Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Hannah-saak: Rillernag spook steeds by oorlewende
14 November 2018
cheslin marsh


“Mammie, waar is Hannah?”

Dít was die 22-jarige Cheslin Marsh van Wellington se vraag toe sy ma hom die eerste keer in die Kraaifonteinse daghospitaal sien ná die gru-aanval waarin hy erg beseer en sy 21-jarige vriendin, Hannah Cornelius, herhaaldelik verkrag en vermoor is.

“Die oggend van 27 Mei is vir altyd in my brein geëts. Ek was by die werk toe die Kraaifontein-polisie my bel en vra of ek Cheslin se ma is. Ek is toe ingelig dat ek so gou moontlik by die daghospitaal in Kraaifontein moet kom omdat my kind aangerand is. ‘Sjoe, Kraaifontein? Wat sal Ches dan nou daar maak?’ het ek nog gedink. Dis een van die ergste en mees vreesaanjaend oproepe wat ’n ma kan kry,” vertel Marilyn Marsh (47) in haar voorkamer in Wellington terwyl ons op Cheslin wag.

“Toe ek hom sien, het ek onmiddellik gedink, ‘Maar wie sou my kind so seer wou maak? Watter tipe mens doen dit aan iemand anders? Wat het hy ooit gedoen om dit te verdien?’. Dit was so ’n groot skok om hom só te sien dat ek nie eens ’n woord kon uitkry nie. Al wat ek wou doen, was om my kind vas te hou en vir hom te sê dat alles oukei gaan wees. Jy is nou veilig, Mammie is hier.”

Niks kon dié ma egter voorberei op wat Cheslin volgende vir haar sou sê nie.

“Toe ek by die hospitaal aankom, het ek steeds nie geweet wat gebeur het nie. Al wat die polisie gesê het, is dat Cheslin aangerand is. Toe Ches my sien, het hy by my gepleit ‘Mammie, waar is Hannah? Sê hulle moet vir Hannah gaan soek. Sy is steeds by daai mense hulle moet haar asseblief gaan soek en bring’. ”

Eers toe het sy besef Cheslin en Hannah was saam. “Ek kon en wou hom ook nie oorweldig met vrae nie omdat hy self in ’n dwaal was. Die pyn wat hy ervaar het, het my hart met elke kreun gebreek.”

Dis eers later die dag dat Marilyn die volle omvang van die situasie verstaan het. Dis toe hulle ingelig is dat die beskuldigdes vasgetrek is en dat Hannah se lyk gevind is. “Ek kan steeds nie myself indink die pyn wat haar familie moes ervaar nie, die pyn wat hulle steeds ervaar. Dis nooit maklik om iemand te verloor nie, maar dan nog op so ’n wrede manier en dan die gru-besonderhede daarvan te moet hoor in die hof. Dis afgryslik. My hart is stukkend vir hulle. Dit moet van die ergste pyn wees wat enige mens ooit kan beleef . . .”

Die nagmerrie wat Cheslin en Hannah in die vroeë oggendure van 26 Mei deurgemaak het, het verlede maand weer in die Kaapse hooggeregshof afgespeel toe die vier beskuldigdes se saak aangehoor is.

Die hof het gehoor hoe Cheslin en Hannah in haar blou VW Golfie gesit het toe vier mans hulle oorval en ontvoer het. Volgens getuienis wou hulle aanvanklik net die kar vat om tot by die huis te kom, maar iewers langs die pad het die plan ’n bose draai gevat en is Cheslin wreed aangerand en Hannah verkrag en vermoor.

Vernon Witbooi, Geraldo Parsons, Eben van Niekerk en Nashwill Julies staan tereg op Hannah se moord en verkragting asook roof, ontvoering en aanranding. Nashwill is nie van Hannah se moord en verkragting aangekla nie.

Beskuldigdes tydens die hofsaak.

