Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Strope werk nie vir hoes
11 Julie 2018


Jou bors is toe, jou keel krap en jy hyg behoorlik na asem elke keer wanneer nóg ’n hoesbui jou beetpak. Party mense slaap sommer so met die bottel hoesdoepa langs die bed en sluk-sluk uit die bottel. So irriterend soos wat dit kan wees om te hoes, is dit eintlik jou liggaam se beskermingsmeganisme.

Wanneer jy hoes, kom slym en ander goed uit wat nie in die longe hoort nie. Of dit nou stof is wat jy ingeasem het of slym van ’n verkoue is – alles wat nie rent betaal nie moet uit. Enigiemand wat al in die middel van die nag of in die middel van ’n vergadering ’n hoesaanval gekry het, ken die dringende behoefte om ’n vinnige verligting te vind.

Maar help hoesmedisyne regtig of is daar dalk iets anders wat ’n mens kan doen om die hoesery stop te sit? Die meeste hoesaanvalle word veroorsaak deur verkoue of griep en klaar gewoonlik binne drie weke op. ’n Hoesbui gee jou nie net lyf- en keelseer nie, maar maak dit moeilik om asem te haal.

En omdat rande gerek moet word, gryp baie mense eerder na ’n oor-die-toonbankstroop as om die dokter te besoek. Verlede jaar het Suid-Afrikaners na beraming omtrent ’n halfbiljoen rand op hoesmedisyne uitgegee! Daar is rye en rye hoesmedisyne in apteke beskikbaar – elk met ’n belofte van verligting. Maar kan jy al dié beloftes glo?

En wat is die risiko’s en newe-effekte verbonde daaraan, veral wanneer jy dit verkeerd gebruik? Dr. Richard van Zyl-Smit, ’n pulmonoloog (longspesialis) en hoof van die Lung Clinical Research Unit (LCRU) by die Universiteit van Kaapstad se Longinstituut, glo hoesstroop is nie regtig effektief nie. Hy verduidelik hoesstroop bestaan oor die algemeen uit suiker en alkohol en bevat soms ’n onderdrukker soos kodeïen. Hy waarsku dat jy versigtig moet wees as jy ’n diabeet is (omdat die suikerinhoud so hoog is) en as jy moet bestuur of wakker bly, want die alkohol kan jou lomerig maak.

Kodeïen is verslawend en kan hardlywigheid en lomerigheid veroorsaak. Maar dis onwaarskynlik dat jy verslaaf sal raak as jy dit volgens die aanwysings gebruik, verduidelik hy. Wanneer jy griep of verkoue het en erg hoes, kan jy jouself dokter met iets oor die toonbank, sê Richard, maar dis belangrik om te onthou dat hierdie doepas net jou simptome behandel en jou nie gesond maak nie. Hy sê egter as jy baie slym uithoes en dit groen of bruin is of vir langer as 10 dae aanhou, moet jy liewer dokter toe gaan. As jy net jou hoes behandel en die oorsaak daarvan nie ondersoek word nie, kan jy ernstige toestande soos longontsteking of selfs longkanker miskyk. Richard sê asma en hartversaking kan ook ’n nat hoes veroorsaak.

Ek is persoonlik nie oortuig dat dit eens saak maak watter tipe hoesstroop jy gebruik nie, want niks is baie doeltreffend nie.

Marion Kruger, ’n Kaapse Kuier-leser, is deesdae bietjie paranoïes wanneer sy hoes en vrees altyd die ergste. In 2013 het sy, ná ’n lang gehoes, haar huisdokter besoek wat haar dadelik hospitaal toe verwys het. “Die hoes wou net nie ophou nie. Nadat toetse gedoen is, is bevind dat ek longontsteking het. Ek was sommer lekker siek!” sê sy.

’n Mens moet veral aandag skenk as ’n kind aanhoudend hoes. Die onderliggende oorsake kan onder meer asma, kinkhoes, TB of brongiolitis wees en dit is beter om eerder jou dokter te besoek. Volgens Richard gebruik baie ouers hoesstroop vir siek kinders om hulself te paai en kinders te help slaap (die medisyne bevat alkohol en kalmeermiddels).

