Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Swangerskap: Kyk uit vir dié gesondheidsprobleme
19 Februarie 2020


Wanneer ’n vrou swanger is, wemel die bekommernisse oor haar baba se gesondheid die heeltyd in haar kop. Gewoonlik is die heel laaste ding waaroor sy haar bekommer, haar eie gesondheid. Dr. Jason Bennett, ’n ginekoloog en verloskundige van Kaapstad, verduidelik swangerskap is ’n unieke stel omstandighede met sy eie gesondheidsuitdagings.

Volgens hom is daar twee toestande wat slegs swanger vroue kan tref en baie gevare vir ma én baba kan inhou. Pre-eklampsie is ’n baie gevaarlike swangerskapkomplikasie waar die plasenta gifstowwe in die ma se liggaam vrystel. Hierdie gifstowwe kan bloedvate beskadig en selfs tot orgaanversaking lei. In Suid-Afrika is dit ’n baie algemene oorsaak van komplikasies. Dit ontstaan gewoonlik in die tweede helfte van ’n swangerskap en raak omtrent een uit elke 20 swanger- skappe.

“Pre-eklampsie vind plaas wanneer ’n vrou se bloeddruk vinnig die hoogte inskiet en haar gesig, hande en voete swel. As pre-eklampsie nie behandel word nie, kan dit lei tot eklampsie, waar die ma stuipe kry, in ’n koma kan gaan of selfs kan sterf,” waarsku Bennett. As gevolg van die hoë bloeddruk is die vrou se kanse op ’n beroerte of ernstige bloeding groter. Daar is ook ’n kans dat die plasenta kan skei van die baarmoeder. Dit kan ook gevare vir die baba inhou en klaar eers op ná die baba se geboorte.

Dit is baie belangrik vir ’n swanger vrou met pre-eklampsie om baie te rus. Die ma sal moontlik in die hospitaal opgeneem word en die baba vroeër uitgehaal word. Om dít te probeer voorkom kan jy tussen ses en agt glase water per dag drink, olierige en geprosesseerde kos vermy, sout uit jou dieet sny en gereeld oefen. Die tweede toestand waarvoor swanger vroue moet oppas, is swangerskapdiabetes. Dit is wanneer jou bloedsuikervlakke baie hoog raak omdat jou liggaam sukkel met insulien-verwerking.

Dit kan gevare vir jou en jou baba inhou, verduidelik Bennett. “Dit gaan gewoonlik weg ná geboorte, maar dit kan jou baba se gesondheid en gewig beïnvloed en verhoog die ma se risiko om later in haar lewe tipe 2-diabetes te ontwikkel.” Simptome om dop te hou, is dat jy dorser is as gewoonlik, meer wil eet as normaal en meer gereeld toilet toe moet gaan. Jy is onder meer meer geneig om dit te ontwikkel as jy voor jou swangerskap oorgewig was en ’n familie-geskiedenis van diabetes het. Dit ontwikkel gewoonlik tydens die tweede helfte van jou swangerskap.

Gelukkig is daar ’n paar goed wat jy kan doen om dit te vermy. Probeer gewig verloor voor jy swanger raak, volg ’n gesonde, laesuikerdieet en oefen gereeld – so maklik soos dit!

Groot gevare

Tydens swangerskap gaan jou liggaam deur fenomenale veranderings, so dis nie verbasend dat gewone gesondheid-issues kan vererger in hierdie tyd nie. Goed soos anemie (bloedarmoede), hoofpyne, rugpyn, blaasinfeksie, hare wat uitval, swelling en aambeie is maar net deel van die proses vir baie vroue.

Ernusta Maralack (35), Kuier se artikelredakteur, het eerstehandse ervaring van haar eie gesondheid opoffer vir dié van haar ongebore kind. “Ek het ’n buikbreuk (ook bekend as ’n hernia) aan die binnekant van my maag gehad waarvan ek nie geweet het nie, totdat ’n sonograaf dit opgetel het toe ek gegaan het vir ’n indiepte scan met my tweede swangerskap,” onthou sy. Die indiepte scan was eintlik om te kyk na haar baba se hartkleppe en of al die organe en ledemate daar is.

