Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Seer & spyt ná dood van tikverslaafde dogter
raquel dunn, tikverslaafde


Veronica Raquel Dunn (45) het dit altyd in haar agterkop gehad dat sy eendag haar dwelmverslaafde oudste dogter, Vinolia Avent Dunn (24), se lyk sal moet gaan uitken nadat dit op ’n oop stuk veld gevind is. Of, het Veronica gedink, dat Vinolia weens ’n oordosis gaan sterf.

Dít is die gedagtes wat in Veronica se kop gemaal het terwyl sy biddend gebly het dat haar tikverslaafde dogter eendag haar verslawing sal oorwin. Min het sy geweet dat sý eendag tereg sou staan weens die moord op haar Vinolia, oftewel Gaatjie.

Baie dae verwag Veronica, beter bekend as Raquel, om wakker te skrik uit dié aaklige nagmerrie omdat sy steeds sukkel om sin te maak van wat gebeur het. Gaatjie se dood voel vir haar steeds net só onwerklik...

Met oë gevul met smart, vertel dié ma van die gebeure op 11 Desember 2018 toe haar lewe onherroeplik verander het. Raquel het daardie dag vir Gaatjie met ’n mes in die rug gesteek.

Gaatjie het na bewering die oggend van haar dood vir Raquel en haar suster, Ashadene, met ’n geskop en geskel aan die deur wakker gemaak. Sy het hul “zozo” (shack) binnegestorm en goed begin rondgooi toe haar ma haar probeer uitsit.

“Haar suster, Ashadene, het my gehelp, maar sy het ’n mes gegryp en sou haar suster of vir my steek. Dit is toe wat ek die mes in die hande kry en haar gesteek het.” Gaatjie het sowat ’n uur ná die voorval gesterf.

Raquel is van Vinolia se moord aangekla en het in Desember verlede jaar vir die eerste keer in die hof verskyn. Sy is op borgtog van R2 000 vrygelaat. Haar verhoor begin op 28 Mei in die Protea Glen-landdroshof in Johannesburg.

raquel dunn, tikverslaafde
Haar ma huil by haar graf.

Groot leemte

Wanneer haar verhoor begin, sal dit vyf maande wees nadat sy haar eie kind se lewe geneem het. Die vermisting voel sy klokslag elke oggend wanneer daar nie meer ’n klop aan die deur is vir ’n vyftig sent en ’n stukkie toiletpapier is nie. Sy mis selfs hoe Gaatjie altyd uitgeroep het, “Ma, ek is honger!”

En met Moedersdag om die draai, is hierdie vir Raquel ’n bittersoet tyd. Soet omdat sy steeds haar ander dogter het, maar bitter omdat Gaatjie nie meer hier is om dit spesiaal te maak nie.

“Hierdie Moedersdag voel ek half, want ek het altyd twee kinders gehad. Ek leef deesdae in my eie wêreld,” sê Raquel sag. Hoewel hulle vanjaar weer hul Moedersdag-tradisie gaan volg, sal dit nie dieselfde wees nie. Die familiekinders maak gewoonlik ontbyt vir al die ma’s wat in die familie is.

Volgens Raquel het Gaatjie ’n punt daarvan gemaak om deel te neem aan hierdie vieringe hoewel sy (in haar dwelverslaafde toestand) geloop en gaan het soos sy wil, maar sy was daar.

Raquel onthou egter ’n tyd toe Gaatjie nié só was nie. Toe sy nog die kind was wat in almal se harte gekruip het.

“Sy was van kleins af woelig en almal was lief vir haar, want sy was die eerste kleinkind en het boonop die familie-van Avent gehad,” vertel Raquel trots. Gaatjie is gebore voor Raquel en haar man, Anthony Dunn, getroud is.

raquel dunn, tikverslaafde
Vinolia "Gaatjie", Raquel se oorlede dogter.

Gaatjie se hande het ook vir niks verkeerd gestaan nie. Sy kon goed huis skoonmaak en het dit gedoen om geld te verdien. Raquel sê egter dit was om haar verslawing te voed. Gaatjie was in haar eerste jaar op hoërskool toe haar ma uitvind sy gebruik dwelms. Haar liefde vir kinders en haar goeie gesindheid het soms al haar kwaaddoenery oorskadu. Sy het altyd saam met die klein kinders in die huis gespeel en het op ’n goeie dag vir elkeen van hulle ’n vyftig sent gegee vir ’n pakkie chips. Ander dae het sy haar ouers en suster rot en kaal besteel.

