Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kitsma: Jong vrou sorg vir sibbe ná tragedie
6 Maart 2019
vivica antonio, sibbe, inspirasie


Die spanning van matriek en al die eksamens en besluite wat daarmee gepaardgaan, is genoeg om baie jong mense te knak, maar vir Vivica Antonio (18) van Manenberg op die Kaapse Vlakte, was haar eie matriekjaar verlede jaar ’n nóg donkerder tyd – een wat haar kon gebreek het, maar wat haar sterker anderkant laat uitkom het.

Want nie net moes Vivica deur haar finale skooleksamen kom nie, sy moes dit ook doen te midde van die onmeetbare verlies van haar ma wat afgesterf het.

“Ek is die enigste Afrikaanse kind in my skool wat met ’n Bachelors (vrystelling) geslaag het,” vertel sy trots. Dít in dieselfde tyd dat haar geliefde ma, Karen (45), haar beste vriendin, amper in haar arms gesterf het. Sy moes ook nog probeer om haar skoene vol te staan vir haar tweelingbroer-en-suster, Danico (11) en Danusha (11).

Tydens Vivica se voorbereidingsek-samen in Augustus verlede jaar, het sy eendag ’n oproep ontvang om te sê sy moet dadelik huis toe, haar ma lê doodstil op die grasperk voor die huis. Dit was ’n groot hartaanval en Karen het dit nie gemaak nie. Dit was baie onverwags omdat Karen gesond was. “In daardie oomblik toe die dokter vir my en my pa vertel hulle kon niks vir my ma doen nie, het ek kalm geword, want ek het dadelik besef daar is twee kleintjies wat van nou af op my gaan depend,” onthou Vivica. Sy moes ook haar pa vertroos. “Ek het nog nooit my pa sien huil nie, maar hy was so gebroke ek het nie geweet wat om te doen nie.”

Vivica se eerste taak as kitsma was om vir haar sustertjie te vertel hulle het nie meer ’n mammie nie.

Die rouproses was nie vinnig of maklik nie en Vivica mis steeds elke dag haar ma, veral as sy vinnig vir haar iets wil vertel of ’n grappie met haar wil deel. Partykeer is die verlange so groot dat Vivica met haar ma se foto’s sal sit en gesels, net om weer te onthou en om te voel asof sy daar is. “Dit bring vir my ’n kalmte en dis wat ek doen om te survive. Ek is nie oor dit nie, ’n mens sal nooit oor dit wees nie. Maar dis iets wat jou sterk maak en wat vir jou wys jy kan,” vertel sy terwyl ’n trane saggies oor haar wange rol.

Sterk vir haar gesin

vivica antonio, sibbe, inspirasie
Karen, Vivica en die tweeling se ma.

Sy probeer om nooit voor die tweeling te huil nie, want sy voel dis haar plig om sterk te staan, sodat hulle kan veilig voel en kan weet sy is daar vir hulle. Verder probeer sy om altyd, as hulle verlange erg raak, oor Karen en die goeie herinneringe te gesels, sodat hulle nie hul ma sal vergeet nie. “Ek probeer wat ek kan om hulle te troos en gelukkig te maak, want as dit vir my so swaar is, hoe moet dit dan nie vir hulle wees nie?” wonder Vivica met ’n sterk stem wat effens bewe. Dit is vir haar baie seer dat die tweeling nie haar ma ooit sal kan ken of beleef soos sy het nie, maar sy probeer haar beste om so na as moontlik ’n “regte” ma vir hulle te wees.

“My ma se dood het my laat wakker skrik. Ek het besef ek is nou groot en het verantwoordelikhede. Ja, die tweeling is nie myne nie, ek het nie vir hulle gebaar nie, maar hulle is nou myne. Ek moet nou na hulle kyk,” verduidelik sy. Vivica het onmiddellik ná haar ma se afsterwe, die rol van ma en vrou in die huis ingeneem sonder om eens vir ’n oomblik te aarsel. “Ek was basies ’n instant mom, maar ek sal dit nie vir enigiets verander nie. Dit is wat vir my sterk gemaak het, want ek het geweet ek moet nou reg kan staan vir twee kinders wat nie die lewe ken nie, al ken ek ook nog nie alles nie, maar ek probeer om dit die beste vir ons te maak.”

