Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Skelmpies: Nie eens lockdown keer cheaters
25 Junie 2020


Daar is ’n spreekwoord wat lui: “wat jy in die donker doen, sal in die lig uitkom”. En dit lyk asof sommige mense selfs in lockdown kans gesien het om nog die kat in die donker te knyp. Inperkingsregulasies of nie, hulle het ’n plan gemáák om hul skelmpie te sien . . .

In Los Angeles, Amerika, het ’n dosent se buite-egtelike verhouding op die lappe gekom nadat studente video’s waarin hy en sy skelmpie mekaar begin ontklee, op sosiale media gelaai het. Sy studente het die vurige toneel op die video call app Zoom gesien toe die prof vergeet het om sy rekenaar af te sit ná ’n aanlyn-studiesessie met sy studente.

’n Professor van Miami is afgedank nadat hy in meer as een Zoom-klas per ongeluk pornografie met sy studente gedeel het. Die studente het dadelik screenshots en video’s op sosiale media gesit. Op die videoplatform TikTok het een video van dié professor meer as ’n miljoen views gekry. Hy is ’n week later afgedank.

Maar niks kom by die Spaanse nuusleser wat op die lug op ’n Youtube-kanaal uitgevang is toe kykers ’n kaal vrou in die agtergrond oplet wat nie sy meisie (’n Big Brother-deenemer) was nie! Laasgenoemde het hul verhouding beëindig. Die vrou op die video is later as ’n mede-joernalis geïdentifiseer. In Brittanje het een van die regering se topraadgewers oor die corona-virus weer bedank nadat sy minnares hom tydens die lockdown besoek het - dít terwyl hy deel was van die span wat aanbeveel het dat mense nie ander huishoudings besoek nie.

Op tuisbodem

Maar dis nie net oorsee waar cheaters kanse vat nie! Selfs hier in ons eie gemeenskappe kan mense hulself nie keer nie. Vra maar vir Jonathan Kramer* (34) van Brackenfell in die Kaap, wat die lang lyne by winkels tot sy voordeel wou gebruik toe sy verloofde essential shopping gaan doen het. “Ek het tydens ’n vriend se bachelor-partytjie ’n paar maande gelede ’n vrou ontmoet wat vriende is met een van die ander mans. Ons het nou en dan op Whats-App gepraat en later al hoe meer begin gesels.

In lockdown het dit amper daagliks geword,” vertel hy. “Die meeste van die tyd was dit onskuldig en het ons net oor alledaagse dinge gesels, maar elke nou en dan het dit meer seksueel geraak. Ek weet ek moes dit al lankal stopgesit het, maar ek was nuuskierig en toe sy vra of sy ’n draai kan kom maak, het ek gedink ons kan dalk net mekaar vinnig sien om ’n bietjie te gesels.”

Al was dit teen lockdown-reëls, het Jonathan haar laat weet om vinnig ’n draai te kom maak wanneer sy verloofde vir hul weeklikse inkopies winkels toe gaan. Jonathan raak effens skaam wanneer hy verduidelik mense het aan die begin van lockdown eintlik mos net een persoon per motor rondgery en hy en sy verloofde het nooit saam winkels toe gegaan nie.

En omdat die winkels se lyne almal altyd so lank was, het hy gedink dit sou die perfekte geleentheid wees om die ander vrou te sien. “As ek nou daaraan terugdink, moes ek seker geweet het dit gaan net tot moeilikheid lei. Maar ek het haar laat kom en ná tien minute se gesels, het ons begin soen. Dit moes langer gewees het as wat ek gedink het, want toe ek weer sien, het my verloofde by die deur ingeloop en ons betrap,” sê hy. “Sy was natuurlik baie kwaad en het op ons twee begin skree.

Die lyne by die winkel moes daai dag baie kort gewees het, want sy was vinniger as gewoonlik by die huis. Sy het my uitgesit en ek is nou al vir twee weke by my ouers. Ek weet dit was dom om tydens ’n lockdown so iets te doen, nou sit ek heeldag met my ouers in ’n huis en moet ek na my ma se gekla luister oor wat ek gedoen het. Dit is erger as tronkstraf vir my!”

