Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Videospeletjies: Oppas vir kinders se verslawing
03 October 2018
tv game


In die goeie ou dae het jy buite gespeel tot die straatligte jou gewaarsku het dis tyd om huis toe te gaan. Maar jy was nog nie moeg rondgehol nie, want dit was net té lekker om te speel. Aktiewe speletjies soos aan-aan, wegkruipertjie, kennetjie, om maar net ’n paar te noem, was gunstelinge. Maar deesdae is dit ’n heel ander storie...

Ons lewe nou in ’n era van moderniteit, tegnologie en gejaagdheid, en kinders verkies deesdae videospeletjies bo “normale” speel. En met misdaad wat hoogty vier, is dit ook nie meer veilig vir kinders om in die straat te speel nie. Daarom is dit al tweede natuur vir vandag se kinders om met ’n tablet, ’n selfoon of voor die televisie vasgenael te sit met ’n game controller in die hand.

Videospeletjies het ook al vir ouers ’n babysitter geword wat die kind besig hou. Maar hoe gemaak as jou kind se tydverdryf in ’n verslawing aan videospeletjies ontaard?

Dis heeltemal moontlik, sê kenners, en gebeur reeds. Dis ook nie net die moontlike verslawing en newe-effekte waaroor ouers bekommerd moet wees nie, maar ook hoeveel dit hulle uit die sak jaag.

BAIE GEWILD

Die Suid-Afrikaanse tak van PricewaterhouseCoopers (PwC) het onlangs hul ontleding van die plaaslike vermaakbedryf op hul webtuiste gepubliseer. Volgens dié verslag het Suid-Afrika ’n snelgroeiende videospeletjiesmark. Dit het glo in 2016 tot R2,6 biljoen verdien en dié syfer sal na verwagting met 15,4% styg tot sowat R5,4 biljoen teen 2021.

Volgens MyBroadband se webtuiste is die gewildste kompeterende videospeletjies Dota 2 en Counter-Strike: Global Offensive en dis gewoonlik games waar die karakters mekaar uitmoor.

Die videospeletjiebedryf maak dus lekker geld uit gaming “fanatics”, want die gemiddelde prys van ’n PlayStation, wat van die gewildste video game consoles (vir volwassenes en kinders) op die mark is, kos tussen R1 000 en R7 000. Hou ook in gedagte dat jy moet betaal vir die console én ook per speletjie. Een speletjie kan jou R600 uit die sak jaag!

Korporatiewe reuse in hierdie bedryf gaan al die pad bank toe lag vir so lank as wat mense hulle op ’n ongesonde manier ophang aan games.

Maar ons bekommernis is eers oor die kinders. Kinders van oral oor ly juis nou onder die sogenaamde “gaming craze”. Dit is wanneer kinders se obsessie met videospeletjies letterlik hul lewe oorneem – hulle spandeer ure om te speel net om na die volgende level te vorder of om die speletjie te wen.

Wyd en syd is onlangs berig oor die videospeletjie Fortnite Battle Royale wat kinders se daaglikse roetine heeltemal omvergooi.

Die speletjie gaan oor 100 spelers wat uit ’n vlieënde bus na ’n eiland gaan waar hulle, gewapen met ’n piksteel, hulpbronne moet versamel en dan mekaar uitmoor om koning van die speletjie te kraai. Die storie van ’n negejarige Britse meisie wat hierdie game gespeel het, het opslae gemaak omdat sy haar pa met die vuis bygedam het toe hy haar speletjie afvat. Die pa het probeer ingryp omdat die kind haarself glo herhaaldelik natgemaak het omdat sy nie die speletjie wou los om toilet toe te gaan nie.

Die “gaming craze” is egter nie net ’n gier wat in die buiteland posgevat het nie, nee, dis een wat hier in ons eie geweste woed.

Sharon Adams, ’n ma van Kuilsrivier in die Kaap, vertel haar sewejarige kind se games-spelery ken geen einde sedert hy verlede jaar ’n PlayStation as verjaardaggeskenk gekry het nie.

“Aan die begin het ek dit nie juis opgemerk nie oor ek gedink het dis maar hoe kinders deesdae is. Dis eers vroeg in dié jaar dat ek besef het ons het ’n probleem op hande. As hy sit met die speletjie wil hy nie eens eet nie.”

Volgens Sharon raak haar seuntjie baie aggressief as hy aangepraat word oor sy spelery. “ ’n Mens kan dan nie aan hom vat of niks nie, en moet hom eers paai of selfs die speletjie weer aansit voor hy met jou praat.” Dié bekommerde ma vertel haar kind wil nie meer slaap nie en skeep selfs sy huiswerk af.

“Ek sit met my hande in my hare en verwyt myself oor ek my kind die afgrond ingelei het. Wie sou ooit kon dink dat ’n onskuldige speletjie my kind se lewe so kon oorneem?” vra sy moedeloos.

Sharon sê haar kind se verslawing jaag haar honderde rande uit die sak.

