Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Soldate op Vlakte: Maak hulle 'n verskil?
21 Augustus 2019

Terwyl soldate regoor die wêreld gewoonlik met vrees bejeën word, is hulle amper ’n maand gelede op die Kaapse Vlakte met applous, trane van blydskap en selfs ’n luide gejuig verwelkom.

Dit volg nadat Bheki Cele, die minister van polisie, onverwags aangekondig het dat meer as 1 000 troepe in bendegeteisterde gebiede ontplooi gaan word – ’n versoek wat die nasionale regering tot dusver jare lank geweier het. Die soldate vat nie nonsens van kabouters nie. ’n Soldaat, wat op voorwaarde van anonimiteit met ons gepraat het, sê hulle verwag elke dag die heel ergste en sal nie huiwer om bendelede wat hulle sou teiken, “summier uit te haal nie”. “Die gangsters staan nie ’n kans nie,” sê hy.

Die weermag wil weens vertroulikheidsredes nie detail bekend maak oor die samestelling van sy troepe of hul skedules nie, maar Kuier verneem dat soldate nie ontplooi word in gebiede waar hulle vandaan kom nie. Dit is om ’n konflik van belange te vermy. Die idee is ook dat die polisie steeds die voortou neem, maar die weermaglede besef nou dat daar ’n tekort aan SAPD-lede is en boonop ’n “skokkende hoeveelheid wapens in die hande van bendes”. Nou moet hulle volgens pres.

Cyril Ramaphosa vir drie maande help om die polisie se hande te versterk “om die wet en orde te herstel in gemeenskappe wat deur bendes geteister word”. Daar is groot rede tot kommer, want sedert Januarie vanjaar is meer as 2 000 mense al op die Vlakte afgemaai – ’n sterftesyfer wat goed vergelyk met lande wat inderdaad in oorlog gewikkel is.

Vlakte vol lyke

Die bendes raak al hoe meer bloeddorstig en verskeie gemeenskappe is grootliks aan hul genade uitgelewer. Vroeg in Julie, byvoorbeeld, is ses vroue afgemaai deur ’n groep aanvallers wat eenvoudig by ’n huis ingestap en begin skiet het.

Die volgende dag het vyf mans in twee verskillende skietvoorvalle gesterf. Volgens Albert Fritz, die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveilligheid, het 1 875 mense in die eerste ses maande van 2019 in die provinsie gesterf. “Dit beteken dat van ons kwesbaarste inwoners in ’n oorlogsone bly.” Hoewel die weermag se sukses eers behoorlik oor ’n langer tydperk bepaal kan word, was daar in die eerste naweek sedert hul ontplooiing ’n dramatiese daling in die moordsyfer. Aanvanklik het dinge belowend gelyk.

Oor die naweek van 6 en 7 Julie het 55 mense gesterf, en op 20 en 21 Julie het 25 gesterf. Die naweek daarna het dit egter weer tot 46 gestyg met Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, wat pleit: “Wat dié syfers onderstreep, is dat ons nie net op die weermag kan staatmaak om die misdaadprobleem in die provinsie op te los nie.”

Tradisioneel is daar in die eerste naweek van die maand, wanneer mense meer geld het, meer geweld. Voortaan gaan die bendesterftesyfer weekliks bekend gemaak word, maar ’n soldaat waarsku dat dit eintlik beter sal wees om self “elke liewe lykshuis in die provinsie te bel en self agter die kap van die byl te kom”.

Winde, wat intussen aangekondig het dat die Wes-Kaapse regering R5 miljoen begroot het om polisiereserviste aan te stel, glo die polisie het die stryd teen bendes verloor. “In ons toesig oor 151 polisiekantore het ons ontdek dat die provinsie ’n tekort van 548 speurders het. Byna die helfte van die speurders in ons provinsie het ’n lading van 200 of meer dossiere (op hul tafel) wanneer die ideale getal dossiere tussen 50 en 60 is.”

Dit lyk egter of bendes steeds in van die gebiede die oorhand het. Avril Andrews (56) van die Alcardo Andrews Foundation in Hanover Park op die Kaapse Vlakte het haar seun verloor as gevolg van bendegeweld. Sy vertel sy het gesien die weermag is nou ook in haar buurt, maar kon steeds geen verskil sien nie.

“Net nou-nou het hulle die winkeltjie oorkant die pad van my met vuurwapens beroof en anderdag het hulle ’n bus beroof. Mense was op pad werk toe en kon nie terugdraai nie omdat hulle sou laat wees. Hulle moes sonder al hul besittings die dag voortsit, want werk moet jy werk. As die army-trokke aan hierdie kant is, skiet die gangsters aan daardie kant.” Avril, wat baie betrokke is in haar gemeenskap, sê sy kan nie verstaan hoe die weermag sonder ’n behoorlike strategie die Vlakte ingevaar het nie. “Hulle moet ons vroue nader en saam met ons werk. Dis ons wat dag in en dag uit ons kinders probeer beskerm en dan moet skarrel vir ’n brood.”