Rillernag

Cheslin se hartverskeurende getuienis het eenklaps die roof afgeruk van die emosionele wonde wat daardie nagmerrie-aand vir ewig op sy siel gelaat het.

Selfs dié onderhoud is moeilik en Marilyn druk instinktief en bemoedigend aan haar seun se been voor hy verder vertel: “Dit was die eerste keer dat ek voor mense moes vertel wat presies daai aand gebeur het. Alles in die hof was net te veel vir my. Ek kan dit op ’n manier self nie eens beskryf nie, maar dit was gemengde gevoelens van vrees, angs, haat, en hartseer. Ek weet nie. Alles was net te veel vir my.”

Cheslin het in die hof getuig die beskuldigdes het hom in die boot van Hannah se motor gedwing en tot in Bernadino Heights in Kraaifontein gery. Daar het hulle hom uitgelaai en is twee van hulle saam met hom in die bos. Cheslin het getuig die twee was elkeen gewapen met ’n baksteen. “Ek het my oë toegemaak en gebid. Dit is asof ek nie daar was nie.”

Dit is toe dat die aanvallers hom met klippe bestook en hy sy bewussyn verloor het. Die hof moes verdaag toe Cheslin onbeheersd begin huil het tydens sy getuienis. Die aanvallers het hom vir dood in die bos gelos. Volgens hom het hy by die eerste huis wat hy gesien het, gaan aanklop om hulp. Daar het hulle hom soos ’n hond weggejaag en die polisie vir hom gebel. Die polisie het hom bebloed en kaalvoet in die straat gekry.

Ná die aanval was Cheslin drie weke lank in Tygerberg-hospitaal en sy ma moes elke dag uit Wellington ry om hom te besoek. Vir Marilyn was dit ’n emosioneel uitmergelende tyd.

“Die dokters was besig om toetse te doen om die omvang van sy beserings vas te stel. Hy is vir ’n skedelbreuk, gebarste oordrom en gebreekte arm behandel. Daar het ook vloeistof uit sy een oor geloop en die dokters het gevrees dit kan dalk meningitis wees. Ek het net elke minuut van die dag vir die Here gebid en gevra dat hy my kind moet genees. Ek het gevrees dat hy breinskade kon opgedoen het en het myself gevra wat ons dan sou doen. Maar ek het bly glo en die Here het Sy werk gedoen.”

Genadiglik is daar nog geen teken van breinskade nie en is die enigste sigbare tekens van Cheslin se beserings ’n letsel bo sy linkerkantse ooglid. Ná die voorval het hy egter sy studies opgeskop, want hy kon nie meer konsentreer nie. Hy moet ook gereeld vir ’n breinskandering gaan en hy is heeltemal doof in sy linkeroor weens die aanranding.

Emosionele skade

Maar volgens Marilyn is dit die emosionele en sielkundige wonde wat vir Cheslin die ergste skade aangerig het en die hele Cornelius-gesin se lewens onherroeplik verander het.

Dit is asof sy ma se woorde nou eers tot Cheslin deurdring.

Dis hy wat voortgaan om te verduidelik hoe hy homself die eerste paar dae ná die voorval verwyt het: “Ek het myself blameer. Myself laat glo dat ek meer kan gedoen het om hulle teen te sit. Ek sal nooit daai gevoel van hulpeloosheid en magteloosheid kan vergeet nie. Dis eers toe ander mense my ook begin sê dat dit nie my skuld is nie dat dit ingesink het. Ek het begin glo, ek het myself begin glo. As ek daai mense teëgesit het, sou ek ook ses voet onder gewees het. Terwyl hulle met my gery het, het ek baie vrae gehad en gewonder oor hoekom dit met ons moes gebeur. Wat ons gedoen het om dit te verdien, maar ek intussen berusting in my hart gevind. Ons het niks verkeerd gedoen nie. Die mense wat ons seergemaak het; dis hulle wat hulself moet verwyt.”

