Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Op die stasiemoordenaar se spoor
stasiemoordenaar, op seer se spoor

So hartseer soos dit is, is daar in Suid-Afrika altyd ’n “oorvloed” van misdaadstories en dikwels van die mees grusame . . .

Ondanks al dié skokkende misdaadstories, waarvan sommige wat reeds in Op Seer se Spoor gedek is, is daar een storie wat selfs twee dekades later mense stééds aan die praat het en waaroor mense stééds verdeeld is. Dit is dié van die sogenaamde “Stasiemoordenaar”, wat tussen 1986 en 1994 ’n skrikbewind op die Kaapse Vlakte gevoer het.

In hierdie tyd is altesaam 22 seuns van 15 jaar oud of jonger gesodomiseer en verwurg. Hul ontbinde lyke is in vlak grafte gevind met hul gesigte na onder en hul hande agter hul rûe vasgemaak. Die moordenaar is die “Stasiemoordenaar” gedoop omdat die seuns hoofsaaklik van treinstasies af weggelok is.

Mense op die Kaapse Vlakte was destyds buite hulself van vrees vir ’n gesiglose reeksmoordenaar wat duidelik jong seuns geteiken het en die polisie ontduik het.

Leon Habelgaarn (57) van Kuilsrivier in die Kaap, vertel hy het eers van die Stasiemoordenaar gehoor toe sy kollegas en vriende daarvan begin praat het.

“Ons was almal geskok deur die gebeure en dit het ’n mens nogal bang gemaak. Die moorde was wreed en daardie tyd het jy nie baie van serial killers en kidnappings gehoor soos deesdae nie. Jy het meestal van hierdie dinge in boeke gelees of in ’n fliek gesien, so om te weet dat iemand hierdie dinge in ons midde gedoen het, was nerve-wracking. Elkeen het hul eie storie gehad van wie dit is en waar hy wegkruip. Ek was baie bly toe iemand vir die moorde gevang word,” vertel Leon.

Op haar beurt vertel Patricia McDonald (42) ook van Kuilsrivier, sy het daai tyd in Eersterivier gewoon en was op skool toe die Stasiemoordenaar almal in vrees laat lewe het. “Daai tyd was almal in rep en roer. Ons het dan saam na die kinders gaan soek. Dis al wat ek kan onthou. Maar ek kan nie sê of die een wat agter tralies sit, almal doodgemaak het nie en of dit aandagsoekende gedrag was nie.”

Pauline Aaron (46) van Boston in Bellville in die Kaap, sê sy sal nooit die absolute vrees vergeet nie. “Ek onthou nie veel daarvan nie, behalwe die vrees waarin ons almal as kinders en ons hele gemeenskap in gelewe het. Ouers het kinders gewaarsku en ons het almal maar in groepies beweeg.”

Slagoffers

Luidens mediaberigte is die lyk van die Stasiemoordenaar se eerste slagoffer, Jonathan Claassen (14), in Oktober 1986 naby Modderdam-stasie in Bellville-Suid gevind. Nog nege lyke is tussen 1986 en 1992 gevind.

In 1987 is altesaam ses lyke gevind, baie van hulle naby Modderdam-stasie. In 1988 is net een lyk gevind waarna die moorde toe vir vier jaar opgehou het.

Maar toe begin die dodetal weer optel in 1992 toe Jacobus Louw (10) van Beacon Valley, Mitchells Plain, se lyk naby Mnandi Beach gevind is.

Die grootste skok het egter op 27 Januarie 1994 gekom toe ses lyke op een dag in Mitchells Plain gevind is. Mitchells Plain was glo die Stasiemoordenaar se “killing fields”. Elf lyke is altesaam in daardie jaar gevind.

Die Stasiemoordenaar het in 1994 uiteindelik ’n gesig gekry toe Norman Afzal Simons (toe 27), ’n onderwyser aan die Alpine Primêre Skool in Eastridge, Mitchells Plain, in 1994 gearresteer is vir die moord en ontvoering op Elroy van Rooy (10) van die Strand. In daardie stadium was Elroy die vermeende Stasiemoordenaar se 22ste slagoffer.

