Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Soek werk: Vrou skep webtuiste vir ma’s
4 Maart 2020


Baie keer gee ’n ma haar hele lewe en al haar drome prys om haar kinders groot te maak – soms ten koste van haarself en in vandag se ekonomie, dikwels ook ten koste van haar gesin se finansies.

Maar danksy een vindingryke vrou kan ma’s nou ’n ekstra inkomste verdien sonder om noodwendig ’n voltydse werk te doen – iets wat die pot aan die kook hou in haar vrye tyd.

Phillipa Geard (48) van Somerset-Wes buite Kaapstad, het met die idee van ’n recruitment agency vir ma’s begin speel nadat sy gehoor het ander ouers by haar kinders se skool beny haar flexible werksure. Phillipa was op daardie stadium ’n besturende vennoot by ’n bemarkingskonsultasie-onderneming.

“Hul stories was baie dieselfde as myne – hulle het suksesvolle loopbane opgegee as gevolg van hulle gesinne se behoeftes en wou nou graag weer begin werk, maar op ’n flexible, deeltydse basis,” onthou sy. Die probleem is recruitment agencies wil baie keer nie dié vroue ernstig opneem nie – hulle word ge-mommytrack, vertel sy. “Dit was dié tipe gesprekke wat my gelei het om iets te begin wat ma’s help om betekenisvolle werk te kry wat anders, deeltyds en flexible is sonder om heeltyd te moet om verskoning vra dat hulle hul werk- en familielewe wil integreer.”

Phillipa se ervaring in konsultasie het net vir haar bevestig dat kleiner besighede baie keer geskoolde mense met sekere vaardighede nodig het, maar nie noodwendig op ’n voltydse basis in die kantoor nie. “Ek het geglo as ek die regte deeltydse en flexible werke in Suid-Afrika op een website kon sit, daar baie besighede sou wees wat dié geleentheid sou aangryp!”

Só is RecruitMyMom gebore; omdat Phillipa ’n verskil wou maak vir ma’s met vaardighede wat beide ’n suksesvolle ma wil wees én ’n loopbaan wil nastreef. Sedertdien het RecruitMyMom al talle gesogte toekennings losgeslaan – soos Women of the Future 2019 en Job Creator of the Year in 2018 – en dis steeds enig in sy soort. As aanlynwerwings-organisasie bied hulle ’n maklike manier vir vroue om deeltydse of flexible werk te kry by werkgewers wat hul behoefte om hul werk- en huislewe te integreer, respekteer.

As ’n entrepreneur moet ’n mens baie struikelblokke oorkom. “My grootste hekkie was toe ek die besigheid begin het, het ek ’n baie spesifieke prentjie gehad van hoe dit sou lyk,” sê Phillipa. “Ek moes aanvaar die idee was steeds baie goed, maar ek moes aanpasbaar wees in my uitvoering daarvan.” As sy nie hierdie besluit geneem het nie, voel sy sy sou tien teen een nooit sukses behaal het nie.

Maak ’n verskil

Die organisasie bied ’n maklik-om-te-gebruik-werksoekplatform, asook handige dienste vir ma’s met vaardighede wat betekenisvolle deeltydse en/of flexible werkgeleenthede (beide in die kantoor en van die huis af) soek.

Daarmee saam is dit ook ’n plek vir werkgewers om te soek vir sekere vaardighede en betroubare werkers. “Dit maak net finansiële sin om vroue te help met hul loopbane en in sleutel-besluitnemingsrolle. Vroue gaan oor die algemeen nooit nie ma’s wil wees en hul kinders versorg nie. Ons help organisasies om nie hul vaardighede en kennis te verloor nie deur aanpasbare situasies,” sê sy. RecruitMyMom maak geld deur werkgewers ’n fooi te vra wanneer iemand aangestel word. Vir ma’s is dit heeltemal gratis.

