Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Success, Kay en Rachel staan saam
17 September 2020


Op 24 September vier Suid-Afrikaners Erfenisdag. Dit is ’n dag om hulde te bring aan al die verskillende kulture en tradisies van ’n reënboognasie – die diversiteit én die eenheid van die land.

Maar hoe ver het Suid-Afrika al werklik gekom sedert oudpres. Nelson Mandela op die eerste viering van hierdie dag in 1996 gesê het: “Toe ons eerste demokraties-verkose regering besluit het om Erfenisdag een van ons nasionale dae te maak, het ons dit gedoen omdat ons geweet het ons ryk en diverse kulturele erfenis het ’n ontsettende mag om te help bou aan ons nuwe nasie?”

Van eenheid, diversiteit en diskriminasie kan jy die beeldskone Success Lekabe (31), Tussen Ons-aanbieder en Bok Radio-omroeper met die streelsagte stem, niks vertel nie. Success het grootgeword in Potchefstroom in die Noordwes en in Bloemfontein gewerk. Sy praat ses van die 11 amptelike tale. Setswana is haar moedertaal, Sesotho is die ander.

“Afrikaans, Engels, Xhosa en Zulu praat ek uit selfverdediging,” lag sy. “Nelson Mandela het gesê: ‘Talk to a man in a language and you are talking to his head. To talk to him in his own language, is to talk to his heart.”

Selfs al is dit net om iemand in sy eie taal te groet, is reeds ’n stap nader aan mekaar. “Ek dink eenheid in Suid-Afrika is definitief daar. Ek sien so baie keer as dinge nie goed gaan nie, hoe baie ons hande vat om dit beter te maak, veral nou in hierdie Covid-tyd, waar so baie mense uitreik om ander te help. Daar is beslis meer unity as verdeeldheid, hoewel jy dit nie noodwendig in die nuus gaan sien nie,” vertel sy.

Haar positiewe uitkyk oor Suid-Afrika beteken egter allermins dat daar nog nooit teenoor haar op grond van haar velkleur gediskrimineer is nie. “Ek is net so dankbaar my ma het my geleer om respek te hê vir alle mense en sodra iemand nie inpas met jou waardes of die tipe mens wat jy is nie, is dit nie nodig om jou daaroor te ontstel nie. Jy kan net aanbeweeg.”

Een insident wat haar bybly, is een van haar verjaardae op hoërskool. Haar vriende het vir haar geel (haar gunstelingkleur) ballonne gebring om die dag te vier. “Jy kry mos altyd daai groep seuns wat dink hulle is die ouens. Die een het die hele dag vir my goed gesê soos ‘wat maak jy hier? Geel pas nie by swart nie’ en so aan dat ek letterlik in trane geëindig het,” onthou sy.

Daardie dag het sy geleer as iemand só optree, is dit nie ’n refleksie van wie jy is nie, maar van daai persoon self. Dis toe dat sy besluit het sy is “beautifully made”. “Ek het besluit ek sal my alles gee om ander in te sluit en te celebrate vir hul diversity, want almal het ’n storie om te vertel.” Selfs vandag ervaar sy op ’n gereelde basis diskriminasie.

“Mense het ’n sekere persepsie. En that which you perceive, is what you believe. Sekere van my luisteraars . . .” sug sy. “Maar omdat ek ’n swart vrou is wat Afrikaans praat, moet dit alreeds vir jou sê ek is nie wie jy dink ek is nie. Ons kán deur die grense breek. Dit vat nie van wie jy is af weg om ’n ander kultuur of taal te embrace nie.”

Success se legacy

Vir haar is dit belangrik om partykeer met mense wat teen haar diskrimineer, ’n geselsie aan te knoop en te probeer verstaan hoekom hulle só dink. “Partykeer is dit nodig om te sê: ‘Hoorie, ek is ook ’n mens. Ek wil dit ook graag maak in die lewe. Daar is plek vir almal onder die Suid-Afrikaanse son.’ Soms voel dit ’n bietjie asof jy jou kop teen ’n muur stamp, maar jy moet saadjies plant waar jy kan.

