Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Tap kerk jou leeg?
5 September 2018

Dis een ding om bakhand voor God te staan om genade by Hom te bedel. Maar dit is gans ’n ander storie wanneer dit vir gemeentelede begin voel of die kerk heeltyd by hulle geld vra.

Die realiteit is egter dat die moeilike ekonomiese klimaat almal, kerke ook, erg raak. Baie kerke sukkel om kop bo water te hou en vereis dat gelowiges veel meer as hul tiendes gee, maar kan dié verwagting dalk daar­toe bydra dat kerke leegloop?

Mary-Anne Geduld* (41) het twee jaar gelede besluit om nooit weer haar voete te sit in die kerk waarin sy gedoop en aangeneem is nie. Haar rede? Die predikant het later net oor geld gepreek en dit het vir haar begin voel of haar siel skade ly.

“Dis ’n tradisionele kerk in Goodwood (in die Kaap se noordelike voorstede). Die meeste van die gemeentelede is ouer mense wat ook maar van ’n staatspensioen afhanklik is. Dis lankal nie meer genoeg om die kerk se ligte en water aan te hou én dan nog die dominee se salaris te betaal nie,” vertel sy.

Nadat die munisipaliteit op ’n slag die kerk se elektrisiteit weens wanbetaling afgesny het, is ’n paar hase uit die hoed geruk om die kerk se bankbalans uit die rooi te kry. Mary-Anne sê: “Eers het hulle my laat voel asof my Sondag-kollektes nie goed genoeg was nie. Ek sukkel ook maar en was nog nooit in ’n posisie om my volle tiende te kan gee nie. En toe was daar elke week funksies om geld in te samel. Ná die soveelste braaikaartjie het ek besluit nooit weer nie. Die kerk het my letterlik armer gemaak.”

SOEK ANDER KERK

Daarna het sy by ’n bekende charismatiese kerk aangesluit – net om tot haar skok te besef die finansiële druk op gelowiges is daar selfs erger. “Ewe skielik was ek in ’n kerk waar tiendes maandeliks met ’n debietorder afgetrek word. Hulle het tot my salarisstrokie gevra om my volle tiende presies uit te werk en Levitikus 27:30 in my gesig gegooi. Dit het begin voel of ek tussen aandete vir my kinders en die kerk se vooruitgang moes kies.”

Dr. Nelius Steyn, ’n leraar van die NG-gemeente Wonderboom in Pretoria, sê wanneer jy jou tiende gee, het jy eintlik nog niks spesiaal gedoen of ’n offer gebring wat jou iets kos nie. Eers wanneer jy jou dankoffer gee (meer as die maandelikse tiendes), is dit werklik ’n offer.

“In die Ou Testament was die gee van tiendes spesifiek vir die instandhouding van die tempel en die tempeldiens, insluitend die priesters. Dis hartseer dat die kerk van Jesus finansieel sukkel omdat jy en ek nie ons verantwoordelikheid nakom nie,” sê hy.

Hy koop ook nie gelowiges se storie dat dit nie nodig is om jou Bybelse tiende nét vir die kerk te gee nie. “Wat my bang maak, is dat ons soms dink dat as ek my ouers of kinders help, ek nie meer my verantwoordelikheid teenoor God en sy gemeente hoef na te kom nie. Mense kan lekker stry oor tiendes, netto of bruto (inkomste), tyd, geld en energie, maar is die Here regtig op jou begroting? Of ly die eer van Sy naam, koninkryk en jou medemens skade omdat jy eerder jou eie selfsugtige lewenstyl finansier?”

Henk Botha, ’n advokaat en openbare spreker van Port Elizabeth, glo jou geldelike bydrae tot die kerk is in elk geval God se geld. “Dit behoort reeds aan Hom. Dit was nooit joune nie. En God sê in Maleagi 3:8 jy steel dit as jy dit nie vir Hom gee nie. Jy beroof God dus deur jou tiendes en offergawes te weerhou.”

Kerke maak ook toenemend van die jongste tegnologie gebruik om dit vir gemeentelede so maklik moontlik te maak om hul tiendes en offerandes te gee. Moet dus nie verbaas wees wanneer daar teen kollektetyd tydens die erediens ’n bankkaartmasjien omgestuur word nie.

Ander kerke, soos Krugersdorp-Oos-gemeente in Johannesburg en die St. Michael’s Katolieke Kerk in Rondebosch, spog reeds met “aanlyn-offergawes” waar jy SnapScan op jou selfoon kan installeer om betalings aan die kerk te kan doen.

“Vir my, as ’n jongmens, is dit wonderlik om te weet dat my kerk bybly met die tye,” sê Jesse Fortuin wat by die Durban Christian Centre aanbid. Deesdae dra hy – soos baie ander mense – omtrent nooit meer kontant met hom nie, ook nie kerk toe nie. “My kerk gebruik die Zapper-app. Dit is maklik om offerande sommer van my selfoon af te betaal, en ek beskou dit in elk geval as veiliger.”

