Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Sekuriteit: Wat kan jy doen om skelms te keer?
6 Maart 2019
skelms, diewe


In ’n tyd waar misdaad hoogty vier, word dit al hoe moeiliker om skelms buite jou eiendom te hou. Maar hoe gemaak as jy nou al genoeg gehad het van misdadigers wat jou erf betree en ’n gevaar vir jou en jou familie inhou?

Dis glad nie meer vreemd om buitemure hoër as die huis se dak of glasstukke op grensmure te sien nie – alles om inbrekers te probeer uithou. 

Volgens Statistiek Suid-Afrika se web-tuiste het huishoudelike misdaad (soos inbrake) in 2017 – 2018 met 5% gestyg. Dit kom neer op altesaam 1,5 miljoen voorvalle. Na raming is 4,25% van alle Suid-Afrikaanse huishoudings in dié periode deur inbrake geraak. Meestal word klere, gevolg deur selfone (24%) en kos (22%) gesteel.

En deesdae raak sommige mense so desperaat dat hulle hul huise begin booby trap om inbrekers buite te hou.

Kelly Miggels (42) van Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte sê inbrake daar is so erg dat jy nie anders kan as om jouself te be-

skerm nie. “Vir die afgelope 10 jaar wat ek in die area bly, is hier al seker vyf keer by ons huis ingebreek. Ná die derde keer het ons besluit om ’n hoë muur te bou sodat ons die skelms kon buite hou, maar hulle het net oorgespring en wéér ingebreek.”

Keelvol

Sy en haar man het toe besluit om dinge ’n paar stappe verder te vat. “My man het bottelstukke gevat en bo-op die muur vasgesement. Ons het gedink ons is home free tot ons een nag wakker geskrik het met ’n skreeuende skelm in ons agterplaas. Die skelm het toe nie die glasstukke op die muur gesien nie en probeer oorspring met die gevolg dat hy met sy hande op die bottelstukke gedruk het.”

Sy lag hartlik voor sy voortgaan. “Hy het soos ’n maer vark geskree, maar ons kon hom gelukkig vang en het die polisie ontbied.” Hoewel dié skelm vasgetrek is, het Kelly steeds onveilig gevoel op haar eiendom. “Ons het nou ook pitbulls. Dis regtig verstommend dat jy nie eens in jou eie huis veilig voel nie en sulke stappe moet doen om misdadigers uit te hou. Een ding is seker, skelm se vet brand uit!”

Nóg slagoffers van huisbraak is Johan en Gertrude Stuurman (69) van Athlone. Die egpaar bly al vir die afgelope 40 jaar in die area en sê sedert hul kinders jare gelede uit die huis is, het hulle voorsorg getref om skelms buite te hou. Johan het ’n selfgemaakte struikeldraad geïnstalleer. “My seun het op die internet gaan soek hoe ’n mens dit maak en ek en hy het toe aan die werk gespring met die besigheid.”

’n Struikeldraad is ’n tou of draad wat naby die grond gespan word en dan aan ’n alarmstelsel of plofstof geheg word, met die doel om indringers te verhoed om die betrokke gebied binne te gaan.

“As iemand daaroor struikel of trap, dan gaan die alarm af en sekuriteit is binne minute op die toneel. Ek wou dit eintlik aanvanklik geheg het aan ’n bom of iets, maar my seun het gereken dat ek dalk net aan die verkeerde kant van die gereg sal kom.” Die paartjie het ook ’n elektriese heining.

Johan sê met al die ou mense wat al in hul area vermoor is, wil hulle nie graag kanse vat nie. “Ons is oud en wil net in vrede lewe, maar die skelms weet ons is alleen en hulle sien dit as ’n ideale geleentheid. Ek weet ek moet eendag doodgaan, maar glo my dit sal nie aan die hand van ’n misdadiger wees nie. Ek sal ons beskerm tot ons ons oë toemaak. Hulle gaan hulle lekker vasloop hier!”

En sal hy binnekort nog ’n booby trap by hul huis installeer?

