Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Tekkies: Altyd in die mode!
13 November 2019
Tracey Lange


Modetrends verander dalk, maar mense se liefde vir tekkies nie. Óf jy nou ’n atleet is, gereeld gym, in die berge gaan stap óf net daarvan hou om gemaklike mooi tekkies te dra en te versamel, is daar ’n tekkie vir elke persoonlikheid en doel.

Style van die verlede raak ook weer gewild en kenners meen hierdie skoene sal nooit heeltemal uit die mode gaan nie.

Elke tekkie bestaan uit ’n buitesool, middelsool en bostuk. Die dele tussenin (soos in die voorbeeld) is gewoonlik vir ondersteuning en verskil van brand tot brand.

Volgens www.footwearnews.com is die Adidas Stan Smith, Nike Air Force 1, Converse Chuck Taylor All Star, Air Jordan 1, Reebok Pump, Puma Suede en New Balance 990 (ook bekend as die oorspronklike “Dad-” skoen) tans die topverkopers ter wêreld.

Dis deesdae netso gewild soos toe hulle hul eerste verskyning is die 70’s, 80’s en 90’s gemaak het. Volgens Gordon Gassert, ’n produkontwikkelaar by Olympic International, is dié verskynsel nie vreemd nie, omdat marknavorsing juis toon dat die meeste mense van klassieke en retro-tekkies hou. Jy kan die mees eksklusiewe tekkies in die land (en hele Afrika) by Shelflife in Kaapstad koop, maar wees gewaarsku dit gaan jou kos.

Die duurste tekkie daar is oor die R5 000! Gordon sê dit vat ongeveer twee weke om ’n tekkie te maak van skets tot die finale afwerking en goedkeuring van die produk. Wêreldwyd word gemiddeld 25 pare tekkies elke sekonde verkoop. Volgens hom word jaarliks sowat 20 miljard pare tekkies gemaak en 300 miljoen ou tekkies sal iewers op ’n vullishoop beland.

Maar hy raai mense aan om goed na te dink voordat hulle tekkies koop. Dit kan nie net mooi of gemaklik wees nie, dit moet ook prakties en reg wees vir die doel waarvoor jy dit wil gebruik. “Moet byvoorbeeld nie ’n goedkoop hiking skoen koop net omdat dit in die mode is as jy ook daarmee in die berg wil gaan stap nie. Koop eerder ’n handelsmerk wat pas by die doel waarvoor jy dit wil hê. Maak ook altyd voorsiening vir ’n bietjie ekstra ruimte in die skoen, want jou voete sal swel wanneer jy dit dra,” sê hy.

“Die meeste van die goedkoper handelsmerke kom uit China, so dit is nie altyd 100% waaraan ons gewoond is nie. Probeer altyd ’n skoen dra wat een size groter is as jou gewone size om seker te maak dit pas. Die meeste winkels en webwerwe moet ’n gepaste gids beskikbaar hê vir hul kliënte.”

Volgens Gordon is gewone wit tekkies tans die gewildste onder jong mense. Retro-klassieke tekkies in vars kleure en gebreide materiaal is ook tans gewild. Dik sole is die afgelope paar jaar weer in die mode en volgens Gordon is dit steeds ’n goeie verkoper. Hy sê Olympic International se gewildste tekkie is ook een van hul ou style, die Recess-skoen. Dit word meestal deur kinders op skool gedra.

Tracey se tekkies

Só lyk die custom tekkies wat sy by haar verloofde geskenk gekry het.

Wanneer die radio- en TV-aanbieder Tracey Lange (foto bo) op die rooi tapyt, kykNET se kletsprogram Tussen Ons of die glansprogram Bravo! gesien word, kan jy haar altyd deur ’n ring trek. Sy lyk altyd stylvol en glamorous en word dikwels by geleenthede afgeneem in ontwerpersaandrokke en blink hakskoene.

Maar wat baie mense dalk nie verwag nie, is dat sy netso mal is oor haar tekkies. Sy sal haarself nou nie ’n versamelaar noem nie, maar vertel sy het die liefde vir unieke en mooi tekkies by haar verloofde, Avukile Mabombo, gekry wat volgens die groot versamelaar is. Ek is mal oor die gemak van sneakers. Maar Avukile is op ’n ander vlak!”

