Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Totsiens Suidooster: Nuwe hoofstuk vir Abdu
28 Junie 2019

Toe die kykNET-sepie Suidooster in 2015 die lig sien, was dit soos ’n vars briesie op ’n warm somersdag. Vir die eerste keer was daar ’n oorwegend bruin sepie met bruin akteurs wat in die Kaap afspeel. Suidooster was meer as net vermaak, want dit het iets dieper aangespreek . . .

Skielik kon mense uit hierdie gemeen-skappe hulself of iemand wat hulle ken, in die karakters sien; en die variëteit van Afrikaansdialekte in die sepie het bruin mense laat voel, “as mense op die TV soos ek praat, is hoe ek praat mos oukei. Ek hoef nie skaam te wees of my aksent probeer verander nie . . .” En een karakter wat sentraal was tot die sepie, was die suksesvolle eienaar van Suidooster Eiendomme, gespeel deur Abduraghmaan Adams (49).

Toe Abduragmaan in Ian October se skoene klim, was hy die grootste boef op televisie. Hy was alewig aan die konkel en met onderduimshede besig en sy sarkasme drup elke dan en wan soos stroop. Daar is verseker menige kyker wat wens hulle kan hom op sy plek sit.

Dís hoe goed Abduraghmaan se toneelspel is. Abduraghmaan is ’n veelsydige akteur en is juis in 2017 met ’n Suid-Afrikaanse film- en televisietoekenning vir sy rol in die fliek Noem my Skollie, bekroon. Maar nou gaan kykers wat so lief daarvoor is om Ian October te haat, hul harte moet sterk maak, want Abduraghmaan het Suidooster vir eers gegroet . . .

Ian October is sedert 20 Junie nie meer deel van kykers se Suidooster-genot nie en of jy van sy karakter hou of nie, dis moeilik om die sepie sonder hom voor te stel, want waar Ian October was, was drama nie ver agter nie. Abduraghmaan gaan nie net ’n leemte laat op die kassie nie, maar ook in sy sepiefamilie saam met wie hy tot twaalf ure per dag spandeer het.

“Ons weet dit was nie vir Abdu ’n maklike besluit om Suidooster vir eers te groet nie en die hele produksiespan en sy mede-akteurs raak nog gewoond aan die lewe in Ruiterbosch sonder Ian October! Maar, Abdu is steeds deel van die Suidooster- familie en soos dit familie betaam, ondersteun ons sy besluit onvoorwaardelik,” sê Wilmer Müller, Suidooster se publisiteitsbestuurder.

Toe Kuier met Abduraghmaan oor hierdie nuwe skuif in sy lewe én loopbaan gesels, het hy reeds sy laaste tonele vir Suidooster geskiet. Dit was ook toe midde-in die storielyn oor die eks-prostituut, Sharon, wat soos ’n dreigende tydbom in ’n luiperdvel-uitrusting in Ruiterbosch geparadeer het. Sy het die geheim dat Ian betrokke was by sy skoonpa se dood geken en het uiteindelik hierdie bom laat bars by sy vrou, Bridgette (gespeel deur Denise Newman), en sy skoonma, Mrs. J (gespeel deur Theresa Sedras). Daarvandaan het dinge net slegter gegaan vir Ian totdat hy uiteindelik Ruiterbosch verlaat het.

Tyd om te gaan

Met ’n peinsende uitdrukking en ’n glimlag wat so pluk-pluk aan sy mondhoeke, sê Abduraghmaan: “Dit gaan goed. Ek voel reg om weer te freelance en dinge te doen waarvoor ek lief is.” Sy liefde toneelspel en om jong akteurs te help en te mentor, is hoekom hy die sepie vir eers groet.

