Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Oom sonder bene leer jonges om meubels te maak
17 April 2019
lawrence stoffberg

Met ’n positiewe houding kan jy sommer baie uitdagings oorkom. Dít leer ons uit die storie van Lawrence Stoffberg (71) van Grassy Park buite Kaapstad, want ná jare van terugslae, waaronder die verlies van drie kinders en albei sy bene, is hy steeds positief en vasbeslote om sy vaardighede met ander te deel.

Hy het as 16-jarige sy passie ontdek om meubels te maak en het alles in sy vermoë gedoen om te leer wat hy kan, sodat hy die vaardigheid kan bemeester.

Lief vir sy werk

Lawrence en sy vrou, Adelaide.

Lawrence vertel hy was maar sewe jaar oud toe hy met sy eerste vrag appels van Elgin, in die Overbergstreek, stad toe gery het. Hy moes op kussings sit om by die kar se voorruit uit te kon sien. Maar hy wou eintlik van kleins af ’n verkeerskonstabel word.

“Een van daai manne in die blou baad-jies met daardie groot motorfietse,” vat Lawrence ons op ’n reis in sy verlede. Om dinge tuis makliker te maak, het Lawrence skool in standerd 8 (graad 10) verlaat nadat sy ma, wat as char gewerk het, vir hom ’n werk as skoonmaker by haar werkgewer se meubelfabriek in Woodstock gekry het.

Kort voor lank het Lawrence begin leer hoe om self meubels te maak en upholstery te doen en dit terdeë geniet. Soveel so dat hy die beste wou wees, daarom dat hy verder gaan studeer het by ’n tegnikon.

Sy werkgewer het sy talent, ambisie en passie raakgesien en hom ook van binnenshuise versiering geleer. Hier het hy geleer hoe akkuraat ’n mens moet werk wanneer dit by meubels kom en hoe belangrik dit is om skoon en netjies te werk.

“Jy moet die hele tyd jou hande was terwyl jy werk, want jy kan nie die bank vuilmaak nie. Niemand sal dit dan wil koop nie,” verduidelik hy.

Met sy passie en werksetiek het Lawrence vinnig die meubel-leer geklim en op 35 het hy sy eie besigheid begin. Sy kliënte het van heinde en verre gekom om sy meubelstukke te koop, want hulle het geweet – Lawrence maak kwaliteit en teen ’n billike prys. Lawrence se besigheid is so suksesvol dat wanneer hy dit op sosiale media adverteer, mense sy banke koop nog voordat hulle dit gesien het.

Lawrence se vrou, Adelaide (69), met wie hy al 52 jaar getroud is, help hom in die fabriek met naaldwerk en vertel hy sal haar soms, baie ordentlik, vra om los te trek as iets nie aan sy hoë standaarde voldoen nie.

Sy familie

Dit was liefde met die eerste oogopslag, erken Adelaide met ’n skaam glimlag en die paartjie ondersteun mekaar deur dik en dun. “Hy het my eendag uit die klerefabriek kom haal en gesê hy wil nie hê ek moet meer werk nie. Ek moet ons kinders by die huis grootmaak.” Die paartjie het agt kinders. “Een elke jaar, behalwe vir ons laatlammetjie,” vertel Adelaide.

Lawrence se gesig straal met trots wanneer hy van sy kinders – twee seuns en ses dogters – praat. Wanneer hy vertel van sy twee seuns en oudste dogter wat die paartjie te vroeg aan die dood moes afstaan, is dit duidelik dat hy nie net ’n onberispelike karakter het nie, maar dat hy oor ’n innerlike positiwiteit beskik wat sy hele lewensuitkyk bepaal.

“Dit is ’n wonderlike ondervinding en ’n proses om deur te maak. God is goed, want Hy het weer vir my twee pragtige kleinseuns, wat net soos hul pa’s (wat oorlede is) lyk en is, so die naam van Stoffberg leef aan!”