“Sy het my vleise uit my fridge gesteel. Ek het gedink die kind vat dit om vir haar gaar te gaan maak, maar ek het uitgevind sy het dit verkoop. Enige ding wat sy in my huis kon kry, het sy gevat,” vertel Raquel.

Volgens haar het sy op ’n tyd by ’n plaaslike skool gaan werk soek, maar is toe ingelig dat haar dogter by die skool ingebreek het. Sy het nie die werk gekry nie. Ander tye het sy self haar dogter by die polisie aangegee toe hulle Gaatjie soek weens diefstal.

Sy vertel hoe vernederd sy gevoel het toe Gaatjie verskeie kere by die Hadassah-rehabilitasiesentrum opgeneem is en weggehardloop het. In nóg ’n poging om haar kind uit die kloue van dwelms te red, was Raquel een van dertien vroue wat met oudpres. Jacob Zuma in Eldoradopark ontmoet het. Die gemeen-skapsaktivis Dereleen James het namens die vroue hul pleidooie vir hulp in die stryd teen dwelms in ’n brief aan hom neergepen. Maar daarvan het daar niks gekom nie.

Bots met gereg

Raquel se probleme met haar dogter het egter net vererger soos die tyd aangegaan het. Gaatjie het telkemale met die gereg gebots en ander kere kon haar ma eenvoudig nie met haar huis hou nie.

“Daai wanneer hulle voor die magistraat kom, dan hou hulle hulle so innocent. Sy het die magistraat gepromise sy gaan vir haar werk soek, maar dit was ook maar dit,” vertel Raquel bedroef oor wat tydens een van Gaatjie se hofverskynings gebeur het. Gaatjie het later minder begin huis toe kom en by haar dwelmverslaafde vriend ingetrek.

Hierdie Moedersdag voel ek half, want ek het altyd twee kinders gehad. Ek leef deesdae in my eie wêreld.
Raquel Dunn

Elke dag was ’n opdraande stryd veral wanneer sy nie geld het om haar verslawing te voed nie. Sy het aan die begin glo tik gebruik en later nyope.

“As sy nie daai drug ingehad het nie, is sy een minuut reg en die ander minuut stres sy sommer op jou.”

Gaatjie het haar ma ook by tye fisies en emosioneel mishandel. Vir ’n oomblik heers daar stilte terwyl ons voor Raquel se zozo sit.

Dit is vir haar moeilik om te verwerk hoe haar dogter, wat eens so netjies was op haarself, in ’n vuil onherkenbare jong meisie ontaard het. “Ons moes haar smeek om te was. Ek het haar gevra, ‘dink jy niks van my nie?

raquel dunn, tikverslaafde
Dis waar Gaatjie baiekeer gerook het.

Ten spyte van alles wat hulle oor die jare deurgemaak het, het sy nooit haar dogter verstoot nie, sê Raquel.

En nou begin haar moordverhoor op 28 Mei. Dié ma het geen idee wat om te verwag in die verhoor nie omdat sy nooit vantevore met die gereg gebots het nie.

Om nou ’n klag van moord in die gesig te staar, is vir haar erg. “Van moord weet ek nie, want ek het dit nie beplan nie. Ek het nie gaan slaap en gesê, ‘ek gaan môre die kind doodmaak nie’. Dit is iets wat ek in die Here se hande los, want God weet wat ek deurgemaak het.”

Maar Raquel berus haar daarby dat haar dogter haar in haar laaste oomblikke om verskoning gevra het vir alles wat sy aan haar gedoen het. “Toe sy daar lê, het sy haar hart oopgemaak en haar pad het oopgegaan. Sy is met God, want sy het mooi gegaan,” sê Raquel.

Al het haar aksies haar gesin in rou gedompel, verander dit nie die feit dat Raquel Gaatjie en Ashadene se ma is of dat sy liefde in oorvloed vir haar kinders het en nooit onderskeid tussen hulle getref het nie. Raquel is net jammer dat die dwelmduiwel Gaatjie se lewe oorgeneem en haar ontneem het van al die mooi dinge in die lewe...  

* Euline Reid is ’n regisseur vir die program Fokus op SABC2.

Meer oor:  Veronica Raquel Dunn  |  Kuier  |  Dwelmverslawing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.