Sy voel die weermag moet nie net met die gemeenskap saamwerk nie, maar hulle oplei en ’n stipend aanbied vir die werk wat hulle so sonder ophou doen. Maar Dhia Solomons (51), ’n blommeverkoper by die taxiterminus op Hanover Park, sê sy en ander inwoners begin tog klein verskille raaksien. “Die gangsters hou hulle soos dikdinge, maar as die army verbykom, is hulle nêrens te vind nie. Ons is nie meer so dag en nag bang nie. Die enigste probleem is dat die army nie heeldag tussen ons is nie. Hulle kom net so vir ’n uur en dan pak hulle weer na ander areas toe.”

Ons is nie meer so dag en nag bang nie. Die enigste probleem is dat die army nie heeldag tussen ons is nie.
Dhia Solomons

Volgens Kader Jacobs, die voorsitter van Manenberg se gemeenskapspolisiëringforum, het die troepe sommige huise en strate geteiken. “Hulle het saam met die teenbende-eenheid en die plaaslike polisie klopjagte uitgevoer, maar is kort daarna weer weg. Ek dink die mense verwag dat die weermag minstens tussen agt en 12 ure in die gebied sal wees – nie net vir ’n besoek van ’n uur en ’n half nie.” Sheila Samsodien, ’n kerkleier van Bonteheuwel en ma van drie, sê: “Dis eintlik weird om skielik my kinders buite te sien speel. Ons kon dit nooit vantevore waag nie, want die bendes doen net wat hulle wil. Jy hang nog jou wasgoed dan lê jou buurvrou in ’n plas bloed soos hulle deurmekaar skiet.”

Die Kaapse Vlakte gaan gebuk onder erge werkloosheid en verskeie sosiale uitdagings. Waar mense in meer welaf woongebiede kringtelevisiekameras, gewapende reaksie-dienste soos ADT en selfs geëlektrifiseerde heinings kan bekostig, het mense hier nie die luuksheid daarvan nie.

Steeds ’n krisis

Verskeie kenners wil egter niks van die weermag se ontplooiing op die Vlakte weet nie. Die weermag is in 2017 ook vir ’n korter tydperk ingeroep, en dit het toe nie veel vrugte afgewerp nie.

Gareth Newman, die hoof van geregtigheid en geweldvoorkoming by die Instituut vir Sekerheidstudies, beskryf die troepe se ontplooiing as ’n “korttermyn, onvolhoubare reaksie op ’n krisis”. Hy vra op Twitter: “Wanneer sal ons duidelike planne sien om die polisie te professionaliseer en moorde te voorkom sodat die leër nie nodig is nie?” Hoewel die politieke kommentator Jason Lloyd saamstem dat die polisie versterk moet word, glo hy dat buitengewone omstandighede buitengewone maatreëls verg.

“Maar ons moet ook onthou dat die weermag nie vir gewone polisiëring opgelei is nie. Daar is risiko’s aan verbonde. Die weermag skiet eerste dan vra hulle vrae, terwyl die polisie deur wetgewing beperk word om minimum geweld te gebruik as daar byvoorbeeld ’n skietery uitbreek.”

Jason vra egter waarom die troepe nie ook in ander bendegeteisterde areas ontplooi word nie, soos Port Elizabeth se noordelike gebiede waar onskuldiges ook aan bendes uitgelewer is. Volgens die politieke ontleder Theo Venter, wat aan die Noordwes-universiteit verbonde is, gryp troepe gewoonlik tydens ’n nood-toestand in. “Ons het omtrent ’n jaar en ’n half gelede gesien hoe die weermag ingeroep is om met die rioolkrisis te help. Ons weet daardie ingryping is al omtrent ’n jaar aan die gang. Maar ongelukkig het Suid-Afrika ’n slegte geskiedenis in die 80’s en in die 90’s. En hierdie optrede gaan baie versigtig gemonitor moet word.”

Die Social Justice Coalition se beleidshoof, Dalli Weyers, is ook baie bekommerd oor die sielkundige impak wat die teenwoordigheid van die weermag op inwoners kan hê. Intussen het Cele ’n duidelike boodskap aan bendes: “Ons sal van deur tot deur gaan. Ons sal elke onwettige vuurwapen afvat en alle misdadigers uithaal. As jy die onwettige vuurwapens bewaar en dink dat jy rustig sal slaap, kan dit nie gebeur nie. Ons sal aan jou deur klop. As jy weier om oop te maak, maak ons die deur oop. Ons sal jou vra om jou matras op te lig. As jy weier, sal ons dit saam met jou doen. Ons bevestig dat die Wes-Kaap nooit weer dieselfde sal wees nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.