Hy vertel as sy kleinseuns kom kuier, is dit amper soos om weer sy seuns in die huis te hê. Die gesin leef baie na aan mekaar en tot vandag toe is dit vir Lawrence belangrik dat hy voortleef in sy kinders se harte wanneer hy die dag nie meer hier is nie. Met dieselfde deursettingsvermoë en liefde wil Lawrence sy passie en vaardighede vir ander leer.

Daar is so baie jong manne sonder werk wat nie die geleentheid het om te studeer nie, want dis duur. Só is dit Lawrence se droom om ’n tipe opleidingskool te begin wat deur die staat gesubsidieer word sodat hy sy vaardighede kan oordra en vir ander die geleentheid gee om hul besighede te begin of ’n goeie werk te kan kry.

“?’n Mens moet werk vir dit wat jy wil hê. Jy kan nie alles verniet wil hê nie. Ek het hard gewerk vir alles in my lewe. Ek wil sien almal gaan vorentoe in die lewe.”
Lawrence Stofferg

Tans leer hy sy skoonseun, Carlton Thomas (25), alles wat hy weet. Maar hy hoop steeds om op ’n manier toegang tot ’n groter werkswinkel te kry om as opleidingslokaal te gebruik, asook gereedskap sodat hy die ding aan die gang kan kry.

Dít, ten spyte daarvan dat hy nie net gevorderd in sy jare is nie, maar reeds altwee sy bene verloor het en ’n pasaangeër in sy hart het. “Terwyl daar nog lewe in my is, wil ek die meeste daarvan maak. Ek gaan nog ’n rukkie hier wees, want God het nog nie vir my in ’n droom kom sê Hy gaan my kom haal nie.”

In 2016 het Lawrence ’n bars op sy linkertoon gekry, maar homself nie veel daaraan gesteur nie. “Met huisraad het ek dit maar gedokter en aangegaan.” Totdat dit pikswart geword het. Volgens hom het hy ’n toestand ontwikkel wat bloedklonte veroorsaak en bloedsirkulasie na sy bene belemmer het. Dit was so erg dat dokters sy linkerbeen ses sentimeter bo sy knie moes amputeer om te keer dat die gangreen verder versprei. Selfs vir Lawrence, met sy positiewe ingesteldheid, was dit ’n bitter pil om te sluk. “Oe, dit was ’n nare gevoel. Dit was glad nie ’n lekker ding daai nie. Hulle moes hard probeer om my te oortuig en te laat verstaan daar is nie ’n ander manier nie.”

Adelaide vertel trots een dokter het gesê Lawrence het al sy gesondheids-terugslae oorleef sodat hy sy uitsonderlike passie en talent vir die ambag met ander kan deel. Dit was ook hierdie gedagte wat hom bygebly het nadat sy regterbeen vanweë dieselfde redes in 2017 geamputeer moes word.

“Hy het die dag wat hy uit die hospitaal ontslaan is, reguit werkswinkel toe gegaan om verder te werk.” En só pak Lawrence steeds die lewe aan – met integriteit, passie en deursettingsvermoë.

Soms jeuk sy been so erg dat hy amper uit sy rolstoel val so vinnig probeer hy krap. Ander kere kry hy ’n kloppende pyn in sy voet, al is dit nie meer daar nie. Dit is maar alles deel van die lewe met geamputeerde ledemate. Hoewel hy graag robotic prostese wil hê, kos dit ’n allemintige R400 000 en hy is nie seker of dit hom ooit sal beskore wees nie.

“Ek kan myself mos nou nie in die skuld dompel vir bene nie,” lag hy. Maar niks hou vir Lawrence terug nie. Inteendeel, dis asof teenspoed hom inspireer tot groter hoogtes en hy wil nog baie verrig in die tyd wat hy oorhet...” 

Meer oor:  Kaapstad  |  Grassy Park  |  Inspirasie  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.