Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Tatoes: Dink voor jy ink
13 November 2019


Vir dekades was tatoeëring taboe, maar deesdae lyk dit asof elke Jan Rap en sy maat ’n tattoo het en dikwels is dit mense van wie jy dit nooit sou verwag nie! Tattoos word dus lankal nie meer net geassosieer met byvoorbeeld bendebetrokkenheid nie.

“Tramp stamps” (’n tattoo op veral vroue se laerug) beteken ook glad nie ’n vrou is “los en beskikbaar” nie. Deesdae bou mense loopbane uit hierdie kunsvorm; realiteitsprogramme word daaroor gemaak en in Amerika het tattoos in 2018 sowat $1,6 miljard (sowat R23 miljard) gegenereer. En as jy die inkomste bywerk van piercings en tattoo-verwyderings groei dié bedryf se inkomste in Amerika tot ’n allemintige $3 miljard (sowat R44 miljard).

Volgens ’n berig in die Sondagkoerant City Press was daar verlede jaar ongeveer 700 tattoo parlours in Suid-Afrika en genereer die plaaslike bedryf jaarliks sowat R60 miljoen. Dís wat die syfers sê, maar tog beskou baie dit steeds as onprofessioneel. Daar is ook kerkmense wat jou sal vertel, “die Bybel sê jy mag nie tattoos of piercings op jou liggaam het nie”.

By die huis & werk

Jane Castle (20) van Kuilsrivier in die Kaap se noordelike voorstede wil graag haar en haar oorlede ouma se geboortedatums op haar rug laat tattoo, maar as sy daaroor wil praat, lees haar ma vir haar uit Levitikus 19:28. “Daar staan: ‘Moenie snye op julle liggame maak as rougebruik oor dooies nie. Moenie tatoeëermerke op jul vel maak nie, want Ek is die Here.’ Dís hoekom my ouma nooit my ma toegelaat het om een te kry nie en nou weier sy dat ek dit kry. Maar ek sien nie fout daarmee nie.

“My ouers het my gewaarsku as ek dit doen, mag ek nie onder hul dak bly nie. So ek gaan maar wag totdat ek klaar geswot is voor ek besluit of ek een gaan kry. Ek wil nie groot tattoos hê nie, ek wil net iets spesiaal doen om my ouma te onthou.”

Behalwe dat mense soms steeds negatiewe persepsies oor mense met tattoos het, is daar ook sekere beroepe wat steeds nie tattoos in die werkplek toelaat nie. Jy kan byvoorbeeld nie ’n polisieman, lugwaardin of ship crew member word as jy tattoos het nie. Die professionele tattookunstenaar Dean Erasmus van Kaapstad sê die meeste van sy professionele kliënte soos dokters, onderwysers, rekenmeesters en polisiemanne verkies om tattoos op plekke te kry wat jy onder klere kan wegsteek. Dit is sodat hul kliënte nie ongemaklik voel nie. Dean sê hy het ook nie tattoos op of bo sy nek nie, want hy weet nooit of hy dalk later in ’n ander beroep gaan beland nie.

Andrea Barends, ’n HR-bestuurder by Media24, sê as mense vir ’n onderhoud gaan, sal elke baas hul eie gevoelens oor tattoos hê. Daar sal werkgewers wees wat daarteen gekant is, ander sal nie omgee nie en daar sal mense wees wat tattoos sal toelaat solank dit net nie sigbaar is nie. “Ek dink dit hang van jou beroep af. Elke werk het hul eie vereistes en dinge wat toelaatbaar is in die industrie. Maar ek voel tattoos is deel van iemand se self-expression en ek sien nie regtig tattoos raak wanneer ek in ’n onderhoud sit nie,” sê sy.

Sy raai mense aan om nie tattoos in hul gesig te kry nie, veral nie as hulle in ’n beroep wil werk waar hulle dalk daagliks met mense buite hul maatskappy moet gesels nie. Soms laat dit mense ongemaklik voel, veral as dit ’n konserwatiewe omgewing is. Maar as tatoeëring en piercings nie iemand se vermoë om ’n suksesvolle lewe te hê, belemmer of iemand minder van ’n “goeie Christen” maak nie, is dit nie tog elke persoon se eie besluit nie?

