Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Taxi-engel: Bestuurder wen groot vir veiligheid
8 Januarie 2020


Dit is daai tyd van die jaar waar ouers wéér met hul hande in hul hare gaan sit oor die veiligheid van hul kinders se skoolvervoer. Jaar ná jaar lees en hoor ’n mens van voorvalle waarin kinders se veiligheid in gedrang gebring word as gevolg van oorlaaide taxi’s en onverskillige bestuurders.

Net verlede jaar het Kuier berig oor die veiligheid van kinders se skoolvervoer nadat ’n video van ’n oorlaaide taxi in Port Elizabeth soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het.

Altesaam 46 skoolkinders was binne-in dié taxi. Alles is egter nie net doom en gloom nie en al oorskadu die slegte nuus dikwels die goeie, is daar tog bestuurders wat goed omsien na kinders se veiligheid en dit hul lewensdoel maak om kinders elke dag veilig na en van skool te vervoer. Een só ’n bestuurder is Peterus Wagner (46) van Kraaifontein in die noorde van Kaapstad wat op 25 November 2019 vereer is by die Safe Travel to School-program.

Die Safe Travel to School-program (STTS), wat in 2014 begin is, is ’n samewerking tussen Discovery en Childsafe met die doel om die daaglikse reis, na en van skool veiliger te maak deur te fokus op die bestuurder van die leerdervervoer. Daagliks word duisende kinders skool toe en terug gery op hoë risiko-roetes, in onpadwaardige voertuie en deur bestuurders wat dikwels roekeloos ry.

Deur middel van ’n reeks ingrypings is die doel van die program om bestuurders veiliger, betroubaarder en meer bewus van verkeersveiligheid te maak. Aan die einde van elke jaar hou Childsafe ’n funksie vir ongeveer 600 skoolvervoerders om erkenning te gee aan die betrokke jaar se veiligste bestuurders. Die topprys is altyd ’n splinternuwe taxi met 16 sitplekke.

Dié toekenning vereer die veiligste deelnemende skoolvervoerder en gee erkenning aan alle skoolvervoerders wat die afgelope jaar dwarsoor die provinsie die veilige aankoms van bykans 19 000 kinders verseker het. En dis juis by dié geleentheid waar Peterus koning vannie pad gekraai het! Peterus sê hy het ongeveer 15 jaar gelede begin om skoolkinders te ry. Hy was voor dit ’n carpenter.

“Ek het agtergekom daar is ’n behoefte aan skoolvervoer vir kinders in my gebied en het dit as ’n geleentheid gesien om vir myself werk te skep.” Hy is sedert 2014 by die Safe Travel to School-program betrokke. “Van die ouens wat by die taxi association was, het my daarvan vertel en ek het daadwerklike pogings aangewend om aan te sluit.”

Kinders kom eerste

Op die vraag oor hoekom die vervoer van kinders vir hom so belangrik is, antwoord hy ernstig: “As ’n ouer sy/haar kind aan jou toevertrou is dit jou verantwoordelikheid as bestuurder om daai kind veilig van en na skool te neem. Vir die tyd wat daai kind in jou voertuig is, is dit jou kind en jou verantwoordelikheid om na die veiligheid van die kind om te sien.”

Volgens Peterus moet die gesegde “My child is your child” ten alle tye toegepas word. “Ek sê altyd vir mense die kinders van vandag is môre se leiers en hul lewens moet ten alle koste en tye beskerm word. As ek ten minste hul lewensduur kan verleng deur hulle veilig te vervoer, dan doen ek dit met graagte.” Hy glimlag trots wanneer hy sê hy het nog nie klagtes van ouers gekry oor sy manier van ry nie. “En nie omdat ek ’n pat on the back soek nie, maar dat ouers die gerusstelling kan hê dat hul kinders veilig is in my taxi.” Met Kuier se besoek aan Peterus is die skool uit en die kinders wat verbyloop groet in koorsang, “Middag, oom Peterus”.

