Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Seer sonder einde
28 Junie 2019


Sy het die liefde van haar lewe op skool al ontmoet en toe hulle tien jaar later trou, was dit ’n droom wat waar geword het.

Maar skaars ’n maand nadat hulle die ja-woord gesê het, net twee dae nadat hulle teruggekom het van hul wittebrood, moes Zia Trenkic (nou 33) van Kensington in Johannesburg, toekyk hoe haar man, Jay Kirkpatrick (27), in haar arms sterf. Zia en Jay het mekaar ontmoet toe hulle albei nog op skool was.

Zia se oorlede man, Jay Kirkpatrick.

Hoewel dit liefde met die eerste oogopslag was, was die tweetjies verstandig genoeg om te wag totdat hulle oud genoeg was voordat hulle uiteindelik in Desember 2011 die knoop deurgehaak het. Zia was toe reeds 25 en vas oortuig dat sy saam met Jay wou oud word. “Op daardie stadium was Jay nog nooit eens in Kaapstad nie, wat nog te sê van oorsee en hy het geen behoefte gehad om te reis nie, so dit het nogal ’n bietjie gevat om hom te oortuig om in Thailand te gaan wittebrood hou,” onthou sy met ’n glimlag.

Om haar tevrede te stel, het hy ingestem. Jay was egter uit die veld geslaan met dié eksotiese land en was so mal daaroor dat hy begin plannetjies maak het om daarheen te verhuis in die tien dae wat hulle daar was. “Hy wou hê ons moes ons besige lewe in Johannesburg verruil vir ’n rustiger eilandbestaan sodat ons daar met ’n gesin kon begin. Ongelukkig was dit ons nie beskore nie . . .” sê Zia afgetrokke. Die paartjie het op daardie stadium ’n venue bestuur wat Jay besit het en hulle moes baie lang, spanningsvolle ure werk, veral nadat sy ma oorlede is in Desember 2000 en sy pa in Februarie 2010. Jay se suster kon dit glad nie verwerk nie en het by hul ouma in Grahamstad gaan woon, so behalwe vir ’n oom aan wie hy naby was, was Zia eintlik Jay se enigste familie en sy regterhand in die familiebesigheid.

Dis snaaks hoe jy amper kan sien hoe die lig, die lewe iemand se oë verlaat.

Noodlottige aand

Die venue is juis die rede hoekom die paartjie drie dae voor Oujaar moes huis toe kom – sodat hulle kon voorberei vir die Nuwejaarspartytjie. “Die 30ste (Desember 2011), was chaos. Terwyl ons weg was, het die venue oorstroom en al die Persiese matte was nat,” onthou sy. Jay was so gespanne en opgewerk dat Zia op ’n stadium gesê het as hy nie gaan ontspan nie, dit nog sy dood gaan veroorsaak. Min het sy geweet . . .

Daardie aand het hulle saam met haar suster en dié se kêrel (nou Zia se swaer), toevallig ook Jay se beste vriend gaan uiteet, maar was vroeg tuis en het besluit om die snorkelduik-video van hul wittebrood te kyk en van die eksotiese lekkers wat hul saam terug te bring te eet. “Dit was soveel pret en ons het baie gelag,” onthou sy. Zia was egter pootuit en het nog met vlugvoosheid geworstel en het voor Jay in die bed gaan klim.

’n Paar ure nadat sy ingekruip het, het Zia snaakse roggelgeluide uit die sitkamer gehoor – amper asof iemand verstik en hoes. Sy het aanvaar dalk het een van die Thaise lekkers in Jay se keel vasgesit en dadelik gehardloop om hom te gaan help. “Jay was op sy knieë in die woonkamer met sy hande op sy hart vasgeklem. Daar was ’n paniekbevange uitdrukking in sy oë. Hy kon nie praat nie en dit was amper asof hy nie kon asem kry nie,” vertel Zia vinnig, asof sy die oomblik voor haar sien afspeel. Sy het onmiddellik die Heimlich-maneuver (vir wanneer iemand verstik) probeer toepas, maar tevergeefs. Daarna het sy hom neergelê en CPR begin doen om sy lewe te probeer red.

