Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Swangerskapsraad: Feit of fiksie?
19 Februarie 2020


Wanneer jy swanger is, kom die rate en waarskuwings van alle kante. Jy moet net koes of iemand gee jou advies. Maar wat is waar en wat is mites? Kuier het lesers gevra watter ouvroustories hulle al gehoor het en suster Ingrid Groenewald van Gentle Touch Midwifery in die Oos-Kaap gevra om te sê of dit waar is of nie.

1. Jy moet vir twee eet.

Dis nie nodig om vir twee te eet nie. Dis belangrik om gesonde, voedsame kos te eet. “Navorsing wys die kos wat jy eet, kan ’n rol speel tydens kraam en herstel – hoe gesonder jou dieet, hoe gesonder is jy.”

2. Jy mag nie jou hare was nie (die afbukkery is sleg vir jou).

“Nee, wat, dis bog! Ek het ook al gehoor as jy jou hande bo jou skouers lig, gaan die baba se naelstring verstrengel raak, wat ook nie waar is nie,” lag suster Ingrid.

3. Seks kan die baba seermaak.

Gesonde verhoudings is belangrik en seks speel ’n groot rol. “Moenie bekommerd wees nie. Jou baba is goed beskerm,” sê sy. Dis net met ’n hoë risiko-swangerskap waar dit nie aanbeveel word nie.

4. Slaap op jou linkersy.

“Soos jou swangerskap vorder en die baba groter en swaarder word, is dit beter om nie plat op jou rug te slaap nie, maar eerder op jou sy.”

5. ’n Warm bad kan jou laat kraam.

Enige uitermatige hitte, soos lang, baie warm baddens, storte en saunas, kan gevaarlik wees. “Jou liggaamstemperatuur en jou baba s’n gaan op en dan kan dit langer vir die baba neem om weer ‘af te koel’. ”

6. Dis oukei om ’n glas wyn te drink.

“Nee, dit is nie,” waarsku suster Ingrid. Die wyn gaan direk na die baba toe.

7. As jy kerrie eet, of jou beddegoed is geel, kan jou kind geelsug of suur kry.

Volgens suster Ingrid is dit nie waar nie.

8. Kasterolie help kraam aan.

Sy waarsku dis veiliger om nie kasterolie te drink nie en die kraam self te laat begin.

9. Spicy kos kan kraam aanbring.

“As jou liggaam al ‘reg’ is vir kraam, kan dit dalk help omdat dit jou maag laat werk, wat weer op sy beurt kan help om kontraksies aan te bring.” Moenie baba aanjaag nie, laat kraam natuurlik kom.

10. Vryf jou tepels met spirits en ’n borseltjie voor borsvoeding.

Suster Ingrid sê jy moet dit glad nie doen nie. Dit kan jou tepel se senuweepunte beskadig en borsvoeding bemoeilik. Daar is baie mites wat die rondte doen, soos dat jy nie pynappel moet eet in vroeë swangerskap nie omdat dit kontraksies kan veroorsaak. Mense sê as jy baie avo of peanut butter eet, sal jou kinders mooi, sagte hare hê.

Ander sê jy moenie avo eet nie, want dan sal jou kind hare regoor haar lyfie hê. Jy mag nie baie voor die stoof staan as jy swanger is nie – die nageboorte gaan vasbrand en dan kom dit swaar uit. Daar steek geen waarheid in hierdie ouvroustories nie, maar as jy oor enigiets wonder, vra eerder jou dokter as om kanse te waag.

Babas kan van ongeveer 28 weke begin huil in jou baarmoeder.

FEITE

1. Die langste swangerskap op rekord is 375 dae in 1945! Dis gewoonlik 280 dae.

2. Een van die kortste swanger-skappe waar die baba oorleef het, was 21 weke en vier dae. ’n Gemiddelde swangerskap is 40 weke.

3. Die oudste vrou op rekord wat ’n baba gehad het, was 66 jaar oud.

4. Jou baarmoeder is omtrent die grootte van ’n lemoen in jou eerste drie maande. Teen die laaste drie maande is dit so groot soos ’n waatlemoen.

5. Teen die laaste drie maande van jou swangerskap kan die baba jou stem herken. 6. Een uit elke 2 000 babas word gebore met tande.

Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier  |  Swangerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.