Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Sy help ander met naaldwerk
8 Augustus 2018


Vir die meeste mense wat rokke ontwerp en maak, eindig hul werk die oomblik wanneer hulle kliënte hul rok ontvang, maar dit is nie die geval met Suraya Williams (41) van Mitchells Plain buite Kaapstad nie.

Vir Suraya, wat meestal matriekafskeidrokke maak, is dit belangrik om ná die glitz en glamour van die matriekafskeid uit te vind hoe dit met die meisies gaan.

Dit het haar baie bekommer dat baie van die meisies saam met wie sy gesels het, ná hul matriekafskeid swanger geword het of nie die volgende jaar planne gehad het om te gaan swot nie. Sy kon nie ophou daaraan dink nie en het geweet sy wou iets aan die saak doen. Suraya wou graag ’n manier vind om hulle te help, maar was nie seker hoe sy ’n verskil in hul lewens kon maak nie. Sy het nie baie geld gehad nie, maar gedink as sy dalk vir hulle ’n vaardigheid kon leer, dit dalk tot ’n inkomste kan lei.

Hierdie ma van drie het tien jaar gelede haar werk in die korporatiewe wêreld opgegee om voltyds rokke te maak, ’n ruk nadat sy haar oorlede ma se naaldwerkmasjiene geërf het.

En vandag besit sy haar eie besigheid, Design26, en deur haar stigting, Design26Foundation, help sy jong ma’s om ook naaldwerk te doen. Suraya se ma, Amiena, het vir jare in ’n klerefabriek gewerk en later klere vir vroue in die gemeenskap begin maak toe sy by die fabriek afgedank is. Suraya het as kind altyd gedink naaldwerk is nie ’n belangrike vaardigheid nie en dat jy nie daarmee kan geldmaak nie.

Sy wys vir Kuier-joernalis Tarren-Lee hoe om die masjien te gebruik.

Sy erken sy het aanvanklik nie genoeg respek vir die lang ure en harde werk gehad nie. Ten spyte daarvan dat haar ma se vaardighede agter ’n naaldwerkmasjien dikwels die enigste manier was hoe hulle kos kon bekostig. Vir Suraya wat gesien het hoe haar ouers swaarkry, was kleremaak nooit ’n opsie nie. Sy wou gaan swot en ’n beter werk kry sodat haar gesin nie eendag hoef te sukkel soos haar ouers en sibbe moes sukkel nie.

“My ma het vir jare probeer om vir my te wys, maar ek wou niks weet nie. In my oë was dit nie ’n werk wat vir jou ’n gemaklike lewe kon bied nie. Ek wou gemaklik lewe en al het my ma se werk vir ons gesorg, het ek net aan al die goed gedink wat ek nie kon kry nie. Ek moes jaar ná jaar hoor dat ek ’n Barbie sal kry, maar daar was net nie geld daarvoor nie. Elke jaar het my ouers gespaar, maar wanneer dit by die einde van die jaar kom, was daar iets wat gebreek het of iets wat hulle moes betaal. Dan moes ek nog ’n jaar wag en wanneer ’n mens jonk is, is dit al wat jy sien. Jy waardeer mos nie altyd jou ouers se opoffering nie.”

Hulle het in ’n huis vol liefde grootgeword, maar daar was nie geld vir luukse items of speelgoed nie. Haar pa het verfwerk gedoen, maar daardie tyd toe Kaapstad nog baie reën in die winter gekry het, het mense soos haar pa min werk oor die wintermaande gehad. Dit was dan slegs haar ma se fabrieksalaris wat hulle moes dra.

Toe haar ma sterf, het haar pa haar gevra of sy die naaldwerkmasjiene by die huis gaan kom haal, maar dit het meer as ’n jaar gevat voordat sy dit gedoen het. Selfs nadat sy die masjiene by haar pa gaan haal het, het dit vir ’n tydjie in haar garage gestaan voordat sy eendag gedwing is om dit te gebruik.

“Mense dink mos as jy ’n masjien het, jy outomaties weet hoe om dit te gebruik. Maar dit is nie altyd die geval nie en toe my niggie vir my kom vra om ’n rok vir haar dogter se 21ste verjaardag te maak, het ek nie geweet wat om te doen nie,” sê Suraya. “Ek het aan haar verduidelik dat sy eerder iemand anders moet vra, maar sy wou nie luister nie. Sy het die materiaal by my gelos en gesê ek moet kyk wat ek kan doen.”

