Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Stir-fry: Maak dié lekker vullende geregte
4 Maart 2020

Voor jy begin:

1. Moenie stres as jy nie ’n wok het nie – jy kan enige pan of groot, platterige pot gebruik. ’n Gietysterpan werk die beste, want dit behou die hitte en versprei dit egalig.

2. As jy nie gereeld stir-fry maak nie, moenie te veel geld op ’n bottel olie of sous uitgee nie. Baie supermarkte verkoop klein sakkies met wok-geurmiddels. Dis ook nie nodig om heeltemal outentiek Chinees te kook nie – gebruik jou verbeelding en gebruik die geurmiddels wat jy in jou koskas het.

3. Sorg dat jy al jou bestanddele klaar voorberei – groente en vleis, vis of hoender gesny en geurmiddels afgemeet.

4. Sny jou groente en vleis, hoender of vis in repies of blokkies wat vinnig en eweredig gaar word.

5. Beplan die gaarmaakproses rondom die kooktyd van elke bestanddeel. Met ander woorde, kook die moeilike kalante eerste en die blitsbokkies heel laaste.

6. As jy eers jou olie wil geur met die knoffel, gemmer of wat ook al jy gebruik, moet jy oor ’n heel laer hitte begin. Braai dit vir ’n rukkie in die olie en skep dit eers uit en hou eenkant om later weer by te voeg wanneer jy die hitte verhoog om die res gaar te maak. Ek gebruik my knoffel, gemmer en rissie saam met die ander bestanddele, want dit brand te maklik.

7. Jou pan moet baie warm wees en jy moet heeltyd roer en braai (dis waar die naam vandaan kom) om te sorg dat alles eweredig gaar word en nie aanbrand nie.

8. Moenie toelaat dat die bestanddele staan en stoom nie – dan is jou pan nie warm genoeg nie of jy het die arme ding oorlaai met te veel bestanddele op een slag.

9. Maak jou vleis eerste gaar, haal dit uit die pan en hou eenkant voordat jy met die groente begin. Sit dit later weer terug in die pan.

Hoender-laksa (foto bo)

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 3 eetlepels peanut butter- of gewone olie
  • 2 groot uie, fyngekap
  • 4 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
  • 3 rooi brandrissies, fyngekap
  • ½ koppie geroosterde en gesoute peanuts, fyngekap
  • 1 eetlepel fyn koljander
  • 1 eetlepel fyn komyn
  • 2 teelepels borrie
  • 5 koppies klappermelk
  • 1 teelepel oestersous
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 2 koppie gaar hoenderstukkies
  • 1 koppie boontjiespruite (bean sprouts)
  • 500 g vars eiernoedels
  • 4 stingeluie (spring onions), fyngekap
  • ’n Handvol vars koljanderblare

METODE

Laksa is ’n gewilde straatkos in Maleisië en Singapoer. Dis ’n speseryerige klappermelksop wat op vars noedels bedien word.

Verhit die olie in die wok en braai die uie tot sag.

Voeg die knoffel, rissie, peanuts, koljander, komyn en borrie by en stir fry vir 2 – 3 minute. Roer die klappermelk en oestersous by, bedek die wok en laat vir 15 minute prut. Geur met sout en peper.

Roer die hoender en die helfte van die boontjiespruite by en laat vir nog 5 minute prut. Gooi kokende water oor die vars noedels en dreineer ná ’n minuut of twee. Verdeel die noedels tussen vier bakkies, sprinkel die stingeluie, vars koljander en die res van die boontjiespruite bo-oor.

Skep die hoender-en-klappermelkmengsel bo-oor en versier met ekstra gekapte stingeluie, rissie en peanuts.


Steak-en-groente-stir-fry

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 1½ teelepels mielieblom (Maizena)
  • ½ koppie beesvleisaftreksel
  • 2 eetlepels oestersous
  • 1 teelepel knoffel, fyngekap
  • 1 teelepel strooisuiker (castor sugar)
  • 2 eetlepels peanut butter- of gewone olie
  • 250 g rump steak, in dun skywe gesny
  • 100 g klein mielies (baby corn)
  • 140 g sneeu-ertjies (mangetout)
  • 250 g sampioene
  • 1 rooi soetrissie, in repe gesny
  • ½ koppie vars boontjiespruite (bean sprouts)
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE

Los die mielieblom op in ’n bietjie van die beesvleisaftreksel. Voeg die res van die aftreksel, oestersous, knoffel en suiker by.

Hou dié mengsel eenkant. Verhit die olie in die wok en gooi dit effens van kant tot kant sodat die hele bodem met die warm olie bedek is.

