Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Shimmy Isaacs skitter in Arendsvlei
15 oktober 2020


Shimmy Isaacs se karakter, Petra, in kykNET&kie se telenovela, Arendsvlei, het ons kassies met ’n bang getref. Dié skerptongvrou is glad nie op haar mond geval nie en dit is ’n karakter wat baie van ons al in die regte lewe ontmoet het.

Sy herinner ’n mens aan daai anties in die gemeenskap wat ons almal ken – hetsy dit jou ma, ouma, antie, niggie of jyself is. Shimmy (39) van Worcester in die Boland is teen dié tyd geen vreemdeling vir Kuier-lesers nie.

Inteendeel, sy reis die hele land plat om mense van oraloor te vermaak met haar komedie. Dit is egter nou haar rol as Petra wat kykers opnuut weer laat regop sit voor die kassie en die diepte van Shimmy as kunstenaar ten volle ten toon stel.

As daar een ding is wat Petra en Shimmy gemeen het, is dit dat hulle albei baie ambisieuse en self-made-besigheidsvroue is. Dié talentvolle aktrise en komediant vertel opgewonde dat sy lief is om die karakter so uniek moontlik uit te beeld sodat die kykers met haar kan relate.

Haar inspirasie

Sy vertel haar ma is een van die steunpilare in die Worcester-gemeenskap en dit is waaruit sy inspirasie vir dié karakter put. “As ek dus sterk, vroulike en moederlike karakters speel, probeer ek my ma en my ouma channel – sterk vroue wat weet wat hulle uit die lewe wil hê en wat alles in hul vermoë sal doen om vir hul kinders ’n beter lewe te skep.” Shimmy onthou hoe haar ma as ’n enkel-ouer vir haar na ’n “wit skool” toe gestuur het.

“My ma is ’n hairdresser en ek het voor die Vader geweet dat sy dit nie kon bekostig om my na daai skool toe te stuur nie, maar jy moet dit glo dat daai vrou haar arms lam geblow het om my in daai skool te hou. En dit is ook die tipe vrou wat Petra (haar karakter in Arendsvlei) is – dit gaan soms baie moeilik, maar alles wat sy doen, doen sy om vir haar kind die beste te gee.”

As ek sterk, vroulike en moederlike karakters speel, probeer ek my ma en my ouma channel – vroue wat alles in hul vermoë sal doen om vir hul kinders ’n beter lewe te skep.

Die borrelende Shimmy sê hoewel haar lewe en veral haar kinderjare nie gevrywaar was van stampe en stote nie, sou sy dit vir niks in die wêreld verruil nie, omdat juis dié stampe en stote die fondasie gelê het vir die mens wat sy vandag is. “As mense aan my die vraag stel oor wie Shimmy Isaacs dan nou regtig is, is die antwoord altyd dieselfde – die kind van antie Frieda, ’n hairdresser. ’n Spring chicken wat altyd gereed is vir die volgende uitdaging en wat sy daaruit gaan leer.”

Met heimwee dink sy terug aan haar kinderdae en sê sy dat die onthou van lekkerte steeds vlak lê. “Wanneer ek nou dink aan my kinderjare en dit moet opsom in een woord is die eerste woord waaraan ek dink ‘lekkerte’. Dit was net plain lekker. Natuurlik nie sonder sy ups and downs nie, maar ek onthou meestal die warme gesinstye, vol gelag en liefde. Dit is wat ek onthou.”

Shimmy is die oudste van drie kinders. Dit is ook terwyl sy nostalgies terugdink aan haar kinderjare dat sy ook onthou van ’n antie wat haar sommer baie aan haar karakter Petra herinner! “Kykie, elke gemeenskap het mos maar daai een antie met die gown en die slippers wat so aangeseil kom in die straat af. Hulle loop nie, hulle seil en jy kan letterlik daai slippers hoor aankom voor jy haar fisies sien! Daai vrou was nou vir jou bis en in almal se besigheid. En ’n piemper of note. Alles wat jy in die straat gedoen of sê het, het sy by die huis loop oordra!”

Sy lag lekker voor sy openlik erken dat sy steeds tot op hede skrikkerig is vir daai antie. Shimmy vertel dat dit vir haar baie belangrik was om nie net haar karakter as karikatuur uit te beeld nie. “Ja, sy is die vrou wat nie op haar mond geval het nie en wat baiekeer overbearing is, maar daar is ook ’n ander kant aan haar. ’n Sagter en meer beheersde kant. Die kant van ’n moeder, een wat die wêreld soms op haar skouers dra, maar nooit die realiteit daarvan aan haar kind sal wys nie. “Dit is hoekom Petra se storie vir my so belangrik is – dit is die storie van ma’s in die bruin gemeenskap. Een van swaarkry, maar wat hulle vingers stompies sal werk vir hul kinders.”

Shimmy as Petra Meintjies in Arendsvlei.

Grawe diep vir rolle

En dan haal Shimmy haar sonbril af sodat sy fisies van die karaktertrekke van haar karakter kan uitbeeld. “Dit is daai kyk in haar oë, daai frons op haar voorkop, die manier hoe sy na jou kyk terwyl jy praat en die manier hoe haar oë skrefies trek wanneer iets nie lekker sit met haar nie. Dit is daai ding van ’n vrou wat ’n antwoord het op alles en met net een kyk sluk jy jou woorde en dink jy diep oor wat presies jy volgende gaan sê.”

En aan die kyk in haar oë kan ’n mens onmiddellik sien dat Shimmy nou in die skoene van haar karakter geklim het. Tog moet Shimmy ook erken dat ons almal ’n Petra in ons lewens nodig het. “Iemand wat jou sommer gaan wakker maak. Iemand wat resilient is en nie skrik om haar mening te lug nie.” Sy sê dit is juis resilience en deursettingsvermoë wat die bruin gemeenskap so uniek maak.

“So baie keer lees ons net van die negatiewe in ons gemeenskappe, maar wat van diegene wat elke oggend saam met die hoenders opstaan om vir hulself en hul families ’n lewe te kyk? Die antie wat elke dag in ’n fabriek gaan werk om kos op die tafel te sit? Dit is daai deursettingsvermoë wat vir my so spesiaal en bewonderenswaardig is.”

Shimmy is nie net ’n komediant, skrywer en aktrise nie, nee, dié goose van die Woewoe is ook ’n producer. “En dit is wie Shimmy Isaacs is, ’n vrou met vele fasette. Dit is vir my belangrik as kunstenaar om so versatile moontlik te wees. Ek is al ’n ou hand in die game, maar elke nuwe rol of produksie wat ek aanneem, is vir my net so belangrik as die eerste een, ’n leerervaring waaruit nuwe moontlikhede gebore kan word. Ek wil die een wees wat my narrative control. Dit is ook my verantwoordelikheid om ’n stem te wees vir diegene wat nog nie hul stem in die bedryf gevind het nie.”

Aan opkomende kunstenaars het Shimmy die volgende te sê: “Wees disciplined. Jy kan droom en planne koester in jou binneste, maar niks daarvan gaan realiseer indien jy nie die nodige werk daaragter sit nie. As jy nie jouself gaan toelaat om jou regmatige plek in die samelewing te eis en unapologetically jy gaan wees nie, gaan niemand anders dit vir jou doen nie. Dit is jou lewe, jou verantwoordelikheid. Droom dus groot, maar werk nog harder om daardie drome ’n realiteit te maak.”

Meer oor:  Kuier  |  Vermaak  |  Arendsvlei  |  Shimmy Isaacs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.