Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Swemsensasie: Jong man laat rekords spat
13 November 2019


Michael Houlie het in 2012 – toe net 12 jaar oud – met tipiese jong seuntjie-verering ’n getekende foto van Cameron van der Burgh teen sy slaapkamermuur opgesit ná sy eerste ontmoeting met dié Olimpiese swemmer.

Hoewel Michael se eie swemtalent toe reeds raakgesien is, het dit nog drie jaar geduur voordat hy self dié sport ernstig begin opneem het en hy en Cameron span- en oefenmaats geword het. Tog rus daar veel meer op sy skouers as wat met Suid-Afrikaanse swemhelde soos Cameron en Chad le Clos die geval was.

In Oktober verlede jaar het Michael die eerste Suid-Afrikaanse swemmer wat nie wit is nie, geword wat ’n goue medalje op die Olimpiese Jeugspele kon losslaan toe hy die 50 m-borsslag in 27:51 in Buenos Aires, Argentinië, gewen het.

Dit was ongetwyfeld sy trotsste oomblik tot dusver en hy besef maar te goed dat hy nou oor die platform beskik om ’n nuwe generasie swemmers te inspireer.

Maar terselfdertyd is hy bly swem is op meriete en tyd gebaseer, sê ma Colleen. Sy het gereël dat Michael te midde van ’n baie druk swemprogram in Amerika, waar hy tans met ’n vyfjaar-swembeurs studeer, ’n tydjie inruim vir ’n e-posonderhoud met Kuier.

Passie en talent

Michael studeer met ’n beurs in Amerika en oefen twee keer per dag vir ses dae per week.

Dit word gou duidelik dat Michael met sy size 15-voete letterlik en figuurlik stewig op die grond staan. “Ek het tyd aan my kant en kan dit bekostig om geduldig te wees,” sê Michael vanaf die Universiteit van Tennessee in Knoxville.

Hier studeer hy sedert begin vanjaar in ’n besigheidsrigting terwyl hy terselfdertyd ’n streng swemoefenprogram volg met die oog op die 2020 Olimpiese Spele in Tokio, Japan.

Toe Michael in Junie vanjaar 19 geword het, kon hy op ’n ongelooflike junior swemloopbaan terugkyk: Junior Statebondskampioen in die 50 m- en die 100 m-borsslag, Junior Afrikakampioen, Olimpiese Jeugkampioen en Suid-Afrikaanse rekords vir 15-, 16-, 17- en 18-jariges. En selfs verskeie suksesse op senior gebied, waaronder senior SA kampioen in 2018 in die 50 m-borsslag en die volgende jaar in sowel die 50 m- as die 100 m-borsslag. Maar met swem kyk ’n mens altyd vorentoe, sê hy filosofies.

“Die volgende resies is altyd die belangrikste. My suksesse gee aan my selfvertroue, maar ek is die mees opgewonde oor die toekoms. Borsslag-swemmers kom eers in hulle middel-twintigs tot hul reg en kan tot in hul dertigs op die hoogste vlak meeding.”

Michael, wat homself beskryf as iemand wat van nature gelukkig is, het in Rondebosch in die Kaap ’n hegte en diep gelowige gesin grootgeword en verlede jaar aan Bishops gematrikuleer. Hoewel hy vroeg begin swem het en van sewejarige ouderdom af sy skool se borsslagrekords gebreek het, het hy swem vir lank nie ernstig opgeneem nie. Sy ouers het ook geen druk op hom geplaas nie omdat dit vir hulle belangriker was dat hy sy kinderjare geniet.

Toe Michael op 15-jarige ouderdom uiteindelik die skuif vanaf rekreasie- na kompetisieswem maak, was dit sy eie besluit. Tog het hy so ’n effense stootjie nodig gehad om in hierdie rigting te beweeg.

Teen 2015 was sy swemafrigter so gefrustreerd omdat hy ondanks sy duidelike talent nie mededingend wou swem nie, dat hy gedreig het om hom uit sy swemgroep te skop as hy nie aan die junior nasionale kampioenskap in Port Elizabeth deelneem nie. In daardie stadium was Michael se naam sinoniem met waterpolo, waarin hy jare agtereenvolgens die SA Skolespan gehaal het, en hy het net ingestem omdat hy nie van sy waterpolomaats geskei wou word nie.

