Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Tampontaks slaan vroue
8 Augustus 2018

Min vroue sien uit na dáái tyd van die maand. Nie net voel jy goor en buierig nie, maar dit kan ’n morsige besigheid wees. Tog aanvaar jy jou lot, want dit is ’n onvermydelike deel van vrouwees.

Maar beteken dit jy moet finansieel daarvoor gepenaliseer word? Die regering beskou sanitêre produkte as “luukse items” en daarom moet vroue 15% VAT (belasting op toegevoegde waarde) daarop betaal. Dis amper asof hulle dink vroue het ’n keuse. Die regering maak dus geld uit jou maandstonde!

Dit laat nogal ’n bitter smakie in jou mond as jy só daarna kyk – dat daar teen vroue gediskrimineer word vir ’n natuurlike proses. Behalwe dat dit onregverdig voel, het dit ook verreikende gevolge vir baie Suid-Afrikaanse meisies.

Volgens UNICEF mis een uit elke 10 meisies in Afrika skool elke maand as gevolg van hul maandstonde en baie moet noodgedwonge onhigiëniese “alternatiewe” soos ou lappe, blare of koerantpapier gebruik omdat sanitêre produkte so peperduur is.

Dié kwessie is onlangs opgehaal deur sommige parlementslede wat daarop aangedring het dat sanitêre produkte op die lys goedere moet kom wat nie belas word nie en selfs vrylik beskikbaar moet wees. “Ek het drie tienermeisiekinders en om elke maand deur te kom met my pay-pakkie is nie altyd maklik nie.

’n Mens kan nie nee sê vir pads nie, maar sjoe jong, dit vat aan ’n mens se sak,” vertel Marilyn Joseph (45) van die Strand. Sy het nie geweet ’n mens word belas op sanitêre produkte nie. “Ek het al gehoor van daai reusable pads en cup-goeters en dat mens so kan geld spaar, maar dit klink vir my te grillerig en ek sien nie daarvoor kans nie.”

Daar is tans ’n lys van 19 items wat deur die regering as noodsaaklik geklassifiseer word en nie belas word nie. Sanitêre produkte is nie op daardie lys nie. Monja Posthumus-Meyjes van die Universiteit Stellenbosch se regskliniek sê dit breek haar hart om te dink dat meisies tot drie dae per maand skool mis omdat hulle nie sanitêre produkte kan bekostig nie. “Vir baie ma’s is dít hul grootste vrees vir hul dogters elke maand.” Monja en haar span het onlangs oorlog teen die sogenaamde tamponbelasting verklaar. Hulle voel ook minderbevoorregtes behoort gratis sanitêre produkte te ontvang.

Op geen manier kan enige instansie toelaat dat so ’n normale biologiese verskynsel in die pad staan dat jong meisies hul volle potensiaal kan ontwikkel nie.

Tas jou regte aan

Volgens Monja is vroue se struggle met sanitêre produkte teenstrydig met Suid- Afrikaners se fundamentele grondwetlike regte, insluitend die reg op menswaardigheid en die reg op vryheid en sekerheid van die persoon omdat dit ’n nadelige impak op hul persoonlike higiëne, waardigheid en welstand het.

“Ons is egter optimisties dat die belasting op sanitêre produkte afgeskaf gaan word. Ons het geweldige ondersteuning gekry vir ons voorlegging aan die Nasionale Tesourie om sanitêre produkte op die ‘zero tax’-lys in te sluit. Indien dit egter nie gebeur nie, sal die regskliniek litigasiestappe oorweeg,” meen Monja.

Dis ’n feit dat baie vroue, en veral skoolmeisies in ons land, nie tampons en pads kan bekostig nie. Volgens Monja gaan ongeveer 30% meisies nie skool toe wanneer hulle menstrueer nie omdat hulle nie sanitêre produkte kan bekostig nie. Dit beteken hulle verloor omtrent 90 skooldae per jaar, net omdat hulle vroue is.

Sy meen daarom is die produkte beslis nie ’n luuksheid nie, maar ’n noodsaaklike deel van elke vrou se lewe en waardigheid. Volgens Tlangelani Shilubane, assistent-woordvoerder van UNFPA (United Nations Population Fund), die Verenigde Nasies se seksuele en reproduktiewe gesondheidsagentskap se Suid-Afrikaanse tak, is daar na raming meer as 3 miljoen menstruerende meisies in Suid-Afrika wat potensieel nie sanitêre produkte kan bekostig nie. Dit raak veral huishoudings waar dinge so moeilik gaan dat kos voorkeur kry bo sanitêre produkte.