“Op die korttermyn en in die korrekte dosisse is dit aanvaarbaar, maar om ’n hoes wat nie weggaan nie te ignoreer en nie dokter toe te gaan nie, is net ’n resep vir moeilikheid,” waarsku Richard. Daar is ander newe-effekte van hoesmedisyne. Teofillien, ’n bestanddeel in die meeste brongodilators, kan bewerasie veroorsaak. Difenhidramien, wat in die meeste hoesonderdrukkingsmiddels is, kan lomerigheid veroorsaak. Verder kan hoesmedisyne ’n negatiewe reaksie hê wanneer jy dit meng met ander medisyne, so maak seker jy bespreek dit met jou apteker of dokter.

Nat of droog

Eerstens is dit belangrik om te bepaal watter tipe hoes jy het – droog of nat. Vir ’n droë hoes is die beste raad steeds die ou getroue: Rus, baie vloeistowwe en warm suurlemoenwater met heuning. As dit vir langer as drie weke aanhou, besoek eerder jou dokter.

As dit ’n nat, slymerige hoes is, kan jou apteker jou dalk help. Jy kan ook jouself stoom en baie water drink om die slym los te maak sodat dit makliker is om uit te hoes. ’n Warm stort sal ook help.

Dit is egter belangrik om die oorsaak te behandel eerder as die simptoom. Kies ’n medisyne wat slym in jou neus en bors afbreek en losmaak, verkieslik een sonder alkohol. “Ek is persoonlik nie oortuig dat dit eens saak maak watter tipe hoesstroop jy gebruik nie, want niks is baie doeltreffend nie,” meen Richard.

Waheed Abdurahman, ’n apteker by Clicks se hoofkantoor, sê hoesmedisyne word deeglik getoets voordat dit op die mark geplaas word en daar is genoeg bewyse dat dit werk. As jy ’n droë hoes het, stel hy voor jy gebruik ’n middel wat jou hoes sal onderdruk. Vir ’n nat hoes kan jy ’n uithoesmiddel probeer. As jy ’n seer bors of asma het, sal brongodilators help. Aansmeermiddels en kamersproei kan ook ’n bietjie verligting bring. Waheed meen egter laasgenoemde is nie so doeltreffend soos hoesstroop nie. Kruiehoesstroop werk egter goed veral dié met eiloof (ivy)-blaarekstrak.

Vra jou apteker

Vra dié vrae wanneer jy medikasie koop:

• Wat kan ek van dié produk verwag?

• Hoe lank kan ek dit gebruik voordat ek dokter toe moet gaan?

• Sal dit reageer met ander medikasie wat ek neem?

Mites oor verkoue en griep

Volgens dr. Susan Louw, patoloog by National Health Laboratory Service (NHLS), is daar baie mites oor griep en verkoue.

Hier is die topvyf:

Mite 1

Jy kan verkoue kry van koud kry en uitgaan met nat hare: Mense is geneig om meer siek te word in die winter. Dit is nie omdat dit koud is nie, maar omdat hulle meer tyd in die huis deurbring. Virusse kan dan maklik van een persoon na die volgende oorgedra word. •

Mite 2

As jy nie koors het nie, is jy nie aansteeklik nie: As jy verkoue het, is jy die meeste aansteeklik in die eerste twee tot drie dae, of jy nou koors het of nie. 

Mite 3

Griep is nie so ernstig nie: Griep is gewoonlik nie so ernstig nie en jy kan beter word sonder medikasie. Maar tussen 6 000 en 11 000 Suid-Afrikaners sterf elke jaar daarvan. 

Mite 4

Die enigste manier om gesond te bly, is om siek mense te vermy: Dit is nie heeltemal waar nie, want mense kan aansteeklik wees sonder om enige simptome van die siekte te toon. 

Mite 5

Jy kan griep kry van die griepinspuiting:

Die virus wat griep veroorsaak, is ’n lewendige virus, terwyl die inenting gemaak word van ’n dooie virus.

Newe-effekte soos seer spiere en effense koors is ’n moontlikheid, maar dit is die reaksie van jou eie immuunstelsel op die dooie virus.

Susan meen die beste manier om jouself teen griep en verkoue te beskerm, is om ’n griepinspuiting te kry en goeie higiëne toe te pas. Dit sal help om gereeld hande te was, siek mense te vermy, gebruikte tissues weg te gooi en gereeld werksoppervlaktes skoon te maak. 


Die artikel verskyn in die 11 Julie-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Gesondheid  |  Siekte  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.