Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Skoolhoof: Kinders van Klapmuts is soos sy eie
12 Junie 2019


Om ’n pa te wees, was nooit vir hom beskore nie, maar in sy 25 jaar as hoof van Klapmuts Primêr kon Ronald Frans (59) van Brackenfell in die Kaap ’n pa wees vir honderde kinders.

Nie net die kinders by sy skool nie, maar ook die res van die gemeenskap. En wanneer hy aan die einde van dié jaar aftree, sal hy met ’n geruste hart weet dat hy vir meer as een kind ’n kans op ’n suksesvolle toekoms gegee het.

In sy kantoor by die tegnologie-gedrewe laerskool in die hartjie van Klapmuts naby Stellenbosch, pronk talle foto’s op die mure en kassies van hom wat saam met skoolkinders hardloop, spring en lag. Hy is trots om die nuutste foto te wys, wat weke gelede geneem is toe hy saam met ’n groep van kinders in sy swart pak, hemp en das, kaalvoet op die strand hardloop.

As jy vir Ronald sien, of Oom of Mr. Ronnie soos hy genoem word, sien jy ’n lang en sterkgeboude man. Dit is glad nie moeilik om te glo dat Ronald in sy jong dae ’n kranige rugbyspeler was nie, totdat hy besluit het om voltyds op onderwys te konsentreer.

Maar al lyk hy asof hy ’n sterk rugbyspeler kan wees, is sy hartjie maar klein en klop dit vinnig vir al die kinders wat in sy 39 jaar in die onderwys in sy klaskamers en skool gesit het. Daar is ook baie trofeë en sertifikate wat in sy kantoor met trots uitgestal word, maar die toekenning wat ekstra spesiaal is, is die Nelson Mandela Lifetime Achievement Award, waarvoor hy ’n kar ook gewen het tydens ’n spoggeleentheid in Sandton verlede jaar.

Dié toekenning word elke jaar aan ’n toponderwyser deur die nasionale onderwysdepartement oorhandig. Dis iemand wat hulself oor ’n loopbaan van meer as 30 jaar bewys het en die ekstra myl vir hul kinders en gemeenskap gestap het.

En beter as Ronald is daar nie sommer nie. Want hy het nie net ’n skool gevorm wat die kinders van Klapmuts vir die wêreld voorberei nie, maar ’n gebou wat regtig aan die gemeenskap behoort en waar ouers bemagtig word en die oorledenes met waardigheid begrawe word. Dit het hom twee dekades geneem om die eens afgebreekte skool en gemeen-skap op te bou, maar nou op die drumpel van sy aftrede, voel dit vir hom asof die pad wat hy saam met die skool gestap het nou full circle gekom het.

Toe hy in 1994 hoof word by dié skool, sou hy nooit kon raai hy sou saam met sy onderwysers en die gemeenskap die skool kry tot wat dit vandag is nie. “ Dis ’n skool wat in alle aspekte ’n skool vir die gemeenskap is en nie net ’n gebou wat in die middel van die gemeenskap opgerig is om die kinders veilig en besig te hou nie. Dit is daar om vir hulle aan onderrig en tegnologie bloot te stel wat nie sommer vir mense in hierdie armoedige gemeenskap toeganklik is nie.”

Toe hy destyds sy rugbystewels opgehang het om voltyds op sy onderwysloopbaan te fokus, het dié wiskunde- en wetenskaponderwyser nie ’n begeerte gehad om hoof te wees nie.

Maar toe die geleentheid oor sy pad kom, het hy dit met albei hande aangegryp. Vir hom en sy vrou, Julia (60), was kinders altyd ’n teer punt. Julia is ’n afgetrede onderwyser en die paartjie wou graag ouers wees, maar toe hulle swanger word en die baba verloor, het dit hulle so groot laat skrik dat hulle nie kans gesien het om weer die kans te vat nie. “Ons wou graag ’n kind gehad het, maar op ses maande het ons die baba verloor en amper het ek vir Julia ook verloor. Toe ons by die hospitaal aankom, moes die dokters onmiddellik opereer en ná die tyd het dokter vir my gesê sy was baie naby aan dood,” sê hy met ’n hartseer trek op sy gesig.

