Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Styg uit: Akteur trotseer tawwe lewe tot op kassie
17 September 2020
Die akteur en atleet Reginald Hufkie is al deur diep waters in sy kort lewe.

Swaarkry, hartseer en deurdruk is deel van die talentvolle 28-jarige akteur, musikant, draaiboek- en liedjieskrywer, Reginald Hufkie (28) van Schauderville in Port Elizabeth se DNS.

Dié jong man moes al sedert hy sy verstand gekry het mishandeling van sy ouers verduur en hy ken van honger gaan slaap. As tiener het hy albei sy ouers aan tuberkulose verloor. Reginald, beter bekend as Reggie Peace, se uithouvermoë en veggees is egter bewonderenswaardig. Reggie het nie toegelaat dat sy omstandighede en waar hy vandaan kom sy einddoel bepaal nie.

Inteendeel, hy het dit as stene gebruik om vir homself ’n beter toekoms te bou. En al is hy nog nie waar hy wil wees nie, is hy sterk op pad daarheen! Reginald doen baie werk in die vermaakbedryf en het reeds rolle gehad in die gewilde SABC-sepie Generations: The Legacy, en reekse soos Die Spreeus en Huis Lelieveld op kykNET.

Dié klong van die Baai onthou die eerste 13 jaar van sy lewe en sug swaar voor hy sê dat die sleg die goed oorskry. “Ek het in een van daai gemeenskappe en huise grootgeword waar ’n mens maar met die sosiale euwels van ’n agtergeblewe gemeenskap moes deal. Ons het in ’n klein sinkhokkie agter in my ouma se jaart gebly – ek, my twee broers en my ouers.

Baie van wat ek onthou, is negatief. Elke dag se skellery en (fisieke) mishandeling. Dit was baie erg. Ja daar was natuurlik ook goeie tye, maar dis moeilik om dit te onthou as daar soveel sleg is wat dit oorskry.”

Reggie erken die omstandighede in sy huis en sy gemeenskap het hom baie affekteer. “Ek was die middelkind en ek het dit baie swaar gevat. Dit het veroorsaak dat ek baie stil was as kind, eenkant. Op skool het ek toe sport gevind as ’n uitlaatklep vir my emosies en ook ’n veilige hawe waarheen ek kon ontsnap.”

As sewejarige laaitie het Reggie toe begin fokus op atletiek. “Ek het aan alle sportsoorte deelgeneem, maar atletiek was dié een. Ek kon hardloop en op daai baan was ek vry. Weg van alles en almal. Net ek met die baan voor my uitgestrek.” Reggie het so goed gevaar dat hy sy provinsiale kleure in dié sport ontvang het. “Dit was ongelooflik en ek kon ook saam met die skool reis vir atletiek. Só kon ek meer plekke sien en verken. Dit het ook my oë oopgemaak en my laat besef dat daar baie meer daarbuite is as net dié waaraan ek gewoond is in PE.”

In die kinderhuis

Hoewel Reggie in sy atletiekloopbaan floreer het, was dinge by die huis egter steeds dieselfde. “Dit het net nooit beter geraak nie. Inteendeel, soos die jare verloop het, het dit al erger geraak.” In 2004, toe hy 13 was, het sy ma aan tuberkulose gesterf.

“Vandaar was dit net erger eerder as beter. Dinge by die huis het so erg gegaan dat ons uit my pa se sorg verwyder is en in ’n kinderhuis geplaas was.” Skaars ’n jaar ná sy ma se afsterwe het sy pa ook gesterf. “Dit is ’n tipe seer wat ’n 13-jarige kind nie op daai ouderdom moet ervaar nie.” En al was die omstandighede in die kinderhuis baie beter, was daar tog iets wat ontbreek het.

“Jy moet onthou in die kinderhuis is dit elke kind vir homself. Elke kind wat daar is, sit met sy eie seer en kom daar met sy eie bagasie. Jy het nou wel elke aand ’n warm bord kos, skoon klere, jy kan skool toe gaan en daar is ook sielkundige hulp, maar daar is nie die liefde en warmte van ’n ouer nie. En dis iets wat elke kind na verlang. Soveel meer ’n gebroke kind.”

