Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Tamaryn Green: Van kroon tot Covid-19
1 Oktober 2020
Tamaryn Green
Tamaryn Green, ’n voormalige Mej. Suid-Afrika en nou dokter.

Elke jaar hoop ons die vol- gende jaar gaan beter wees as die vorige een, maar vir baie mense is 2020 net een groot jaar van aanpassings en vreemde ervaringe.

Vir die voormalige Mej. Suid-Afrika Tamaryn Green (26) kan jy niks daarvan vertel nie. Want nie net het sy uit haar tuisdorp (en -provinsie) verhuis nie, maar haar eerste jaar as ’n gekwalifiseerde dokter is ook midde-in ’n wêreldwye en dodelike pandemie!

Toe dié pêrel van die Paarl in Desember verlede jaar die Wes-Kaap vir Gauteng verruil het vir haar internskap, het sy geweet 2020 gaan ’n jaar van baie eerstes vir haar wees. Maar selfs sy het nie geweet presies hoeveel dié jaar haar in ’n kort tydjie oor haarself en haar beroep sou leer nie.

Die aand toe sy as Mej. SA gekroon is.

Moeite werd

Tamaryn het vanjaar eers al haar ander verpligtinge opsygeskuif om op haar mediese loopbaan te konsentreer. Die Covid-19-pandemie eis sy tol op mediese personeel en Tamaryn is nie kwytgeskeld hiervan nie. Sy sê sy is dikwels fisies en sielsmoeg, maar sy is dankbaar dat sy die geleentheid kry om haar droom uit te leef en ’n verskil in ander se lewens te maak.

Tamaryn se tyd is minder as gewoonlik, maar ten minste kan sy afskakel as sy wel by die huis is. En daarvoor is sy dankbaar, want al is jou eerste jaar as ’n dokter onder normale omstandighede ’n groot aanpassing, is hierdie jaar nóg moeiliker weens die Covid-19-pandemie. By die staatshospitaal in Johannesburg waar Tamaryn werk, is baie pasiënte nie ’n vreemde ding nie.

Sy vertel hulle is altyd vol en sien baie pasiënte, maar wat dinge soms vir haar onwerklik laat voel – asof sy op ’n fliekstel is – is al die gesigskerms, maskers en beskermende klere wat hulle moes begin dra.

Volgens Tamaryn was dít die grootste aanpassing omdat dit verskriklik warm in die beskermende klere is en sy vir ure daarin moet werk en dit ook bydra tot die moegheid en uitputting. Maar dit moet gedoen word. “By die hospitaal het jy baie beskermende klere aan. Mense is siek, maar ons is gewoond aan baie mense by ons hospitaal en mense wat siek is. Dit was anders by die huis, want ek moes seker maak ek trek al my klere uit voordat ek instap. Ek moes eers was en my skoene en alles buite los. Jy is meer bewus by die huis omdat jy nie jou geliefdes in gevaar wil stel nie en dit bekommer jou,” deel Tamaryn.

“Ek sou nie sê die pandemie het my aanpassing moeiliker gemaak nie, want fisies was daar nie ’n groter verskil nie, behalwe die feit dat jy nog meer as gewoonlik moes rondhardloop en mense soms sieker as gewoonlik was. Dan is daar ook die tye wanneer daar nog minder personeel as gewoonlik is, omdat mense siek is of ook by die huis is met Covid-19. Dit het baie druk op almal geplaas, maar jy kan niks daaraan doen nie. Jy doen wat jy kan.”

Sy onthou een nag toe sy 02:00 geroep is om ’n pasiënt te resussiteer. Haar senior dokter was op daardie oomblik besig en sy moes toe beheer vat van die resussitasie. “Ons kon die pasiënt terugkry, maar dit is sulke oomblikke wat jou laat besef dat jy werklik ’n verskil in mense se lewens maak en in situasies geplaas word waar jy die verskil tussen lewe en dood kan beteken. Dit maak elke dag die moeite werd.”

Jy word in situasies geplaas waar jy die verskil tussen lewe en dood kan beteken.