“Om te vergewe, doen jy nie vir die ander persoon nie, maar vir jouself. Dit is ’n courageous ding. Dis asof jy jouself vrymaak van die shackles van goed wat mense teen jou gedoen of gesê het, sodat jy kan vorentoe beweeg,” verduidelik Success. Sy voeg by dit beteken nie jy moet vergeet wat gebeur het nie, maar wanneer jy weer in so ’n situasie is, het jy die insig om dit te laat gaan.

Vir Success is dit belangrik om ’n legacy van inspirasie, liefde, begrip en sagmoedigheid na te laat. “Ek weet waar ek nou is, is presies waar die Here my wil hê. Ek wil so graag iemand inspireer om te weet hulle kan bo hul omstandighede uitstyg en het die krag of die mag om weer ’n impak op iemand anders te hê. Só ’n rimpel-effek kan die wêreld verander . . .” Veral in ’n land soos Suid-Afrika, voel Success mense is nie gemaak om op hul eie deur die lewe te gaan nie. “Ons het mekaar nodig om êrens uit te kom. As een van ons dit maak, kan almal van ons dit maak. Maar ons moet onsself in ander se skoene probeer plaas. As jy nie kan luister na iemand anders se storie nie en probeer verstaan hoe hul ervaringe hulle gevorm het nie, beteken dit alles niks.”

Success voel hoewel Suid-Afrikaners so divers is, is daar sekere goed wat ons almal gemeen het. “Ons is sterk, ons het ’n ongelooflike veggees. As ons moet saamstaan, kan ons. Die feit dat ons regtig die heeltyd kan lag en grappies maak oor ons omstandighede – dis die beste ding ooit! En dit is in elke liewe een van ons. Ons het meer gemeen as dit wat ons divide.

Eenheid, rekonsiliasie en om aan te beweeg na ’n plek waar almal ingesluit is, gaan kom deur begrip en respek vir mekaar te hê ten spyte van ons verskille. Saam kan ons berge versit en ’n utopia word. Dít is my droom vir ons land.”

Kay Smith

Die aktrise Kay Smith.

Nog iemand wat baie positief is oor Suid-Afrika, is die aktrise Kay Smith (28) van die gewilde telenovela Arendsvlei. “Ek glo vas in unity, maar op die oomblik, selfs in my eie gemeenskap, is die divide groot. Eish, dis so moeilik om oor politiek te praat as jy in die kunste is! Ek begin sommer sweet,” lag sy uitbundig.

Vir haar voel eenheid in Suid-Afrika soos ’n droom. “Dis amper net groot goed wat gebeur wat ons nader aan mekaar bring. Maar ek droom van ’n land waar ons nie goed nodig het om eenheid te skep nie.” Kay voel Suid-Afrikaners sukkel daarmee omdat hulle weier om tot op ’n punt te kom waar mense mekaar aanvaar ten spyte van hul verskille. “Ons lewe baie in ’n wêreld waar ons ons idees van menswees en hoe die land moet wees, wil afdwing.”

Praat om te verenig

Haar eerste ervaring van rassisme het al kleintyd ’n impak op haar gemaak. Haar pa se familie is oorspronklik van Transkei. “Ek onthou as ek ná Desember-vakansie se kuier teruggekom het in ’n predominantly coloured omgewing, het die mense my letterlik ’n ‘wit k-woord’ genoem omdat my mense van die Transkei af is.”

Sy onthou op haar eerste dag van hoër- skool was sy diep geskok toe sy die woorde “AWB-vark” op haar lessenaar uitgekrap sien. “Dit was vir my so mind-blowing, want dit was in die 2000’s al. En hier is iemand wat lank post-94 die begeerte gehad het om daai stempel daar te los.” Die ervaring het vir Kay baie ontstel. “Ek was maar altyd ’n bietjie anders. Ek weet nou nie of dit die kunste was, en of dit was omdat ek ’n bietjie valer as die res was met kroes-blonde hare nie . . .”