Tot almal se skok het hy in sy heel eerste resies die SA rekord in die 50 m-borsslag vir 14-jarige seuns verbeter. “Waar kom hy vandaan?” wou almal weet. Dit was ’n deurslaggewende oomblik. “Ek het toe besef dat ek goed kan doen in hierdie sport. ’n Paar maande later het ek verskeie goue medaljes op die Junior Afrikaspele in Kaïro gewen. Toe het ek vir seker geweet . . .” vertel hy.

Michael, wat op skool ook akademies uitgebink het – veral in wiskunde en musiek – het geleidelik alle ander sporte gestop en net op swem gefokus. Teen Januarie 2016 het hy twee keer per dag ses dae ’n week geoefen. Dit was nou ’n voortdurende warrelwind van aktiwiteite soos sy swemloopbaan vlamgevat het, en sy hele gesin het ’n ondersteuningsrol ingeneem. Maar Michael aanvaar niks as vanselfsprekend nie. “My gesin beteken vir my alles,” sê hy. “Hulle is belangriker as swem. Hulle gee aan my my stel waardes. Ek weet dat hulle vir my lief is en my aanvaar ongeag my swemuitslae. Mense van buite kan hulle nie voorstel met watter eise hoëvlak-swem gepaardgaan nie.”

Sy ouers en suster, Amy-Joy (16), het al sy junior byeenkomste bygewoon. Sy pa was nog altyd sy held, sê Michael reguit, en het in ’n stadium begin om ’n heldergroen T-hemp te dra sodat hy hom in die skare kon raaksien wanneer hy na die wegspringblok toe stap. “Ek het ’n paar handgebare spesifiek vir my gesinslede en ek kan my pa altyd maklik in ’n volgepakte stadion opspoor. Danksy hom is ek ook mal oor sokker en ’n trotse Chelsea FC fan!”

Doen sy beste

Michael en sy familie.
Michael ontmoet vir Cameron van der Burgh.

Daar is uiteraard baie druk op elite-atlete, maar een van Michael se sterkpunte is sy vermoë om dinge nie te oordink nie en net op die oomblik te fokus. Dit help natuurlik ook dat hy gek is daaroor om aan ’n resies deel te neem.

Maar seker die belangrikste: “Ek word nie define deur die uitkoms van ’n resies nie. Dis nie lekker om te verloor nie, maar dit het nie ’n invloed op my identiteit nie. Verloor ek, sal dit niks verander aan hoe my familie oor my voel, God oor my dink of ek oor myself dink nie.” Hoewel Michael as kind toegang tot ’n swembad gehad het en daar die nodige middele was om hom te ondersteun, was sy ouers en sy uitgebreide familie – soos soveel ander Suid-Afrikaners weens apartheid nie so bevoorreg nie. Deur verder te studeer het Sam (’n beleggingbestuurder) en Colleen (’n onderwyser) verseker dat hulle die nodige deure vir Michael en sy suster oopgemaak het.

Met Michael nou daar in die verre Amerika, is sy gesin nie meer by sy dag-tot-dag-roetine betrokke nie, maar danksy moderne tegnologie is hulle voortdurend in kontak. En steeds bly hul grootste droom vir hom ’n gelukkige en vervulde lewe, een wat God eer. Hulle het onlangs twee van sy groot internasionale byeenkomste misgeloop – die eerste keer ooit. “Ons het opofferings gemaak om al sy junior kompetisies by te woon en herstel steeds van daardie finansiële uitleg,” sê sy ma eerlik.

Kwalifiseer hy vir die Olimpiese Spele, hoop hulle dat minstens een van hulle dit kan bywoon. Michael se raad aan minderbevoorregte kinders wat droom van ’n swemloopbaan, is om nooit hul drome te laat vaar nie. “Drome is die brandstof vir jou aksies,” sê hy. In dieselfde asem is hy nie blind vir die historiese agterstand in Suid-Afrika nie.

“Dit breek my hart om te dink dat potensieel goeie swemmers vir die land verlore kan geen weens ’n gebrek aan fasiliteite. Swem is ongelukkig ’n baie duur en tydrowende sport waarmee ’n mens vroeg moet begin om die tegniek te bemeester. “Praat met ’n volwassene. Vra hulp,” is sy advies aan kinders in hierdie situasie. “Daar is nie kortpaaie in swem nie. Jy sal iemand met geld en invloed nodig hê om jou te borg om by ’n swembad of ’n afrigtingsprogram uit te kom. En net ’n ordentlike afrigter kan jou help.”

Ons hou duim vas dat Michael vir die Olimpiese Spele kan kwalifiseer, maar hy het reeds gewys wat moontlik is as jy jou talent slyp en in jouself glo . . .

Meer oor:  Swemmer  |  Sportster  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.