Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Staan so sterk die skooljaar
11 Julie 2018
Sydney Cloete

Met alles wat die afgelope jaar in skole gebeur het, wonder ouers of die skool nog veilig is vir hul kinders. Mans wonder of die skole nog veilig is vir hul vroue en vroue wonder of die skole nog veilig is vir hul mans, want deesdae is dit nie net kinders wat deurloop onder die boelies nie.

Die arrogansie van kinders wat te groot vir hul skoolskoene is, laat ’n mens verstom as jy na foto’s en video’s op sosiale media kyk. Baie ouers sê dan: “As dit mý kind was, het sy agterent gebrand.”

Spreek jy jou kinders aan as hulle terugpraat met jou of ander grootmense? Dit is so dat sommige kinders deesdae, veral op hoërskool, die skole regeer, ander kinders en onderwysers intimideer. Hulle kom wel dapper voor, maar sulke kinders het ’n baie lae selfbeeld.

Tree altyd in die beste belang van jou kind op.

Daar is hulp vir jou kind:

  • Leer jou kinders dat jy oop is vir ge­sprekke sodat hulle vry voel om oor eni­g­iets met jou te praat. Wees be­skik­baar en teenwoordig. Eet saam aan tafel sonder selfone en toon opregte belang­stelling. Maak oogkontak wanneer hulle met jou praat. Hierdie instelling moet al op ’n vroeë ouderdom begin.
  • Leer kinders dat selfrespek belangrik is en dat hulle nie hoef vriende te wees en tyd te spandeer met vriende wat hulle afdruk en minder laat voel nie.
  • Leer hulle om nee te sê vir enigiets wat hulle onge­maklik laat voel. Laat hulle self hul gedrag toets met die volgende vrae:

    1. Is dit reg?

    2. Gaan ek iemand seermaak?

    3. Sal ek my ouers hiervan vertel?

  • Kinders het soms tyd nodig voordat hulle gereed is om te praat. Gun hulle die spasie, maar met die versekering dat jy daar is om te luister wanneer hulle wil praat. Ken jou kind en glo hulle wanneer hulle kla dat hulle te na gekom word by die skool. Win goeie inligting in en wees seker van jou feite voordat jy aan­tygings teen onderwysers of ander kin­ders maak. Leer jou kind die waardevolle les van vergifnis.

Daar is ook talle ander uitdagings vir ouers. Ouers wat kan, doen al van vroeg af aansoek vir die beste skole wat hul sak pas. Maar daar is ook ander ouers wat nie eens ’n begroting het nie en hul kinders teen hul sin by bendegeteisterde skole moet inskryf omdat dit na aan die huis is en hulle nie hoef skoolfooie te betaal nie of dit is baie min.

Daar is hulp vir jou:

Jy is nie alleen nie, daar is ander ouers wat dieselfde uitdagings het. Vorm ’n groep en ondersteun mekaar. Ouers het die reg om iets te doen as hulle voel hul kind word onregverdig behandel, maar doen eers navraag by die skool en ondersoek die saak. Tree altyd in die beste belang van jou kind op, maar met regverdigheid teenoor almal betrokke.

Vir kinders wat die komende jaar vir die eerste keer laer- of hoërskool of selfs na ’n nuwe skool toe gaan, kan dit ’n traumatiese ervaring wees na gelang van hul geaardheid en vorige ervarings. Kinders wat van nature introvert en teruggetrokke is, identifiseer dalk met soortgelyke maatjies wat al klaar teikens van skoolboelies is.

Kinders kan maklik in hul soeke na nuwe vriende en aanvaarding met vriende deurmekaar word wat hulle met verkeerde dade ophou. Leer ken jou kinders se vriende en weet met watter bedrywighede hulle hulself by en ná skool besig hou.

Moedig jou kind aan om ’n vertrouensverhouding met een van die onderwysers by die skool te hê.

Leer hulle die belangrikheid van gesonde selfliefde en wees ’n goeie voorbeeld daarvan. Moedig hul selfvertroue aan. Kinders met gesonde selfliefde en selfvertroue sal opstaan vir hulself en nie toelaat dat ander oor hulle loop en/of boelie nie. Hulle sal ook nie toekyk hoe ander kinders geboelie word of dit aanmoedig nie.

As jy nie self jou kinders by die skool kan aflaai nie, maak seker dat hulle in ’n groep skool toe loop en terugkom.

Skole en ervarings is nie meer wat dit was toe ons nog op skool was nie. Kinders ook nie en kwalifikasies ook nie. ’n Kind sal nie sommer ’n werk kry met onvoltooide sekondêre kwalifikasies nie. Motiveer jou kinders om hul skoolloopbaan te voltooi.

Ons kinders is ons toekoms. Motiveer, inspireer en lei hulle om die toekoms te word wat ons vir ons land sien.

Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.