Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Spesiaal vir Shaleen
18 April 2018

Klassieke rolprente soos The Sound of Music, Gone with the Wind en ons eie geliefde Fiela se Kind het nou maar eenmaal die vermoë om mense se hartsnare te roer.

Hierdie stories bly oor generasies heen gewild omdat hulle iets raakboor waarmee ons almal kan identifiseer. En dit was veral die geval met Fiela destyds hier in Suid-Afrika.

Fiela se Kind kom uit die gewilde skrywer Dalene Matthee se pen. Dit is in 1985 gepubliseer en in 1988 het ’n fliek met dieselfde naam op die silwerskerm lewe gekry. Niemand wat die boek gelees of die fliek gekyk het, was onaangeraak nie.

En ná drie dekades word mense steeds meegevoer deur die verhaal van Fiela Komoetie en haar wit vondelingkind, Benjamin, wie sy met trots en liefde grootgemaak het totdat die sensusmanne hom op ’n dag onverwags kom haal het.

Ingevolge apartheidswetgewing kon ’n bruin vrou nie daardie tyd ’n wit kind grootgemaak het nie. Sedertdien is die storie al verskeie kere in verhoogproduksies ook vertel. Dit word juis vanjaar weer by die Suidoosterfees, wat van 26 April tot 1 Mei by die Artscape in Kaapstad plaasvind, op die planke gebring.

Maar dit maak nie saak hoeveel keer dit opgevoer word nie, dit bly een van die mees geliefde Suid-Afrikaanse stories. Die feit dat die produksie steeds die meeste van die tyd uitverkoop, wys mense wil sien hoe die liefde tog alles oorwin.

Maar jy kan nie van Fiela se Kind praat sonder om erkenning te gee aan die ikoniese akteur Shaleen Surtie-Richards (62), wat Fiela Komoetie vir ons almal real gemaak het nie. Sy speel juis weer in April Fiela in dié produksie. Shaleen vier vanjaar ook ’n groot mylpaal – dis al haar dertigste jaar in die vermaakbedryf! Sy mag dalk nooit self ’n ma gewees het nie, maar ná al die jare is hierdie rol steeds soos tweede natuur vir haar, sê Shaleen.

Ek vergeet soms die teks, maar die oomblik as ek weer op die verhoog verskyn, kom dit alles terug. Dit vat nie eens lank nie dan is ek weer Fiela. Ek is net ’n bietjie ouer met ’n paar ekstra kwale.
Shaleen Surtie-Richards

Universele storie

“Ek het nie my eie kinders nie, maar ek het in ’n huis met baie liefde grootgeword. Ek weet hoe dit voel wanneer jou ouers enigiets vir jou sal doen en weet wat unconditional liefde is. Dit was baie belangrik vir my ouers om vir ons te leer hoe om vir ander om te gee en hulle lief te hê,” sê sy.

Fiela se Kind is ’n storie van liefde en ’n ma se unconditional love vir haar seun. Dit is so mooi en die storie is so universeel en tydloos. Ek dink dit is hoekom dit nog ná al die jare steeds soveel mense lok. Almal wil goed voel en weet dat iemand omgee en ouers wil nou hul kinders blootstel aan die belangrike, maar mooi storie van Fiela en Benjamin,” sê sy.

Shaleen by die skrywer Dalene Matthee waar sy ’n kopie van Fiela se Kind teken.

Shaleen was maar 31 toe sy vir die eerste keer die rol van Fiela vertolk het. Shaleen sê sy het al aan talle sepies, flieks en produksies sedert Fiela se Kind gewerk, maar elke keer wanneer sy weer gevra word om hierdie karakter te vertolk, is dit vir haar soos fietsry.

“Om eerlik te wees, voel dit nog dieselfde en is dit ná al hierdie jare nog ’n groot voorreg vir my om hierdie karakter te kan speel. “Ek vergeet soms die teks, maar die oomblik as ek weer op die verhoog ver-skyn, kom al die woorde terug. Dit vat nie eens lank nie dan is ek weer Fiela. Die hart van die storie is nog dieselfde, ek is net ’n bietjie ouer met ’n paar ekstra kwale,” vertel sy skertsend.

