Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Eenskottel-skatte
7 Augustus 2019
kuier,kos

1. BEESVLEIS-EN-ROOIWYNGEREG 

Genoeg vir 6

Leuse vir die gebruik van wyn in kos: As dit nie goed genoeg is om te drink nie, is dit nie goed genoeg om in jou kos te gebruik nie.

BESTANDDELE

  • 3 eetlepels olyfolie
  • 6 groterige beesskenkels (met been)
  • 2 uie, grofgekap
  • 1 koppie rooiwyn
  • 2 lourierblare (bay leaves)
  • 5 kruienaeltjies
  • 2 koppies beesvleisaftreksel
  • 3 wortels, in stukke gesny
  • 150 g groenbone, puntjies getrim en gehalveer
  • 300 g wit knopiesampioene
  • 1 eetlepel sout
  • Varsgemaalde swartpeper
  • 1 eetlepel pietersielie, gekap
  • 1 eetlepel suurlemoenskil, gerasper

METODE

Verhit die olie in ’n groot, plat pot. Verbruin die vleis alkant oor hoë hitte.

Skep dit uit. Braai die uie en knoffel tot bruin in dieselfde pot. Voeg die rooiwyn by en laat dit effens afkook. Voeg die vleis, lourierblare en naeltjies in die pot.

Voeg die aftreksel by, bedek en prut vir 45 minute. Die vleis behoort al amper sag te wees.

Voeg die wortels, groenbone en sampioene by en geur met sout en peper. Prut totdat die groente sag is, maar nie pap nie. Die sous moet ook dikkerig wees.

Bedien warm op romerige kruie mash en garneer met die pietersielie en suurlemoenskil

WENK
Vir ’n heerlike soet-sout-kombinasie, bedien dié gereg met gedroogde perskes wat gestoof is.

2. AARTAPPEL-GEBAK

Genoeg vir 6 – 8

BESTANDDELE

  • 6 groot aartappels
  • 1 ui, grofgekap
  • 3 knoffeltoontjies, gekneus en opgesny
  • 125 g gesoute botter
  • 1 teelepel sout
  • 1 teelepel varsgemaalde swartpeper
  • 2 eetlepels pietersielie, gekap
  • 2 eetlepels vars tiemie
  • 1 eetlepel roosmaryntakkies

METODE

Skil die aartappels en sny in skyfies, maar moet dit nie heeltemal deursny nie.

Plaas die aartappels in ’n oondbak. Pak die uie en knoffel tussen die skyfies in.

Smelt die botter en roer die sout, peper, pietersielie, tiemie en roosmaryn daarby. Skep die bottermengsel oor die aartappels. Bedek die oondbak met foelie en bak by 180 °C vir 15 minute.

Verwyder die foelie, verhoog hitte tot 190 °C en bak tot goudbruin en deurgaar. Bedien warm met ’n vleis- of visgereg van jou keuse.

Vir vegetariërs is dit voldoende as ’n maaltyd.

3. BEESVLEIS-EN-RISSIEGEREG

Genoeg vir 8 – 10

BESTANDDELE

  • 1 ui, grofgekap
  • 3 eetlepels olyfolie
  • 500 g beesmaalvleis
  • ½ teelepel gerookte rissievlokkies
  • ½ teelepel rissiepoeier
  • 2 knoffeltoontjies, gekap
  • 2 jalapeños, sade verwyder en opgesny
  • 1 blik (410 g) tamatie-puree
  • 2 koppies hoenderaftreksel
  • 1 blik swartbone, gedreineer en afgespoel
  • Sout en peper na smaak
  • ½ koppie rooiwyn
  • Koljander, gekap, vir versiering

METODE

Soteer die uie in olyfolie tot sag. Skep uit en hou eenkant.

Braai die maalvleis in dieselfde pot totdat dit nie meer pienk is nie.

Voeg die uie, rissievlokkies, rissiepoeier, knoffel en jalapeños by die pot.

Braai vir 5 minute, voeg die rooiwyn, tamatie-puree en aftreksel by.

Bedek die pot, verlaag die hitte en prut vir 1 – 1½ ure tot sag, dik en souserig. Voeg die bone by en prut vir nog 20 minute.

Geur met sout en peper soos nodig. Bedien warm oor gaar pasta of met vars gebakte brood of rolls.

4. MEDITERREENSE HOENDERDIS

kuier,kos
Mediterreense hoenderdis

Genoeg vir 8 mense

BESTANDDELE

  • Botter of olyfolie om die skottel mee te smeer
  • 2 koppies rou rys
  • 8 hoenderdye
  • Sout en peper na smaak
  • 1 koppie kalamata-olywe
  • 1 koppie kersietamaties
  • 1 rooi-uie, gekap
  • ½ elk rooi, geel en groen soetrissies
  • 5 – 6 takkies origanum
  • 2 knoffeltoontjies, opgesny
  • 2 koppies hoenderaftreksel
  • 1 eetlepel suurlemoenskil, gerasper

METODE

Smeer ’n oondvaste skottel met botter of olyfolie.

Spoel die rys af en sprei dit op die bodem van die skottel.

Geur die hoender liggies met sout en peper.

Pak die hoender bo-op die rys, gevolg deur die olywe, tamaties, uie, soetrissies, origanum en knoffel.

Meng die hoenderaftreksel en suurlemoenskil en giet oor die bestanddele. Bedek met foelie en bak by 180 °C vir 30 minute.