Ek was ’n baie besige jong man. Ek wou altyd net besig bly om te vergeet wat eintlik aan die gang is rondom my.

Regdeur sy skoolloopbaan het hy egter volgehou met sy atletiek. “Dit was regtig net die plek waar ek geborge gevoel het. Dit is ook die plek waar ek weer ’n familie kom vind het. My spanmaats en afrigters was my familie. Dit is nie dieselfde as ouerliefde nie, maar dit was beter as niks en dit was die ondersteuning wat ek destyds nodig gehad het.” Dit is ook op hoërskool waar hy met musiek en acting begin eksperimenteer het. “Ek was ’n baie besige jong man. Ek wou altyd net besig bly om te vergeet wat eintlik aan die gang is rondom my.”

Dan onthou hy: “Kuns was maar nog altyd in my bloed. My pa was die een wat gesing en musiek gemaak het en my ma die een wat geskilder het. So daai bloed vloei sterk deur my are. Ek het toe begin rymklets en het ook deelgeneem aan my eerste play en dit is waar my liefde vir die kunste begin groei het. Ek was al hoe meer aangetrokke daartoe. Ek het begin skryf ook – sommer oor alles wat aangaan rondom my, in ons gemeenskappe, gevoelens waarmee ek wroeg.”

Reginald het gelukkig ’n beurs losgeslaan by die Universiteit van Johannesburg en in 2013 het hy daarheen verhuis om transportation management te swot. “Atletiek was voorwaar my saving grace. Hier sit ek nou toe op universiteit in Johannesburg en dis ’n heel ander plek as waaraan ek gewoond is. Die laaitie van die Baai studeer dan toe nou in die Goudstad.”

Hy lag lekker voor hy sê dat dit oorweldigend was. “Joburg is nie speletjies. Dis ’n ander wêreld dié, ’n vinnige een, maar ek dink dis presies wat ek nodig gehad het. ’n Change of scenery, ’n stad vol possible opportunities.” Hy het meer betrokke geraak by kuns en het in al hoe meer produksies gespeel.

Reginald en die aktrise Karin van der Laag.

Deure gaan oop

“Ek het in 2018 saam met Brendon Daniels in die bekroonde kortfilm Cowboy Dan gespeel en dié man het my geïnspireer. Hy krap so diep waar dit sy karakters betref dat jy nie anders kan as om ook dieper te delf nie.”

Reggie het in 2019 ná dié produksie bekendheid verwerf en het rolle vertolk in produksies soos Generations: The Legacy, en kykNET se Die Spreeus en Huis Lelieveld. Dit was ook die jaar toe hy sy solo-musiekloopbaan geloods het. Sy glimlag bereik maklik sy oë.

“In ’n tydperk van net maande het my seëninge begin instroom en ek kan net God dank vir die geleenthede. Ek werk hard omdat my familie steeds in die posisie sit waarin ons destyds gesit het. Ek moet ’n beter toekoms skep vir die generasies wat nog moet kom. ’n Mens weet nooit vir wie jy kan inspireer met jou verhaal nie. Daar is so baie kinders wat dieselfde deurgaan as wat ek moes deurgaan en ek wil vir hulle sê dat hulle moet aanhou en deurdruk. Daar is ’n lig aan die einde van die donker tonnel.”

En waaruit put Reggie inspirasie? “Wanneer ek met my broer gesels en ek hoor hoe hy elke oggend doelgerig 4:00 uit die bed opstaan om vetkoeke te bak en dit gaan verkoop om kos op die tafel te sit, inspireer dit ook vir my om beter te doen, harder te werk. Daar is soveel onvertelde stories in ons gemeenskappe en dit verdien ’n platform.”

Dit is ook hoekom Reggie so trots is dat hy die aanbieder van Trotstv.com se #OnverteldeVerhale is. “Dit bied my ’n platform om mense se stories te vertel wat nie gewoonlik vertel word nie. Stories van die gewone man op die straat. Ek glo ook dat dit die jonger mense gaan inspireer om beter te doen en beter te wees. Jy is aan die stuur van jou eie lewe, maak seker dat elke liewe oomblik daarvan tel!”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.