Shaleen sê sy verkies die verhoogproduksie bo die fliek omdat jy onmiddellik kan voel hoe die gehoor aanklank by die storie vind. Maar toe sy die fliek die eerste keer kyk, was dit vir haar ’n oomblik om stil te sit en self die emosie van die storie te ervaar.

“As akteur moet jy tydens so ’n emosionele stuk jou pose kan hou. Jy kan nie self vasgevang word in die emosie nie en daar is ’n fyn lyn tussen die emosies van die karakter en wat jy self voel. Ek moet altyd in beheer wees van my emosies wanneer ek ’n karakter vertolk, maar toe ek self die Fiela-fliek kyk, het ek daardie aand darem lekker getjank. Ek dink ek het die hardste in daardie teater gehuil,” sê sy.

Shaleen gaan voort: “As mens so kyk na die storie kan jy nie help as om jammer te voel vir Fiela nie. ’n Mens kan nie regtig kwaad bly nie, want jy kry die karakters nogal jammer. Vir my was dit veral fantasties om te sien hoe sterk Fiela is en wat ’n wonderlike vrou sy is. Sy is ’n inspirasie vir ons almal. Dit was vir my veral mooi toe Benjamin vir die eerste keer huis toe kom en Fiela vir dié wit man sê, ‘Noem my Ma’. ”

En ná 30 jaar, sê Shaleen, is sy nog nie reg vir aftree nie, al het sy oor die afgelope paar jaar probleme met haar gesondheid gehad, is daar nog baie dinge wat sy graag wil doen. Sy is verlede jaar vir twee maande weens gesondheidsredes afgeboek en kon in daardie tyd glad nie werk nie. Sy sê soos wat sy ouer word, is dit natuurlik om bang te word wanneer daar nie werk is nie, want sy moet steeds ’n bestaan maak en in die vermaakbedryf word jy maklik vervang as jy nie kan werk nie. Maar gelukkig het sy al met goeie mense gewerk wat haar situasie verstaan en in daardie aftyd het sy weereens besef sy wil niks anders doen nie. Toneelspel ís haar lewe.

In haar bloed

“Om in die vermaakbedryf te wees, is nie speletjies nie, maar wanneer dit iets is waarvoor jy lief is, maak dit nie saak nie. Ek het al twee lifetime achievement-toekennings gekry. Ek maak altyd grappe en sê dit is eintlik ’n half a lifetime award omdat daar nog soveel goed is wat ek wil doen en stories wat ek wil vertel,” sê sy.

“Ek mag dalk amper aftree-ouderdom wees, maar ek is nog lank nie klaar nie en hoewel daar nie altyd werk is nie, sal ek aanhou werk terwyl daar nog stories is vir ons om te vertel. Plus, wie gaan my huis betaal as ek ophou werk?” voeg sy laggend by.

Maar tussendeur haar grappe, raak Shaleen weer ernstig wanneer sy verduidelik om ’n akteur te wees, is nie ’n beroep nie – dit is iets wat in jou bloed is.

Sy sê soms is dit moeilik, maar ’n mens moet werk en dit is lang ure en harde werk. Vir haar het dit nog nooit oor die fame en fortune gegaan nie. Shaleen waarsku jong mense wat in die vermaakbedryf wil werk om nooit slegs na die glitz en glamour te kyk nie. “Doen dit omdat jy lief is daarvoor en mense deur stories wil laat lag, laat nostalgies raak, wil opvoed of net wil raak. As jy dit maak in die bedryf, moenie net dink aan lekker lewe nie, los maar daardie designer klere en kry vir jou ’n mediese fonds en begin met ’n aftreefonds.”

Shaleen sê voorts hierdie is dinge wat mense nie vir jou sê wanneer jy jonk is nie, “maar ons almal raak oud en hoewel hierdie ’n spesiale bedryf is, is dit ook baie onvoorspelbaar en om 30 jaar te maak, is nie maklik nie”. Maar vir nou geniet sy nog wat sy doen en beplan sy om stories te vertel tot sy nie meer kan nie.


Die artikel verskyn in die 18 April 2018-uitgawe van Kuier-tydskrif. 


Meer oor:  Fliek  |  Verhoog  |  Kuier  |  Vermaak  |  Shaleen Surtie-Richards
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.