Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Sophia Williams-de Bruyn: Statig en sterk
3 Oktober 2018


Sy het skool op ’n jong ouderdom verlaat om haar groter roeping te volg. Haar lewensdoel was skielik nie meer net om matriek te maak nie, maar om vir gelyke regte vir alle Suid-Afrikaners, en veral vroue, te veg.

Vandag is Sophia Williams-de Bruyn (80), of aunt Sophie soos sy beter bekend is, ’n lewende legende van die liberation struggle en sy het ’n enorme bydrae gelewer om apartheid in Suid-Afrika te laat verkrummel. Dit het egter nooit vir dié nederige vrou daaroor gegaan om haar naam in geskiedenisboeke te verewig, of onthou te word vir enigiets spesiaal nie.

In die stofstrate van Villageboard, ’n destyds gemengde area van Port Elizabeth in die Oos-Kaap, het sy ervaar wat dit is om niks te hê nie en gesien wat dit is om die underdog te wees. Sy was gebroke oor mense wat minder as sy en haar familie gehad het. “Mense wat nie by mekaar se woonareas kon ingaan nie. Nie kon lees of skryf nie omdat hulle nie die geleentheid gehad het nie. En vroue wat maar eintlik nie ’n sê gehad nie.”

Al dié goed het bygedra tot aunt Sophie se besluit om haar empatie vir haar medemens verder te vat en iets te probeer dóén en nie net bloot ’n toeskouer van al die ongeregtighede te wees nie. En toe sluit sy by die politiek aan.

VIER VEGTERS

HOOFFOTO: Sophia Williams-de Bruyn is die enigste oorlewende van die vier vroue wat in 1956 die geskiedkundige vrouemars na die Uniegeboue teen paswette gelei het.

Dis danksy aunt Sophie en haar mede- vroulike liberation struggle-vegters, Lillian Ngoyi, Helen Joseph en Rahima Moosa, se passie vir geregtigheid dat Suid-Afrikaanse vroue vandag Vrouedag op 9 Augustus vier. Húlle het die geveg vir vroueregte opgeneem in ’n tyd toe jy gearresteer kon word as jy dit gewaag het om teen die apartheidsregering op te staan.

Maar die vuur in aunt Sophie-hulle was onblusbaar. Sy onthou 9 Augustus 1956 het sy nie een keer omgekyk na die duisende vroue agter haar nie, maar vorentoe, na waar die Uniegebou (in Pretoria) op hulle gewag het. Sy, Lillian, Helen en ’n swanger Rahima, wat saam met haar die protesoptog gelei het, het in ’n mate veilig gevoel met die 20 000 vroue agter hulle. Vasbeslote om die pakke en pakke petisies met ongeveer 100 000 handtekeninge teen paswette daarop aan die destydse eersteminister J.G. Strijdom te oorhandig, het die massa vroue voortgestap.

Tóé was aunt Sophie maar 18 jaar oud – die jongste onder die vier leierfigure. Sy het nie geïntimideerd gevoel nie, sê sy. Dié vroue het haar opgebou, haar geleer hoe om dinge op die regte manier te doen, wat politieke etiket is, en bowenal het sy aan veral Lillian en Helen se lippe gehang. “Lillian was ’n ongelooflike spreker. Sy was vurig, meesleurend en absoluut boeiend. Helen was net so ’n goeie spreker, kalm en perfeksionisties,” sê sy.

Vir etlike maande het die vier vroue saam met hul kollegas in die destydse Congress Movement in die (tóé slegs) vier provinsies, aan die optog beplan. “Jy moet onthou, die Congress Movement het bestaan uit die Coloured Congress, African National Congress, Congress of the Democrats (patriots of the white community) en die Indian Congress. Nou kan jy sien hoekom al vier rasse aan die optog deelgeneem het. Op daardie stadium was passe slegs aan swart vroue uitgereik, maar ons elkeen het gevoel wat vandag met jou gebeur, kan môre met my of ’n ander gebeur.”

Elke detail van 9 Augustus 1956 was haarfyn uitgelê en vroue van alle rasse is gemobiliseer om deel te neem. Met beperkte hulpbronne was dit geensins ’n maklike taak nie. “Ons het nie eens iets soos ’n telefoon gehad nie en Helen was die enigste een met ’n kar (’n Mini, wat sy toe maar Congress Connie gedoop het!),” sê aunt Sophie en lag.

