Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Verpleegster word doktor op 72!
7 Augustus 2019
daphne murray

As daar nou een mens is wat geweier het dat haar grootword-omstandighede haar toekoms aan bande lê, is dit dr. Daphne Murray van Port Elizabeth in die Oos-Kaap.

Dat haar ma ’n arm huishulp en enkel-ouer was, het haar nie gekeer om groot te droom en die hoogste sport in haar verpleegloopbaan te bereik nie.

En toe gaan sy nóg verder en verwerf op die gevorderde ouderdom van 72 ’n doktorsgraad in gesondheidswetenskap.

“Ek raak nou nog emosioneel wanneer ek ’n opname van die gradeplegtigheid en daardie tikkie op my kop sien,” sê Daphne vandag, ’n jaar later.

En net om te herbevestig dat selfs ouderdom nie ’n struikelblok hoef te wees nie, is sy pas op ’n vyfjaarkontrak as deeltydse professor aangestel in die verpleegkundedepartement van die Universiteit van Fort Hare. Op 73-jarige ouderdom.

Hierdie ma van vyf en ouma van ses is vandag ’n rolmodel vir vele, maar dit het baie harde werk en ’n sterk geloof in haarself gekos om daar te kom. Daphne is in Mqanduli in die Transkei gebore waar haar ma, Amy Saville, in ’n winkel gewerk het.

“Ons was bitter arm en ek was drie jaar oud toe my ma Oos-Londen toe getrek het,” vertel sy. Daar is haar ma as huishulp vir die destydse burgemeester aangestel. Sy het in ’n kamer op hul erf ingetrek saam met Daphne en twee niggies wat sy ook grootgemaak het.

Daphne onthou dat haar ma en die burgemeestersvrou baie na aan mekaar was. “Sy het daar gebly totdat sy in 1971 gesterf het. Ons was gelukkig daar, maar dit was die apartheidsjare en ons het in ’n blanke buurt gewoon.” Dit het probleme van sy eie meegebring, soos dat die kinders verplig was om ’n bruin skool – St John’s Road – in ’n ander deel van die stad by te woon. En ma Amy het groot waarde aan opvoeding geheg, al het sy self nie geleerdheid gehad nie. “Sy het altyd gesê sy het nie geld wat ek kan erf nie; my opvoeding is haar erfporsie aan my.”

Harde werk

daphne murray
Daphne verlede jaar by haar gradeplegtigheid.
Kuier Tim Wilson

Teen die tyd wat Daphne hoërskool toe moes gaan, het haar ma besluit dat sy weens die gebrek aan ’n pa-figuur in hul huis eerder by ’n oom en sy vrou moes intrek. Sy was nou nader aan haar skool, maar net die volgende jaar het haar oom-hulle Benoni toe getrek en sy moes saam.

Daar het Daphne se mooi stem haar ’n plek in die koor van die Nuwe Apostoliese Kerk verseker. Sy het ook by ’n plaaslike band aangesluit, maar soveel tyd aan hierdie nuwe tydverdryf bestee dat sy uiteindelik in standerd 9 (graad 11) twee vakke gedruip het.

“My ma was baie teleurgesteld. Sy het gesê as ek dan nou in ’n band sing en druip, is dit beter dat ek eerder huis toe kom.” Dit was toe dat die verpleegberoep oor Daphne se pad gekom het – iets wat haar as mense-mens goed gepas het.

“Daai jare was verpleging regtig vir die arm mense, want diegene wat verpleeg het, het ’n stipend gekry,” onthou Daphne, wat by die Frere-hospitaal in Oos-Londen ingeval het. “Ek het net standerd 8 (graad 10) agter my naam gehad, maar vir daardie jare was ek baie hoog geleerd.”

Haar opleiding sou drie en ’n half jaar duur, maar kort voor haar eindeksamen het sy swanger geraak. “Destyds het hulle jou weggejaag as jy swanger en ongetroud was. Toe die matrone op drie maande wou weet hoekom ek so vet raak, het ek maar bedank. Ek het in April 1968 geboorte gegee.”

Daphne het ’n verpleegsterspos in die Kaap losgeslaan en moes noodgedwonge haar seun by haar ma los. Sy het haar opleiding by die destydse Conradie-hospitaal voltooi en dit met kraamopleiding en ’n midwife-pos by die Peninsula Maternity Hospital opgevolg.

In 1971 het sy getrou en later geboorte gegee aan nog drie seuns.