“Ek het besef niks help nie toe sy lippe begin blou word, so toe bel ek die nooddienste,” onthou sy. Die agt minute wat dit die ambulans gevat het om by hul huis uit te kom, het meer gevoel soos soos agt ure. “Dis snaaks hoe jy amper kan sien hoe die lig, die lewe iemand se oë verlaat,” vertel Zia nadenkend. “As jy iemand goed ken, kan jy voel hoe hulle gaan. Nadat ek die ambulans gebel het, het ek langs Jay gaan lê en my arms om hom gevou. Ek het in sy oor gefluister, ‘dis oukei. Jy kan maar ophou baklei en na jou ma toe gaan. Ek sal altyd lief vir jou bly, altyd jou vrou wees’.

Daarna het hy sy laaste asem uitgeblaas en ek kon sien hoe die lewe uit sy oë uitgaan, hoe hulle dof word.” Zia begin bitterlik huil terwyl sy hierdie oomblik van hartverskeurende hartseer herleef. Dis agt jaar later, maar die pyn van daardie oomblik lê steeds vlak in haar hart. “Nadat ek dit vir hom gesê het en hy uitgeasem het, was dit asof ek ’n tweede asem gekry het. Ek het gedink, ’nee, nee, nee!’ en wou hom nie laat gaan nie, kon nie aanvaar wat besig was om te gebeur nie en het weer verwoed met CPR begin al het galsuur reeds by Jay se mond begin uitborrel en hy potblou was in die gesig.” Dit is amper asof sy nog daardie suur reuk in die lug kan ruik.

Ná die aankoms van die ambulans het noodwerkers haar na haar kamer toe gevat terwyl hulle tevergeefs gespartel het om Jay se lewe te probeer red. Aanvanklik het ambulanspersoneel gedink dit was dalk ’n bloedklont as gevolg van die lang wittebrood-vlug, maar dit was eers ná die nadoodse ondersoek wat dit aan die lig gekom het dat Jay, ’n gesonde jong man van skaars 27, daardie nag ’n onverklaarbare, enorme en noodlottige hartaanval gekry het.

’n Maand ná Jay se dood het Zia met die nodige toestemming van die Thaise regering sy as daar gaan strooi omdat sy geweet het dis wat hy sou wou hê – om finaal te rus op die plek waar hy, en hulle as paartjie, die gelukkigste was. Daarna het sy haar lewe vir die eerste keer as volwasse alleenloper weer soos ’n legkaart aanmekaar probeer sit. “Dit was een van die moeilikste goed wat ek nog ooit moes doen. My man was, vandat ek kon onthou, deel van my lewe. Ek het nie geweet wie of wat ek is sonder hom nie, waarvan ek hou of wat my lewensdrome nou moes wees nie,” onthou sy hartseer.

Verpletterd

Die paniekaanvalle waaraan Zia al van kleins af gely het, het in hierdie tyd ’n vreesaanjaende hoogtepunt bereik – soveel so dat sy soms haar bewussyn verloor het. Spanning en slapeloosheid was veral snellers vir hierdie aanvalle. “Dit voel asof jy besig is om dood te gaan. Maak nie saak hoe jy jouself probeer ompraat dat niks eintlik fout is nie, jy kan nie die angs stopsit nie. Jou brein vertel vir jou, ‘ek is besig om dood te gaan. My liggaam is besig om af te skakel.’ En dan gebeur dit ook. Jou spiere hou op om te werk. Jou asemhaling en jou hart . . . Dit is die aakligste gevoel . . .”

