Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Terminale siekes: Die tol op verhoudings
15 Oktober 2020


Doodsvonnis. Dít is hoe baie mense voel wanneer hulle met die realiteit van ’n terminale siekte kennis maak. Wanneer daar ’n ernstige of terminale siekte by ’n familielid gediagnoseer is, kan jy amper seker wees dat almal wat betrokke is se lewens onherroeplik gaan verander.

Die gevolge van dié siekte is onafwendbaar. En die emosionele impak van dié siektes kan families tot op hul knieë dwing. Kuier het met kenners en families gaan gesels om te hoor watter impak die tyding van ’n terminale siekte op ’n verhouding, huwelik of gesin het wanneer iemand met ’n terminale siekte gediagnoseer is. Uit die staanspoor is dit duidelik dat dit emosioneel en fisies uitmergelend is om na siek mense om te sien, maar wat as dit elke dag jou realiteit is?

Diagnose skok

Natasha Johannes (43) van Mitchells Plain in die Kaap is in 2015 met kolonkanker gediagnoseer. Sy onthou die dag wat sy die tyding gekry het asof dit gister was. “Ek het net dokter toe gegaan vir my jaarlikse scope en kanker was die laaste ding op my brein. Toe ek die uitslae kry van die scope, het die nuus my soos ’n vuishou in die maag getref. Ek was stomgeslaan en kon dit nie glo nie.”

Sy was nog besig om die nuus te ver- werk toe die dokter vir haar nóg meer skokkende nuus gee. “Die kanker was al toe op so ’n gevorderde stadium dat die dokter voorspel het dat ek slegs twee tot drie maande het om te leef. Ek was teen die vloer en het nie geweet hoe ek die nuus aan my man en kinders gaan oordra nie.”

Natasha onthou dat sy vir weke ná die diagnose steeds in die bed gelê en huil het. “Tot ek net eendag besluit het genoeg is genoeg en dat ek moet terugveg.” Sy het haarself uit die donker gat gelig. “Dis nou al jare later en ek leef steeds. As ek destyds moes opgee, sou ek nie vandag gelewe het nie.” En al veg Natasha steeds onverpoos teen die kanker moet sy erken dat die siekte ’n baie groot impak op haar lewe en huwelik gehad het.

“Ek moes my werk los omdat ek vir so lank bedlêend was. My man moes alleen werk en die finansiële impak wat dit op ons gehad het, was erg. Daar was dae wat ons nie kos op die tafel gehad het nie, maar ons moes deurdruk. Daar is tye dat hy my moet versorg en dit gee ’n mens ’n knou. Dit is nie lekker om so afhanklik te wees van ander nie.”

In ’n hanteringsgids wat deur die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) gepubliseer is, verduidelik die organisasie wanneer jy skielik met die “Groot K” gekonfronteer word of hoor dat jy selfs die dood in die gesig staar, kan jy besef dat die lewe ’n geskenk is wat nie as vanselfsprekend aanvaar mag word nie. “Die groot vraag is of ons elke oomblik daarvan bewus is dat die lewe kosbaar is en dat elke lewensoomblik met oorgawe gevier behoort te word. Dit kan onsensitief klink om met iemand, wat onlangs met kanker gediagnoseer is, te praat oor die viering van die lewe . . .”

Lucy Balona, hoof van bemarking en kommunikasie by Kansa, sê die rol as ’n versorger hou voor- en nadele in. “Vir die meeste versorgers is dit belangrik om daar te wees as hul geliefde in die nood is. Dit is vir hulle ’n kernwaarde en iets wat hulle wil bied. In die loop van die versorging is ’n verskuiwing van rolle en emosies byna seker.

Versorgers moet besef dat dit natuurlik is om soms kwaad, gefrustreerd, uitgeput, alleen of hartseer te voel.

