Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Só beskadig loadshedding jou toestelle
18 Maart 2020


Suid-Afrikaners het die vermoë om altyd die ligte kant van ’n saak raak te sien, maar deesdae toets Eskom se loadshedding dié talent tot die uiterste toe. Met gerugte dat ons nog vir vyf jaar aan en af daarmee gaan moet saamleef, is dit dalk tyd om jou lewe daarvolgens te bedraad. Óf jy nou vassit in die verkeer, jou foon nie sein het nie, jou kos koud is, óf jy bang is rowers sit buite jou muur en wag . . .

Loadshedding het ’n impak op elke deel van jou dag. Maar behalwe vir die ongerief, beskadig die krag wat so baie aan- en afslaan toestelle in en om die huis – dinge waarvoor jy verseker nie begroot het nie.

Ná loadshedding kan die sterk elektriese stroom wat skielik weer begin, jou toestelle laat uitbrand. “Ek het in een loadshedding-periode my elektriese hek se motor, my alarmstelsel en my wifi router verloor. Alles het die gees gegee as gevolg van die power surge toe die krag weer aankom,” kla Amanda Huystek (39) van Wynberg in Kaapstad. Gelukkig het sy ’n klein UPS-stelsel (uninterruptible power supply)gehad vir haar rekenaar, anders was sy dit ook dalk kwyt.

By wie kan jy eis?

Maar moenie te veel bekommer nie, paai Mike Volck van Insurance Fundi. “Oor die algemeen dek baie versekeraars skade wat veroorsaak word deur power surges en dips, waaronder loadshedding val, wanneer jy persoonlike versekering het. Sommige versekeraars beperk egter die eisbedrag tot byvoorbeeld R50 000, terwyl ander die hele bedrag dek.”

Dit hang maar af van die versekeraar wat die bedrag en voorwaardes is. Wynand van Vuuren van King Price Insurance sê gewoonlik hoef kliënte nie te bewys die skade is as gevolg van load-shedding nie, omdat ’n bevoegde versekeraar die toestelle sal nagaan om die oorsaak te bepaal. “Lees jou polis mooi, want hoewel dit nie loadshedding spesifiseer nie, kan dit wees dat die kos in jou yskas of vrieskas wat bederf het asook skade aan jou toestelle gedek is onder power surges,” verduidelik hy.

Items wat die meeste geraak word, is televisies, rekenaars, decoders en internet routers. Nadat jy jou eis ingedien het, sal die versekeraar gewoonlik ’n skadeverslag aanvra van ’n herstelmaatskappy om seker te maak die skade is as gevolg van kragprobleme. “Jy hoef nie power surge-beskermingstoestelle te installeer nie (tensy die produk dit self vereis), maar lees altyd die voorwaardes van jou versekering. En onthou, jou versekeraar kan te enige tyd die voorwaardes verander deur bloot net vir jou nuwe polisbewoording te stuur,” waarsku Mike. So maak seker!

Bly só veilig

Hoewel daar nog nie spesifieke versekeringsprodukte is vir loadshedding nie, dink Mike dit mag dalk binnekort ’n verskyning maak. Marius Neethling van Santam moedig mense aan om ekstra voorsorgmaatreëls te tref omdat loadshedding die risiko vir skade aan elektronika en brande verhoog. Volgens hom sal Santam jou dek teen inbrake as jou alarm nie wou werk as gevolg van loadshedding nie of jou sekuriteitsmaatskappy nie kon uitkom nie. Maar, jy moet ’n werkende back-up battery hê.

Met ander woorde, hulle sal jou dek vir omstandighede buite jou beheer, mits jy kan bewys jy het alles aan jou kant reg gedoen. Wynand raai jou aan om eintlik eers by jou munisipaliteit te probeer eis voordat jy aan jou versekeraar se deur gaan klop. Volgens die Stad Kaapstad word publieke aanspreeklikheidseise, soos in die geval van loadshedding waar toestelle beskadig word, gebaseer op grond van die verlies wat die eiser gely het, en of dit as gevolg van die munisipaliteit se nalatigheid was.

Laai die eisvorm af van jou munisipaliteit se webtuiste en volg die stappe om dit in te dien. Hoe dit ook al sy, loadshedding is hier om te bly. So doen maar wat jy kan, wanneer jy kan, om jouself en jou besittings daarteen te beskerm.

Etienne du Toit van Momentum Short-Term Insurance waarsku met die moontlikheid van fase 6 tot 8 wat soos ’n donker wolk oor Suid Afrikaners se koppe hang, moet jy meer paraat wees as ooit.

• Probeer altyd op die hoogte wees met jou area se loadshedding-skedule.

• Hou altyd jou foon gelaai sodat jy noodoproepe kan maak. Hou jou sekuriteitsmaatskappy se nommer op speed dial.

• Moet nooit saans alleen loop of hardloop nie.

• Koop herlaaibare ligte en maak seker dis altyd gecharge.

• Beskerm jou elektriese toestelle met surge protection of haal die plug uit om skade te voorkom.

• Maak altyd seker jou oond en stoof is af om ’n brand te voorkom.

• Maak seker niemand het met jou sekuriteitsligte, elektriese heining of hekmotor gepeuter nie.

• Verkeersligte wat nie werk nie, veral saans, is baie gevaarlik, veral as jy nie die roete ken nie. Vermy vreemde paaie saans – ook omdat jy nie weet waar die slaggate is nie.

• Hou ’n paar rand in jou beursie en brandstof in jou kar aangesien OTM’s en petrolpompe nie werk tydens loadshedding nie.

Marius stel ook voor dat jy altyd paraat is wanneer jy by die huis kom of wegry, veral as dit donker is. Maak seker jy kan by jou erf en huis inkom as die krag af is en jou elektriese hek en garage-deur nie wil werk nie.

Skakel alles wat jy kan af en plug dit uit voor loadshedding begin. Jy kan ook ’n surge protector plug soos dié by die hardewarewinkel koop om jou toestelle te beskerm.

Beperk die skade

Daar is ’n hele paar goed wat jy kan doen, volgens Santam se Philippa Wild, om jou skade en verlies tydens load-shedding te beperk.

• ’n Uninterruptible power supply (UPS) werk amper soos ’n back-up battery vir jou rekenaar en reguleer die hoeveelheid krag wat dit ontvang. • Maak seker al jou werk en data is ge-back-up sodat jy dit nie verloor nie.

• ’n Generator, selfs ’n kleintjie (2kW), wat so tussen R2 000 en R5 000 kos, kan jou lewe baie gemakliker maak. Hiermee kan jy drie rekenaars, ’n ketel en ligte aanhou! • Sonkrag is maklik verkrygbaar en werk goed.

• Maak plastiekhouers vol water en vries dit. Só kan jou yskas en vrieskas langer koud bly as die krag af is.

• Maak seker dat professionele mense enige alternatiewe kragbronne, soos hier bo genoem, installeer.

“Skade as gevolg van brande of power surges omdat hierdie sisteme nie korrek geïnstalleer nie, sal heel moontlik nie deur jou versekeraar gedek word nie,” waarsku Wynand. Jy moet ook jou versekeraar laat weet indien jy van alternatiewe kragbronne gebruik maak.

“Ek ken ouens wat elke naweek hul generators na ’n ander vriend se huis toe vat om die rugby te kan kyk. Dis nie so slim as wat jy dink nie – nie net is die generator nie gedek nie, maar die moontlike skade wat die generator kan doen (omdat dit nie behoorlik geïnstalleer is nie) is ook nie.”

Meer oor:  Loadshedding  |  Kuier  |  Skade
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.