Braai die steak vinnig oor hoë hitte terwyl jy dit die heeltyd stir-fry totdat dit alkant van kleur verander en amper gaar is. Dit vat ongeveer 2 minute. Skep uit en hou dit eenkant.

Stir-fry die groente in dieselfde pan vir ’n paar minute. Giet die sousmengsel wat jy aangemaak het in die pan en roer totdat die sous begin kook en dik word. Voeg die steak by die mengsel in die pan en maak deurwarm. Roer die boontjiespruite by, geur met sout en peper en bedien onmiddellik op witrys.

WENK:

Jy kan sojasous gemeng met ½ teelepel suiker of ’n paar druppels Worcestershiresous in die plek van oestersous gebruik.

As jy nie die klein mielies en sneeu-ertjies wil gebruik nie, kan jy 250 g gekerfde groenbone gebruik.


/

Stir-fry-lewer met spinasie

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 375 g lamslewer, in baie dun repies gesny
  • 2 eetlepels mielieblom (Maizena)
  • 4 eetlepels olie
  • 300 g spinasie, in klein stukkies opgesny
  • 1 teelepel sout
  • 1 rooi brandrissie, naatjies en pitjies verwyder en fyngekap
  • 1 x 2,5 cm-stuk vars gemmer, fyngekap
  • 1 eetlepel ligte sojasous
  • 1 eetlepel ryswyn of droë sjerrie
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 stingelui (spring onion) vir versiering, gekap

METODE

Gooi genoeg kookwater op die lewerrepies om dit te bedek en dreineer ná ’n paar sekondes. Bedek die lewer heeltemal met die mielieblom. Verhit 2 eetlepels van die olie in die wok en sit die spinasie en sout daarin.

Stir-fry vinnig oor hoë hitte vir ongeveer 2 minute. Skep die spinasie uit die wok en hou eenkant totdat jy dit gaan gebruik. Gebruik handdoekpapier en vee die wok vinnig en versigtig skoon.

Verhit die res van die olie tot baie warm en braai die brandrissie, gemmer, lewer, sojasous en ryswyn (of sjerrie).

Stir-fry vir ongeveer 2 minute of totdat die lewerrepies amper gaar is. Sit die spinasie terug in die pan. Meng goed en stir-fry tot deurwarm. Geur met sout en peper. Versier met die stingelui en bedien onmiddellik.

WENK:

Stir-fry is sekerlik een van die beste maniere om lewer gaar te maak. Ek het nog nie lekkerder geëet nie.


/

Vark-chow mein

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 500 g droë eiernoedels
  • 4 eetlepels olie
  • 1 ui, in dun ringe gesny
  • 1 koppie gaar varkvleis, in repies gesny
  • 125 g sneeu-ertjies (mangetout)
  • 125 g boontjiespruite (bean sprouts)
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 2 – 3 stingeluie, in ringetjies gesny
  • 2 eetlepels ligte sojasous
  • 1 eetlepel sesame-olie

METODE

Kook die noedels volgens die instruksies op die pakkie, dreineer en hou eenkant. Verhit 3 eetlepels van die olie in die wok. Stir-fry die ui, vleis, sneeu-ertjies en boontjiespruite vir ongeveer 1 minuut saam.

Geur met sout en peper na smaak. Gebruik ’n gaatjieslepel en skep die mengsel uit die wok op ’n bord en hou eenkant warm.

Giet die res van die olie in die wok en stir-fry die stingelui en noedels daarin saam met die helfte van die vleis-en-ertjiemengsel. Roer die sojasous by en stir-fry vir ’n minuut of twee of tot deurwarm.

Skep die wok-mengsel in vier bakkies en verdeel die res van die vleis-en-ertjiemengsel en skep bo-op. Sprinkel sesame-olie bo-oor en bedien onmiddellik. WENK: As jy nie lus is vir die varkrepies nie, kan jy dit maklik vervang met hoender of ham.

Chow mein klink so volksvreemd, maar dit is eintlik net stir-fried noedels met ’n bietjie groente en ’n vleiserigheid soos hoender, vis of vark.
/

Oosterse groente-stir-fry

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

Soetsuursous

  • 2 eetlepels ryswyn of droë sjerrie
  • 2 eetlepels sojasous
  • 2 eetlepels appelasyn
  • 1 eetlepel suiker
  • 1 teelepel stingelui (spring onion), fyngekap
  • 1 teelepel vars gemmer, gerasper

Groente

  • 1 blik pynappelstukke in sap
  • 2 eetlepels olie
  • 2 wortels, geskraap en in dun stokkies gesny
  • 2 x 100 g-pakkies klein pak choi (Chinese kool), in stukkies gesny
  • 1 elk van rooi, groen en geel soetrissie, in repe gesny
  • 1 koppie boontjiespruite (bean sprouts)
  • Sout en varsgemaalde swartpeper
  • Enige neute vir versiering, gekap (opsioneel)

METODE

Soetsuursous:

Meng al die bestanddele. Skep 4 eetlepels uit in ’n bakkie en bêre die res in ’n flessie in die yskas.