Volgens Tracey is sy nog ’n beginner met slegs 15 pare, terwyl haar verloofde meer as 100 pare tekkies het! Hy hou daarvan as sy tekkies dra, nie net omdat sy cool lyk nie, maar ook omdat dit iets is wat hulle kan deel. En dis beslis die gemaklike keuse vir dié avontuurlustige paartjie wat daarvan hou om saam oorsee te reis. As jy hulle op Instagram volg, sal jy sien hulle deel gereeld foto’s van tekkies.

Soos die paar custom Converse-tekkies wat Tracey onlangs by Avukile as verjaardaggeskenk gekry het. Haar naam en van haar gunsteling-eetgoed soos doughnuts en pizza is daarop. Sy sê vir haar is gehalte netso belangrik soos kwantiteit en hiervan kan jy haar niks vertel nie, want sy het nou nog die eerste paar tekkies wat sy meer as ’n dekade gelede vir haarself gekoop het. Dit is ’n paar klassieke Adidas Superstars.

“Omdat ek nie my skoene op dra nie en na hulle kyk, gooi ek nie sommer skoene weg nie.” Sy beskryf haar tekkiestyl as uniek en sê sy hou van tekkies wat ’n bietjie anders lyk. Dís hoekom sy haar oë oophou vir interessante tekkies wanneer sy reis, want elke nou en dan is daar ’n paar wat haar oog vang. Maar dit moet iets wees wat sy beslis nie by die huis sal kry nie.

“Baie handelsmerke, veral Adidas, pas hul skoene aan om by die land te pas. Daarom het ek in Brasilië ’n wonderlike paar sneakers gevind met ’n espadrille twist, en in Dubai kry jy baie meer kleurvolle tekkies,” sê sy. Onder haar drie gunstelingpare tekkies is die paar wat sy in Rio gekoop het. Sy is ook mal oor ’n paar Stan Smiths in ’n salmkleur en gebreide materiaal.

Haar ander gunsteling is wit en nude Pumas, omdat dit baie anders is as al haar ander tekkies. As sy een paar moes kies wat elke vrou in hul kas moet hê, sou dit ’n klassieke paar Stan Smiths wees omdat dit gemaklik is en by enigiets pas. Tracey sê dit hang van die geleentheid af wanneer sy besluit of sy tekkies of hak-skoene gaan aantrek.

Sy voel hakskoene is vir sommige geleenthede en looks die beter opsie. Maar ander tye kan jy jou tekkies met ’n formele uitrusting ook meng, as dit gepas is vir die geleentheid. “Ek het ’n geleentheid bygewoon waar almal aand- rokke moes dra, maar die tema was Tekkies en Tiaras. So, ons het die aandrokke met tekkies en tiaras gemeng en dit het gewerk.”

6 uit elke 10 pare tekkies word in China vervaardig en altesaam 87% van die wêreld se tekkies word regoor Asië gemaak.

Watter styl pas by jou voet?

Gordon sê daar is net een maklike manier om die vorm van jou voet te bepaal en dit is deur ’n “wet test”. Maak jou voet (enige een) nat voordat jy op ’n stuk papier trap.

Olympic Surge, R529, www.boltonfootwearonline.co.za.

Jou voetspoor sal die vorm van jou voet wys. Jy kan ook na jou sole kyk om te sien waar dit die meeste beskadig word of die vinnigste verniel. As jou voetspoor net ’n deel van jou voorvoet en hak wys, met ’n nou verbinding tussen die twee of as jou skoene meestal aan die buitekant afgeloop is, het jy ’n hoë boog (arch). Jou voete rol dus na buite en veroorsaak wear en tear aan die buitenste rand van die hak en die tone.

’n Skoen met ’n sagte middelsool word vir hierdie tipe voet aanbeveel. Jy het ’n neutrale vorm as jou voetspoor ’n duidelike curve aan die binnekant het en jou skoene dieselfde regdeur lyk. Soek ’n skoen wat ekstra stabiliteit sal gee met die regte mengsel van kussing en ondersteuning. As jou voetspoor die hele voetsool wys, met geen curve aan die binnekant nie, het jy ’n lae boog. Kies ’n skoen met ’n bewegingsbeheerfunksie en maksimum ondersteuning.

Meer oor:  Styl  |  Tekkies  |  Kuier  |  Mode
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.