Hy vertel dat amper elke kind in die buurt hom ken. “Hulle almal ken my as die oom wat hulle skool toe moet neem. So dikwels word taxibestuurders in ’n swak lig gestel, maar daar is dié van ons wat ten alle tye hou by die reëls van die pad.”

Hy vertel voorts daar was al gevalle waar mense te veel kinders in ’n voertuig wou laai. “Maar ons het nie daarvoor gestaan nie en die Transport Association is gestig. So die manne wat sommer kinders in hul bakkies wou laai en dit dan nog boonop oorlaai, het nie vreeslik ver gekom met hul besigheid nie. Ons het sommer gou ’n stokkie daarvoor gesteek.”

Op die ou einde van die dag gaan dit oor die veiligheid van die kinders en as jy daarin geslaag het om hulle jaar ná jaar veilig te vervoer, is dit beloning genoeg.
Peterus Wagner

Peterus sê die Transport Association bied aan ouers en kinders die geleentheid om hul misnoeë uit te spreek as hulle enige probleme met hul vervoer ervaar. “As jou kind voel daar was te veel kinders in die taxi het hulle die volste reg om te kla. Die ouer het dan die verantwoordelik om na die association te gaan om te verseker dat die bestuurder vasgevat word.”

Hy dek ongeveer ses areas in Kraaifontein en ry 20 kinders per dag. “Die kinders wat in my taxi ry, is van alle rasse en kleure en verskillende skole. Dit is kinders met verskillende agtergronde en hier in die taxi leer hulle ook mekaar se kulture ken en manier van dinge doen.”

Peterus vertel hy het al baie snaakse goed gehoor by die kinders. “Vir my is die snaaksste wanneer jy hoor hoe hulle dinge uitspreek. Die manier hoe hulle mekaar probeer namaak en die woorde in dieselfde aksent sê. Dit is maar moeilik om jou lag in te hou, maar gelukkig word kinders darem nie gou kwaad nie.”

Toekenning werd

Peterus het ’n taxi gewen omdat hy die skoolkinders veilig vervoer.

Oor die blink nuwe taxi wat hy gewen het saam met sy toekenning, kan dié man van Kraaifontein nie uitgepraat raak nie. “Jinne, ek was so verheug toe hulle my naam noem. Ek het nog laat by die funksie gekom en reg bo gaan sit.”

Volgens Peterus het hy ingedagte gesit en luister toe hy skielik sy naam hoor. “Mense! Ek was geskok. Ek het verlede jaar (2018) gedink ek sou wen, maar het glad nie verwag om dié jaar (2019) koning van die bestuurders te kraai nie.”

Peterus sê hy kon nie sy smile hou toe hy op die verhoog stap nie. “Ek was so dank- baar dat ek gewen het. ’n Mens doen nie die werk om beloon te word nie, maar ek moet erken dit is lekker as ander mense jou liefde vir jou werk sien. Op die ou einde van die dag gaan dit oor die veiligheid van die kinders en as jy daarin geslaag het om hulle jaar ná jaar veilig te vervoer, is dit beloning genoeg.”

Die wenner van die toekenning word glo gekies op grond van ’n tracker-toestel wat in hul taxi’s geïnstalleer is. “Die toestel monitor jou rygewoontes – jou spoed, hoe jy briek, of jy robots oorsteek en al daai tipe goed. Die resultate van die toestel word dan geprosesseer en die toekenning word aan die een gegee met die beste resultate,” verduidelik Peterus.

Hy sê hoewel hy verheug is oor die toekenning (en natuurlik ook die prys!) moet hy tog die Transport Association bedank. “Die hele vereniging dra by tot die toekenning. Ons ondersteun en help mekaar waar nodig.” ’n Trotse Peterus sê hy wil ook ander taxibestuurders aanmoedig en uitdaag om veiliger op die paaie te wees. “Hou by die padreëls, moenie drink en bestuur nie en pas die basiese goed toe – jy sal nie spyt wees nie. Jou padgehoorsaamheid kan iemand se lewe red. Jou harde werk sal beloon word, dalk nie nou nie, maar dit gaan. Vra vir my, ek weet!”

Meer oor:  Taxi's  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.