Simons het nooit in sy eie hofsaak getuig nie en is in 1995 skuldig bevind aan die moord en ontvoering op Elroy en tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Sy vonnis is later op appèl in lewenslank verander.

Wat die Stasiemoordenaarsaak so hartseer maak, is dat die families van die 21 ander slagoffers geen justice gekry het nie. Luidens mediaberigte kon die polisie nie genoegsame bewyse, veral forensiese bewyse, kry om Simons met die ander moorde te verbind nie.

In die Elroy van Rooy-saak is Simons skuldig bevind op grond van ’n bekentenis, wat hy later formeel voor ’n landdros teruggetrek het. Geen forensiese bewys kon hom verbind met Elroy se moord nie, het iol.co.za berig.

Twee kampe

stasiemoordenaar, op seer se spoor
Norman Simons en sy ma, Evelyn, wat al oorlede is.
Kuier Sharief Jaffer

En daar is vandag steeds twee kampe wat die Stasiemoordenaar betref.

Daar is diegene wat glo Simons is on-skuldig weens die gebrek aan bewyse en aan die anderkant is daar diegene wat glo hy het al 22 moorde gepleeg, omdat die moorde en verkragting van jong seuns ná sy inhegtenisneming opgehou het.

Die media het ook berig dit was juis die onopgeloste sake wat daartoe gelei het dat ’n spesiale ondersoekspan in 2010 aangestel is om die Stasiemoordenaarsake te herondersoek. Prof. Gerard Labuschagne het hierdie ondersoekspan gelei.

Dit is teen hierdie agtergrond wat ons die Stasiemoordenaarsaak in die laaste twee episodes van Op Seer se Spoor ondersoek, wat op onderskeidelik 2 en 9 April uitgesaai word.

Vir hierdie episodes praat ek (Ernusta) met Elroy van Rooy se familie om te hoor of hulle enigsins closure kon vind.

Rhyno van Rooy (nou 35), Elroy se neef, wat by hom was die dag van sy verdwyning, praat ook vir die eerste keer met die media wanneer hy oopmaak oor wat hy van daardie dag onthou.

En om ’n dieper insig te kry oor wie Simons was, was ’n oudkollega en vriendin van hom bereid om te vertel dat sy “vir Norman ken, maar nie die Stasiemoordenaar nie”.

En omdat die saak so wye mediadekking gekry het, deel Lindsay King, ’n oudjoer-nalis, wat die Stasiemoordenaarsake destyds gedek het, sy gevoelens oor die atmosfeer wat daardie tyd op die Kaapse Vlakte geheers het. Lindsay het baie kere oproepe van desperate ouers gekry wat gesê het, “Meneer, my kind is missing. Help my asseblief om hom te kry…”

Hy vertel ook reguit of hy dink Simons sit agter al die moorde.

Sharief Jaffer, legendariese mediafotograaf, wat tot en met sy aftrede in 2014 die Kaapse fotoredakteur van Media24 se Afrikaanse dag- en Sondagkoerante was, deel ook sy herinneringe. Hy was op die toneel die dag in Januarie 1994 toe die polisie ses lyke op een dag ontdek het, en wys foto’s van dié gru-toneel.

Die onderhoud met prof. Gerard Labu-schagne is ook insiggewend, want hy deel van die bevindinge wat sy ondersoekspan gemaak het nadat hulle in 2010 na die onopgeloste Stasiemoordenaarsake gekyk het.

Hy deel ook sy gedagtes oor of Simons tog vir al 22 moorde verantwoordelik is.

Daar is geen twyfel dat die Stasiemoordenaarsaak een is wat veral die bruin gemeenskap nog lank sal bybly, want tot vandag is dit steeds ’n teer punt omdat daar steeds soveel onbeantwoorde vrae is.

Die mense van Mitchells Plain waar Simons gewoon het en wat ook sy sogenaamde “killing fields” was, sal dit ook nooit vergeet nie.

Dit is ook ’n herinnering dat ons baie mooi na ons eie kinders, maar ook na ons bure se kinders sal moet kyk. Want jy weet nooit waar die gevaar skuil nie… Moet dus nie die episodes misloop nie! 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.