Verwyder foelie en bak vir 20 minute totdat die hoender effens verbruin het. Verwyder uit die oond, bedek weer en laat rus vir 10 minute voor opdiening.

5. HOENDER MET GROENTE

kuier,kos
Hoender met groente

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

  • 6 hoenderfilette
  • 2 eetlepels olie
  • 1 eetlepel gemmer, gerasper
  • 1 eetlepel knoffel, gerasper
  • ¼ koppie sojasous
  • 2 eetlepels heuning
  • 2 eetlepels Chinese 5 spice
  • 1 teelepel rissievlokkies
  • 3 eetlepels olie
  • 1 ui, in ringetjies gesny
  • 2 wortels, in repies gesny
  • 2 koppies broccoli-blommetjies
  • 1 koppie soetrissies, gesny
  • 3 sprietuie (spring onions) opgesny, plus ekstra vir versiering
  • Vars koljander vir versiering

METODE

Sny die hoenderfilette in blokkies of repies.

Plaas in ’n bak, saam met die 2 eetlepels olie, gemmer, knoffel, sojasous, heuning, 5 spice en rissievlokkies.

Meng goed deur, bedek en marineer oornag in die yskas. Verhit die 3 eetlepels olie in ’n groot pan of wok.

Braai die hoender liggies oor hoë hitte. Skep uit en hou eenkant. In dieselfe pan, roerbraai die groente liggies vir 2 – 3 minute.

Die groente moet nog krakerig wees. Voeg die hoender terug in die pot en roerbraai vir nog 2 minute. Bedien op gaar noedels of klewerige jasmynrys.

Garneer met ekstra sprietuie en vars koljander.

6. BEESVLEIS EN AARTAPPELS

kuier,kos
Beesvleis en aartappels

Genoeg vir 8 mense

BESTANDDELE

  • 3 eetlepels BBQ-speserye
  • 2 eetlepels gerookte paprika
  • 1 eetlepel knoffelvlokkies
  • ¼ koppie bruinsuiker
  • 1 eetlepel grofgemaalde swartpeper
  • 2 kg flank steak
  • 3 eetlepels olyfolie
  • 2 koppies beesvleisaftreksel
  • 1 eetlepel tamatiepasta

METODE

Meng die BBQ-speserye, paprika, knoffelvlokkies, bruinsuiker en peper. Vryf die steak met die olyfolie en masseer dan met die speserymengsel.

Plaas in ’n oondskottel. Meng die aftreksel en tamatiepasta en giet oor die vleis.

Bedek met foelie en bak by 160 °C vir 3 ure. Die vleis sal sag wees en jy behoort dit met twee vurke te kan uitpluis.

Meng die vleis met die orige pansous en bedien met mash, chips of op rolls.

7. VARKNEK-EN-APPELSKOTTEL

kuier,kos
Varknek-en-appelskottel

Genoeg vir 8

BESTANDDELE

  • 2 uie, opgesny
  • 8 varknektjops
  • Sout en grofgemaalde peper
  • 4 Pink Lady-appels, in kwarte gesny en pitte verwyder
  • 2 knoffeltoontjies, grofgekap
  • ’n Paar takkies vars salie (sage)
  • ½ koppie ongefiltreerde
  • appelsap (cloudy apple)
  • ½ koppie hoenderaftreksel

METODE

Pak die uie in ’n gesmeerde oondskottel.

Geur die tjops liggies met ’n bietjie sout en peper en pak dit bo-op die uie.

Pak die appels, knoffel en salie tussen die vleis.

Meng die appelsap en hoenderaftreksel en giet oor al die bestanddele.

Bedek met foelie en bak bedek vir 25 minute. Haal die foelie af en bak verder vir 25 – 30 minute. Maak seker dat die gereg nie droog bak of brand nie.

Bedien warm met romerige mash. 

8. WORTEL-EN-OKKERNEUTPOEDING

kuier,kos
Wortel-en-okker-neutpoeding

Lewer 1 groot poeding, genoeg vir 12 mense

BESTANDDELE

Poeding

  • 3 eetlepels botter, gesmelt
  • ½ koppie melk
  • 1 eetlepel asyn
  • 1 koppie koekmeel
  • 1 teelepel bakpoeier
  • 1 teelepel koeksoda
  • ½ teelepel sout
  • 2 eiers
  • 1 koppie suiker
  • 1 koppie wortels, gerasper
  • ¼ koppie okkerneute (walnuts), gekap

Sous

  • 1 koppie melk
  • 2 eetlepels botter
  • 1 teelepel vanilla essence
  • ½ koppie suiker

Hierdie poeding is maklik en gou om te maak.
Samantha Liedeman

METODE

Poeding: Meng die botter, melk en asyn. Hou eenkant.

Sif die koekmeel, bakpoeier, koeksoda en sout saam in ’n tweede bak.

Klits die eiers en suiker tot lig en romerig in ’n derde bak.

Voeg die melk- en meelmengsel by die eiermengsel en roer liggies tot net gemeng.

Vou die wortels en neute daarby in en giet in ’n gesmeerde tertbord. Bak by 180 °C tot gestol.

Sous: Net voor die poeding gaar is, kook al die sousbestanddele saam in ’n potjie. Sodra die poeding uit die oond kom, giet die warm sous daaroor. Bedien die poeding warm met vla of geklopte room. 

 

Meer oor:  Kos  |  Kuier  |  Resepte  |  Eenskottelgeregte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.