Versorgers moet besef dat dit natuurlik is om soms kwaad, gefrustreerd, uitgeput, alleen of hartseer te voel. Versorgerstres – die emosionele en liggaamlike stres van versorging – is algemeen en versorgers moet hulself daarteen beskerm.” Sy sê vorms van emosionele spanning is normaal wanneer jy of ’n geliefde met ’n terminale diagnose gekonfronteer word omdat dit deel is van die menslike reaksie.

“Individuele berading is ’n baie effektiewe manier om van hierdie spanning af te laai in ’n veilige en ondersteunende omgewing, waar ervare beraders jou kan help om jou gevoelens, hoop en vrese te hanteer,” sê Lucy. Carmilita Williams (35) van Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte het ses maande gelede haar ma aan die dood afgestaan, nadat sy met breinkanker gediagnoseer was. Die moegheid is steeds hoorbaar in haar stem.

“Dit was vir my die ergste ding om my ma só te sien. Ek moes my werk los en het teruggetrek huis toe om na haar om te sien en elke dag kon ek sien dat die lig in haar oë besig was om te verdof. Sy het elke dag al hoe meer agteruitgegaan.”

Versorg geliefde

Carmelita sê sy het aanvanklik gedink die kankerdiagnose is die moeilikste, maar niks kon haar voorberei op wat ná die diagnose gebeur het nie. “My hele lewe moes verander en ek moes aanpassings maak omdat ek my ma moes versorg en haar tyd op aarde so gemaklik en liefdevol moontlik moes maak. Ek moes myself agteruitskuif, want haar behoeftes het eerste gekom.

Dit was die belangrikste en dit het veroorsaak dat ek nou, maande ná haar sterfte, steeds aan depressie lei. Wanneer jy gekonfronteer word met só ’n vonnis verander dit jou heeltemal” Sy sug swaar voor sy sê sy verlang steeds na haar mammie, maar dat sy weet haar ma op ’n beter plek is.

“Om haar só te sien – sy kon nie meer self eet of toilet toe gaan nie en ek moes alles vir haar doen. My hart is steeds stukkend en ek verlang na haar elke oomblik van elke dag, maar ek is bly sy is verlig van die pyn. Niemand verdien dit om te lê en wag om dood te gaan nie.”

Baie druk

Christine Bush, ’n verpleegster by ’n hospice in Kaapstad, sê in haar ervaring skep die diagnose van ’n terminale siekte by ’n pasiënt ’n taamlike gespanne gesinsomgewing. “Dit is die onsekerheid oor wat gaan plaasvind wat geweldige angs veroorsaak. Huweliksmaats wat soms mede-afhanklikes is, begin bevraagteken hoe hulle sonder hul lewensmaat gaan leef en op wie hulle gaan leun.”

Sy sê afhangend van watter stadium van die kanker of hoe gevorderd die terminale siekte is, sal hierdie verhoudings nog verder uitgedaag word. “Tyd maak voorsiening vir die aanvaarding van die siekte en familielede word meer ondersteunend. Verhoudings word getoets. Op ’n stadium moet ’n familielid dalk die versorger word en dit is hier waar ek gereeld sien dat geliefdes baie spanning opdoen, aangesien hulle sien hoe hul familielid of maat broos word. Veral met kankerpasiënte is dit die agteruitgang van die fisieke vorm wat dikwels moeilik is vir gesinslede om te sien.”

Christine sê dit is emosioneel uitmergelend om met terminale pasiënte te werk en dit verg geestelike uithouvermoë. “Dit kan jou as die versorger ook die geleentheid bied om te ontwikkel en te groei as mens en jou leer dat die dood deel is van die lewe en dat ons dit moet aanvaar vir wat dit is.”

Die tyding van ’n terminale siekte het ’n emosionele, geestelike en fisieke impak op ’n mens en ook op hul naasbestaandes, maar dit laat ’n mens opnuut besef dat dit nooit te laat is om die lewe te waardeer of om elke oomblik te begin koester nie.

Meer oor:  Kuier  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.