Leandré Geraldson* (17) vertel sy slaan party nagte in koue sweet uit wanneer dáái tyd nader kom. “Ek het drie jonger boeties en ek weet my ma het skaars geld vir kos, wat nog te sê van pads,” sê sy saggies. Partykeer probeer sy toiletpapier gebruik – dis nou te sê as hulle dit in die huis het. Leandré, wat lief is vir leer en graag eendag ’n prokureur wil word, haat dit om skool te mis, maar op haar “swaar” dae sien sy net eenvoudig nie kans om skool toe te gaan nie. Sy het ook al probeer om vir haarself pads te maak met ou stukke materiaal, maar dit het nie lekker gewerk nie en sy voel altyd vuil wanneer dit haar tyd van die maand is.

Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap sê: “Op geen manier kan enige instansie toelaat dat so ’n normale biologiese verskynsel in die pad staan dat jong meisies hul volle potensiaal kan ontwikkel nie. Dit klink soos iets uit Levitikus waar jong meisies uit die samelewing verban word en as onrein beskou word. Dis primitief en blatante diskriminasie. En gegewe die hoë vlakke van armoede in ons land, is dit onredelik om hierdie koste op arm gesinne te plaas. ’n Vrou se lyf mag nie gebruik word om teen haar te diskrimineer nie.” ’n Mens kan net hoop die regering voel ook so.

* Skuilnaam

** Die Ministerie van Vroue en die Nasionale Tesourie het teen druktyd nog geen kommentaar gelewer op Kuier se navrae nie.


HET JY GEWEET?
Kenia was die eerste land ter wêreld wat belasting op sanitêre produkte afgeskaf het in 2004.
ALTERNATIEWE PRODUKTE

Kan jy glo in die 70’s moes vroue nog hul doekies op verskeie kreatiewe maniere aan hul panties vasmaak omdat dit toe nog nie kleefband op gehad het nie? Gelukkig het tegnologie vinnig gevorder en jy hoef nie eens meer elke maand doekies of tampons te gebruik nie. Daar is ander opsies:

• ’n Mens kry oulike herbruikbare doekies wat ’n paar jaar kan hou. Jy knip dit aan jou pantie vas en was dit net as jy dit klaar gebruik het. Dit is effens aan die duur kant om mee te begin, maar daarna sal jy hope geld spaar aangesien jy nie meer elke maand produkte hoef te koop nie.

• As dit dalk vir jou te bonkig klink, kan jy vir jou ’n “period pantie” aanskaf wat ’n sanitêre doekie ingebou het in die vorm van absorberende materiaal. Dit kan dieselfde hoeveelheid bloed absorbeer as twee tampons! Hierdie broekies is ideaal vir vroue wat nie seker is wanneer hul maandstonde begin nie en is blykbaar baie gemaklik. Dit is wasbaar, wat beteken dit is ook beter vir die omgewing.

• Menstruele sponse is beslis nie almal se koppie tee nie, maar nog ’n alternatief. Jy sit dit in om die bloed te absorbeer. Jy kan een spons vir ’n jaar lank gebruik.

• Hoewel menstruele koppies al vir jare bestaan, het dit eers onlangs gewild geraak. Dit werk baie eenvoudig: jy sit dit in jou vagina, dit vang die bloed op en jy maak dit elke 10 tot 12 ure leeg. Dit kan ook lank hou – party tot 10 jaar!

DIE FEITE

Sanitêre items word deur die regering as ’n “luuksheid” beskou en 15% belasting word daarop hehef.Die gemiddelde vrou gebruik ongeveer 11 000 sanitêre produkte in haar leeftyd of 22 per maand.

In Suid-Afrika kos die gemiddelde tampon R1,50 – dit beteken R33 per maand of R16 500 per gemiddelde leeftyd.’n Sanitêre doekie kos ongeveer R2 elk – dit beteken R44 per maand of R22 000 oor ’n gemiddelde leeftyd – en dit is sonder inflasie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.