“Natuurlik!” antwoord Johan sonder om twee keer te dink. “Ek het net nie meer die krag om self dingetjies te maak nie, maar ek en my seun het al daaroor gepraat. Hier was nog nie ’n insident nie, maar die oomblik as hier iets gaan gebeur, gaan ons sekuriteit verskerp.”

Wat sê die wet?

Volgens kaptein FC van Wyk, ’n woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse polisiediens, verskaf die SAPD nie regsadvies aan lede van die publiek met betrekking tot wat wettig is en wat nie. Hy sê egter jy kan staatmaak op twee regverdigingsgronde in die beveiliging van jou eiendom – privaat verdediging (selfverdediging) en noodsaaklikheid.

“Privaat verdediging geld wanneer ’n aanval reeds begin het of op hande is. Dit mag slegs aangewend word om jou lewe, ’n ledemaat of eiendom, sowel as ’n derde persoon soos jou eggenoot of kinders, ensovoorts te beskerm. Die aanval op die huiseienaar moet onwettig wees en die verdediging moet proporsioneel wees.”

Volgens FC definieer Burchell principles of criminal law “die verdediging van noodsaaklikheid” wanneer iemand moet kies tussen fisiese lyding of om die wet te oortree om laasgenoemde te vermy.

Hy sê hoewel daar bogenoemde regverdigingsgronde is, kan die polisie nie uitdruklike raad gee oor watter stappe huiseienaars kan neem om sy of haar eiendom te beskerm nie. Hy raai huiseienaars wel aan om kennisgewingsborde te hê en sê selfs vir elektriese heinings is daar voorgeskrewe regulasies.

“Kennisgewingsborde is ’n vereiste. As ’n huiseienaar dus ’n booby trap of van enige ander meganisme gebruik maak, moet daar ’n toepaslike kennisgewing daarmee gepaard gaan. Dit geld ook vir honde wat vir sekuriteit gebruik word.”

André Kirsten, ’n regskenner, sê die kwessie of ’n huiseienaar van valstrikke of booby traps gebruik kan maak om hulle teen misdaad te beskerm, kom al van 1967 in Suid-Afrika toe so ’n geval in die hof gaan draai het.

In die saak Staat vs Van Wyk is ’n winkeleienaar van moord aangekla nadat ’n vermeende inbreker gesterf het weens ’n valstrik wat die winkeleienaar teen diewe opgestel het.

Volgens André het die winkeleienaar gesukkel met ’n reeks inbrake. Hy het ver-skeie sekuriteitsmaatreëls aangebring om diewe te keer, maar dit het nie gewerk nie. In ’n poging om sy gesin en sy eiendom te beskerm, het die winkeleienaar toe ’n haelgeweer-booby trap by een van die winkel se vensters opgestel. As iemand by die venster probeer inbreek, sou die haelgeweer afgaan. Soos die noodlot dit wou hê, hét iemand probeer inbreek en die vermeende inbreker is noodlottig gewond.

Die staat het die winkeleienaar van moord aangekla, maar hy het op sy beurt aangevoer die stappe was noodsaaklik om sy besigheid en sy gesin te beskerm. Die winkeleienaar het die saak gewen en is vrygespreek. Volgens André het die staat teen die beslissing geappelleer, maar dis van die hand gewys. “Die staat het gevoel as die winkeleienaar nie vervolg sou word nie, waar sal die lyn getrek word? Die saak is herhaaldelik bespreek – die opweging van iemand (die misdadiger) se lewe teenoor dié van ’n eienaar wat sy eiendom en gesin beskerm.”

André sê die hof kyk na verskeie aspekte voor só ’n beslissing gemaak word.

”Die huiseienaar sal moet bewys dat sy of haar verweer een van noodweer is. Daar moet ook bewys word dat die metode wat gebruik is of word die skadeloosste een is. In die geval van die winkeleienaar het hy al verskeie metodes gebruik, maar nie een daarvan het gewerk nie. Hy het opgetree uit absolute desperaatheid en dis hoekom die hof dit as ongewens, maar verskoonbaar bevind het.”

Daar het jy dit nou – jy het die reg om jouself te beskerm, maar maak net seker jý trap nie buite die gereg nie...

Meer oor:  Diewe  |  Inbrekers  |  Kuier  |  Skelms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.