Sy het in daardie tyd steeds die venue bestuur – alleen. Zia het egter ook probeer om haar eie passies, soos dans en musiek, te herontdek. “Een of twee keer in ons verhouding het Jay my maak belowe dat, as daar ooit iets met hom moes gebeur, ek moet doen waarvan ék hou en droom,” vertel sy. Die venue was egter al wat sy geken het en amper as ’n anker aan haar vorige lewe, het Zia haarself in haar werk gedompel.

Dís hoe die motor gelyk het ná die noodlottige ongeluk.
Zia in ’n koma in die hospitaal ná die ongeluk.

Een aand kort nadat sy van Thailand af teruggekeer het, het sy gevoel hoe ’n paniekaanval dreig om haar by die werk te oorrompel. “Daardie week was baie rof en ek het maar min geslaap. Ek het daai aand in my kantoor gestaan en gevoel hoe ’n aanval my begin oorval. Gewoonlik verkies ek om alleen te wees, maar ek het net gevoel iets is fout en toe het ek in die kroeg gaan staan. Daar, voor almal, het ek my bewussyn verloor.” Haar beste vriendin, Natalie, het toevallig daardie aand besluit om ’n draai by die venue te kom maak.

Gelukkig het Natalie al van tevore een van Zia se episodes beleef en het besluit om haar hospitaal toe te jaag. ’n Bouncer het gehelp om vir Zia op die agterste sitplek van Natalie se blou motortjie te kry. In die haas om haar vriendin by die noodgevalle-eenheid te kry, het Natalie egter beheer oor die motor verloor en deur ’n boom in ’n muur vasgery. Eers twee maande later het Zia wakker geword uit ’n medies-geïnduseerde koma.

Sy moes later hoor noodpersoneel moes vir twee ure sukkel met die “jaws of life” om haar uit die wrak te sny. Volgens haar het sy toe reeds al amper twee liter bloed verloor. ’n Helikopter het haar na ’n hospitaal in Alberton gehaas. In die eerste paar ure ná die verskriklike ongeluk het Zia drie keer by die dood omgedraai, maar mediese personeel het daarin geslaag om haar terug te bring.

Dokters moes ’n nood-laparotomie (insnyding deur die buikwand) op haar doen omdat haar blaas en lewer gebars het. Haar ribbes het deur haar eie hart en longe gesteek. Haar een knieskyf is in die ongeluk vergruis terwyl ’n stuk metaal in die ander een ingesteek het en haar heup en pelvis was gebreek. Haar gewrig was opgemors en dit was asof die binnekant van haar neus net inmekaargesak het.

Sy het ook bloeding op haar erg-geswolle brein gehad. Sy het ernstige interne bloeding opgedoen en masjiene moes haar aan die lewe hou. Zia moes dadelik ’n bloed-oortapping kry, maar haar liggaam het die skenkerbloed verwerp. Sy moes dialise en ’n totale bloedoortapping ondergaan. “Ek was ’n gemors. Dokters het nie veel hoop gehad nie en het my familie op die ergste voorberei. Dit was ’n wonderwerk dat ek oorleef het.”

Sy vertel om in ’n koma te wees, voel soos droom. Sy kon nou en dan ook mense om haar hoor praat. Almal se stemme – behalwe dié van haar nagsuster en haar ma – het vir Zia só erg ontstel dat hulle uit die kamer gejaag moes word uit vrees dat haar toestand sou vererger. Verder kan sy niks van hierdie tyd onthou nie, behalwe dat elke keer wat dokters haar hart geskok het om haar weer aan die lewe te kry, dit was asof al die asem binne oomblikke uit haar liggaam gesuig is.

Ná twee maande het dokters vir Zia stadig maar seker uit die koma gebring. Dít was toe sy die eerste keer die verpletterende nuus moes hoor: Natalie, haar beste vriendin wat haar net probeer help het in haar eie nood, is op slag dood en sy wat Zia is, het dit net-net gemaak. Sy het ook uitgevind dat Natalie se broer, wat op daardie stadium ’n polisieman was, een van die eerstes op die toneel was en dat hy sy suster só moes sien. Hierdie hartseer tyding moes haar ma daagliks herhaal omdat ’n mens blykbaar baie vergeetagtig is wanneer jy uit ’n koma wakker word, so sy moes dié skok weer en weer beleef.

