Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Tokio toe: Olimpiese Spele wink vir gimnas
27 November 2019


Deesdae is dit ’n baie duur storie om ’n kind groot te maak – veral op een salaris. En as jy dan nog jou voltydse werk moet los sodat jy jou kinders onvoorwaardelik kan ondersteun, gaan jy beslis harde klippe klou.

Maar dís presies wat Veda Rooskrantz (50) van Florida in Johannesburg moes doen sodat haar dogter haar gimnastiekdroom kon najaag. Gelukkig was al Veda se opofferings nie verniet nie en kan sy vandag saam met haar dogter die vrugte van sukses pluk.

Caitlin (18) het onlangs die eerste Suid-Afrikaner geword wat goud by ’n internasionale gimnastiekkompetisie gewen het en nou is sy volgende jaar op pad na die Olimpiese Spele in Tokio.

Caitlin kan nou skaars wag om haar gimnastiek-inspirasie, die Amerikaner Simone Biles, in lewende lywe en aksie te sien! Dié tiener, wat tans besig is met haar matriekeindeksamen, het binne ’n oogwink bekendheid verwerf ná haar prestasie by die World Challenge Cup-byeenkoms in Hongarye. Sy vertel opgewonde hoewel sy nou op internasionale vlak bekend is, is haar voete steeds stewig geplant en het sy self nog nie tot verhaal gekom ná haar goue prestasie nie. Caitlin vertel sy is van kindsbeen af ’n woelwater en het op al wat bank, tafel en muur is, geklouter.

Sy lag voor sy sê dít was juis die rede hoekom haar ma haar gimnastiek laat doen het. “Ek was baie lief daarvoor om op goed te klim. My ma het dit toe goedgedink om my gimnastiek te laat doen om van my energie ontslae te raak.” Sy was toe net ses jaar oud. “Dit het begin as ’n stokperdjie. Iets wat ek net elke dan en wan gedoen het, maar ek het vinnig besef dat my liefde daarvoor al hoe meer groei.”

Opofferings

Caitlin het begin om aan kompetisies deel te neem en nadat sy eerste gekom het tydens haar tweede kompetisie, het sy geweet sy moet hard werk om haar potensiaal ten volle te kan ontgin. “Dit was natuurlik nie maklik nie, inteendeel dit was ’n baie moeilike pad tot hier. Die finansiële en emosionele stryd wil ek nie eens van praat nie. ’n Mens moet regtig baie opofferings maak en soveel prysgee sonder enige waarborge dat alles aan die einde sal uitwerk.” En al het sy nou uiteindelik een (of twee) van haar mylpale bereik, moes sy al baie stampe en stote in die vorm van beserings trotseer.

“In 2017 moes ek introspeksie doen toe my regterknie ontwrig het. Dit was ’n probleem wat al ’n hele rukkie aangekom het, maar ek het gedink ek kan dit push. Dat ek steeds kan oefen en kompeteer, maar omdat ek so baie druk daarop gesit het, het dit gelei tot nog ’n besering – my enkels.” Caitlin moes ’n operasie ondergaan en sy was vir nege maande buite aksie. “Dit was seker die langste nege maande van my kort lewe. Dit was die besering wat my loopbaan kon maak of breek. Ek kan nie genoeg vir my afrigter, Ilse, dankie sê nie, want sy het my gemotiveer om sterker terug te kom as vantevore. Om harder te werk as voor die besering en kyk waar sit ek nou.”

Sy het haar afrigter, Ilse Pelser, se raad gevolg en het in 2018 sterker as ooit terug gekom. “Ná my herstelproses was ek meer honger en vasbeslote as ooit. Niks kon my keer nie, want ek het genoeg tyd gehad om te rus, dit was tyd om te werk.”