“Daar is speletjies wat draai by R500 elk. Die kind het een dag ’n vloermoer gegooi oor ’n speletjie van R590 – ek moes dit koop. Ek was te skaam oor almal in die winkel na ons gekyk het.”

Marius Annandale, administrateur van die Fortnite Facebook-groep in Suid-Afrika, sê videospeletjies wat op televisie, slimfone, tablette, en consoles gespeel kan word, is verslawend.

Hy meen egter ouers kan hierdie tipe verslawing verhoed deur hul kinders te monitor.

“Ek glo vas dat ouers hul kind se gebruik van videospeletjies moet beperk. Hulle moet seker maak dat kinders gedissiplineerd is en matigheid voor oë hou. Ouers moet ook seker maak wanneer kinders aan videospeletjies blootgestel word, hulle die ouderdomsbeperkings van die speletjies in ag neem.”

Marius sê hulle het tans geen kinders in die Fortnite-speletjiesgroep onder die ouderdom van 13 nie. Van hul ongeveer 1 052 lede is 39,8% mans tussen die ouderdom van 18 en 24 en 30% mans tussen 25 en 34 jaar oud.

Ouers vrees altyd dat hul kinders buite in die straat iets sal oorkom, maar my kind is in ons eie huis geskend.
Anne de Wee*

SKOOLWERK LY

Nóg ’n bekommerde ma, wat verkies om anoniem te bly, sê sy gaan gebuk onder haar agtjarige meisiekind.

“Ek weet nie meer hoe en watter kant toe nie. Ander meisies speel met hul poppe en dress-up, maar my kind weier om enigiets anders te doen as om games te speel. Ek ken nie meer my kind nie,” sê Anne de Wee* van Gauteng.

Sy sê hartseer haar kind spandeer ongeveer vier tot vyf ure aan haar speletjies en sy tree ook glo nou aggressief op.

“Sy luister nie en doen glad nie meer haar skoolwerk nie. Ek was al twee keer deur haar juffrou ingeroep oor sy glo moeg is in die klas en nooit meer haar huiswerk doen nie. Ek het my kop in skaamte gesak voor daai juffrou.”

Anne sê hoewel haar kind nooit ’n engeltjie was nie, was sy nog nooit ’n uiters moeilike kind nie.

“Dis asof die speletjie my kind verander het en ek het geen beheer daaroor nie. Ons het al ’n sielkundige gaan sien en sy gaan ons nou help om die probleem hok te slaan. Ek kon nie meer nie, ek moes hulp gaan soek,” sê Anne.

Soos Sharon spandeer Anne ook duisende rande op speletjies. Anne is ’n enkelma en sy het vir haar kind ’n console gekoop om haar besig te hou.

“Sy stel belang in niks anders as video games nie. Ouers vrees altyd dat hul kinders buite in die straat iets sal oorkom, maar my kind is in ons eie huis geskend. In ons sorg,” sê Anne. Haar dogter (8) speel tans Overwatch – ’n skietspeletjie met ’n ouderdomsbeperking van 12.

“Die speletjie is veels te ingewikkeld vir haar, maar sy speel dit met soveel gemak en skill. My kop sak ek in skaamte oor ek te veel toegelaat het. Maar ek glo met die hulp van Bo en die sielkundige gaan ek my kind terugkry.”

Pauline Mawson, ’n kliniese sielkundige, sê ’n kind se videospeletjie-spelery raak ongesond wanneer dit begin inmeng met alledaagse funksionering – skool, slaap, deelname in ekstra buitemuurse aktiwiteite asook normale maatskaplike betrokkenheid soos om saam met hul gesin te eet.

Sy verduidelik: “Daar sal ook veran­dering wees in die kind se bui en slaappatroon. Die kind kan selfs oor die speletjie begin droom en die tyd aftel tot wanneer hy of sy weer kan speel.”

Pauline meen kinders se verslawing aan speletjies is aan die toeneem en dat sy al hoe meer met dié tipe gevalle te doen kry. Sy sê ouers moet uitkyk vir sekere simptome wat ’n aanduiding kan wees dat die kind verslaaf is.

“Ouers moet uitkyk vir irritasie, onttrekking, buierigheid, geen belangstelling in oefening of aktiwiteite, maar om eerder in sy of haar kamer te sit, strydlustig te wees en selfs steel om meer data te koop om te speel. Wanneer dit aanhoudend voorkom en ’n patroon word waargeneem, moet ouers ’n sielkundige nader,” sê Pauline.

Sy sê voorts kinders wat gewoonlik verslaaf raak aan videospeletjies het ’n behoefte om te behoort aan ’n omgewing waar baie konflik is. Die omgewing word dan gebruik as ’n ontsnapping onderliggend aan ongediagnoseerde geestesversteuring soos angs en depressie.

As jy as ouer enige van hierdie gevaartekens oplet, tree dadelik op. Want wat is erger? Om ’n gekerm aan te hoor oor hulle hul game kwyt is of om die kind wat jy ken, heeltemal te verloor aan iets wat nie eens regtig bestaan nie?

*Skuilnaam

Meer oor:  Games  |  Kuier  |  Speletjies  |  Cyberbully
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.