Skep 3 eetlepels van die pynappelsap by die sous en meng goed.

Groente:

Dreineer die pynappelstukke. Verhit die olie in die wok oor matige hitte en stir-fry die wortels, pak choi en soetrissie vir 3 – 4 minute of totdat die groente net-net begin sag word. Voeg die sous by en verhoog die hitte.

Voeg die pynappelstukke en boontjiespruite by en stir-fry totdat al die bestanddele deurwarm is. Geur met sout en peper en versier met die neute.

WENK:

Bedien as bykos met vis, hoender of vleis.


/

Gemmer-en-cashew-hoender

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 2 ontbeende, vellose hoenderborsies, in blokkies gesny
  • 1 eierwit, liggies geklits
  • 4 eetlepels ryswyn of droë sjerrie
  • 2 teelepels mielieblom (Maizena)
  • 3 eetlepels olie
  • 4 stingeluie (spring onions), opgesny in ringetjies
  • 2 knoffeltoontjies, fyngekap
  • 1 x 2,5 cm-stuk vars gemmer, fyngekap
  • 1 eetlepel ligte sojasous
  • 1 koppie rou ongesoute cashew nuts
  • Sout en varsgemaalde peper na smaak

METODE

Meng die eierwit, die helfte van die ryswyn en die mielieblom in ’n vlak bak en pak die hoenderstukkies daarin. Gebruik jou hande en meng goed sodat die blokkies alkant met die mengsel bedek is.

Verhit die olie in ’n wok en braai die stingeluie, knoffel en gemmer vir ongeveer 30 sekondes daarin. Voeg die hoenderstukkies by en stir-fry vir ongeveer 2 minute of tot deurgaar. Giet die res van die wyn en die sojasous by en meng goed.

Voeg die neute by en stir-fry vir nog 30 sekondes tot 1 minuut. Geur met sout en peper. Bedien onmiddellik op lekker witrys.

Cashew nuts word dikwels in Oosterse geregte gebruik. Dis veelsydig en ryk aan vitamiene en minerale.
/

Gebraaide rys met ’n bietjie byt

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

Rys

  • 2½ koppies rou rys
  • 3 koppies water
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 2 eetlepels olie
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 2 rooi brandrissies, gekap
  • ½ koppie spekstukkies
  • 1 eetlepel ligte sojasous
  • 1 teelepel tamatiepuree

Omeletrepies

  • 1 teelepel botter
  • 1 eier, liggies geklits
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Gebraaide uieringe

  • 1 ui, in ringe gesny
  • Olie vir diepbraai
  • Sout na smaak

Versiering

  • ¼ van ’n komkommer, in klein blokkies gesny
  • ’n Handvol vars koljanderblare, gekap

METODE

Rys:

Giet die rys in ’n kastrol met die water en sout na smaak. Bring tot kookpunt en laat vir 15 – 20 minute prut of totdat al die water geabsorbeer is. Haal van die stoofplaat af en hou eenkant.

Verhit die olie in die wok en braai die ui en rissies. Stir-fry vir ’n paar minute. Voeg die spekstukkies by en stir-fry vir nog ’n paar minute. Voeg die rys, sojasous en tamatiepuree by en stir-fry oor matige hitte vir ongeveer 5 minute. Geur met sout en peper na smaak.

Omeletrepies:

Verhit die botter in ’n klein pan en giet die geklitste eier daarin.

Geur met sout en peper en laat stol oor matige hitte. Keer die omelet om en braai nog ’n minuut aan die ander kant. Sny in repies en rangskik op die rys.

Uieringe:

Verhit die olie in ’n diep pan of kastrol en braai die uieringe tot donker goudbruin. Dreineer op handdoekpapier en geur met sout na smaak. Rangskik bo-op die rys.

Versiering:

Versier die gereg met komkommerstukkies en vars koljander.

WENK:

Jy kan gaar vark- of beesvleis in plaas van spek gebruik. Voeg dit saam met die rys by.

* Foto’s en stilering: Dale Fourie

Meer oor:  Kos  |  Kuier  |  Resepte  |  Roerbraai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.