Tamaryn vertel dit was aan die begin van die pandemie baie stresvol omdat sy nie regtig geweet het wat om te verwag nie en hulle gewaarsku is dat mediese personeel moontlik tussen pasiënte sal moet kies vir ’n bed en versorging. “Gelukkig is daar besluit dat nuwe dokters soos ek nie daardie besluite hoef te neem nie, maar dat ons wel steeds deel van die spanne sou wees wat Covid-19-pasiënte sal moet versorg,” vertel sy.

En vinnig aanpas, is een van haar temas vanjaar, want toe sy aanvanklik besluit het om Johannesburg toe te verhuis, het sy juis in haar agterkop gehad dat die Kaap en haar familie net ’n twee ure vlug van Johannesburg af is. So toe lockdown aangekondig is, het sy geweet dit sou ’n tydjie wees voordat sy hulle weer kon sien.

Dankbaar

Gelukkig was Tamaryn nog altyd onafhanklik en vir daardie moeilike dae as sy ’n slegte dag gehad het of selfs net ’n bietjie ekstra liefde nodig het, is haar Boston Terrier, Oreo, en sakeman-kêrel, Ze Nxumalo (24), daar.

Tamaryn in haar beskermende drag by die werk.

Hulle het vanjaar saam nesgeskop. “Ze is regtig ’n groot ondersteuning vir my hierdie jaar en ek dink omdat ons soveel tyd in lockdown saam moes deurbring, het dit ons band vinnig sommer baie sterk gemaak. Lockdown het vir ons tyd gegee om diep gesprekke te hê en meer goed vinniger uit te vind,” vertel sy met ’n glimlag.

“Lockdown het my nie net meer dinge oor Ze geleer nie, maar ook oor myself. Ek het nooit besef dat ek daardie meisie is wat graag aandag van haar ou af wil hê nie. Maar as ek soms by die huis kom en hy is besig op sy foon of met iets anders, dan wonder ek hoekom hy nie net aan my wil aandag gee nie,” sê sy laggend.

Sy voeg by sy het ook nie besef hoe baie sy die natuur gemis het nie. Tydens lockdown het sy maar ’n slaansak gekry en só geoefen om van haar stres ontslae te raak en fiks te bly. En wanneer dit nie gehelp het nie, was haar geliefde Oreo daar. Oreo was haar Valentynsgeskenk van Ze af en al was hy nie mal oor honde nie, het hy geweet sy wou graag een hê. “Ze werk ook baie lang ure en as ek by die huis kom, is dit lekker om ’n vriend te hê wat altyd vir jou wag en bly is om jou te sien.”

Die uitdagende jaar het ook aan mense die geleentheid en tyd gegee om oor dinge na te dink en ons het baie gesien hoe mense nie meer stilbly oor dinge wat hulle pla nie. Soos met die #BlackLivesMatter-beweging in Amerika en onlangs met die Clicks-hare-advertensie. Tamaryn sê sy weet self hoe hare gesien word in gemeenskappe en toe sy grootword, was reguit hare beslis sosiaal as mooier en meer hanteerbaar gesien. Dit is hoekom sy altyd haar natuurlike krulle reguit gedra het. Dit is maar eers onlangs, met haar min tyd, dat sy weer haar natuurlike krulle begin dra het.

“Al hierdie sosiale kwessies wat aangespreek word, is net een klein deel van ’n groter sosiale probleem en dit is omdat mense al vir dekades afgedruk word. Soms is dit oor jou hare en ander tye is dit oor jou velkleur of seksualiteit, maar alles is omdat mense redes soek om ander uit te sluit. Dit kom al ’n lang tyd aan en ek is bly dat ons gedwing word om oor hierdie onderwerpe te praat,” voeg sy by.

Al het 2020 uitdagings en baie verandering gebring, sê Tamaryn dit het haar dankbaar gemaak vir dit wat sy het en dit waarna sy kan uitsien. Persoonlik kan sy nie wag vir verlof sodat sy iewers in die bos kan gaan ontspan nie. Sy kan ook nie wag vir die dag wanneer sy weer kan reis nie. Tot dan is sy dankbaar vir die klein dinge en seëninge soos gesondheid, geliefdes en ’n werk wat haar gelukkig maak . . .

Meer oor:  Kuier  |  Tamaryn Green
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.