Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Slimkop streef na sukses
09 Januarie 2019

Sy grootste droom is om ’n kardiovaskulêre chirurg te word. Sy motivering gaan egter baie dieper as net ’n groot pay pakkie en spoggerige titel.

“Toe ek sewe was, het my pa afgesterf aan ’n hartaanval. Hy was net 40. Ek het op daai dag myself belowe ek gaan nie toelaat dat ander kinders se ouers sterf as ek iets daaraan kan doen nie.” Só vertel Leonardo Abrahams (17), hoofseun van Ashton Sekondêre Skool in die Wes-Kaap.

Wanneer jy na hom kyk, sien jy onmiddellik die ster-student: ’n lang, skraal jong man met ’n trotse, dog nederige blik in sy oë en ’n skaam, sprankelende glimlag. Netjiese uniform en skoolskoene so blink gepoleer dat jy die weerkaatsing van sy toekoms daarin kan sien.

Maar dié prentjie vertel nie in watter uitdagende omstandighede Leonardo homself bevind en hoe hy, ten spyte van alles, elke dag opstaan en harder baklei om sy beste te lewer nie. En hy kry dit reg – met ’n rapport wat altyd besaai is met 80 en 90 persent, is daar min wat hom terug kan hou. Sedert graad agt slaan hy elke jaar die prys los vir die beste akademiese presteerder in die skool!

Leonardo is op Robertson Z sowat 18 km buite Ashton Z gebore, maar het die eerste deel van sy lewe as ’n sorgvrye plaaskind deurgebring. Op nege het die gesin Ashton toe getrek vir beter werkgeleenthede. Dinge het egter nie heeltemal uitgedraai soos die gesin gehoop het nie en deesdae sukkel Leonardo se ma om ’n vaste werk op Robertson te kry, waar sy die meeste van haar tyd spandeer. Dit gaan broekskeur by die huis en hy moet soms weke sonder haar bly saam met sy twee volwasse broers. Sy bel hom egter gereeld om hom te ondersteun. Tog laat hy nie toe dat dit hom onderkry nie.

swoeg en sweet

Hy het vroeg in sy lewe besluit om sy alles in sy skoolwerk te sit sodat hy ’n geleentheid kan hê vir ’n beter toekoms.

“Gewoonlik is ek die heel laaste een wat by die skool ronddrentel en die enigste een ná die eksamen,” lag hy skaam. Ná skool gaan hy meestal nie huis toe nie, maar spandeer smiddae in die dorp se biblioteek tot die deure sluit, waar hy oplees oor alles en nog wat, maar dit wat hom die meeste interesseer is wiskunde en fisiese wetenskap.

Vandat hy kon onthou, wou hy alles weet en hy het inligting opgeslurp terwyl ander kinders wou speel. Deesdae is ander van sy ouderdom besig om te eksperimenteer met allerhande dinge in die lewe, terwyl hy steeds sy neus in sy boeke hou. “Dis partymaal moeilik om nee te sê, maar in my lewe het ek te veel mense verloor as gevolg van dwelms, insluitend drank. Ek kan sien wat die goed aan mense se lewens en liggame doen en ek het myself belowe ek sal dit nooit aan myself doen nie. Dis moeilik om op my eie te staan, maar dit leer my die deursettingsvermoë om altyd te doen wat reg is.”

Leonardo en sy pa, Thomas Abrahams, was baie na aan mekaar. “Van almal was hy die een wat my die beste geken en verstaan het,” vertel hy. Sy pa was sy hero en met sy dood was Leonardo se wêreld aan skerwe. “My pa het ook in moeilike omstandighede grootgeword. By hom het ek geleer om nooit op te gee nie. Voor sy dood het hy sy onderwysgraad voltooi en ’n pos aanvaar as ’n skoolhoof.” Die wond op sy hart is ná al die jare steeds vars en die trane lê vlak wanneer hy van sy pa praat. Hy het homself voorgeneem geen ander kind moet sonder ’n pa grootword as die medici dit kan verhelp nie. “Dit is een van die redes hoekom ek so gemotiveerd is om te doen wat ek doen,” vertel hy vasbeslote.

