Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Sonder familie: Seun moet vir homself sorg
13 November 2019


Soos die jaar vinnig aanstap Kersfees toe, sien baie van ons daarna uit om die feesseisoen in die geselskap van hul familie deur te bring. Dis egter ’n heel ander storie as jy stoksielalleen in die wêreld is. Maar dís die harde werklikheid vir Luke Davids (18) van Heideveld op die Kaapse Vlakte.

Op 17 moes Luke al man-alleen sonder die hulp van sy ma, Berenice Smith, of sy geliefde ouma, Rachel Petersen, die lewe begin trotseer. Albei hierdie raakvatvroue in sy lewe is oorlede – eers sy ma toe hy sewe jaar oud was en toe sy ouma in November verlede jaar toe hy 17 was. Sy ouma was 76.

Luke was nog altyd daaraan gewoond om saam met sy ouma met min oor die weg te kom, maar toe sy sterf, was hy uitgelewer aan die wêreld. Broos en alleen moes hy op sy eie bene leer staan en vir homself en ’n huishouding sorg met net R2 500 per maand.

In vandag se tyd is R2 500 nie meer baie geld nie. Vir sommige mense is dit net hul petrol- of groceries-onkostes alleen, maar Luke moes nou daarmee oorleef.

Maar dis omdat hy dít nie net reggkry nie, maar ook weier dat sy omstandighede hom terughou dat Kuier sy storie vertel. Want so jonk soos hy is, onthou Luke sy ouma het hom geleer om selfstandig te wees en maak hy nou elke sent werk – nes sy altyd gemaak het. Dit is opvallend hoe netjies Luke se tuiste is toe ons hom besoek. Alles is op sy plek. Dit is glad nie hoe ’n mens sou dink die huis van ’n 18-jarige seun lyk nie.

“Kom binne,” nooi die tiener ons skaam en saggies in. Hy het pas by die huis gekom ná skool en is besig om die huis reg te trek omdat hy die oggend laat was. “Dit is nie asof die huis ooit deurmekaar of vuil is nie, dit is mos maar net ek. Die stilte en eensaamheid kan ’n mens nogal vang, dit is steeds vreemd om nie meer my ouma se stem te hoor nie,” merk hy onverwags op. Luke se eerste hartseer was toe hy sy ma op sewe verloor het. Sy ouma het hom onder haar vlerk geneem en grootgemaak.

“My ma het baie skielik afgesterf. Sy het asma gehad. Eendag was sy alleen en het ’n ernstige aanval gehad. Sy kon nie vinnig genoeg hulp kry nie en as gevolg daarvan het sy toe ook ’n hartaanval gehad. Toe sterf sy.” Hoewel Luke baie klein was ten tyde van sy ma se afsterwe, kan hy onthou dat hy baie hartseer was.

“Ek het nie enige sibbe van moederskant nie en ek het baie alleen en hartseer gevoel, maar my ouma was altyd daar om my te troos.” Nie net het Luke sy ma op dié jong ouderdom verloor nie, maar ook op ’n manier sy pa.

“Ná my ma se afsterwe het ek baie min van my pa begin sien. Hy was baie weg van die huis af en daar was nooit ’n sekerheid oor wanneer hy terug by die huis gaan wees nie. Ek het hom maar een keer oor elke ruk gesien.” Selfs nou sien Luke nie gereeld sy pa nie. “Maar ek koester geen verwyte nie, want hoe ’n mens se lewe uitdraai, is God se wil.”

Sy steunpilaar

Sy ouers was dalk nie meer daar nie, maar sy ouma was altyd daar. Met verstrengelde vingers vertel hy sy lewe as kind was maar eenvoudig. “Ons het natuurlik nie baie gehad nie en my ouma het my basies op haar Sassa-grant grootgemaak. Al het ons nie baie gehad nie, het ons genoeg gehad om deur elke maand te kom. Daar was nooit nie iets om te eet nie, my ouma het altyd voorsien.”

