Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Jarrad Ricketts: Sukses ná swoeg
19 September 2018


Die sanger Jarrad Ricketts maak vinnig opgang as die nuwe Kaapse popsensasie en sy liedjies word reeds op plaaslike radiostasies gespeel.

Jarrad het bekendheid verwerf toe hy in Junie vanjaar die Engelse volkslied voor duisende gesing het met daardie groot toets tussen Suid-Afrika en Engeland op Nuweland. Hy reik ook binnekort sy nuwe album uit.

Niks hiervan sou dalk gebeur het as Jarrad, ’n outjie van die Kaapse Vlakte, sy talent onder ’n maatbeker weggesteek het en nie kanse gewaag het nie. Maar Jarrad, wie se liefde vir musiek by sy aangenome gesin gekweek is, glo “alles het gebeur presies soos dit moes” en dat die Here sy familie vir hom gekies het.

Die 31-jarige kunstenaar was maar nog ’n kleuter toe hy deur ’n musikale familie van Athlone op die Kaapse Vlakte aangeneem is. Sy biologiese ouers kon nie vir hom sorg nie en het besluit om hom op hierdie manier ’n beter lewe te gee. Jarrad sê dis normaal om te wonder oor jou biologiese familie, maar hy kon nie vir beter as sy aangenome gesin gevra het nie.

Hy glo dit is juis sy ouers en drie susters se liefde vir musiek wat hom oor die jare geïnspireer het. As kind het hulle amper elke aand musiek gemaak en gesing. Sy pa speel klavier en sy oudste suster is ’n professionele musikant. Dit was hoe hulle familietyd saam deurgebring het.

“Ek het eers besef dit is nogal spesiaal toe ek later op skool by vriende oorgeslaap het en by hulle wou weet hoekom hul gesin nie ná ete sing nie. Dit was vir my aan die begin baie vreemd dat mense nie sommer so in hul huis saam met mekaar begin sing of instrumente speel nie,” vertel hy laggend.

Jarrad het dit geniet om saam met sy gesin musiek te maak, maar nadat hy op skool al hoe meer aan talentkompetisies begin deelneem het, het hy ernstig aan sang begin dink.

Hy wou dit nie meer net vir plesier doen nie en het opgetree oral waar hy kon.

SY EERSTE OPTREDE

Jarrad onthou nog sy eerste openbare optrede en hoe dit sy passie vir musiek bevestig het. Dit was by die Joseph
Stone-ouditorium in Athlone en hy het die lirieke op sy hand neergeskryf.

“Ek het soveel gesweet dat die ink begin verdwyn het en ek kon nie die woorde uitmaak nie. Ek moes voor die gehoor probeer uitvind wat ek geskryf het en hulle het gegiggel en gelag. Ek wou net daar omdraai, maar ek het my familie in die gehoor gesien en gehoor. Hulle het my die moed gegee om voort te gaan.”

Toe hy 15 word, het een van sy susters op universiteit ’n orkes begin met vriende en vir Jarrad gevra om hul hoofsanger te wees. Hy onthou hoe bang hy was om saam met ouer mense en veral voor mense op te tree, maar hy het ook gedink dit kon die goue geleentheid wees waarvoor hy gewag het.

Al was hy bang, het hy ingestem om saam met hulle op te tree en hul heel eerste optrede was by die V&A Waterfront se Jazz-a-thon.

“Daar was honderde mense en ek was baie angstig, maar ek kan daardie trots en opwinding wat ek op die verhoog gehad het, nou nog voel. Dit was die eerste keer dat ek regtig soos ’n kunstenaar gevoel het en van daardie dag af het ek geweet dis al wat ek wou doen,” sê hy.

Volgens Jarrad is dit een ding om ’n droom te hê, maar iets heeltemal anders om dit te bewaarheid.

Sy familie het gemaklik gelewe, maar hulle het nie die soort geld gehad wat jy nodig het om ’n CD te maak of professionele hulp te kry om ’n kunstenaar te word nie.

Hy was ook nie gelukkig genoeg om by ’n groot kompetisie soos Idols of The Voice te kan kompeteer nie en moes self ’n plan maak om sy drome te laat waar word. Maar elke keer as hy gedink het hy kry ’n geleentheid, is die deur in sy gesig toegeklap.

