Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Sonder pak slae: Hoe om jou kind te straf
30 Oktober 2019

Dis nou amptelik onwettig om jou kind by die huis te tug en Kuier het in die uitgawe van 16 Oktober breedvoerig berig oor die Grondwethof se opspraakwekkende beslissing.

Maar nou sit talle ouers met hul hande in die hare, want hoewel hulle nie onwettig wil optree nie, moet hul kinders gedissiplineer word. Oraloor wroeg ouers: Hoe nou gemaak? Wat kan ek doen om my kind te dissiplineer anders as om hom ’n hou te gee?

Baie Suid-Afrikaners is duidelik ongelukkig oor die uitspraak, maar sommige voel tog dis die regte ding om in ons gewelddadige land te doen.

Kenners is dit ook eens: Lyfstraf kan vrees en angs by kinders skep en dit is juis om dié rede dat daar na alternatiewe maniere gesoek moet word om kinders te dissiplineer. Angie Makwetla, ’n kommissaris by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie wat verantwoordelik is vir kinderregte, het in ’n opiniestuk op die kommissie se webtuiste geskryf die trauma van lyfstraf kan ’n langdurige effek tot gevolg hê en verhoog die risiko dat die kind fisieke gewelddadige gedrag sal toon.

Sy skryf verder lyfstraf skend die regte van kinders; soos hul reg op waardigheid, die reg op vryheid en veiligheid van mense en hul reg om beskerm te word teen mishandeling, verwaarlosing en agteruitgang.

Werk nie vir almal

Maar al hoor sy dit, sê Valencia Scott (42) van Stellenbosch die uitspraak is makliker gesê as gedaan. Valencia sê sy probeer al vir jare alternatiewe maniere om dissipline toe te pas, maar niks het nog so effektief gewerk soos rapsie of twee nie. “Sedert my kinders groot genoeg was om ’n rapsie te kry, het ek al begin om na ander maniere te soek sodat hulle kan luister.

Ek het al die ‘silent corner’, gaan-sit-in-jou-kamer-en-besin-oor-wat-jy-so-pas-aangevang-het en die ‘ontneem’-metodes gebruik, maar dit het nie aldag die verwagte effek nie. As ek hulle ’n rapsie gee, weet hulle hulle het iets verkeerds gedoen en die kanse is skraal dat hulle dit gou weer sal doen.”

Sy verduidelik ook sy glo nie in skree nie, omdat sy dink dit haar kinders (12 en 16) angstig en bang vir haar sal maak. “Dit pla my altyd wanneer ouers onnodig te hard praat met hul kinders tot so ’n mate dat die kind skoon skrik. Dit is nie iets waarin ek glo nie, want as kind was ek genoeg uitgeskel en sleg gesê dat ek weet dit is nie wat ek vir my eie kinders wil hê nie.”

Volgens Valencia is die uitspraak nie noodwendig ’n slegte idee nie, maar dit bemoeilik ouers se taak om gesag toe te pas. “Daar is baie ouers wat tug te ver vat en dit grens aan aanranding, maar ek glo nie ’n hou elke dan en wan sal ’n kind emosionele skade aandoen nie.”

Ander maniere

Volgens kenners is daar verskeie voordele verbonde aan die aanleer van alternatiewe tegnieke om dissipline by kinders toe te pas. Tshepiso Matentjie, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria, sê die impak van lyfstraf is geneig om angs te skep by kinders. Volgens haar is daar ook nie ’n manier om algemene gepaste alternatiewe strawwe vir verskillende ouderdomsgroepe te bepaal nie, want dit hang af van die kind se karakter. “Selfs al gee jy nie fisies die kind ’n pak nie, kan die belofte daarvan ook ’n impak op die kind hê.”