En daar is ook sy gesondheid waaraan hy moet aandag gee. Abduraghmaan stry al vir jare ’n stryd met die velsiekte psoriase, en was toe juis op proefmedikasie, wat gelyk het of dit goed werk. Die letsels op sy arms het mooi gelyk. Met dié dat hy nou vryskut, het Abduraghmaan meer tyd en kan hy sy liggaam die rus gee wat dit moet kry, veral omdat hy ’n outo-immuunsiekte het wat enige tyd kan opvlam.

“Mense sien my op straat en dink als is oukei, maar ek het gesukkel met gesondheid en was by tye emosioneel. Ek is baie lief vir Suidooster, want dit was nuut; soos ’n baba. Wat ek saam met my gaan vat, is die mense (kollegas),” gesels hy voort.

Hy gaan veral vir Denise, Portia Joel (wat Lee-Ann speel) Lauren Joseph (wat Zoe speel), Theresa en Marco Spaumer (wat Tim speel) mis omdat hulle die akteurs is met wie sy karakter baie storielyne gehad het. Oor sy gunsteling-Suidooster-herinneringe, sê Abduraghmaan daar is te veel om net een uit te sonder, maar sy oë helder op en hy lag hartlik wanneer vertel: “Hulle het my altyd gespot as daar ’n skinkbord was en ek moes whiskey skink. Ek het áltyd ’n glas of iets gebreek!”

Toe ek my laaste episode geskiet het, was ek baie depressief en het post-partum blues gehad, want dit het so deel van my wese en DNA geword.

Die peinsende uitdrukking is weer terug wanneer hy eerlik sê hoewel hy Suidooster geniet het, het hy dit gemis om self werk te skep, collaborations te doen en sy kreatiewe kant op ander maniere uit te daag. Hy het ook oor die jare werksaanbiedings gekry, maar kon dit nie aanvaar nie weens sy permante werk by Suidooster.

“Ek het my mind opgemaak en besluit om te gaan. Ek het al te veel in my loopbaan vermag om net een karakter te vertolk. Ek verstaan in die sepiewêreld raak mense gewoond aan ’n karakter en ek dink hulle gaan ontsteld wees, maar ek dink Suid-Afrikaanse gehore is intelligent en kan onderskei (tussen die sepie- en ‘regte’ wêreld),” sê hy.

As voorbeeld sê Abduraghmaan toe die superfeeks Ntsiki in Generations destyds uit die sepie gaan, het hy self onttrekkingsimptome gekry, maar die lewe het aangegaan en hy het oorleef. Maar selfs al het hy self besluit om Suidooster ná drie en ’n half suksesvolle jare te groet, was die eintlike koebaai-sê en die skiet van sy laaste tonele glad nie maklik nie.

“Toe ek my laaste episode geskiet het, was ek baie depressief en het post-partum blues gehad, want dit (Suidooster) het so deel van my wese en DNA geword. Dit sit binne jou en skielik is dit net weg!” Abduraghmaan sê voorts dit was nie net die uiteindelike groet wat hom gevang het nie, maar as broodwinner het die emosies hom ook ’n bietjie gery.

Hy is in 2015 met sy lieflike vrou, Saliegah, getroud. Hulle was op pad om saam ouers te word toe tragedie hulle tref en hul seun op sewe maande doodgebore is. Dit was ’n moeilike tyd vir Abduraghmaan en hy moes juis rondom hierdie tyd sy sepie-seun Jerome (Danny Ross) begrawe as deel van die storielyn. Hy moes toe sy eie persoonlike pyn oor sy seun wat hy in die werklike lewe verloor het, konfronteer.

Dit was nie maklik nie, maar soos nou is sy geloof en sy vrou sy ankers. Abduraghmaan het Saliegah se drie kinders, Abubakr (24), Aasheeqah (22) en Sadia (18), as sy eie aangeneem en hom daarby berus dat om biologies pa te wees dalk nie vir hom beskore is nie.