Vivica en haar pa, Eugene (47), was nog altyd na aan mekaar, maar die dood van haar ma het hul verhouding gesmee en die twee werk deesdae as ’n span om vir die tweeling ’n liefdevolle, goeie huis te skep met alles wat hulle nodig het. “Dis vir my lekker om te weet mense maak staat op my. As ek dit nie gaan doen nie, wie gaan?” vra sy met ’n glimlag. Dit is nie vir haar ’n las om, al is sy self nog kind, na haar twee sibbe om te sien nie. “Ek like om vir hulle gelukkig te sien, om die kos te maak waarvan hulle hou. Ek kan nie altyd alles doen nie, maar ek probeer my beste om vir hulle die beste te gee, selfs die goed wat ek nie kon gehad het nie. Ek fokus nou op die familie wat ek het.”

Blink toekoms

Vivica (18) moet ma wees vir haar broer en suster nadat haar ma skielik vverlede jaar oorlede is.

Die tweeling vertel Vivica kan partykeer baie kwaai wees. ’n Mens kan sien dié twee word goed grootgemaak en nie bederf of gelos om rond te lê en sleg te word nie. Vivica en Eugene het vroeg besluit die tweeling moet ’n vaste roetine, huistake en verantwoordelikhede hê, dat hulle nie oorgesien kan word omdat hulle ma oorlede is nie. Dit is belangrik dat hulle met die regte waardes grootgemaak word, veral waar hulle woon. “Ons maak hulle nie groot vir onsself nie, maar vir die wêreld daarbuite.”

In ’n area wat geteister word deur moord en misdaad, probeer Vivica die mooi in Manenberg raaksien, selfs al woon sy in ’n straat saam met drie verskillende gangs, ’n paar meter weg van die berugte “Hok”. (Dis waar vermeende Kaapse bendeleier Rashied Staggie se hoofkwartier na bewering was.)

“Dit gaan maar basies oor die keuses wat jy in die lewe maak,” verduidelik sy. Só kies sy haar vriende gebaseer op haar skoolwerk en bly weg van mense wat betrokke is by bendegeweld. Baie van die mense wat sy geken en mee saam grootgeword het, is reeds dood as gevolg van sulke verkeerde keuses. “Dis nie baie maklik om daardeur te werk nie, maar as jy weet wat jy wil hê, sal jy jou kop daarop sit en daarnatoe werk,” meen sy. Hoewel party mense miskien sal dink Vivica se toekoms lyk donker, is sy opgewonde oor wat voorlê.

“Daar is so baie dinge wat ek wil doen – IT, joernalis word. Ek wil alles van alles leer! Ek is net bang daar is nie genoeg tyd nie. Ek voel immortal!” borrel sy opgewonde.

Vivica was tweede in haar skool vir wiskunde aan die einde van haar matriekjaar. Tog is sy ontevrede oor haar resultate en studeer tans hard om die eksamen te her-skryf. “Ná dit sal ek sien waar die wind my waai,” glimlag sy. Met hierdie ongelooflike innerlike krag, is dit duidelik sy sal eendag ver kom, en sy sal haar broertjie en sustertertjie inspireer om dieselfde te doen. Sy glo vas dit is omdat haar ma altyd vir haar gesê het, “jy kan alles doen wat jy wil doen. Moet nooit settle for less nie. Doen wat jy wil doen”. Dít is die boodskap wat Vivica saam met haar deur die lewe dra en niks gaan haar terughou nie!

Sy draai die tragedie om in ’n positiewe en glo deur haar ma se dood kan sy dalk selfs beter wees as wat sy sou omdat sy nou op haar eie twee voete moet staan. 

Meer oor:  Sibbe  |  Familie  |  Kuier  |  Matriekjaar  |  Kaapse Vlakte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.