Sarah Arendse (47) van Somerset-Wes in die Kaap is ’n suksesvolle bemarkingshoof en is die ma van drie suksesvolle seuns. Sy het op haar 40ste verjaardag besluit om ’n tattoo te kry met haar seuns se name op sodat sy hulle altyd na aan haar sal hê, veral omdat sy en hulle ouer word. Sy het dit op haar bo-arm gedoen sodat dit nie sigbaar by die werk sou wees nie.

Sy het aanvanklik skuldig gevoel omdat mense altyd neerkyk op mense in die kantoor wat tattoos het en ook omdat sy altyd by die kerk gehoor het hoe mense van ander sleg praat wat dit het. Sarah het egter ná ’n tydjie so geheg geraak aan haar tattoos dat sy net nog en nog bygevoeg het. Beide haar arms is vol tattoos (bekend as “sleeves”) en sy het ’n paar individuele tattoos op haar bene en blad.

Betekenis

Die tattookunstenaar Tanner Ramsey skets ’n tattoo voordat dit gedoen word.
Mav Mess doen ’n kliënt se tattoo.

Vir baie mense is tattoos egter meer as net ink op vel. Dit is deel van hulle en die manier hoe hulle hul kreatiwiteit uitleef. Een van die mense wat só voel, is Waldo del Rocca, ’n bekende Kaapse tattookunstenaar en eienaar van Cape Electric Tattoos. Hy het so sterk daaroor gevoel dat hy besluit het om in 2017 ’n jaarlikse tattoo-konferensie te reël, wat meer as 90 tattoo-kunstenaars uit 17 lande bymekaarbring in Suid-Afrika.

Dit staan bekend as die South African International Tattoo Convention en vind jaarliks oor drie dae in Kaapstad plaas. Hy voeg by die tattoo-beweging is groot in Suid Afrika en dit raak elke jaar nóg groter wêreldwyd. Hoe meer mense dit normaliseer, hoe meer gemaklik word mense met die idee van ’n tattoo en waardeer hulle die werk en ure wat tattookunstenaars opoffer vir hul kuns, voeg hy by. Maar daar is ook diegene wat al “slagoffers” van slegte tattookuns was, vertel Romy Arnold, ’n tattookunstenaar van Woodstock in die Kaap. Hy moes al snaakse tattoos regmaak.

“Iemand het in my stoel kom sit en wou haar troudatum laat tattoo, maar toe word die verkeerde datum op haar rug gesit. Dit gebeur, maar dit is hoekom dit belangrik is dat jy na ’n registreerde tattooplek moet gaan. Dit help ook om na mense te gaan wat goeie reviews gekry het,” raai Romy aan.

Maar, Romy voeg by, net omdat iemand ‘n bekende tattookunstenaar is en baie followers op Instagram het, beteken nie hulle is een van die top-tattookunstenaars nie. Dale Fourie (42), Kuier se fotograaf, sê toe hy in sy 20’s was, het sy ma hom gewaarsku om nie tattoos te kry nie, maar hy het nie geluister nie. Dit was nie iets met betekenis nie, dit was ’n panther en hy wou dit net kry omdat dit popular was. “Ek wou net ink op my liggaam hê. Ek het nie oor betekenis of iets spesiaal gedink nie. Ongelukkig het dit nie reg uitgekom nie en het ek eers halfpad deur gehoor die tattookunstenaar is eintlik die apprentice van die eienaar,” sê hy. “Volgende keer sal ek liewer duurder betaal vir ’n kunstenaar met ’n goeie reputasie,” sê Dale.

As jy besluit om een te kry, laat jou tattoos doen by ’n professionele plek en die naalde moet nuut en skoon wees. Óf jy van tattoos hou óf dit verpes, bly dit aan die einde van die dag jóú besluit.

* Foto’s: Dale Fourie en Verskaf

* Bykomende bronne: www.chosenarttattoo.com

Meer oor:  Kuier  |  Lyfkuns  |  Tatoes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.