Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Spogskool: Bonnievale vat hande om self te bou
8 Januarie 2020


Wanneer jy “Bonnievale” google, kom foto’s van groen wynlande op en wek die indruk van ’n idilliese Wes-Kaapse dorpie waar jy wêreldklaswyne en -kaas kan geniet.

En hierdie dorpie bied dit wel, maar wanneer jy die dorp van die Robertson-pad se kant af inry en die eerste links vat, ontvou ’n deel van die gemeenskap wat nie lyk soos die toerismefoto’s nie en waar maatskaplike uitdagings dreig om veral die jeug in te sluk en uit te spoeg . . .

Maatskaplike probleme soos onder meer werkloosheid, armoede, afhanklikheid van staatstoelae, alkohol- en dwelmmisbruik, tienerswangerskappe en gebroke families laat ook hierdie gemeenskap steier.

Dié kwessies het begin oorspoel tot in die klaskamers (soos in talle ander skole in ons gemeenskappe). Die gevolg is dat sowat 50% van skoolgaande kinders nooit skool klaarmaak nie, aldus ’n 2016 sosio-ekonomiese verslag van die Langeberg-munisipaliteit waarin Bonnievale val.

Die ander faktor wat ’n rol speel, is dat Bonnievale slegs een hoërskool (Hoër-skool Bonnievale) gehad het, wat net 350 leerders kon akkommodeer. Dít terwyl die Bonnievale-streek sowat elf laerskole (twee op die dorp en die res omliggende plaasskole) het, wat sowat 2 200 leerders lewer wat aan die einde van hul laerskoolloopbaan hoërskool toe moet gaan.

Die gevolg is dat baie ouers nog al die jare moes hoop en bid hul kinders kry plek in ’n hoërskool op buurdorpe soos Robertson, Ashton, Montagu en Swellendam – almal sowat 30 km buite die dorp. Voeg daarby ouers wat finansieel reeds swaar trek en nog vervoer en moontlik verblyf ook moet uitsorteer, en die dilemma word duidelik.

Bonnievale het desperaat nog ’n hoër-skool nodig gehad. En dit was lankal ook nie net meer sukkelende ouers op plase, in die lokasies Happy Valley en Mountain View of ouers in die plakkerskamp se probleem nie. Dit het die hele gemeenskap geraak en toe die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) sê hulle kan nie ’n skool bou nie, het die gemeenskap self moue opgerol. In 2016 het die gemeenskap besluit hulle gaan dit self doen en ’n hoërskool vir 1 200 leerders bou, en dit sou ’n skool van uitmuntendheid wees.

Van die visioenêre leiers van die skool (van links) Philip Jonker, skoolhoof Albert Mocke, Augusta Brandt en Wilhelm de Wet.

Almal sit hand by

Só is die droom en visie vir die Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool (JGT) gevorm, maar Bonnievale is ’n gemeenskap met ’n geskiedenis van verdeeldheid en wantroue. Hoe werk jy saam met iemand met wie jy nog nooit om ’n tafel gesit het nie?

Maar belangriker nóg – hoe bou jy ’n skool as niemand dit al ooit vantevore gedoen het nie? Die wynmaker en plaasboer Philip Jonker (46); Augusta Brandt (46), voormalige sentrumbestuurder van Kapteintjies Dagsorg; aktuaris Wilhelm de Wet (42); en Curren Kühn (30), ’n elektriese ingenieur, was deel van ’n groep van sowat 15 gemeenskapslede oor ras-, geslags-, en kultuurgrense heen wat in 2016 hierdie uitdaging kaalvuis gepak het.

Hulle het ’n instrumentele rol gespeel in die uitbreiding van die visie vir Bonnievale se tweede hoërskool en is vandag ook trustees van die Jakes Gerwel Trust. “Ons was almal uit ons diepte uit. Niemand kon dit doen nie. Ek was al by forums betrokke wat iets probeer het, maar dan het dit nie gewerk nie, omdat elkeen hul eie groepie en belange verteenwoordig. Maar met JGT (se bou) was niemand belangrik nie. Dit het gegaan oor die koninkryk en die kruis en ons kinders,” vertel Philip.

Hy sê voorts die leerders by JGT is gewoonlik kinders wat uit gebrokenheid kom. “Ek het gedink ek ken gebrokenheid omdat ek hier grootgeword het en Augusta het ook so gedink omdat sy uit Happy Valley kom, maar ons was geskok.” Dit was juis met die kinders van die gemeenskap in gedagte en hul geloof as dryfveer dat Philip-hulle dit reggekry om hul visie te laat brand in die harte van die gemeenskap en hande te vat met die WKOD om die skool met harde werk en bloedsweet in 2017 te laat bou.

