Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Sprokiesverhaal: Ou vertel hoe hy propose
5 Februarie 2020

Dit het ’n hopelose romantikus agt maande van geheimhouding en gekonkel gekos om die perfekte proposal voor te berei. En toe hy uiteindelik die groot vraag vra, het hy nie net die liefde van sy lewe se hart gewen nie, maar ook meer as 5,5 miljoen harte wêreldwyd vermurwe.

Toe Lee Loechler (29), ’n filmmaker van Los-Angeles in Amerika, op 30 Desember sy hoërskoolliefde, dr. Sthuthi Davids, die jawoord in ’n bioskoop propvol familie, vriende en “gehuurde” vreemdelinge vra, het hy nie besef sy proposal gaan die internet laat gons nie.

Lee wou eintlik net die oomblik baie spesiaal en uniek maak vir Sthuthi en het dit op video opgeneem sodat hulle vir ewig ’n aandenking daarvan sou hê. Die plan was nooit dat die video viral sou gaan nie, maar sedert hy dit vroeg in Januarie op YouTube gelaai het, is hulle al deur mense van elke vasteland behalwe Antarktika gekontak.

Lee en sy verloofde, Sthuthi.

Magiese oomblik

In die video van byna vier minute wys dit hoe die paartjie saam met al die ander mense in die bioskoop Sthuthi se gunstelingfliek, Sleeping Beauty, kyk. Teen die einde wanneer die prins die prinses moet soen om die betowering te verbreek sodat sy kan wakker skrik, is die oorspronklike karakters se gesigte met geanimeerde weergawes van Lee en Sthuthi vervang.

Die prins kniel en haal ’n verloofring uit, wat die karakter op die skerm dan kamma vir Lee in die gehoor gooi. Op die video kan jy duidelik sien hoe die toneel vir Sthuthi verwar, maar sy besef nie wat aangaan tot Lee voor haar kniel nie. Hy sê hy het haar met sy hele hart insluitend al die ventrikels, atriums en kleppe lief (Sthuthi is ’n kardioloog) en vra haar om met hom te trou. Sy kon natuurlik nie anders as om “ja” te sê nie!

Sthuthi het niks gewis nie en het die gehoor om verskoning gevra dat hulle die fliek se regte einde gemis het en dis eers toe dat sy besef dat die meeste van die mense hul familie en vriende is.

Toe Kuier onlangs met Lee via WhatsApp video call uit Los Angeles gesels, was hy baie opgewonde en kon hy steeds nie glo hoe wyd die video van sy proposal oor die aardbol versprei het nie en hy was veral opgewonde daaroor dat ’n tydskrif uit Afrika hulle opgespoor het. Volgens Lee het hy al ’n paar jaar gelede met sy plan vir die proposal vorendag gekom toe hy ’n vriend moes help dink aan maniere hoe dié vir sý meisie die jawoord kon vra. Lee het die fliek-idee voorgestel, maar sy vriend het nie gedink dit gaan vir hom werk nie. Lee het dit gebêre en ’n jaar gelede toe hy en Sthuthi oor trou begin praat, het dit weer by hom opgekom. Maar sy oorspronklike idee het regte mense gebruik, nie animasie nie.

“Ek wou nie net enige fliek kies nie, ek wou iets kies wat vir haar spesiaal is en aangesien ek een Kersfees dié fliek vir haar geskenk gegee het, het ek geweet dit móét Sleeping Beauty wees. Toe moes ek die perfekte toneel in die fliek vind, waar die karakters nie te veel beweeg nie en ons vinnig hul gesigte kon laat verander,” vertel hy. “Ek moes ’n grafiese kunstenaar huur wat die karakters vir my kon teken, maar ek kon gelukkig self die prentjies ná die tyd bo-oor die oorspronklike tonele manipuleer in my redigeringsprogram.”

Dié hele proses het ses maande gevat. Die grafiese kunstenaar moes baie foto’s van die paartjie bestudeer om die mees akkurate sketse en gesigsuitdrukkings te teken. Volgende moes Lee die bioskoop bespreek en mense kry om die sitplekke vol te maak.

“Sthuthi sou vinnig agterkom iets vreemds is aan die gang as net ons vriende en familie in die teater was. So dit was baie belangrik dat ek vreemdelinge gekry het om tussen ons familie en vriende te sit, sodat hulle weggesteek was,” vertel hy terwyl hy lag.

