Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Sukses met styl
kyra loubser

As jy ’n Kaapse celebrity sien wat van kop tot tone stunning lyk, is die kanse goed dat hulle “ge-Kyrafied” is. Dit beteken hulle is deur die grimeerkunstenaar en stilis Kyra Loubser (45) onder hande geneem.

Kyra is nie net die “koningin van glam” nie, sy het ook ’n kop vir besigheid en is nou die mede-eienaar van Gabriella Boutique in Seepunt.

Maar wat nie almal weet nie, is dat hierdie suksesvolle entrepreneur, wat mense met die regte uitrusting en grimering kan transformeer, nie eens skool klaargemaak het nie en sy moes al by KFC en as kelnerin werk om die rekeninge te betaal.

Daar was ook ’n tyd toe sy in die duisternis van dwelmmisbruik verval het, maar in ware Kyra-styl, het sy haarself daaruit gekry en dis met dieselfde vasbeslotenheid en geesdrif dat sy haarself bemagtig en opgebou het in ’n gerekende grimeerkuns-tenaar en stilis.

tracey lange
So lyk Tracey Lange wanneer sy ge-Kyrafied is.

Kyra, oorspronklik van Elsiesrivier op die Kaapse Vlakte, is die TV- en radio-aanbieder Tracey Lange se grimeerkunstenaar en stilis en het ook al met talle bekendes soos Kim Engelbrecht, Alistair Izobell, Marc Lottering, Christo Davids, David Kramer, Jody Abrahams, Shaleen Surtie-Richards en Vinette Ebrahim gewerk. En dis ook einste Kyra wat Kuier se redakteur, Kay Karriem, elke week op kykNET se geselsprogram Tussen Ons soos ’n ander mens laat lyk! Sy het al oorsese sterre soos Judy Boucher, Maxwell, Percy Sledge en Sophia Loren onder hande gehad. Sy het ook al ons Oscar-wenner Charlize Theron ook gestileer.

werk hard

Kyra sê sy geniet die wêreld van TV en flieks, maar om haar eie klerewinkel saam met haar skoonsuster te kon oopmaak, is ’n droom wat waar geword het.

So van kliphard werk, kan jy Kyra niks vertel nie. Sy het al op 16 begin werk nadat sy die skool en haar ouerhuis verlaat het.

Kyra kom uit ’n familie van onderwysers en het geweet as sy die skool los, sal sy moet werk. Om by die huis te sit, was nie ’n opsie nie. Sy het ’n sterk band met haar familie en sê dit was ’n moeilike besluit om weg te stap, maar is nie vandag spyt oor die lesse wat sy op haar eie geleer het nie.

Nadat sy uitgetrek het, het Kyra by ’n familievriendin gaan woon waar sy vir die eerste keer aan haarkappery blootgestel is. Dié vriendin het ’n haarsalon van die huis af bedryf en dit is waar Kyra toe begin werk het. Daar het sy alles geleer van stilering, haarkapsels en kleur.

Kyra het as kind daarvan gehou om met poppe te speel en het met haar ma se klere dress up gespeel, maar sy het nooit daaraan gedink om in die skoonheidsbedryf te werk nie. Sy wou rekeningkunde of wetenskap gaan swot. Maar sy het gou ’n liefde begin ontwikkel daarvoor om mense mooi te maak en toe sy genoeg geld gespaar het, het sy by Glemby International in Seepunt as haarkapperstudent begin.

“Dit was moeilik om selfonderhoudend te wees. As tiener is jy gewoonlik nog op skool en jou ouers is daar om jou te ondersteun en te help om keuses te maak. Ek moes op my eie twee voete staan en self seker maak dat ek geld het vir kos, verblyf, klere, vervoer en my studies,” sê sy.

“Dit was baie moeilik, maar dit het my ook geleer hoe om met geld te werk. Ek het sommige aande net jam en brood geëet, totdat ek weer geld gehad het en dan het ek myself met ’n lekker Spur-ete bederf.”

groei

kyra loubser
Kyra en haar skoonsuster, Gheneez Munian, in hul boutique.