’n Teologiestudent en pa van drie, Goliath Cloete van Bloemfontein, glo egter kerke behoort hulle te skaam oor hulle in vandag se moeilike ekonomiese omstandighede soveel finansiële druk op gelowiges plaas. “Die meeste mense het aan die einde van die maand nie eens geld om kos op die tafel te sit nie. Nou gaan soek mense geestelike hulp by die kerk, net om daar ook die heeltyd vir geld gevra te word. Dit voel later of mens ’n skuldbrief saam met die preek kry.”

MOENIE VERPLIG VOEL

Goliath glo Christene moet nooit verplig voel om ’n tiende te gee nie. “Dis ’n liefdesgebaar en vir my is die goue reël dat jy eerder, soos 1 Korintiërs 16:2 bepaal, volgens jou voorspoed moet gee. Die kerk moet veral in hierdie dae ’n vei­lige plek vir mense wees.”

Volgens Goliath is daar ’n groot verskil in die wyse waarop die tradisionele kerke die geldelike verwagtinge van hul gemeentelede bestuur teenoor dié van meer moderne kerke. Daar is meer as 140 Bybelverse wat oor geld handel – met baie verskillende interpretasies daarvan.

“Daar is ’n wêreldwye neiging onder predikers om ’n voorspoedigheidsteologie te verkondig. Dit beteken eenvoudig dat gebed jou ryk kan maak. As jy jou geld vir God en die kerk gee, sal jy met rykdom beloon word. Die Christelike geloof word in hierdie teologie aan mate-

ri­ële en finansiële sukses gelyk gestel,” verduidelik hy.

Volgens Goliath tel predikers, soos biskop T.D. Jakes van Amerika onder dié wat in die einste teologie glo. Sy netto waarde word op $18 miljoen (sowat R246 miljoen) geskat, terwyl Joel Osteen (ook ’n tele-evangelis) s’n volgens The Richest-webwerf op ’n allemintige $40 miljoen (sowat R586 miljoen) staan. Daar is ook in Afrika pastore wat diep in die geld rol, soos profeet T.B. Joshua van Nigerië wat omtrent R220 miljoen sterk staan.

Suid-Afrika se eie pastoor Ray McCauley lag ook al die pad bank toe. Hoewel sy inkomste nie bekend is nie, het sy bekende Rhema Ministries-gemeente reeds in 2009 ’n jaarlikse inkomste van meer as R100 miljoen verklaar. Die kerk het sedertdien gegroei tot 40 000 gemeente-

lede. Van die land se rykstes aanbid daar.

’n Geestelike skrywer, Thuso Kewana, sê dis vir baie kerke al hoe makliker om mense te melk vir geld, omdat gelowiges na kitsoplossings vir hul probleme soek.

Só maak T.B. Joshua ’n klein fortuin met die heilige water wat hy teen R600 per bottel verkoop, terwyl jy tot R20 000 moet opdok vir ’n “georganiseerde toer” na sy gemeente in Lagos, Nigerië.

Die huidige ekonomiese druk en vrae oor hoe die kerk deesdae geld aanwend, laat baie gelowiges met vrae oor hoeveel hulle werklik aan die Here behoort te gee. Sommige wonder ook of die beginsel van ’n tiende nie ’n Ou Testamentiese begrip is wat eintlik al uitgedien is nie.

Intussen sê die jeugpastoor, Ivor Swartz, baie kerke praat te veel oor geld en ander weer te min.

“Ons Gereformeerde kerke vind dit moeilik om dit direk aan te spreek, op ’n gesonde wyse; terwyl ander kerke dit weer maklik kan oordoen. Daar moet ’n balans wees.”

Kerke kan volgens hom nie meer net afhanklik wees van die gemeente se tien­des en offergawes nie. “Kerke moet leer om selfonderhoudend te raak. Begin ’n kleuterskool of ’n koffiewinkel. Baie kerke hou jaarliks ’n groot basaar, terwyl ander tot Christelike plaasmarkte aanbied.”

Dr. Steyn glo die beginsel van die tiendes geld steeds, hoewel nie as ’n “wettiese beginsel nie, maar as ’n deeltjie van ons antwoord op God se genade”.

“Ons het die verantwoordelikheid én die voorreg om die huis van die Here in stand te hou. Ons het ook verseker ’n verantwoordelikheid teenoor die plaaslike gemeente. Mens sou kan onderskei tussen dankoffers en tiendes – tiendes is die verpligting en voorreg wat ons het om die kerk in stand te hou. ’n Dankoffer is dit wat ons buiten dit gee,” sê hy.

*Skuilnaam

Wat sê jy?
Sê ons wat jy dink van die storie. Stuur 'n WhatsApp na 0607840589, gevolg deur jou mening.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.