Caitlin het skouer aan die wiel gesit en die resultaat is voor die hand liggend – sy ís daai goose! Ná 2018 het ’n meer suksesvolle 2019 gevolg en daarby ook Caitlin se matriekjaar. “Sjoe, dit was vir my ’n moeilike een. Ek het geweet dat ek nie gimnastiek kon opgee om slegs op my matriekjaar te fokus nie. So ek moes leer om my tyd effektief te bestuur, dissipline strenger as ooit vantevore toe te pas.” Die tiener spandeer daagliks vier en ’n half ure in die gym, van Maandae tot Saterdae, maar met die eindeksamen in volle swang, kan sy slegs twee en ’n half ure oefen omdat sy ook ekstra klasse het ná skool.

Deur dik & dun

Veda vertel die pad tot hier was nie maklik nie, maar dit is weereens ’n bewys dat harde werk met sukses beloon word. “Dit is baie oorweldigend en ek kan nie die gevoel in woorde sit nie. Om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer, was nog altyd ’n droom van Caitlin en sy was vasbeslote om die doel te bereik.”

Sy bieg dat sy nie altyd seker was of haar dogter dit sal maak nie. “Om eerlik te wees, soms voel ’n mens onseker oor die pad wat voorlê. Jy wonder of alle opofferings die moeite werd is. Maar wanneer ek na Caitlin kyk en sien hoe toegewyd sy is en hoe hard sy werk, skep ek opnuut weer moed en druk voort.” Volgens Veda is sy so trots soos ’n rots op haar dogter wat die weg baan vir dié sport vir toekomstige generasies.

“Dit was ’n groot mylpaal, nie net vir haar nie, maar vir die sport in geheel. Dit is ’n harde en moeilike pad, maar met die regte mindset blyk niks onmoontlik te wees nie.” Veda is ’n enkelma, want Caitlin se pa het gesterf toe sy net agt was. Sy is ’n deeltydse verpleegster en werk ook naweke by die gimnasium waar Caitlin oefen. “Ek kon nie meer voltyds werk nie omdat ek myself meer beskikbaar moes stel om Caitlin te akkommodeer, maar as jy my vandag sou vra of ek dinge anders sou doen, sal die antwoord steeds nee wees. Ek sou niks verander nie.”

Ek het nooit gedink dat ek vir die Olimpiese Spele sou kwalifiseer nie, maar ek het gedroom daarvan.

Sy onthou Caitlin se eerste kompetisie toe sy net nege jaar oud was. “Die kompetisie was in die Kaap. Daai tyd het ek baie min geweet oor gimnastiek, maar omdat sy so passievol daaroor was, het ek haar ondersteun. Dit was haar eerste kompetisie en ons het regtig nie veel daarvan gedink nie. Sy het toe sewende in die kompetisie geëindig.”

Die Rooskrantz-gesin het die daaropvolgende jaar weer die kompetisie bygewoon en Caitlin het koning gekraai. “In ’n jaar het haar vaardighede soveel verbeter en toe het ons geweet hier is iets spesiaal aan die gebeur. Ek het besef sy is vinnig besig om vordering te maak.” Dié trotse ma verklap dat sy haar dogter telkemale bewonder. “Dit is laat aande en vroeë oggende. Tussendeur skoolwerk en lang ure in die gimnasium druk sy voort. Sy het nie ’n normale tienerlewe gehad nie en baie keer het my hart in stukke gebreek wanneer sy ’n besering opgedoen het en pyn moes verduur.

Haar prestasies is ’n klein troos vir alles wat sy al moes verduur.” Caitlin gaan volgende jaar ’n gap-jaar vat om te fokus op haar voorbereiding vir die Olimpiese Spele, maar wil in die nabye toekoms ’n graad vang in forensiese wetenskap. Sy benadruk hoe belangrik dit is om jou doel voor oë te hou.

“Ek het nooit gedink dat ek vir die Olimpiese Spele sou kwalifiseer nie, maar ek het gedroom daarvan. En ek het hard gewerk om seker te maak my droom word ’n realiteit. Niks is onmoontlik nie, as jy die nodige dissipline, harde werk en toewyding insit sal jy lag-lag al jou mylpale bereik!”

Meer oor:  Inspirasie  |  Olimpiese Spele  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.