Op 19 het Kyra Johannesburg toe verhuis en by Carlton Hair International begin werk. Sy wou egter ’n nuwe uitdaging hê en het ná haar tyd by Carlton Hair by Malibone, die eerste sogenaamde swart salon in Hillbrow, begin. Sy wou meer oor etniese hare leer. Dis ook by dié salon waar sy vir die eerste keer met bekendes soos Brenda Fassie en Lebo Mathosa begin werk het.

“My tyd in Johannesburg het ’n hele nuwe reis vir my begin. Die jaar toe Amy Kleinhans-Curd as Mej. Suid-Afrika gekroon is, was ek ook deel van die span wat agter die skerms gewerk het om haar en die ander meisies van kleur mooi te maak en dit is waar ek verlief geraak het op televisie en die skoonheidswêreld. Dit was ’n baie opwindende tyd vir my.” Maar dit was ook die tyd toe sy aan dwelms verslaaf geraak het omdat dwelms en partytjies algemeen was in die kringe waarin sy toe beweeg het.

Kyra het gevoel asof sy beheer oor haar lewe verloor. Uiteindelik het sy besluit om haar werk te los en terug te keer na haar familie in die Kaap. In daardie stadium het sy hulle sewe jaar laas gesien, maar sy is met ope arms terugverwelkom.

Terug in die Kaap, het sy ’n studiekursus in bemarkings- en verkoopsbestuur gedoen met die doel om haar loopbaan in ’n volhoubare besigheid te ontwikkel. Maar daar was rekeninge. Sy het deeltyds hare en grimering gedoen, maar het ook as kelner by verskeie restaurante gewerk, totdat sy haarself tot bestuurder opgewerk het. Later het sy ’n bestuursposisie by KFC se hoofkantoor gekry en vir 10 jaar daar gewerk. Rondom dieselfde tyd het sy een aand tydens ’n teateruitstappie die Idols-wenner Karin Kortjé ná ’n show ontmoet. En dis dié ontmoeting wat als verander het, want Karin het vir Kyra gevra om haar stilering en grimering te doen. Daarna het deure vir Kyra begin oopgaan.

Kort voor lank het sy ook Tracey Lange se “mooimaakpersoon” geword en ’n goeie verhouding met Homebrew Films, wat gewilde programme soos Bravo! en Tussen Ons vervaardig, opgebou. En nou is Kyra ’n handelsmerk op haar eie!

“Tracey is my eie Barbie en ek is mal daaroor om met haar pop te speel. Ek sien uit na elke nuwe look wat ons optower en dit is Tracey wat met die term ‘Kyrafied’ begin het. Nou gebruik ek dit vir my besigheid.”

Kyra sê om jou eie baas te wees of op kontrak te werk, is nie net moeilik nie, maar verg ook dissipline. Jy kan nie net geld los en vas gebruik nie. Jy moet weet dat jy sommige maande baie werk gaan hê en ander tye min. Sy het dit ’n reël gemaak wanneer sy betaal word, sy altyd 15% van die geld wegsit en dan daarvan vergeet.

kyra loubser, ingrid jones, tussen ons
Kyra doen Ingrid Jones se grimering op Tussen Ons

“Jy moet vergeet en dit net spaar. Jy moet ook dink aan moontlike toekomstige uitgawes en spaar in ’n maand wanneer jy baie werk het, sodat dit jou nie onkant vang nie. Maar selfs om ’n huis te koop, was nie maklik nie. Mense wil sien dat jy ’n stabiele inkomste het en wanneer jy op kontrak werk, kry jy nie ’n payslip nie,” sê sy.

 “Ek moes ’n rekenmeester aanstel om my te help en om vir my raad te gee. Ek moes seker maak dat ek op sekere dae sekere betalings kry sodat ek vir myself ’n profiel by die bank kon opbou, maar vandag kan ek met trots sê ek het ’n plekkie van my eie en steeds in Elsiesrivier natuurlik. Om terug te gee aan my gemeenskap en om na aan my mense te wees, is baie belangrik.”

Mense het verlede jaar gedink sy is mal toe sy in die huidige ekonomiese klimaat Gabriella Boutique oopmaak. Maar nes met al die ander geleenthede en projekte wat sy al aangepak het, het Kyra geglo al werk die besigheid nie uit nie, sou sy ten minste iets daaruit leer. Wel sover, is dit net sukseslesse!

Meer oor:  Kuier  |  Ingrid Jones  |  Kyra Loubser  |  Tracey Lange
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.