“Die ander rede is dat dinge nie maklik by die huis is nie en ek druk myself om eendag my omstandighede en my lewe te verbeter.” Hoewel dit vir hom baie moeilik is om te erken, kry Leonardo eintlik baie swaar. “Ons het nie baie nie. My ma doen wat sy kan. Maar dinge is nie altyd goed nie.” Dikwels moet hy met ’n swaar hart en ’n honger maag huis toe gaan, want hy weet daar is nie kos nie.

“Gewoonlik byt ek maar vas, gryp na my boeke en begin leer, want dis al konstante op my pad,” sê hy.

Soos almal het hy soms slegte dae.

“Partymaal voel ek so alleen – dat ek op my eie staan. Dit maak my ’n bietjie mismoedig,” erken hy. Elke keer wat hy op die punt is om oorweldig te raak deur sy omstandighede, is daar iemand wat agter hom staan, hom ophelp en hom motiveer om weer homself af te stof en aan te gaan. “Soos die drie tannies by die biblioteek, hulle staan vierkantig agter my, herinner my konstant waar die pad is en hoe ek daar moet uitkom,” vertel hy met ’n glimlag.

kry swaar

Almal was tot onlangs nog onbewus van dié slimkop se swaarkry, tot begin verlede jaar, toe John Benjamin (48), ’n onderwyser by Ashton Sekondêr, hom oor die seun begin ontferm het nadat hy uitgevind het die kind is die meeste van die tyd alleen by die huis sonder ’n krieseltjie kos. Soms is daar ook nie eens krag nie.

“Leonardo is nie ’n ou wat sal sê dit gaan swaar of ooit bakhand staan nie,” sê John. Deesdae probeer John en sy vrou, Serone (52), en ’n klompie ander onderwysers sorg dat Leonardo gereelde kospakkies, toiletries en sakgeld ontvang, soos wat hulle kan. John vertel dit is soms baie moeilik vir Leonardo om hulp te aanvaar oor ’n ingewortelde trots, tog is sy waardering altyd duidelik. “Baie ander is in soortgelyke omstandighede. Waar hy bo die res uitstyg, is sy toegewydheid, sy nederigheid en dat hy elke dag dieselfde is. Hy kon netsowel na die ander kant toe geneig het, maar sy kop is reg aangeskroef,” vertel John.

Nóg ’n onderwyser wat ’n baie groot rol in Leonardo se lewe speel, is Liezel Stadler (37), sy Afrikaanse onnie. “Hy sê ek is sy sielkundige,” glimlag sy. Hoewel sy hom eers in sy graad 10-jaar leer ken het, het sy altyd gehoor van die slim klong en kon nie wag om hom in haar klas te hê nie. “Hy is net baie spesiaal. Sommer gou kon ek sien ek sou goed moes voorberei vir elke klas, want die outjie weet waarvan hy praat!” onthou sy.

Sy toewyding aan sy skoolwerk het haar van die begin af verstom. Deesdae kom praat hy met Liezel as die lewe te hard druk. “As hy aan daai deur klop dan weet ek die kind is na aan breekpunt. Ons praat soos vriende,” vertel sy. Sy was stomgeslaan toe hy haar van sy omstandighede vertel. Dít het sy glad nie verwag nie, juis omdat hy homself so goed gedra, hard werk en altyd netjies lyk. “Daai kind is elke dag by die biblioteek, naweke ook. Dis amper asof hy veilig daar voel, asof dit soos sy huis is.” Liezel het egter geen twyfel dat Leonardo ver gaan kom in die lewe nie.

Mnr. Peter Buys, hoof van Ashton Sekondêre Skool, sê dit is net ’n eer, seëning en ’n trots om betrokke te wees by Leonardo se opvoeding en ontwikkeling, veral vanweë sy nederigheid, behulpsaamheid en gehoorsaamheid en die feit dat sy omstandighede hom nie teruggehou nie.

Hoewel die toekoms nog onseker is en daar nie geld is om verder te studeer nie, is Leonardo vasbeslote om sy drome waar te maak. “Ek gaan my agterent af studeer om die beste punte moontlik te behaal. Ek weet ek kan dit nie op my eie doen nie, maar ek glo daar sal mense oor my pad kom wat my sal help,” sê hy.

Een ding is seker, met sy insig en deursettingsvermoë, het Leonardo beslis nog ’n blink toekoms voor hom.

Meer oor:  Kuier  |  Skole Sukses  |  Slimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.