Marilyn se trane begin onwillekeurig loop terwyl sy na Cheslin sit en kyk. Dan begin sy skielik praat: “Hy het nie berading gekry ná die voorval nie. Hy wil ook nie. Ek het al verskeie kere probeer om hom sover te kry dat hy met iemand kan praat, maar hy weier volstrek. Ek kan hom nie dwing nie. Dit moet iets wees wat hy self wil doen. Ek het al selfs mense tot by die huis gebring, maar hy wil nie. Hy sê dis iets wat hy moet hanteer.”

Cheslin verduidelik dat hy aanvanklik ’n sielkundige gaan sien het, maar omdat hy self voorheen ’n jaar maatskaplike werk studeer het voor hy met sy teologie studies begin het, het hy geweet dit gaan nie vir hom werk nie. “Ná die eerste sessie het ek geweet dit gaan nie vir my werk nie. Ek kan nie met iemand praat wat nie weet waardeur ek gaan nie. Dis net ek wat myself hierdeur kan bring. Ek en die mense wat vir my omgee en liefhet. Wat gaan dit baat ek praat met vreemde mense wat my nie ken nie en vir wie ek nie ken nie. Nee, ek is my eie sielkundige. Dis net ek wat myself hierdeur kan bring.”

Asof die herlewing van daardie nagmerrie-rit nie genoeg is nie, moet Marilyn eersdaags in die hof gaan getuig ter verswaring van die beskuldigdes se straf. Cheslin kyk stil op na sy ma en met die knik van sy kop is dit asof hy woordeloos vir sy ma die gerusstelling gee dat alles in die haak is, dat sy kan voortgaan.

Met ’n swaar sug van ’n moederhart wat diep beproef is, gaan Marilyn saggies voort. “Elke keer as ek terug dink aan daardie tyd in ons lewens raak ek bewoë. Dis net deur God se genade en ondersteuning van familie en vriende wat ons staande gebly het.

“Ek sal dit ook nou moet herleef as ek in die hof gaan getuig en of ek sterk genoeg sal wees daarvoor sal ons daai tyd moet sien. As ek so na hulle kyk, kan ek nie dink wat hulle gedink het nie. Hulle sit daar, jong mans en lyk heel ordentlik, maar om te dink dis hulle wat vir Hannah en Cheslin seergemaak het. Hulle het Hannah verkrag en vermoor en my kind vir die dood agtergelaat. Ek kan egter geen wrok teen hulle koester nie. Watter tipe Christen sal ek wees as ek moet? As ek na hulle kyk, is dit nie haat wat ek voel nie. Ek is kwaad. Vir hulle het ek vergewe, maar ek wil hê hulle moet besef die pyn wat hulle vir twee gesinne veroorsaak het. Die letsels van hul dade wat steeds ons lewens oorheers. Dit wil ek hê hulle moet weet en verstaan. Hul selfsugtige dade het lewens verwoes.”

Volgens Marilyn het die voorval nie net haar en Cheslin se lewens verander nie, maar veral ook Ches se ouma, Margaret Johannes, s’n. Dié het vir Cheslin gewag die dag toe hy aangeval is.

“Ek sal nooit daai oggend vergeet nie. Dis asof dit gister gebeur het. Sy ma het gaan werk en ek het gewag dat hy moet huis toe kom. Hy het die vorige dag gebel en gesê hy kom hierheen vir die naweek. Dit het laat begin raak en ek het net begin paniekbevange raak toe Marilyn vir my bel en sê Cheslin is aangerand,” sê sy en begin saggies huil.

Ek sal nooit daai gevoel van hulpeloosheid en magteloosheid kan vergeet nie.
Cheslin Marsh

Dis asof Cheslin se ouma se trane iets in hom wakker maak. Hy is ook nie meer selfbeheersd nie.