Suraya se man, Mohammed, het haar aangemoedig om rond te speel met die masjiene en sy het toe besluit sy sal ten minste probeer. Sy kon hier en daar onthou wat haar ma vir haar gewys het en wat sy met die oë gesteel het. Ná daardie eerste rok was sy verbaas hoe goed sy die rok gemaak het en hoe baie sy dit geniet het. Sy besef nou eers hoeveel werk, tyd en passie haar ma ingesit het. Sy het ontdek dat sy wel ’n passie daarvoor het en het net daar besluit om haar werk op te gee en voltyds daarop te konsentreer.

Ek hoop om deur hierdie klasse hulle goed te laat voel oor hulself en hulle opgewonde te maak oor iets.

Nuwe passie

Suraya lag wanneer sy erken dat dit nie ’n maklike besluit was om haar werk op te gee nie. “Veral wanneer ’n mens kinders het en gewoond is aan ’n sekere standaard van lewe, kan dit moeilik wees om ’n besluit te neem wat jou familie kan beïnvloed,” sê sy.

Maar sy wou haar nuwe passie ’n kans gee en vandag is sy nie spyt oor haar besluit nie. Die eerste paar jaar was moeilik en ’n aanpassing, maar haar besigheid groei elke jaar en die gevoel wat sy kry wanneer iemand gelukkig is met die rok wat hulle ontvang, is onbeskryflik.

Nou deel sy daardie liefde met jong vroue, veral ma’s tussen die ouderdom van 15 en 21 en hoop om minstens een persoon se lewe deur haar passie te verander.

“Ek was verstom toe ek navorsing begin doen en uitvind hoeveel meisies gedurende hul skoolloopbaan of net ná matriek swanger word. ’n Groot rede daarvoor is omdat kinders niks het om hulle mee besig te hou nie en omdat hulle in ’n omgewing soos Mitchells Plain maklik deur mans gelok word,” sê sy.

“Vir my as volwassene is dit soms moeilik om vir my kinders te sorg, wat nog van ’n jong mens wat vir ’n kind moet sorg. Ek het besluit dat ek gratis vir jong vroue in die omgewing wou leer hoe om op verskillende naaldwerkmasjiene te werk, sodat hulle daardie vaardighede kan gebruik om dalk ’n werk te kry of ’n besigheid te begin.”

Suraya wys haar studente hoe om naaldwerk te doen.

Volgens Suraya hoef ’n mens nie altyd groot te begin nie. “As iemand selfs met ’n runner of tafellappie begin, kan sy dit vir geld verkoop en só ’n inkomste kry.”

Sy was nie seker of enige iemand op haar pamflet sou reageer nie, maar toe sy haar oë uitvee, het sy ’n klas vol vroue gehad. Sommige was jong mense wat hulself ingeskryf het en ander was ouers wat hul kinders ingeskryf het vir haar ses maande kursus, wat elke Maandag tussen 12:00 en 14:00 aangebied word. Suraya het ook aangebied om saam met haar man die meisies op twee punte op te laai sodat hulle veilig sou wees.

“Ek wou nie hê dat vervoer ’n probleem moes wees of ’n rede moes word vir hoekom hulle nie klasse bywoon nie. Ek glo hierdie klasse kan hulle nie net help om werk te kry nie, maar ook verhoed dat iemand ’n tweede onbeplande swangerskap het,” sê sy.

“As jong mense nie iets het om te doen nie, is dit maklik vir hulle om by die verkeerde dinge betrokke te raak of te voel asof hulle niks werd is nie. Ek hoop om deur hierdie klasse hulle goed te laat voel oor hulself en hulle opgewonde te maak oor iets.” Suraya sê sy kan reeds ’n verskil sien in die meisies wat deel is van hierdie eerste groep en hoop dat dit net sal groei en baie ander ook sal kan help.

* Vir meer inligting of om deel te word van Suraya se klasse, besoek design26foundation.org.za.

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Entrepreneur  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.