So met sy besluit om ’n permanente werk op te gee, moes hy ook dink aan die finansiële impak op sy gesin. “Ek was bekommerd hieroor, want Sadia is nou in matriek en daar is matriekafskeid en al daai goed. Ek het myself daarteen be-skerm (dat hy nie meer ’n vaste inkomste het nie), maar life happens en dan moet jy aan jou neseier vat. Ek kom uit ’n groot familie en my ma het ons monde oopgehou, en dít was ’n leerskool.”

Maar, sê Abduraghmaan, hy sou dit nie tot hier gemaak het sonder Saliegah se ondersteuning nie. Hulle is vier jaar getroud en steeds verlief, sê hy. Saliegah help hom wanneer hy sy woorde moet leer. Sy gun hom die ruimte om te doen waarvoor hy lief is en help hom om weer te fokus wanneer hy “scatterbrained” raak. “Dis wonderlik om deel te wees van ’n partnership. My seun se dood het ons nader aan mekaar gebring. Ons wíl happy wees en mekaar ondersteun. Dalk is ons ’n match made in heaven,” voeg hy by.

Hou aan groei

Dit het hom sowat twee weke gevat om in sy vryskutritme te kom en al kan die realiteit van ’n vryskutakteur uitdagend wees, is hy nie bang nie. Want hy ken dit. “Ek voel nou vry. Ek skrik wakker soggens en dit voel lekker om op die strand te gaan stap en in die tuin te werk. As kunstenaar is dit belangrik om jou kop skoon te kry. Ek het ’n leap of faith gevat. Ek glo daarin, want ek het dieselfde gedoen toe ek drama gaan swot het ná verpleging. Ek is nie bang vir verskuiwings nie.”

Met dié dat hy nou weer in beheer is van sy eie tyd, sien hy uit na die verskil wat hy kan maak in jong, opkomende akteurs se lewe, en dis wat alles die moeite werd maak vir hom. Abduraghmaan het The Saturday Varsity Film Academy-projek in 2005 gestig. Talentvolle akteurs soos Irshaad Ally en Monique Rockman het hul talent by hierdie akademie geslyp en is vandag gerekende akteurs in hul eie reg. Irshaad is in Suidooster te sien en Monique is tans in die kykNET-reeks Die Spreeus.

Hulle het ook teenoor mekaar in Nommer 37 gespeel. Abduraghmaan was ook al ’n dramalektor aan die Universiteit Stellenbosch. Hier het jong akteurs soos Suidooster se Dean Smith en Vashti Prins deur sy hande gekom en hy het vir Gantane Kusch (Suidooster en Noem my Skollie) by ’n ander instansie klas gegee.

Hy het juis dié projek begin omdat baie akteurs hom gevra het om hulle te help. Hulle het nie geld gehad om te studeer nie. Abduraghmaan vra maar R50 ’n les. (Met R50 kan jy in die Kaapse middestad net-net ’n goedkoop middagete koop!) “Opvoeding is vir my ontsettend belangrik. Ek is van Manenberg (op die Kaapse Vlakte), en iemand het nou die dag vir my gesê om dit op te hou sê, want dit is ‘so eighties’, maar vir my is dit steeds 21st century. Dis vir my baie teleurstellend dat die regering nie projekte soos The Saturday Varsity Film Academy befonds nie. Dis frustrerend. Wat meer moet ek doen om te bewys ek kan mense skool?”

Hy gaan egter nie opgee nie. Wilmer sê voorts: “ ’n Mens kan nie help om Abdu te bewonder nie, want met sy nuwe projekte gaan hy talle mense inspireer met dit wat hy al vermag het. Dit is ook deel van die bedryf dat akteurs kom en gaan, maar dit skep vir skrywers heerlike uitdagings om vars intriges te bedink.”

Abduraghmaan werk reeds aan projekte. Hy skiet tot einde van die jaar twee flieks en gaan van Julie tot September ’n Afrikaanse TV-reeks Melody skiet, wat op die Kaapse Vlakte afspeel. Dit gaan op SABC2 wees. So dinge gebeur reeds! “Ek glo in die Here. As jy bid en kalmte kry dan weet jy jy doen die regte ding.”

