie spesifiek in sy testament genoem word nie, het jy geen regte tot sy pension, lewenspolisse of om te erf nie.

Net soos ’n paartjie ’n voorhuwelikse kontrak aangaan voordat hulle trou, moet dit aanvaarbaar wees vir twee mense om ’n saambly-ooreenkoms aan te gaan.

“Vir een of ander rede voel saamblypaartjies dikwels ongemaklik om so iets saam te stel. Miskien is dit omdat hulle nie hul maat onder druk wil plaas of wil lyk asof hulle nie mekaar vertrou nie,” meen Riaan. Maar dis jou reg om jouself te beskerm en daarsonder het jy geen regte nie.

Besluit wie is verantwoordelik vir wat in die huishouding en vir watter lewenskoste. Julle kan ook insluit hoe julle eiendom en bates verdeel sal word indien jul paadjies skei. ’n Mens kan selfs verduidelik hoe maintenance sal werk as julle sou opbreek.

Die inhoud van die kontrak hang heeltemal af van julle as paartjie se behoeftes. Verder is dit belangrik om al jul besittings regverdig te verdeel. Lys die verskillende items wat julle in die verhouding ingebring het en besluit of julle dit nou gesamentlik besit of nie. Hou register van enigiets wat julle tydens die verhouding aankoop en besit en besluit saam of dit joune, syne of julle s’n is. As julle ’n huis saam besit, besluit watter persentasie wie kry, sou jul paadjies eendag skei. As die huis net in een van julle se naam is, besluit of enigiemand vergoed sal word vir verbeterings wat aan die eiendom gedoen is. As julle huur, besluit wie kan aanbly en wie moet sakke pak as dinge skeefloop.

As jy nie so iets het nie, sal jy geen wetlike beskerming hê nie en moontlik alles verloor as julle liefde die dag opdroog. Jy sal geen aanspraak kan maak op die geld wat jy moes spandeer toe jou geliefde nie ’n joppie gehad het nie en jy kan ook nie enige donasies wat jy aan hom gemaak het, terugeis nie.

Hoewel jy geen finansiële voordele kan verwag sou jou saamblyverhouding eindig nie, is daar ’n paar dinge waarop jy tog geregtig is. Jy word beskerm teen domestic violence.

Wanneer dit kom by mediese fonds mag jy ’n “dependent” of afhanklike van jou maat se skema wees. Indien jou maat jou spesifiek in sy testament of lewenspolis noem as ’n begunstigde, mag jy dan erf. Indien julle kinders saam het, moet julle elkeen as ouers steeds bydra tot papgeld. Besluite oor die sorg van die kinders word steeds gebaseer op die beste belange van die kinders. As jou maat jou nomineer, kan jy sy pensioenfondsvoordele ontvang indien jy ’n afhanklike is, maar net indien julle steeds in ’n verhouding is.

Meer oor:  Getroudes  |  Saambly  |  Verhoudings  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.