Ek wou nie net enige fliek kies nie, ek wou iets kies wat vir haar spesiaal is, en aangesien ek een Kersfees dié fliek vir haar gegee het, het ek geweet dit móét Sleeping Beauty wees.

Die bioskoop was opgewonde om deel te wees van die oomblik en het die teater verniet vir hom beskikbaar gestel. Hy moes net mense kry en het op ’n webblad vir fliekliefhebbers mense gesmeek om vrywillig die middag deel te wees van sy proposal. Lee het aangebied om vir hulle pizza, koeldrank en popcorn te koop.

Hy het meer as 40 vrywilligers gekry en die res van die gehoor was familie en vriende wat hy aangesê het om daardie dag op te daag vir die verrassing. Hy het Sthuthi se ma gevra om ’n vals nuusbrief van die bioskoop vir haar te stuur waarin ’n spesiale vertoning van Sleeping Beauty geadverteer word. ’n

Niksvermoedende Sthuthi het ewe ’n week later met Lee planne gemaak om die “spesiale vertoning” te gaan kyk. “Min het sy geweet sy nooi my eintlik na haar groot verrassing toe. Ek moet sê ek was nog nooit so bly dat ons nie in dieselfde stad bly nie (Lee werk in LA by ’n filmstudio, terwyl Sthuthi haar chirurgiese diensjaar by ’n hospital in Boston doen.), anders sou ek nooit die hele verrassing kon uitvoer nie. “Ek kan nou nog nie glo ons almal kon die geheim hou en betyds opdaag om die dag ’n sukses te maak nie.”

En op die ou einde was alles die moeite werd, want nie net het Lee die jawoord gekry nie, maar Sthuthi sê hy het al haar verwagtinge oortref en sy dink nie enige ander man sal ooit beter kan doen nie! Lee sê egter dit vat nie baie om jou proposal spesiaal te maak nie. “As jy jou aanstaande goed ken, sal jy weet hoe om dit vir haar spesiaal en uniek dit maak. Die moeilikste deel is eintlik die logistiek!”

Só vra SA die jawoord

leserstroue
Die KFC-paartjie, Hector Mkansi (37) en sy vrou, Nonhlanhla.

Selfs hier in Suid-Afrika het ons al ’n paar viral proposals gehad. Die een wat onlangs baie aandag getrek het, was die KFC-paartjie, Hector Mkansi (37) en sy vrou, Nonhlanhla, wat in Desember getrou het ná die video van sy proposal in November tydens ’n Streetwise 2-ete by KFC deur miljoene Suid-Afrikaners gedeel is. Hulle het soveel terugvoering gekry dat die skenkings van maatskappye en individue vir hul hele troue, wittebrood en ’n nuwe huis gesorg het.

leserstroue
Jubilation Magagula en sy meisie, Nomqebo Mathebula.

Die 24-jarige Jubilation Magagula van Gauteng het in Februarie 2019 ’n Shoprite tot stilstand gebring. Hy het sy meisie, Nomqebo Mathebula (25), in die stampvol winkel in Soweto gevra om te trou en sy het sonder twyfel ja gesê. Hul video is deur duisende mense op sosiale media gedeel. Hy aan die Daily Sun gesê hy het besluit om dit só te doen, sodat hy vir ander mans kan wys dat jy enige tyd of plek die vraag kan vra. “Jou proposal hoef nie ’n plaas se geld te kos nie.”

Shanique Feder en haar man, Cheslin.

Toe Shanique Feder (27), bemarkingskoördineerder by Son, ’n fliekvoorskou vir lesers gereël het, was ’n verlowing die laaste ding op haar mind. Maar haar man, Cheslyn (26), het ander planne gehad. Hy het gereël dat sy vorentoe geroep word en hy gevra word om blomme te oorhandig. Hy het haar toe verras met die proposal. “Ek was heeltemal geskok en kon nie glo dat hy dit voor almal gedoen het nie. Hy is baie skaam, so dit moes vir hom moeilik gewees het en dis hoekom dit vir my so spesiaal was.”

* Foto’s: Jaclyn en Andrew Taylor, Gallo images/Getty Images, https://bit.ly/38pZpPO, https://www.youtube.com/watch?v=ZiOeu2OcXfw en Verskaf

Meer oor:  Verhoudings  |  Kuier  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.