Ná skool het Jarrad ontwerpkuns studeer en vir vyf jaar by New Media as ’n grafiese kunstenaar gewerk. Dit was egter nie waar sy passie gelê het nie. Hy wou sing en met mense se harte praat, maar hy moes ook rekeninge betaal en het deeltyds aan sy sang gewerk.

Hy het vroeg besluit hy sal nie wag vir ’n platemaatskappy om vir hom ’n recording deal aan te bied nie, hy sal self sy eie geleent­hede skep. In 2012 het hy een van sy eerste liedjies, “Stay”, uitgereik wat baie lugtyd op radiostasies regoor die land geniet het en van daar het sy musiek en naam net begin groei.

In 2012 het hy ’n uitnodiging gekry om vir ses maande in Spanje by ’n vakansieoord se klub op te tree. Toe hy terugkom Suid-Afrika toe, het hy besluit om voltyds op sy musiek te konsentreer.

ONDERSTEUNING

“Dit was nie ’n maklike besluit om my werk op te gee en voltyds my drome te volg nie, maar my familie het vir my gesê hulle sal my ondersteun en het geglo ek sal ’n sukses daarvan kan maak,” vertel hy.

“Ek het begin skryf en het aan ’n album begin werk terwyl ek by verskeie geleenthede opgetree het. Ek moes enige geleentheid gryp wat my kant toe gekom het, want ek moes die geld bymekaar maak om my album te befonds. Hierdie dinge gebeur nie net oornag nie en kos baie geld.”

Jarrad sê sonder ’n span is dit nóg moeiliker en het hy al ’n paar keer sy kop gestamp, maar dit het hom alles sterker gemaak en hom geleer om beter sakebesluite te neem.

Met sy aanhou-en-uithou-houding het hy homself oor die jare bemark en het sy fan base en liedjies net van krag tot krag gegroei, maar sy groot sukses het alles vanjaar begin gebeur.

Ek wou net daar omdraai, maar ek het my familie in die gehoor gesien en gehoor. Hulle het my die moed gegee om voort te gaan.
Jarrad Ricketts

Jarrad het sy plek in Afrika se grootste byeenkoms, die Kaapse Internasionale Jazzfees, verdien deur die jaarlikse Esp­YoungLegends 2018-kompetisie te wen.

“Daar is so baie kunstenaars daarbuite wat hierdie soort blootstelling wil hê. Ek voel so geseënd en gelukkig. Dit was ’n wonderlike ervaring om op daardie verhoog saam met die beste van die bestes te kon optree,” sê hy.

Maar sy grootste oomblik in sy musiekloopbaan het in Junie vanjaar plaasgevind toe hy gevra is om die Engelse volkslied voor ongeveer
40 000 mense op Nuweland te sing. Dit was tydens ’n rugbywedstryd tussen Engeland en die Springbokke wat in meer as 50 lande uitgesaai is.

“Toe mense van regoor die wêreld vir my gelukwens en my kontak om te sê hulle het dit gesien, het ek in daardie oomblik besef ’n jong man van Athlone het ’n droom gehad en nou leef hy dit uit,” sê hy.

“Ek het van trots gebars omdat ek my familie trots gemaak het en omdat ek aan almal wat vir my gesê het ek kan nie, bewys het dat ek wel kan.”

Sedertdien het hy ’n kontrak met ’n platemaatskappy geteken en sy album, Break the Rules, sal vandeesmaand (September) uitgereik word.

Om sy eie album uit te reik, is ’n droom wat 15 jaar geneem het om waar te word, maar noudat dit gebeur, sê Jarrad was dit al die moeite, trane en gebede werd.

“Ek glo alles gebeur op God se tyd en nie altyd op ons tyd nie. Daar is nog baie werk. Ek dink dit is ’n groot stap vir my, maar dis net die begin. Ek het lank hieraan gewerk, maar daar is nog soveel wat ek met mense wil deel en wat ek wil bereik.

“Ek hoop jong mense sal na my kyk en besef dat hulle enigiets kan bereik. Dit gaan nie altyd vinnig of maklik gebeur nie, maar as jy hard werk en aanhou, sal jou tyd kom.”

Meer oor:  Jarrad Ricketts  |  Athlone  |  Sanger  |  Popsanger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.