Al besef mense dit nie, die trauma wat hulle tydens lockdown ervaar van die verlange na die lewe wat hulle geken het, dra by tot emosionele afwykings.

Nóg iemand wat presies weet hoe dit voel om jou man met ’n skelmpie tydens lockdown te betrap, is Joy Simpson* (28) van Bellville-Suid in die Kaap. Sy het haar man met ’n ander vrou in hul driveway betrap. Joy was ook vinnig winkel toe en toe sy terugkom, het sy haar man in sy kar in die driveway gesien met ’n vrou wat onbetaamlik aan hom gevat het. Die vrou se kop was in haar man se skoot! “Ek kon dit nie glo nie.

Volgens hom was dit iemand wat hy langs die pad opgetel het in ’n oomblik van swakheid, maar ek glo dit nie. Ek het hom dieselfde aand weggejaag!” Dit is moeilik om onder normale omstandighede weg te kom met kattekwaad, maar volgens die verhoudingsberader Eloise van der Westhuizen van Brackenfell in die Kaap gee lockdown mense ’n ander tipe “domkrag”.

“Hoewel dit geen verskoning is vir mense se gedrag of besluite nie, dink en redeneer mense se brein nie op die oomblik soos wat dit gewoonlik sou nie. Al besef mense dit nie, die trauma wat hulle tydens lockdown ervaar van die verlange na die lewe wat hulle geken het, dra by tot emosionele afwykings. En mense kan dalk dinge doen wat hulle nie voorheen sou doen nie. Omdat dit tydens ’n pandemie ook soos die einde mag voel en mense se emosies ’n bietjie meer all over the place is, is hulle ook meer waaghalsig,” verduidelik sy.

“Dit kan ook wees dat hulle net daardie bietjie opwinding dalk wil hê omdat hulle elke dag dieselfde dinge met dieselfde mense doen. Daar is nie daardie verandering van omgewing of mense nie. Ek het al van die begin van lockdown af baie sessies met paartjies gehad en hierdie kanse vat met skelmpies is meer algemeen as wat jy sou dink. Baie mense bevind hulself in hierdie situasies.”

Sy meen al is dit ’n skelm sigaret of persoon, gaan dit meer oor die lus en opwinding as enigiets anders. “Dit is amper lekker om iets te doen wat jy weet jou dalk in die moeilikheid gaan bring, maar die kanse dat iemand buite gaan wees (omdat almal ingeperk is) om jou te vang, min is,” sê Eloise.

Iemand sien jou

Maar Steve Olsen, ’n buurtwag en private sekuriteitsbeampte van Milnerton in die Kaap, sê dit is juis waar mense die fout maak. “Hulle dink niemand sien hulle nie, maar hulle vergeet mense soek nou vir aksie en sosiale media is besiger as ooit tevore. Ek is al tydens lockdown vir vreemde dinge uitgeroep na mense in die buurt se huise.

Daar was al huismoles waar mense hul mans of selfs vroue betrap het, maar dan was daar ook een of twee vreemde oproepe soos iemand wat mense se katte vang en by hulle huis aanhou totdat iemand hulle gesien het met ’n buurvrou se kat en hulle toe gevang is. Dan is daar mense wat dink noudat hulle heeldag by die huis is, hulle kan naak rondloop in hul tuin. Maar hulle vergeet ander (bure) is ook by die huis,” sê hy laggend. Óf jy nou dink mense sien jou óf nie, is dit nooit ’n goeie ding om kattekwaad aan te vang wanneer jy weet jy moenie. Óf dit nou in lockdown is óf nie, die waarheid kom altyd op een of ander manier uit . . .

*Skuilnaam

* Foto’s: Gallo Images/Getty Images, https://bit.ly/2BtT4rg en https://bit.ly/30dgxaO

Meer oor:  Kuier  |  Lockdown
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.