Dít nadat sy nog skaars begin het om haar man se dood te probeer verwerk. “Dit was vir my erger as enige van die beserings – die feit dat haar dood my skuld was omdat sy my probeer help het. Die skuldgevoelens het my oorweldig en ek het in ’n diep depressie verval. Ek wou nie meer lewe nie,” erken sy saggies. Zia moes weer leer loop en buig – iets wat dokters geglo het haar nooit weer beskore sou wees nie.

Haar hart was egter so gebroke, so diep seer ná al die tragedies wat haar in so ’n kort tydjie te beurt geval het, dat sy eintlik net in ’n hopie wou bly lê. Want nie net het sy eers haar man, toe haar beste vriendin en haar gesonde liggaam verloor nie, maar die skade wat sy in die ongeluk opgedoen het, was ook van so ’n aard dat Zia nooit eendag sou kon kinders kry nie – een van haar grootste hartsbegeertes.

Tel die stukke op

Zia het weer getrou. Maks is haar rots en help haar om haar lewe te herbou.

Sy was vir omtrent drie maande in ’n hospitaalbed vasgekluister, waarna sy – net ’n skaduwee van wie sy eens was, ineengekrimp met die pyn van verlies – teruggetrek het na haar ouerhuis in Pretoria. Dis ook hier waar sy talle kere oorweeg het om haar lewe te beëindig met haar morfien-voorskrif.

Dag ná dag het sy net in haar bed gelê en voor haar uitgestaar. Niks was meer die moeite werd nie. Haar ma en suster moes alles vir haar doen – tot was en aantrek. Zia was van alles gestroop – selfs haar menswaardigheid. “Wanneer jy gestroop word van jou menswees, voel jy net niks, leeg. Party dae het ek so hart gehuil my hart het gepyn. Ek het nie geweet waar om die stukke van my verpletterde lewe te begin optel nie,” erken sy.

Dit was eers toe haar swaer haar eendag besoek het, dat sy begin besef het dis tyd om die herstelproses te probeer begin. “Hy het vir my ’n pen en ’n pienk en swart dagboek gebring en gesê ek moet begin skryf, dat hy lief is vir my en lief was vir Jay, maar dat hy my nie meer ken nie en dat ek beter is as die hopie hartseer in die bed.” Van daar af het Zia stelselmatig al hoe meer haar gedagtes begin neerpen. “Aanvanklik was dit so moeilik, maar ek dink dit het my gehelp. Dit het my weer sin laat begin sien, begin soul search. Ek dink dít het my lewe gered. Dat ek besef het ek het dalk ’n doel hier op aarde,” erken sy.

Hoewel Zia in hierdie tyd van haar herstelproses niemand wou ken of sien nie, het een van haar vriende aanhou kom. Maak nie saak hoeveel keer sy hom weggejaag het nie. “Maks Trenkic (32) wou maar net nie nee vir ’n antwoord vat nie. Hy het partykeer net by my kom sit, ander kere vir my flieks gebring. Hy het nooit moed opgegee nie.” Stadig maar seker het Maks die mure om haar hart afgebreek en haar gehelp om weer op te staan en aan te gaan. Vandag is Maks steeds Zia se rots. Die paartjie is nou al amper twee jaar getroud en al het dokters gesê dit is onmoontlik, is hulle die trotse ouers van 16 maande oue Vuk. “Vandag is ek dankbaar dat ek oorleef het, dat ek oorkom het, dat ek liefde in my lewe het. Ek is dankbaar vir ’n tweede kans,” glimlag sy. Die fisiese pyn bly haar steeds by, maar die emosionele wonde is besig om met tyd gesond te word.

Foto’s: Pieter du Toit en Verskaf

Meer oor:  Kuier  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.