“Die sonograaf het so gesukkel om die baba te sien dat dit haar frustreer het en sy kon nie alles sien wat sy moes nie.” Ernusta se ginekoloog het tydens haar ondersoeke dieselfde probleem gehad en haar verwys na ’n internis, wat ook niks kon doen behalwe om haar op sy beurt weer te verwys na ’n gastroënteroloog, wat haar óók nie kon help nie. “Basies was daar ’n gat in my maag waardeur my derms gekom het en ek moes dit elke keer terugdruk. Dit was gross, want dit het so ’n pop-geluid gemaak elke keer as ek dit gedoen het.”

Basies was daar ’n gat in my maag waardeur my derms gekom het en ek moes dit elke keer terugdruk.

Vir Ernusta was dit amper soos ’n donker wolk wat oor hierdie gelukkige tyd gehang het. “My derms wat so duidelik uitgestaan het, het my nie ‘mooi swanger’ laat voel nie. Ek was altyd baie bewus daarvan dat my maag funny lyk.” Die dokters kon niks vir haar doen terwyl sy swanger was nie, want dit sou beteken hulle moes haar maag oopmaak om die gat toe te maak en die risiko vir haar baba se gesondheid was net te groot. Dít moes voorkeur geniet. Die goeie nuus was dat die hernia nie die baba bedreig het nie, maar het egter erge ongemak vir Ernusta veroorsaak. Verder het sy tydens haar swangerskap ook gesukkel met erge sooibrand, irritable bowel syndrome (IBS) en die hernia.

Foto ter illustrasie

“In my eerste trimester het dit letterlik gevoel of ’n kool vuur in my bors en keel vasgesit het van al die acid reflux wat ek gehad het. Dit het veral saans in my keel opgestoot tot binne-in my neus en dit het gebránd! En elke keer as ek ’n sooibrand-aanval gekry het, het ek begin hoes, naar geword en uiteindelik opgegooi. Vir die eerste drie maande mag ek niks medikasie gebruik het nie, so ek het behoorlik gesuffer daai tyd.” erken sy.

Ná haar eerste trimester het die gineko-loog vir Ernusta medikasie voorgeskryf vir haar IBS-verwante simptome, maar die gat in haar maag was daar vir die res van haar swangerskap. Sy is uiteindelik, maande daarna, geopereer. “Daar is altyd twee aspekte om te oorweeg – die gesondheid van die ma én dié van die baba,” meen Bennett.

Ongelukkig is sekere medikasie en prosedures nie geskik of veilig vir swangerskap nie omdat dit skadelik kan wees vir een of albei. Verder is die probleem, volgens Bennett, dat die oorgrote meerderheid medikasie ongelukkig skadelik is vir die baba se ontwikkeling. Daarom is dit noodsaaklik dat jy altyd jou simptome met jou dokter bespreek en eers seker maak of jy iets kan gebruik daarvoor. Sê altyd vir die apteker jy is swanger of bly maar by die nederige Panado (maar nie te veel nie).


WAT VAN AS JY VAL . . .

Volgens navorsing val ’n mens makliker as jy swanger is – 27% van vroue val tydens swangerskap. Dit is omdat jou liggaam en die manier waarop jy loop, verander en jy kan sukkel met jou balans.

Potensiële gevare van ’n ernstige val sluit in dat jou plasenta skeur, gebreekte bene en fetale skedelbeserings.

Gewoonlik is ’n val nie gevaarlik nie, maar as jy direk op jou maag geval het, vaginale bloeding of ernstige pyn ervaar, kontraksies kry of agterkom jou baba is nie so woelig soos gewoonlik nie, besoek dadelik jou dokter.

Om ’n val te vermy: pasop vir nat oppervlaktes, dra skoene met grip, vermy hoë hakke en hou vas as jy trappe klim. Moet ook nie swaar dra nie en bly verkieslik op gelyke oppervlaktes.

Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier  |  Swangerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.