Was sy bang? Ja, erken sy sonder om te skroom. “Ek sal nooit sê ek was nie bang nie. Daar was ’n moontlikheid dat ons vier gearresteer kon word. Maar ek het ’n vurigheid in my gehad. ’n Bravade en avontuurlustigheid.”

In aanloop tot die optog wou wyle Walter Sisulu, toe sekretarisgeneraal vir die ANC, by Lillian en Helen weet of hulle besef waarmee hulle besig is, vertel sy.

“Hy wou onder meer weet wat ons gaan doen as ons dalk in hegtenis geneem word. Ons het ’n plan gehad,” sê sy.

Indien die vier leierfigure gearresteer sou word, sou hulle kniel en begin bid. Dan sou al 20 000 vroue ook kniel. Sommiges sommer op mekaar om ’n muur van vroue te vorm. “Dán sou die polisie maar self moes sien hoe hulle by ons uitkom!” lag sy. Maar dit het nooit gebeur nie, en aunt Sophie, Helen, Lillian en Rahima het trots en statig die trappe van die uniegebou uitgestap.

“Wat ’n gesig moes dit gewees het! Al dié vroue wat waardig en trots aangestap kom. Stil, doelgerig en versigtig. Nie lawaaierig soos optogte van vandag nie. Dit was ’n ernstige dag vir ons.”

VROUE STAAN SAAM 

Pres. Cyril Ramaphosa en Sophia.

Aunt Sophie glimlag as sy vertel: “Kan jy dink. Dit moes ’n wonderlike ding gewees het vir die Afrikanerklerke en werkers in die Uniegebou om hierdie massas vroue te sien aankom. Die Indiese vroue met hul wit sari’s, vroue uit die reservate met hul kopbekleding en kleurvolle komberse, vroue met babas op hul rûe vasgemaak. Werkers het by die vensters uitgeklim en op die vensterbanke gesit en kyk.”

Die minister was nie op kantoor nie, al is hy vroegtydig van die optog ingelig, en die vier vroue moes die petisies aan sy klerk oorhandig. Dit is eers toe sy in die amfiteater voor die magdom vroue staan dat aunt Sophie vir die eerste keer gesien het hoe lyk duisende vroue wat saamstaan. “Ek het ’n knop in my keel gehad en trane in my oë. Dit was so emosioneel om te dink ons het soveel maande beplan en daar staan ons. Toe die skare egter hoor die minister het nie opgedaag nie, het hulle spontaan begin sing. ‘Watintha Abafazi Wathinta Imbokodo’ wat beteken ‘you strike a woman, you strike a rock’. “Ons het ons frustrasie in sang gekanaliseer. Nie bosse uitgeskop en asblikke omgegooi nie,” sê sy, steeds trots op die manier waarop die vroue daardie die situasie hanteer het. “En dit was nie omdat ons bang was om gearresteer te word nie. Dit was omdat ons, en al die vroue daar, respek vir onsself gehad het. En daarom ook respek vir ander.”

Vroue se uitdagings het egter nie daardie dag tot ’n einde gekom nie. Die grootste uitdagings vir vroue in Suid-Afrika vandag is volgens haar werkloosheid en ongelykheid. “Vandag steeds is daar duisende vroue wat nie ’n stem het nie, en wat die minderheid in haar eie huis is,” sê sy.

Teen die agtergrond van die Amerikaanse tennisster Serena Williams, wat groot opskudding veroorsaak het tydens die Amerikaanse Ope en haar optrede verdedig het as ’n stryd vir gelyke regte, sê aunt Sophie: “Ek gaan nie sê of Serena ‘reg’ of ‘verkeerd’ opgetree het nie, maar daar word wêreldwyd teen vroue gediskrimineer. Hier in Suid-Afrika gebeur dit op die fabrieksvloer, die raadsaal, in die kunste en in die nuuskantoor. In 1994 het die regering anti-diskriminasiewette ingestel om gelyke geleenthede vir mans en vroue daar te stel. Ten spyte van die regering se bewerings dat groot vordering op die gebied gemaak word, gebeur dit in werklikheid baie stadig.”

Al die jare se politieke betrokkenheid en ’n rits toekennings agter haar naam, het geensins van haar ’n ander mens gemaak nie. Sy is nederig-dankbaar vir soveel geleentheid wat sy gekry het om ’n verandering in ander mense se lewens te kon maak. “Wees daar vir mense vir die regte redes,” sluit aunt Sophie af.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.