Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Klong van Vlakte nou see-doktor!
riaan cedras

Van die bendegeteisterde strate van Lavender Hill op die Kaapse Vlakte tot die groot, diep blou see. Dís die ver pad wat Riaan Cedras (35) danksy sy harde werk en positiewe houding al gestap (of dan gevaar) het. Vandag het dié voormalige grassnyer in die Suid-Afrikaanse weermag, ’n doktorsgraad agter sy naam in marienebiologie en is hy lektor aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

Riaan meen dis juis al die harde korsies wat hy al die lewe moes kou, wat hom gemotiveer het om altyd die beste te maak van enige slegte situasie. Hoewel hy nie altyd akademies gemotiveerd was nie, het hy besef ’n gebraaide hoender vlieg in niemand se mond nie en dat jy net dinge kan vermag deur harde werk, inspanning en deursettingsvermoë.

Hy vertel die lewe as kind op die Kaapse Vlakte was baie moeilik. “Dit was maar soos enige ander bendegeteisterde gebied op die Vlakte – jy moes altyd reg wees om jouself te defend. Jy moes weet waar om te loop en waar om te speel.” Hy onthou hoe hy en twee maats eendag oudergewoonte na die naaste park gestap het. “Ons het geloop en speel toe ’n seun net ’n paar jaar ouer as ons met ’n lang mes na ons aangehardloop kom en skree ‘Nou gaan julle sien!’?” Riaan lag voor hy vertel hoe hy daardie dag in Usain Bolt verander het. “Ek en my maats het in verskillende rigtings gespat. Sjoe! Ek het nooit eens geweet ek kan so vinnig hardloop soos ek daai dag gehol het nie!”

Was dit nie vir ’n vrou wat op die aanvaller geskree het nie, sou dié klong een van hulle bygekom het, vertel Riaan. “Dit is maar hoe dit was. Jy was altyd op jou hoede, reg vir enigiets.”

En vir Riaan was dit nie net in die strate waar die lewe soms moeilik was nie, maar ook op die skoolbanke. Volgens hom moes hy voorgee dat hy soms nie die skoolwerk verstaan nie en ook onderpresteer sodat sy klasmaats hom nie as ’n nerd sien nie.

Hy onthou een spesifieke voorval nog baie goed. “Ons het eendag ’n resitasie gekry wat ons moes leer en die volgende dag in die klas moes opsê. Die juffrou sou jou ’n pak slae gee as jy dit nie geken het nie. Die meisies was eerste en natuurlik het dit vlot verloop. Toe die seuns aan die beurt kom, wou nie een van ons vorentoe gaan om dit op te sê nie. Omdat ek bang was vir pak, het ek uiteindelik die resitasie begin opsê. Ek het dit woord vir woord onthou en toe ek klaar is, het die hele klas vir my gelag. Dit was die ergste. Ek het nog nooit so verneder en skaam gevoel nie. Dit was ’n beslissende oomblik vir my – ek gaan liewer dom speel as om slim te wees.”

Sy kans kom

Toe hy in graad 10 kom, het dinge egter ’n ander wending geneem. Daar was uiteindelik ’n onnie wat in Riaan geglo het. Dié het hom gemotiveer om akademies beter te presteer. “Die meneer het die potensiaal in my raakgesien waar dit nooit voorheen by die huis of in die gemeenskap raakgesien was nie. Dit is regtig net soveel meer powerful as iemand van buite na jou kyk en vir jou sê: ‘Ek glo in jou’. Dit het my laat besluit om beter te doen, beter te wees.”

Riaan het toppunte in matriek gekry, maar geen idee gehad oor wat hy ná skool gaan doen nie. Hy het toe met sy uitstekende uitslae by die huis gesit.

“Uit die staanspoor het ek geweet daar was nie geld vir my om universiteit toe te gaan nie en ons het geen benul gehad oor beurse en daai tipe goed nie. My ma was ’n skoonmaker en ek het elke oggend saam met haar opgestaan en gestap. Sy het werk toe gegaan en ek het by die ‘container’ gaan staan.”