“Daarna het ons daarmee vrede gemaak dat ons nie ouers sal wees nie, maar ons het wel ons alles aan baie kinders gegee.” Ronald vertel hulle is al na talle 21ste verjaardagvieringe en gradeplegtighede genooi, en dit het hulle laat voel asof hulle regtig ouers was. Dis juis sulke spesiale geleenthede wat hom gemotiveer het om te veg om die beste skool te kan bou vir die gemeenskap. Dit is ook hoekom die toekenning nou juis aan die einde van sy loopbaan vir hom so spesiaal is. “Ek was so emosioneel en dankbaar dat ek ’n traan gestort het. Ek voel ek tree op die regte tyd af. My droom was om ’n legacy te los en ek voel dit is wat ek hier reggekry het saam met my onderwysers en die ouers.”

Dis regtig ’n skool vir almal. Dit het al ’n groot verskil gemaak. Daar is minder mense wat by die huis sit en kwaad doen of in Sassa-lyne staan.
Ronald Frans

Almal trek voordeel

Ronald sê weens die hoë vlak van armoede in die gemeenskap het hy jare gelede al besef dat die kinders hier aan min buite Klapmuts blootgestel word. Hy onthou hoe verbaas van die kinders op uitstappies was oor die hoë geboue in Stellenbosch. Dit is om dié rede dat hy so graag dataprojektors vir die klaskamers wou hê.

Hy het ’n visie gehad om die skool ’n tegnologiese gedrewe skool te maak, sodat die kinders gereed sou wees wanneer hulle op universiteit kom. Hy wou hê hulle moet weet hoe die res van die wêreld lyk en werk, en hy wou hê dit moet vanaf ’n jong ouderdom af wees.

Maar omdat hulle soveel inbrake by die skool gehad het, wou hy ’n manier vind om die gemeenskap betrokke te kry sodat hulle voel asof dit ook hulle skool is en beter daarna sou kyk. Hy het met twee dataprojektors begin, waarvoor hy borge gekry het en van daar af het dit gegroei. Elke mens wat hy ontmoet het, het hy vertel van sy visie en nou het die skool 57 dataprojektors, twee rekenaarkamers, ’n terapiekamer, elke klas het ’n wit bord en een klaskamer het ’n interaktiewe smart board waarop die onderwyser via die internet en ’n virtuele klaskamer klas gee.

Die kinders se skoolwerk word op tablets gelaai, hulle doen dit en e-pos dit dan vir die onderwyser wat dit op hul laptop of selfoon kan merk. Hulle het ’n gebou wat in 2009 gebou is en dit sluit ’n vergaderingslokaal en ’n biblioteek vir die gemeenskap in. Hier help hulle mense om afdrukke van hul ID’s te maak of help hulle met Sassa-papiere.

“Die skoolsaal word vir begrafnisse en 21sts gebruik omdat ons vir die gemeenskap wil wys hulle is deel van ons, en in ruil maak dit dat hulle hul harte vir ons oopmaak. Dis regtig ’n skool vir almal. Dit het al ’n groot verskil gemaak. Daar is minder mense wat by die huis sit en kwaad doen of in Sassa-lyne staan,” sê Ronald trots.

“Hulle kom help eerder by die skool vir ’n geldjie en dit inspireer die kinders om ook in die onderwys te gaan of om iets met hul lewe te maak. My groot droom is om ’n hoërskool in Klapmuts te hê, maar vir eers gaan ek aan die einde van die jaar dit geniet om te rus en met my vrou te reis.” Daarna, sê Ronald, sal hy graag vir ander mense wil mentor om vir hulle te wys hoe alle skole soos syne kan uitstyg.

Foto’s: Dale Fourie

Ronald en leerders in ’n wiskunde-rekenaarklas.
Ronald en een van die onderwysers in hul smart klas waar leerders tablets gebruik om hul skoolwerk te doen.
Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.