Ons gaan inderdaad mis om Abduraghmaan elke aand op ons televisieskerms te sien, maar is saam met hom opgewonde oor die volgende hoofstuk in sy lewe en loopbaan. Hy bewys niks hoef permanent te wees nie; die lewe bied konstant geleenthede om ’n nuwe hoofstuk te begin skryf; jy moet net daai sprong neem – mét geloof natuurlik!

• As jy belangstel in Abduraghmaan se klasse by The Saturday Varsity Film Academy, stuur ’n e-pos aan admin@tsvfa.com.

Portia Joel
SY KOLLEGAS GAAN HOM MIS . . .

Portia Joel (Lee-Ann): “Ek en Abdu het van dag een af gekliek. My beste scenes was nog altyd saam met Abdu. Hy het altyd my werk gerespekteer, ek het sy werk gerespekteer en dis hoekom ons so lekker oor die weg kon gekom het. Hy het my altyd remind as ek ’n af dag het of ek het nie my beste gedoen nie dat dit nie die einde van die wêreld is nie en dat ek myself die next dag kan redeem. Ek bewonder ook dat hy almal dieselfde behandel en ’n gesprek met enigeen kan aanknoop.”

Denise Newman

Denise Newman (Bridgette): “Hy is so ’n ope mens. Jy kan enigiets met hom be-spreek. Ek mis sy vroeg-oggendstappie in die gang wanneer hy sê, ‘morning, Bridge, is jy reg vir my?’ Hy los ’n groot leemte in my hart. Abdu, jy is ’n ongelooflike akteur en ek mis jou. Hy het my geleer om terug te ploeg. Die klasse wat hy gee vir mense wat nie kan bekostig om te swot nie; ek admire hom daarvoor. Ek bewonder hom vir sy eerlikheid en vermoë om te luister vir dit wat nié gesê word nie.”

Marco Spaumer (Tim): “Dit was die grootste voorreg en plesier om saam met hom te werk. Ek het lanklaas met iemand gewerk wat so ’n groot impak op my loopbaan gehad het en ook op my lewe. Abdu het my geleer jy mag nooit die menslikheid van ’n karakter verloor nie; maak nie saak of jy ’n bad of good guy speel nie. Ek bewonder ook sy vermoë om met enigeen ’n gesprek te kan voer. Sy liefde, sy genade teenoor sy medemens; hy was altyd ’n toeganklike mens.”

Marco Spaumer
WAT GEBEUR NOU IN SUIDOOSTER?

Al is Abduraghmaan Adams nie meer in Suidooster as Ian October nie, belowe die mense agter die skerms Ruiterbosch gaan steeds die fiktiewe plek wees waar jy wíl wees omdat Ian se vrou, Bridgette, dinge gaan warm hou.

Wilmer het vir Kuier ’n eksklusiewe voorskou gegee oor wat wag. “ ’The age of Bridgette October’ breek aan in Suidooster soos sy beheer neem van al Ian se sakebelange en ’n nuwe besem probeer mos skoon vee.

Maar Bridgette loop haar gou vas teen die een struikelblok ná die ander soos sy probeer sin maak van haar man se sake-koninkryk. Is die hele Suidooster Eiendomme dalk net ’n ‘house of cards?’ Soos Bridgette dinge ontrafel, is daar ’n hele paar onaangename verrassings, terwyl daar ook teenstand is van veral die slinkse Tim. Hy ondermyn haar gesag met ’n paar donker planne. ’n Ou kennis, Pierre (gespeel deur Gérard Rudolf), se paaie kruis toevallig met Bridgette s’n en dit bly dat hy dalk haar ridder op ’n wit perd kan wees en selfs méér.”

Meer oor:  Abduraghmaan Adams  |  Kuier  |  Suidooster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.