Haar pa het egter vir haar gesê: “Luister, ek het baie hard baklei dat jy daai trui moet aanhê. So, jy gaan môre skool toe and you are going to take up space. You have to walk in there and unapologetically be who you are.”

Kay speel die rol van Debra in Arendsvlei.

Só het sy vroeg in haar lewe die belangrikheid van vergifnis geleer. “Ons loop met so baie letsels in ons rond waarvan ons niks weet nie. Jy reageer op omstandighede of gebeurtenisse in die wêreld uit iets wat vir jou gegee is. Dis nie gesprekke wat sommer om die tafel gehad was nie. Ons kom nie by vergifnis uit nie, because we are not even having the conversation. Dis soos ’n seer wat jy opdoen, maar jy maak hom nie skoon nie, so dit kan nooit genees nie. Om te begin praat sodat ons mekaar kan begin verstaan, is die enigste manier om vorentoe te beweeg. Ons hoef nie van mekaar te hou of beste vriende te wees nie, maar ons moet darem probeer om mekaar te verstaan en te aanvaar sodat ons ’n beter weg vorentoe kan baan.

“Ons moet begin verstaan dis nie noodwendig jy wat vir my te nagekom het nie, maar dit is die wêreld waarin ons gebore is, die wêreld wat ons by ons voorouers geërf het. Ons hou hierdie goed wat ons nie eens aan mekaar gedoen het nie, so styf vas. Ons móét met mekaar begin praat.” Stereotipes is nog iets wat vir Kay soms moedeloos maak.

“Almal aanvaar ’n coloured girl kom uit ’n huis waar daar wanorde en drankprobleme en teenage pregnancies is. Almal sien jou as dít. En ook met my hare kry ek steeds: ‘Haai, maar jou hare is mos nou lank genoeg om dit uit te blow.’ Die feit dat ’n mens steeds straight hare moet hê in ’n wêreld waar jy nou vry kan wees, bewys mense kies steeds stereotipies. Dit maak my hartseer, want ons sit nog vas, ons het nog nie wakker geword in ’n wêreld waar enigiets moontlik is nie.”

Om dit te beveg, probeer Kay om elke dag die beste weergawe van haarself te wees, in die hoop dat mense van haar voorbeeld kan leer dat jy groter moet droom as van waar jy kom en dat enigiets moontlik is. “Jy kan jou toekoms reshape deur die besluite wat jy elke dag neem.” Haar droom vir Suid-Afrika is dat ons ons diversiteit begin vier, eerder as om dit te gebruik as ’n swakheid.

“Die feit dat ons so divers is, is juis wat ons spesiaal maak. Die enigste manier wat ons die land gaan verander, is to be the change you want to see. As jy begin verander, kan niks rondom jou dieselfde bly nie.”

Rachel Kolisi

Rachel Kolisi en haar man, die Springbok-kaptein, Siya.

Iemand wat geen vreemdeling is in die wêreld van diskriminasie, haat en verdeling nie, is Rachel Kolisi (30), vrou van die geliefde Springbok-kaptein Siya Kolisi. “Ek kruip in die kar weg vir my kinders sodat ek met jou kan gesels,” giggel dié ma van vier (18, 13, 6 en 2).

Rachel is trots Suid-Afrikaans, mal oor die land se mense, ’n kranige ondersteuner van die Springbokke en is veral lief vir die kaptein (so 90% van die tyd, skerts sy). Hoewel sy gedurig erg deurloop en kritiek uit alle oorde kry oor haar lewensbesluite en dit waaroor sy passievol is, laat Rachel nie toe dat dit haar onderkry nie.

“Almal het die reg tot hul opinie. Ek dink net, wanneer dit by sosiale media kom, daar baie keyboard warriors is wat baie te sê het, maar wanneer jy hulle in persoon ontmoet, sê hulle niks. Ek wens partykeer hulle wil net sê wat hulle dink sodat ons openlik daaroor kan gesels.” Sy moes egter vinnig leer om nie ander mense se opinies oor haar ter harte te neem nie.