Die WKOD het 40% van die boukoste gedek en befonds die skool se lopende kostes. Die Jakes Gerwel Trust was verantwoordelik om die grond te kry, 60% van die konstruksiekoste te dek, self die projek te bestuur, moes bewys die gemeenskap ondersteun die inisiatief én moes ’n volhoubaarheidsplan in plek hê. “Almal het gegee wat hulle kon. Vergeet van rand en sent. Jy kan gee sonder om generous te wees. Jy moet gee met die regte gesindheid,” sê Wilhelm.

Die trust het die projek só bestuur dat die hele gemeenskappe betrokke kon raak. Mense kon onder meer Saterdag-oggende help om klippe op te tel op die sportveld. By die plaaslike supermark kon inwoners ’n baksteen teen R2,50 koop en besighede en plaaseienaars wat die visie gedeel het, het dienste of toerusting vir gebruik gratis geskenk. En in middel Junie 2017 het die skool hul seremonie gehad om die eerste sooi te spit en ses maande later is fase 1 voltooi.

MAART 2016: Sowat 2 500 wingerde moes uitgehaal word om plek te maak vir die bou van die nuwe skool.
DESEMBER 2016: Die grond nadat die wingerde uitgehaal is en Môreson Grondverskuiwers dit vir die bouproses voorberei het.
DESEMBER 2017: Die indrukwekkende Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool is voltooi. Die skool het sy deure in Januarie 2018 geopen.

Open deure

Alle uitdagings en voorwaardes van die WKOD ten spyt het JGT, ’n tegniese hoër-skool en volledige vaardigheidskool wat ook landboutegnologie aanbied, sy deure in Januarie 2018 geopen. JGT het hul eerste en splinternuwe skooljaar met 240 leerders (120 gr. 8’s en 120 gr. 9’s) begin! “Dit bly ’n wonderwerk dat ons die skool kon klaarmaak,” sê Wilhelm aangedaan.

“Maar as ons nie ’n koninkryk-perspektief gehad het nie, sou ons nie so suksesvol gewees het nie.” In 2019 het die skool uitgebrei tot gr. 10 en in totaal 360 leerders gehad en van vanjaar (2020) af, het die skool ook gr. 11’s en ’n leerdertal van sowat 520. En in 2021 sal JGT hul eerste matrieks lewer, verduidelik die skoolhoof, Albert Mocke (62).

Albert, wat altesaam 35 jaar ervaring in die onderwys het, het ook self in suiwer geloof sy prinsipaalpos by ’n meisieskool in Bloemfontein bedank om die pos by Jakes Gerwel te aanvaar toe daar nog nie eens ’n skoolgebou in sig was nie! Albert en Augusta wil dit ook duidelik maak dat JGT nie “ ’n skool vir dom kinders” is, soos wat daar onder sommiges dié wanpersepsie bestaan nie.

“Ons probeer wegbeweeg van stigmas. Ons het genoeg labels soos dit is,” sê Augusta. JGT is ’n skool van tweede kanse vir kinders wat uit die skoolstelsel geval het weens omstandighede en gee vir kinders wat meer tegnies aangelê is, die kans om hul passies al op skoolvlak te begin uitleef. Die vaardigheidsklasse bied hul leerders die kans om aan die einde van hul skoolloopbaan die skool met vaardighede te verlaat wat hulle in staat sal stel om entrepreneurs en dus werkskeppers te word. Want as jy vaardighede het, kan jy skep en hoef jy nie van ’n staatstoelaag afhanklik te wees om jouself te onderhou nie.

Tog het hierdie hele skoolbouproses ook soveel dieper gestrek en gehelp om brûe te bou tussen mense wat dalk voorheen nooit noodwendig met mekaar in aanraking sou kom nie. “Dit het daaroor gegaan om oor grense heen met mense te praat.

Dis hoe ons gemeenskapsbetrokkenheid gekry het. Dit het regtig ’n groot omwenteling kom maak, want deur dié proses het ons besef ons is eintlik meer dieselfde as wat ons verskillend is,” sê Augusta met ’n glimlag. Die storie van Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool is ’n ongelooflike storie van hoop en bewys weereens watter wonderwerke ’n gemeenskap kan vermag as hulle saamstaan . . .

* Foto’s: Dale Fourie en Verskaf

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.