“Omdat ek net seuns gehad het, het ek ’n Xhosa-meisiekind as baba aangeneem. Ek het haar Xhosa-van behou, vir die nuwe Suid-Afrika,” lag Daphne, wat buiten Afrikaans en Engels ook Xhosa magtig is.

Te midde van al die omwentelinge in haar lewe, het Daphne egter nooit daardie drang verloor om verder te studeer nie.

Terwyl sy swanger was met haar tweede seun, het sy aandskool begin bywoon. Dit was moeilike tye, maar sy wou ten alle koste matriek verwerf sodat sy dit met ’n graad kon opvolg. “Ek wou ten volle gekwalifiseerd wees vir senior poste wanneer die apartheidstelsel die dag tot ’n einde kom,” verduidelik sy.

Daphne het matriek behaal en daarna haar verpleeg-graadkursus deur Unisa aangepak. As werkende ma en vrou kon sy jaarliks net twee van haar twaalf vakke afhandel, maar sy het deurgedruk en haar graad verwerf.

In 1974 het sy ’n susterpos in die Frere-hospitaal gekry. “My ma het toe reeds gesterwe, so sy het my nooit met daardie mooi epoulet gesien nie,” sê sy sag.

Daphne het intussen van haar eerste man geskei en ses jaar later getrou met die sakeman Eric Murray, sekerlik haar grootste ondersteuner. Kort nadat sy haar doktorsgraad gekry het, het hy met trane in sy oë vertel hoe lief hy vir haar is en hoe dankbaar hy is dat die Here hom gespaar het om dié dag te beleef.

“Hy is ’n lieflike ou man,” sê Daphne, en die liefde slaan ook in haar stem deur. “Vandat ek met hom getrou het, maak hy nog elke oggend vir my ontbyt. Hy is nou 83 jaar oud en ’n baie, baie goeie man wat my nog altyd bygestaan het.”

Daphne het mettertyd gevorder tot assistent-direkteur in die kraamafdeling van die Frere-hospitaal, maar haar droom was ’n adjunk-direkteurspos – die hoogste posisie vir ’n verpleegster.

Dié droom is in 2004 verwesenlik toe sy by die Cecilia Makiwane-hospitaal in Oos-Londen as adjunk-direkteur aangestel is. Daar het sy haarself verder toegerus met ’n diploma in arbeidsreg en veral aandag gegee aan personeelopleiding.

Uiteindelik het Daphne loopbaangewys egter veel meer vermag as wat selfs sy gedroom het.

In die akademie

Dat sy in die akademie beland het, was heel toevallig. Trouens, die saadjie daarvoor is eers ná haar aftrede in 2007 geplant. Die Universiteit van Fort Hare het haar in 2009 genader oor probleme met hul studenterekords en omdat hulle verpleegafdeling dalk sou sluit. Daphne is as studenterekordbestuurder aangestel en in hierdie stadium het sy die eerste keer daaraan gedink dat sy graag wil klas gee.

Die vereiste was ’n meestersgraad en Daphne het daarvoor ingeskryf. Twee jaar later kon sy ’n meestersgraad agter haar naam skryf, met as onderwerp die wyse waarop saalsusters se werkvermoë geaffekteer word wanneer hulle deur ’n egskeiding gaan. Sy het bevind dat hulle ter wille van die pasiënte sterk probeer staan, maar tog sukkel om te cope en geen ondersteuning by die werk kry nie.

In 2014 het sy deeltyds klas begin gee vir gekwalifiseerde susters wat ’n graad wil verwerf. En ook haar doktorsgraad gepak. Hiervoor het sy ’n praktiese ondersteuningsmodel in die werkplek ontwikkel vir saalsusters wat besig is om te skei.

Deesdae werk sy amptelik net ’n week per maand, maar dit beteken geensins dat sy ’n rustige lewe lei nie. Haar man sê reeds hy het steeds nie sy vrou vir homself nie.

Sedert haar meestersgraad was sy outeur of mede-outeur van verskeie artikels oor verpleegkwessies, terwyl sy by die universiteit meestersgraadstudente lei in verpleegkunde en openbare gesondheid, en dosente oplei om dieselfde te doen.

Maar eintlik, sê sy, gaan dit nou vir haar daaroor om haar seëninge in die gemeenskap terug te ploeg.

 

 

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Doktorsgraad  |  Daphne Murray
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.