“As jy opstaan vir iets, is dit belangrik dat jy 100% daarin glo. Selfs al val mense jou persoonlik daaroor aan, moet jy nie toelaat dat dit jou van stryk af bring nie. Jy moet eerder probeer luister en verstaan waar hulle vandaan kom.” Rachel lag en sê sy is al so baie aangeval op sosiale media daar is niks wat sy nog nie gehoor het nie en dit ontstel haar lankal nie meer nie. “Dit is ongelukkig nou maar net wat dit is.”

Rachel tydens ’n Kolisi Foundation uitreikaksie.

Staan op vir jouself

Hoewel sy as tiener baie onseker van haarself en die doel van haar lewe was, het sy begin identifiseer met sterk vroue soos Joan of Arc en Xena, warrior princess. “Ek het begin besef ek het ’n stem, net soos elke ander vrou in die land. En ek wou my stem gebruik om verandering teweeg te bring en ander aan te moedig en te inspireer om vir hulself op te staan.”

Dít is haar droom vir haar kinders, maar ook al die kinders van SA – om te besef hul stem maak saak en het krag en hulle hoef nie in iemand ander se skaduwee te leef nie. Dat hulle dapper moet wees in alles wat hul doen en dat niks onmoontlik is nie. Wanneer dit kom by Suid-Afrika sê sy prontuit: “Ek dink ons hou van die idee van eenheid en ons ervaar oomblikke daarvan, maar ek voel ons het nog ’n lang pad om te stap.

Baie mense is onder die indruk die dag toe apartheid beëindig is, is alles reggestel. Maar nadat ons die Kolisi Foundation tydens Covid-19 gestig het, spandeer ek al hoe meer tyd in gemeenskappe en dit is duidelik daar is ’n hele groep mense in ons land wat steeds onderdruk is en nie dieselfde geleenthede as ander ontvang nie. Ja, ons kan vinger wys na die regering en mekaar aanval, maar dit is nie net hul verantwoordelikheid om oplossings te vind nie, maar die verantwoordelikheid van elke Suid-Afrikaner.”

Ek wou my stem gebruik om verandering teweeg te bring en ander aan te moedig en te inspireer om vir hulself op te staan.

Haar werk in verskeie Kaapse gemeen-skappe het haar laat besef party mense sukkel met die idee dat hulle nie die geleentheid gegun is om byvoorbeeld universiteit toe te gaan nie, terwyl ander sukkel om net ’n bord kos, plek in ’n skool of ’n joppie te kry. “Ons issues is wêrelde uitmekaar.” Die foundation het onlangs besluit om hul vergaderings by ’n koffiewinkel in Khayelitsha te begin hê.

“Die hele konsep dat townships die gevaarlikste plekke in die land is en dat ons nie daar hoort nie, is onaanvaarbaar as ons steeds dink dis oukei dat ’n ma en haar kinders daar moet probeer oorleef. Daar moet meer integrasie wees en mense moet bereid wees om uit hul omgewings te beweeg en ander Suid-Afrikaners se realiteit te begin besef.”

Net omdat sy ’n wit vrou is, beteken dit nie Rachel loop nie deur onder diskriminasie en rassisme nie en sy voel dit is steeds ’n groot probleem in Suid-Afrika, al probeer mense dit onder die mat in vee. Sy laat egter nie toe dat dit aan haar hart raak nie. “Dis maar net hulle opinie. As hulle ’n issue het met ’n wit vrou wat getroud is met ’n swart man en dit versteur hul daaglikse geluk, voel ek jammer vir hulle, want dis ’n hartseer manier van lewe. Net so, as hulle my ’n gold digger wil noem.”

Net soos Success en Kay, voel Rachel dit is belangrik om eerlike gesprekke met mekaar te begin hê en mekaar vergewe. Vroue moet begin opstaan vir hulself, nie meer in vrees lewe nie, maar met hul koppe omhoog loop. Daarsonder sal Suid-Afrika nooit die reënboognasie word waarvan Madiba gedroom het nie.

Meer oor:  Rachel Kolisi  |  Kuier  |  Success Lekabe  |  Kay Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.