Dit voel asof ek die beste van beide wêrelde het – ’n gehaltegesinslewe én ’n werk waaroor ek mal is!

“Ek dink wat ons doen, is so belangrik omdat ons dit kon regkry om die manier wat werkgewers oor vroue dink, te verander. Ons help om oplossings te vind vir geslagsongelykhede in besighede en bemagtig ma’s om ’n balans te vind tussen werk en huis,” sê sy trots. Hoewel dit die tradisionele model heeltemal op sy kop draai, glo Phillipa die werkersmark is gereed vir dié tipe werkskepping omdat tegnologie dit ondersteun. “Werkgewers is ook al hoe meer besig om sukses te meet aan produktiwiteit en nie net teenwoordigheid nie.”

En the proof is in the pudding – daar is tans meer as 4 000 Suid-Afrikaanse besighede wat van hul agentskap gebruik maak. Sedert 2012 het RecruitMyMom al duisende vroue (en ’n paar tuisbly-pa’s) suksesvol geplaas. “Ons het tans omtrent 100 onafhanklike kontrakteurs per maand wat deur ons website werk en ons databasis van ma’s is al naby aan 80 000!” sê sy.

Nuraan Alwadien is een van RecruitMyMom se suksesverhale.

Hulle het ook onlangs ’n recruitment website begin om gegradueerdes en interns te help om makliker werk te kry. “In die verlede het die meeste ma’s gevoel sy moet kies tussen haar loopbaan en haar kinders. Ons glo werk-lewe-integrasie is moontlik wanneer werkgewers hierdie behoefte respekteer,” meen sy.

Eerder as om te bedank uit ’n werk, vra jou werknemer om ’n nuwe manier van werk te oorweeg. Jy word dalk net aangenaam verras. Maar weet een ding: dit is nie meer nodig om een van jou drome prys te gee vir ’n ander een nie.

Een so ’n ma, een van RecruitMyMom se suksesverhale, is Nuraan Alwadien (33) van Kaapstad. “Ons hele finansiële departement is geretrench en ek was omtrent in sak en as!” onthou sy. Almal moes werk soek en ’n kollega het vir haar van RecruitMyMom vertel. Deur hulle werk Nuraan as ’n rekenmeester by Grandstand Management, wat onder meer die gesogte Cape Epic fietsresies behartig.

“Dis harde werk met strawwe deadlines, maar ek werk van die huis af wanneer dit nodig is, ure wat my pas en my werkgewer is baie ondersteunend en aanpasbaar.” Dit beteken sy kan baie meer gehaltetyd saam met haar kinders (een en ses) spandeer én ’n loopbaan bou. “Dit voel asof ek die beste van beide wêrelde het – ’n gehaltegesinslewe én ’n werk waaroor ek mal is!” En dit is presies die punt van RecruitMyMom – vroue hoef nie meer te kies tussen ’n loopbaan en kinders nie. We can have it all!

RAAD VIR WERKSOEK:

• Moenie jou CV afskeep nie.

• Wanneer jy vir ’n werk aansoek doen, skryf ’n motiveringsbrief. Beklemtoon wat jou ’n goeie kandidaat maak.

• Pas jou CV aan by die werk waarvoor jy aansoek doen. Beklemtoon die vaardighede wat die pos vereis.

• Moenie dit persoonlik vat as jy nie die werk kry nie. In die huidige ekonomie gaan dinge maar rof. As jou CV uitstekend is en jy wys jy het die vaardighede, het jy ’n beter kans om ’n onderhoud te kry.

• Berei voor vir onderhoude. Verstaan die organisasie en hul kultuur. As jy nie dink jy gaan by die kultuur aanklank vind nie, moenie jou eie en die werkgewer se tyd mors nie.

• Besoek www.recruitmymom.co.za/blog vir nog tips oor onderhoude.

Foto’s: Gallo Images/Getty Images en Verskaf

Meer oor:  Kuier  |  Entrepreneur  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.