Sy ouma het die rol van ma, pa en ouma in sy lewe aangeneem. “Dit is ’n vrou aan wie ek alles skuld. Alles wat ek vandag weet, het ek by haar geleer. Oor die jare was daar min mense op wie ek kon staatmaak, maar my ouma was die een mens wat altyd daar was.” En toe sterf sy ook . . . Toe dit gebeur het dit gevoel asof Luke se wêreld inmekaartuimel.

Oor die jare was daar min mense op wie ek kon staatmaak, maar my ouma was die een mens wat altyd daar was.

“Sy was op pad na Vangate Mall om inkopies te gaan doen toe ’n kar haar tref en sy aan haar beserings beswyk het. Dit was daai tyd so onwerklik en seer, maar ek het geleer om sonder haar te lewe en maar my eie potjie te krap.” Maar al gaan dit soms afdraand, kyk dié klong met die bokkie-oë noord en druk hy voort.

Volgens Luke was die aanpassing sonder sy ouma nie moeilik nie omdat sy hom van kleins af geleer het om op sy bene te staan en verantwoordelik te wees.

“Mense sê altyd oumakinders is bederf, maar my ouma het my geleer om verantwoordelik en netjies te wees en ook hoe om te oorleef op ’n begroting.” Luke kry maandeliks ’n toelaag van R2 500 van ’n trust wat sy ma vir hom agtergelaat het. Hy werk spaarsamig om alles te dek. “As ek aan die einde van die maand my maandelikse toelaag kry, is die eerste ding wat ek betaal my begrafnispolis. Daarna sal ek die goedjies soos krag, kos en die koste vir my skoolvervoer uitsorteer.” Luke sê ook sy antie help met kospakkies.

“My antie bring ook soms kos en gelukkig word my skoolfonds deur die trust betaal.” Volgens Luke moet hy ’n spesiale aansoek by die trust indien as hy klere of iets anders benodig. “As ek iets oorhet in die maand sal ek myself ’n bietjie bederf en gaan fliek, maar ek leef gewoonlik op ’n baie streng begroting.” Maar al lyk dinge soms stikdonker vir hom skyn daar tog ’n helder lig. “My liefde vir bak, hou my besig en as ek in die kombuis besig is, ontsnap ek na my eie wêreld.”

Luke sê hy weet nie presies wanneer die bak-gogga gebyt het nie, maar dit is iets wat hy vir niks sal verruil nie. “Baie van die terte en koekies wat ek bak, is van my ouma se resepte. Ander is weer goed wat ek in my kop skep en dan probeer.” Hy lag skaam voor hy sê sy gebak is nogal lekker.

Druk voort

Luke staan sterk al het hy nog net foto’s en herinneringe aan sy ma en ouma oor.

Luke is tans matriek en wou aanvanklik nie na die afskeid gaan nie. Die bal vind op 29 November plaas. “Ek het geweet ek sou dit nooit kon bekostig om op my eie na die afskeid te gaan nie, so ek wou nie nog onnodig daaroor stres nie. Maar my bure wat hier rondom my bly, wou niks verstaan nie. Hulle het bymekaargekom en alles uitgesorteer. Ek is nou nogal opgewonde.”

Luke is baie dankbaar vir almal wat so bereidwillig ingespring het om te help. “Ek wens my ouma kon hier wees om te sien hoe ver ek gekom het.” En hoewel dinge nie altyd maanskyn en rose was vir Luke nie, is hy optimisties oor die toekoms. Hy het aansoek gedoen om ’n besigheidstudiesgraad by die Universiteit van Wes-Kaapland te voltooi.

“As ek klaar my graad voltooi het, wil ek my eie besigheid begin deur ’n bakkery oop te maak. Ek weet nie of die trust my studies gaan finansier nie, maar ek weet wel dat ek oor twee jaar glad nie meer geld uit fonds gaan kry nie.” Al lyk dinge onseker bly klou dié tiener vas aan die hoop dat môre beter sal wees. “Niks kan my keer nie. Ek sal my droom verwesenlik om ’n internasionale bakkery te hê. Kom wat wil!”

Meer oor:  Kuier  |  Inspireerder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.