Volgens Tshepiso verskil kinders se karakters en moet ouers daarvolgens vir hulle ’n gepaste straf uitwerk. “Wat byvoorbeeld vir een kind gaan werk, gaan glad nie werk vir ’n ander kind nie. Vir sommige kinders sal dit byvoorbeeld werk om hulle te ontneem van hul elektroniese toestelle, maar glad nie vir ander nie. Vir ’n ander kind sal die belofte van lyfstraf ’n afskrikmiddel wees.”

Tshepiso sê deur kinders te straf, leer ouers hul kinders sekere gedrag aan. “As jy wil hê jou kind moet ’n morele kompas hê, moet jy leer hoe om een by hulle te ontwikkel en dit ook aan die kind kan demonstreer. Kinders doen wat hulle sien en mirror ouers se gedrag.”

Angela Rogers (32) van Durbanville in die Kaap stem saam met die kenners en sê die boompie moet al gebuig word terwyl dit klein is, dan sal daar nie probleme wees as die kind groter is nie. Angela het ’n sewe- en tienjarige.

Fokus op en beklemtoon die positiewe of aanvaarbare gedrag. Versterk dan dít. As jy van die kind iets verwag, moet jy vra en nie noodgedwonge eis nie.

“Sedert my kinders se geboorte het ek nog nooit my hande vir hulle gelig nie en het alternatiewe maniere op die internet en in die boeke gesoek om hulle in lyn te hou. Hulle altwee het tablets en as hulle stout is, word dit afgevat. Hulle mag ook nie TV kyk of op uitstappies gaan wanneer hulle stout was nie.”

Dié ma is vasbeslote haar metodes werk. “Van kleins af het hulle nie gehou van in ’n die hoekie gaan sit nie, so hulle het alles in hul vermoë gedoen om te verseker hulle beland nie daar nie. ’n Kind leer gewoontes van die ouer af en as hulle op ’n vroeë ouderdom geleer word wat die nagevolge van hul aksies gaan wees, sal dit nie nodig wees om eens ’n pak slae uit te deel voor hulle luister nie.” Angela was dus verheug oor die hofuitspraak.

“Ek het al baie keer van my vriendinne bevraagteken oor die manier waarop hulle hul kinders tug, dit het my nooit aangestaan nie. Maar vir elke ouer werk verskillende metodes.” Erika Anderson, ’n opvoedkundige sielkundige in Kaapstad, sê dis baie belangrik om ’n positiewe en koesterende verhouding met jou kind te bou om hom of haar doeltreffend te dissiplineer. “Fokus op en beklemtoon die positiewe of aanvaarbare gedrag. Versterk dan dít. As jy van die kind iets verwag, moet jy vra en nie noodgedwonge eis nie,” verduidelik sy. Volgens Erika moet ouers die belangrikheid van aanmoediging aanleer.

“Leer en leef die belangrikheid van aanmoediging, eerder as ontmoediging deur vernedering of oorbeskermend op te tree teenoor die kind.” Sy sê voorts kinders moet geleer moet word om verantwoordelik te wees. “Moenie haar of hom huishoudelike take vir jou kind verrig nie. Vermy die uitvoering van take wat ’n kind self kan doen. Ouers besef ook nie aldag die belangrikheid van die kind se begeerte om te behoort nie.”

Sy sluit af deur te sê ouers moet konsekwent wees wanneer hulle reëls stel vir kinders. “Moenie vandag iets toelaat en nie môre nie. Hou by die reëls wat jy gestel het, want dan leer die kind gehoorsame gedrag aan. Ouers moet ook onthou om kalm en respekvol op te tree, want die kind sal dan die gedrag weerspieël.” Die hof se beslissing maak dit nou onwettig om jou kind te slaan en ouers gaan daarby moet hou. Die belangrikste les wat ons by die kenners kan leer, is dat ouers afhangend van die kind se karakter effektiewe strafmetodes kan uitwerk. Want ’n pak slae is nie meer ’n opsie nie!

* Foto’s: Nithaam Samodien

Meer oor:  Dissipline  |  Kuier  |  Lyfstraf  |  Ouerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.