Riaan verduidelik die container was ’n plek waar jong mans gaan staan het as hulle werk gesoek het. Die Suid-Afrikaanse weermag het weekliks mense daar opgetel om werk op hul basis te doen. “Ek het week ná week daar gaan staan in die hoop dat hulle my uiteindelik ’n kans sou gee.” En eendag op ’n reëndag het sy kans gekom.

Riaan het eers as gewone arbeider gewerk. “Ek was maar hierdie maer mannetjie en moes met net so ’n lang panga die Port Jacksons kap.” Hy beduie hoe lank die panga was en begin spontaan te lag. Kort voor lank het hy ’n weedeater gekry en begin gras sny. Dis hier waar sy medewerkers hom aangepor het om verder te gaan studeer of ’n ander werk te soek.

Met heimwee en ’n glimlag wat speels aan sy mondhoeke pluk, dink hy terug aan daai dae. “Hulle het my amper elke dag geskel en gevra wat ek daar soek – ek is slim, het matriek en moet verder gaan studeer. Ek het toe besluit om geld te begin spaar en aansoek te doen by die universiteit.”

Hy het aansoek gedoen by UWK vir die rekenaarwetenskap-kursus. Riaan erken die vryheid van die kampuslewe het na sy kop toe gegaan.

“Op universiteit het jy ’n soort vryheid wat jy nooit voorheen gehad het nie. In my eerste jaar het ek sommer baie swak gevaar. Ek het altyd net by die kafee rondgehang en dominoes gespeel. Ek het ook ’n bietjie gesukkel om aan te pas, want die mense daar het net Engels gepraat,” lag hy. “My vriendin het my gevra hoekom ek nie biologie oorweeg nie, aangesien ek so min belangstelling toon in rekenaarwetenskap. Ek het die toelatingstoetse gaan doen en met 75% geslaag. Net daar en dan het ek besluit om die volgende jaar biodiversiteit en konservasie te gaan swot. Dit is glad nie iets waarin ek belanggestel het nie, maar binne-in my was ’n drang wat ek moes stil – ek wou iets maak van my lewe, enigiets. Om op te gee en uit die bus uit te val, was nie ’n opsie nie.”

Sy werk

Riaan het níé uit die bus geval nie, inteendeel. By die fakulteit het Riaan se liefde vir die see en sy diertjies en plante vinnig begin groei. Dit was nie vir hom vreemd om die see te verken nie, want as kind het hy gereeld met sy pa gaan visvang en doen dit nog tot vandag toe.

“Met elke jaar het ek net meer lief geword vir die see en alles wat daarin is. Ek het my meestersgraad in copepods voltooi en dis juis die diertjie wat ek nog steeds bestudeer.”

Volgens Riaan is plankton die belangrikste skakel in die voedselketting van die wêreld se oseane. Hulle voed die vis wat dan uiteindelik weer mense voed.

Volgens Riaan dink baie mense mariene- biologie gaan net oor die bestudering van walvisse en dolfyne, maar dit gaan egter oor soveel meer. “Die see word bestudeer om byvoorbeeld vas te stel in watter rigting dit tans vloei en hoekom daar op sekere tye sekere verskynsels voorkom. Ons vaar die diepsee in tot in Tanzanië en die Comoros-eilande om copepods te kry en uit die bestudering van copepods kan jy die ekosisteem van die vis in sy natuurlike habitat bepaal. Die copepods is reg onder aan die voedselketting en dis van kardinale belang vir verskeie ekosisteme.”

Riaan gaan later vanjaar na ’n konferensie in Mauritius om daar meer lig te werp op dié plankton. “Ná die konferensie wil ek meer betrokke raak by die gemeenskap – gemeenskappe van kleur. Leerders wat matriek goed geslaag het, moet bewus word van beurse en studielenings. Dit is goed waaroor daar nie kennis is in ons gemeenskappe nie.”

En wat is volgende vir dié see-doktor? “Om my organisasie vir jong, swart wetenskaplikes uit te brei en aan die studente die nodige hulpbronne te bied om hulle te help om hul drome te bereik. Ek het nie hulp gehad en dis juis daarom dat ek nou die een wil wees wat hulp bied.

 “Niks wat die moeite werd is, was ooit maklik nie en niks wat maklik is, was ooit die moeite werd nie. Harde werk en uithouvermoë word met sukses beloon.” 

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Lavender Hill
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.