Sy gaan voort: “Ek onthou ek het heeltyd op en af in die huis geloop terwyl ek gewag het vir nuus van Marilyn om te hoor hoe dit met hom gaan en wat presies gebeur het. Marilyn was baie kortaf en dis hoe ek geweet het dinge is ernstig. Sy wou my nie ontstel nie en wou nie eens ’n foto stuur van hoe hy lyk nie. Ek was histeries. ’n Mens lees en hoor altyd van dié tipe goed maar nooit as te nimmer dink jy dit gaan met jou of jou naastes gebeur nie. Oor en oor speel dit af. As dit vir ons so erg is om daaroor te praat, kan ek nie eens dink hoe Cheslin daaroor voel nie.”

Met ’n teerheid in sy oë en stem kyk hy na sy ouma en antwoord “Ek is nou reg, Ouma. Alles is reg.”

Lewe na alles

Ná ’n kort rukkie van absolute stilte en trane is dit Cheslin wat babbelend begin vertel oor sy huidige werk. Hy werk tans vir ’n events company waar hy sy lyf kelner of kroegman hou. “Ek geniet my werk verskriklik baie omdat ek met mense kan werk en kommunikeer en dis iets wat niemand van my kan wegneem nie – my liefde om mense te ontmoet en met hulle te gesels. Ek het al van skooldae af as ’n deeltydse kelner gewerk, so dit is iets wat ek aan gewoond is en goed in is.”

Herken mense hom as hulle hom in die straat raakloop of by een van sy werkfunksies? “Hulle doen, maar dit is baie weinig dat hulle my trompop sal loop en my daaroor uitvra. Twee weke terug het ’n vrou na toe my gekom en gesê ‘Jy is Cheslin, Cheslin Marsh. Ek haar net aangekyk en gesê ja. Sy het my nie verder uitgevra daaroor nie en net met deernis en begrypende oë aangekyk.

“Ek gaan volgende jaar weer studeer, maar gaan niks daaroor verklap nie. As ek die dag gaan gradueer sal mense sien waar en wat ek studeer het. Ek wil dinge in my lewe privaat hou. Hoewel ek my studies opgeskop het oor ek nie die emosionele trauma van die voorval sowel as die werkslading van die universiteit kon hanteer nie, voel ek dat volgende jaar vir my ’n nuwe blaadjie gaan wees. My geloof en vertroue in God is nou sterker as ooit. Dinge kan net beter raak.”

Volgens Cheslin het hy nooit die kans gehad om Hannah se ouers te ontmoet nie oor daar altyd iets voorgeval het. “Ek het nooit haar ma en pa ontmoet nie. Ek het wel al haar sielkundige ontmoet en haar ma se suster check gereeld by my in om te hoor hoe dit met my gaan. Sy het my baie ondersteun en doen steeds. Dis iets waaroor ek ook baie dankbaar is.”

Op dié vraag oor of hy die vier beskuldigdes vergewe het, raak Cheslin en sy ma stil. Dit vat ’n rukkie voor hy weer antwoord en dis asof hy eers daaroor moet dink: ”Ja ek het. Ek het besluit dat ek dit nie toe gaan laat dat hulle my emosioneel, fisies en geestelik gevangene gaan hou nie. Ek het hulle vergewe, maar ek het hulle nie vergeet nie, dit is nie iets wat mens kan vergeet nie. Hulle toon geen berou oor wat hulle gedoen het nie. As ek hulle moet sien, sal ek nie eens vir hulle vra hoekom hulle gedoen het wat hulle gedoen het nie, nee. Ek dink hulle het blydskap en genot daaruit geput. Al toon hulle ook berou, is daar geen verskoning vir sulke gedrag nie. Dwelms het ’n groot rol gespeel in wat hulle gedoen het, maar steeds is dit nie ’n verskoning nie. Niemand het die reg om iemand anders seer te maak nie. Niemand nie.”

“Hoe dit ook al sy, ek gaan my lewe voluit lewe. Ek gaan nie in vrees lewe nie. Ek is in beheer van my eie skip.” 

Meer oor:  Hannah Cornelius  |  Cheslin Marsh  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.